NG Kerk se huis is nie ‘ruim’ genoeg vir Skrifgetroue leraars

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | NG Kerk se huis is nie ‘ruim’ genoeg vir Skrifgetroue leraars | Rapport

Lesersbrief

Rapport

Sondag, 14 Junie 2026

Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Ek verwys na Johan Eybers se berig “Hof beveel NG Kerk: Gee dominee sy kansel terug” en wil Rapport bedank dat hy nog godsdiensberigte plaas. Daarsonder sal baie gelowiges totaal in die donker wees oor wat op kerklike terrein gebeur.

Die bevel in die Wes-Kaapse hooggeregshof was seker een van die mees opspraakwekkende op kerklike gebied die afgelope eeu. Ek het die hofsaak bygewoon en het vanuit die vrae wat die regter gevra het, gesien hoe uitermatig geskok sy was deur die feite wat voor haar geplaas is.

Sy het ál die versoeke van die applikante, Coetzee en die Karatara-Sedgefield-gemeente, toegestaan en het ds. Coetzee se ampsbevoegdheid met onmiddellike ingang aan hom terugbesorg. Dit is besonder veelseggend en sal hopelik help dat die NG Kerk nou sy heksejag teen Skrifgetroue dominees staak. Geen versoeke van die respondente, die NG Kerk, is toegestaan nie.

Hierdie uitspraak is ’n keerpunt vir die NG Kerk. Die meerdere liggame moet nou hul houding en optredes teenoor dominees en gemeentes deeglik in heroënskou neem.

In ’n reguit en verdoemende uitspraak het die regter bevind dat die kerk nie sy eie kerkorde en prosedures gevolg het nie. Sy het beklemtoon dat waar dominees en kerkrade skrywes aan meerdere liggame rig, dit nie geïgnoreer mag word nie.

Alle belanghebbendes moet ’n redelike tyd kry om op klagtes te reageer, iets wat nie gebeur het in ds. Coetzee se geval nie. Waar daar persone op tugliggame geplaas word, moet hulle neutraal en onbevange wees, en alle tugstappe moet aan die vereistes van “natuurlike geregtigheid” voldoen. Sy het bevind dat daar “doelbewuste versuim” aan die kant van die NG Kerk was.

Die vraag is: Hoe is die moontlik dat die Knysna-ringtugliggaam nie kon insien dat sy optrede onregmatig en direk strydig met die kerk se ordereëls is nie? En hoekom kon die appèlliggame dit ook nie insien nie? Die antwoord is moontlik te vinde in die regter se bevinding dat daar ’n duidelike agenda was om van ds. Coetzee ontslae te raak.

Ja, die NG Kerk roem homself daarop dat hy nou ‘n “ruim huis” is, ruim genoeg om getroude gay dominees op die kansel toe te laat, tesame met vele ander dwaalleringe. Maar glad nie ruim genoeg om Skrifgetroue dominees binne die huis te behou nie. Hulle moet, dikwels tesame met hul gemeente, tot elke prys verwyder en van die aardbol afgevee word. Of met ’n hofsaak uit hul eie kerkgebou verwyder word, soos wat daar nou gepoog word om met ds. Rhenier Nel en sy gemeente in Bethulie te doen.

Een van die interessantste fasette is hoe die meerdere vergaderings van die NG Kerk die kerkrade heeltemal ignoreer in hul optredes teen dominees. Die regter het haar sterk hierteen uitgespreek en daarop gewys dat die dominee deur ’n kerkraad in diens geneem word, en dat al die tugliggame en meerdere sinodes nie summier die relevante kerkraad kan ignoreer nie.

In ’n striemende regstelling van die NG Kerk se optrede het sy gemeld dat dit vir haar onaanvaarbaar was dat ’n skedule van die oorspronklike klagtes teen ds. Coetzee en sy gemeente nooit aan hulle beskikbaar gestel is nie, ook nie wat die name van die klaers is nie, en dat die klagtes nooit behoorlik ondersoek is nie. Dié optrede het my laat dink aan my hoërskooldae toe ons geleer is hoe daar tydens die Franse Revolusie opgetree is teen sekere leiers sonder dat hulle ingelig is wat presies die klagte teen hulle is en wie die klagtes ingedien het, waarna hul kop summier gerol het.

Prof. Hoffie Hofmeyr se skrywe slaan die spyker op die kop. Ja, die vrysinnig humanistiese faksie waarna hy verwys, het die NG Kerk gekaap. Dit kan weer eens gesien word in die verkiesings by die pas afgelope Vrystaatse sinode. Miskien is die enigste oplossing, soos prof. Hofmeyr voorstel, dat die algemene sinode ontbind en in ’n federale raad van NG Kerk-sinodes, soos voor 1962, omvorm word.

Dan vra Philip Coetzee die volgende kernvrae: Indien die kerkorde voorsiening maak vir die ordelike hantering van verskille, waarom ontstaan daar steeds soveel verdeeldheid? Waarom ervaar mense dat die reëls nie altyd konsekwent toegepas word nie?

Gaan die Knysna-ringtugliggaam en die algemene sinode nou vir ds. Marius Coetzee en die Karatara-Sedgefield-gemeente om verskoning vra? Of vra kerkliggame nooit verskoning nie, maar verwag dat slegs lidmate dit doen?

briewe@rapport.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui