Afrikaner-groep se ope brief ‘laat ANC skotvry loskom’

Kyk ook:

 

*******

Afrikaner-groep se ope brief ‘laat ANC skotvry loskom’ | Maroela media

Die ANC het die ope brief deur ʼn groep “vredeliewende” Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners verwelkom en hulle gesalueer vir die “dapper houding.”

In die ope brief verwys die groep van 42 na hulself as Afrikaners en verwerp hulle die sogenaamde narratief waarin Afrikaners as slagoffers van rassistiese vervolging in post-apartheid-Suid-Afrika uitgebeeld word. Die brief is onder meer deur prof. Piet Croucamp, Max du Preez, prof. Pierre de Vos en Ruda Landman onderteken.

Die groep, wat akademici, joernaliste, skrywers, sakelui en geestelike leiers insluit, stel dit ook onomwonde dat hulle weier dat organisasies soos AfriForum en die Solidariteit Beweging namens hulle praat.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, meen die feit dat die ANC die enigste organisasie is wat die ope brief verwelkom het, vanselfsprekend is.

“Die probleem is dat hulle [die ondertekenaars van die ope brief] eintlik die ANC skotvry laat loskom rakende sy ramspoedige beleidsrigtings wat die land in hierdie krisis gedompel het – van ʼn gebrek aan ekonomiese groei en rekord-werkloosheid, tot munisipaliteite en openbare ondernemings wat in duie stort. Die grootste oorsaak daarvan is die regering se rassebeleid. Die Wêreldbank en baie ander het al gesê die ANC moet die beleid skrap, sodat die ekonomie kan groei en meer mense kan werk kry.

“Die feit dat hulle [die ondertekenaars] nou eintlik ontken dat hier ʼn probleem in die land is en dat Afrikaners en wit mense geteiken word, beteken eintlik dat hulle die ANC nou laat wegkom met al hierdie beleidsrigtings en die ANC voel hulle beleid word geregverdig deur hierdie klompie mense. Mens moet ook deernis met jou eie mense kan hê. Ons ontken glad nie dat daar geweldige swaarkry onder die swart mense in hierdie land is nie, maar dit beteken nie dat as daar nou teen Afrikaners regeer word ons moet stilbly daaroor nie.”

‘Ware patriotisme is om waarheid in gesig te staar’

Die ANC het gesê die ondertekenaars van die ope brief “bevestig dat nasiebou eerlikheid oor ons pynlike verlede en ʼn gedeelde verbintenis vereis om die diep ongelykhede wat deur eeue van onderdrukking veroorsaak is, reg te stel.”

Die ANC het ook gesê hy neem met “waardering” kennis van die ondertekenaars se duidelike verwerping van pogings om Suid-Afrika se geskiedenis te verdraai en dit te bewapen om verregse agendas in die buiteland te bevorder.

“Hierdie beginselvaste posisie erken die pynlike waarheid dat Afrikane in die algemeen, en swart mense in die besonder, die volle gewig van onteiening, vernedering en uitsluiting gedra het onder meer as drie eeue van kolonialisme en apartheid. Hul lyding was struktureel, sistematies en generasiegebonde.”

Die party het benadruk dat sy transformasie- en regstellingsagenda nie ʼn daad van liefdadigheid is nie, maar “ʼn morele, wetlike en grondwetlike verpligting om daardie historiese onregte reg te stel en ʼn samelewing te skep wat gebaseer is op gelykheid, geregtigheid en gedeelde voorspoed.”

“Hulle verklaring bevestig dat ware patriotisme daarin lê om die waarheid in die gesig te staar en brûe van begrip te bou, nie om die geleefde ongelyke realiteite van ons mense te ontken nie. Dit is die gees van versoening wat ons stigtersleiers in die vooruitsig gestel het toe hulle verklaar het dat ‘Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon – swart en wit’.”

‘Nie in ons naam nie’

In die ope brief, wat op News24 en Netwerk24 gepubliseer is, voer die ondertekenaars onder meer aan dat die uitbeelding dat Afrikaners slagoffers van rassistiese vervolging is, nie net misleidend is nie, maar ook gevaarlik.

“Dit verdraai die werklikhede in Suid-Afrika, gebruik ons geskiedenis as wapen, minimaliseer ʼn komplekse maatskaplike konteks en die nodige gelykmaking van die speelveld tot ʼn vereenvoudigde simbool van wit agteruitgang.”

Die ondertekenaars sê Suid-Afrika word deur ernstige uitdagings soos misdaad, ongelykheid en die blywende nalatenskap van apartheid in die gesig gestaar, en dat die kwessies ʼn uitwerking op Suid-Afrikaners van alle rasse het.

“Om wit lyding uit te sonder en dit bó die lyding van ander te verhef, is oneerlik en skadelik. Dit voed ekstremistiese ideologieë wat verdeeldheid in stand hou en wat reeds tot werklike geweld, waaronder massaskietvoorvalle, gelei het.

“Ons is nie pionne in Amerika se kultuuroorloë nie. Ons is Suid-Afrikaners, deel van ʼn diverse, ontwikkelende nasie wat steeds met sy verlede worstel en streef na ʼn regverdiger toekoms.”

Die ondertekenaars voer ook verder aan dat Afrikaners in die verlede skade aangerig het en dat hulle dit erken. Om hulle uit te sonder, lei egter net tot vervreemding en benadeling van verhoudings. “Wat ons die meeste bekommer, is die kaping van ons etniese identiteit deur randgroepe – hier en in die buiteland.”

Die idee dat wit Suid-Afrikaners ʼn spesiale asielstatus verdien vanweë hul ras, ondermyn die beginsels van die beskerming van vlugtelinge, meen die ondertekenaars.

“Kwesbaarheid – nie ras nie – behoort humanitêre beleid te rig. Om wit lyding bo ander te stel, is om ʼn wêreldbeskouing te versterk wat witheid verhef en wit identiteit as onder beleg beskou. Dit is nie ʼn weerspieëling van ons waardes of ons persoonlike ervaring nie. Om misdaad in Suid-Afrika ‘wit volksmoord’ te noem op ʼn tydstip wat Gasa en Soedan wys wat volksmoord werklik beteken, is kras en narsisties.

“Hierdie reaksie is onderteken deur Afrikaners wat glo in die waarheid, geregtigheid en belangrikheid daarvan om teenstand te bied teen die misbruik van die geskiedenis.”

Die ondertekenaars van die ope brief is:

  1. Anneliese Burgess, joernalis en skrywer
  2. Rudi Buys, leierskap- en diversiteitskonsultant
  3. Wannie Carstens, buitengewone professor, Noordwes-Universiteit
  4. Andries Cilliers, NG Kerk
  5. Fanie Cloete, emeritusprofessor in beleidsbestuur en regeerkunde aan die universiteite van Johannesburg en Stellenbosch
  6. Piet Croucamp, medeprofessor in politieke studies en internasionale verhoudinge, Noordwes-Universiteit
  7. Frederik de Jager, skrywer
  8. Max du Preez, skrywer en joernalis
  9. Pierre de Vos, professor in grondwetreg, Universiteit van Kaapstad
  10. Stan du Plessis, ekonoom en hoof van Stadio
  11. Louis Gaigher, opdraggewende redakteur, Wits University Press
  12. Rudolf Gouws, ekonoom
  13. Gert Grobler, ambassadeur en voormalige Suid-Afrikaanse diplomaat
  14. Chris Heymans, voormalige Wêreldbankspesialis, beleidsbestuurder by die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika, en tans ʼn vryskutkommentator oor openbare sake
  15. Gielie Hoffmann, bestuurskonsultant en skrywer
  16. Lindie Koorts, historikus, Universiteit van Pretoria
  17. Louise du Plessis, Lawyers for Human Rights
  18. Regter Johann Kriegler
  19. Ruda Landman, joernalis en skrywer
  20. JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder
  21. Barend la Grange, spesialis in gemeenskapsontwikkeling
  22. Andrew le Roux, sakeleier en raadslid
  23. Andre le Roux, Universiteit van Kaapstad
  24. Pepe Marais, hoofbeampte vir doel en visie, Joe Public
  25. Martin Oosthuizen, ondervisekanselier vir onderrig en leer aan die Noordwes-Universiteit
  26. Chris Otto, medestigter van die PSG-groep en voorsitter van Zeder Investments
  27. Nina Overton-de Klerk, spesialis in leierskapsontwikkeling
  28. Hans Pienaar, skrywer
  29. Leane Spangenberg, regsadviseur
  30. Truida Prekel, praktisyn vir konflikoplossing
  31. Jurie Schoeman, teoloog en leraar van die NG Kerk
  32. Chris Spies, spesialis in vrede-bou en bemiddeling
  33. Deborah Steinmair, skrywer
  34. Susan Steynberg, voormalige adjunkdirekteur van biblioteekdienste aan die Universiteit van Kaapstad
  35. Mareli Stolp, pianis en akademikus
  36. Petrus Strijdom, geestelike leier en teoloog
  37. Rudi Swanepoel, NG Kerk
  38. Jacob van Garderen, menseregtepraktisyn
  39. AA van Niekerk, emeritusprofessor in filosofie en emeritusdirekteur by die sentrum van toegepaste etiek aan die Universiteit Stellenbosch
  40. Anthoni van Nieuwkerk, professor in internasionale verhoudings, Universiteit van Johannesburg
  41. Ali van Wyk, joernalis
  42. Willem Kempen, joernalis

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui