Eerste indrukke uit die hof: tugbesluite teen Marius Coetzee tersyde gestel

*******

Brief | Eerste indrukke uit die hof: tugbesluite teen Marius Coetzee tersyde gestel – Kerkbode

Kerkbode

Donderdag, 4 Junie 2026

Ds CJ (Neels) de Jager, leraar Vaalrivier-gemeente en aktuarius Goudland Sinode skryf: Die hofsaak tussen ds Marius Coetzee en kerkraad NG Gemeente Karatara-Sedgefield vs Ring van Knysna, die Sinode van die Wes-Kaap, en andere verwys. Hierdie is eerste indrukke onderhewig aan korreksie.

Here, wees ons genadig! Op U wag ons (Jesaja 33:2).

’n Hofgebou is ’n vreemde plek. Om daar te sit en te weet, vandag is dit kerk (wat aan die Here behoort) teen ekklesia (gemeente deur God uit die wêreld geroep) is nog vreemder.

Regter Louw het die dag met humor begin. Elke dominee en regter se droom, het sy gesê, ’n vol gebou (my parafrase).

Die advokaat vir die sinode en andere het sy saak gestel. ’n Prentjie is geskets van ’n dominee wat “defiant” opgetree het teen die gesag oor hom aangestel van die Ring se kant. Daar is gestel dat die dominee ten onregte nie teenwoordig was by sy tugverhoor nie. Die aanklag was skeurmakery en Coetzee is in sy amp gestuit. Daar is aangevoer dat die dominee se situasie soortgelyk is aan dié van ’n advokaat wat tot die balieraad toegelaat moet word alvorens hy mag praktiseer. Hierop het die regter gestel dat die twee sake glad nie vergelykbaar nie.

Die advokaat vir Coetzee was Hanri Loots SC. “Your Ladyship” het hy die meeste sinne mee begin. Hy het van sy “learned friend” verskil en aangevoer dat Coetzee slegs beswaar gemaak het teen die samestelling van die ringstugliggaam weens bevooroordeling. Verskeie skrywes gerig aan die teenparty het onbeantwoord gebly.

In haar uitspraak het regter Louw gesê dat dit verwag sou word van ’n organisasie wat gebou is op die beginsels van “grace, reconciliation and forgiveness” om eers ander opsies soos mediasie en herderlike sorg te ondersoek alvorens ’n verhoor belê word.

Sy het gesê dat die ringstugliggaam vooraf gesuiwer moes wees en nie behoorlik gekonstitueer was nie. Sy het gesê dat die gees van die Kerkorde sowel as die letter en woord van die Kerkorde in ag geneem behoort te word. Daarom moes die dominee se redelike versoek tot uitstel toegestaan gewees het. Die regter het in haar uitspraak verwys na die “tripartite agreement” waarby die leraar, die kerkraad en die breër kerk betrokke is. Om een party, die kerkraad, uit te sluit is ondenkbaar.

Regter Louw het gestel dat die onderskeie tugliggame in gebreke gebly het aangesien die beginsels van “natural justice” asook die vereistes van die Kerkorde nie aan voldoen is nie. Die besluit van die vierde respondent, ringstugliggaam Knysna, gedateer 30 Mei is tersyde gestel. Die sanksie van deligitimasie is ook tersyde gestel. Die besluite van die appèlliggaam Sinode Wes-Kaapland asook die appèlliggaam Algemene Sinode 27 Desember 2024, is tersyde gestel. ’n Kostebevel is gegee teen die derde tot die tiende respondent vir die hersieningsaansoek.

Onthou asseblief die woorde van Jesus, ’n huis verdeeld kan nie bly staan (Lukas 11:17).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui