Wat is ’n ‘kernhomo’?

Hanlie Retief het die volgende onderhoud gehad met Carel Smith. Addisionele kommentaar word gemaak deur Glo die Bybel in rooibruin blokhakies.

*********

Wat is ’n ‘kernhomo’? | Netwerk24

Deur Hanlie Retief

13 November 2016

Die Here kan gays “skuif” en hulle “genees”, het ds. Carel Smith van die NG gemeente Suider-Strand aan Hanlie Retief gesê.

Die NG Kerk het nou omgeswaai en weer die deur toegeklap in die gesigte van gays as volledige lidmate? Dis baie goed dat die ding deegliker deurdink kon word as laasjaar. Meer mense kon dieper delf en insette lewer. Dis baie kompleks.

Wat is nou anders as laasjaar? Is daar nie toe óók diep gedelf en deeglik deurdink nie? Het die sinode die Here misverstaan Die Here was daar, maar die vraag is of ons die Here kon hoor en sy stem kon onderskei.

Hoe seker is jy dit was dié keer die Here se stem? In Spreuke staan daar wysheid lê by baie raadgewers.

[Kommentaar: Miskien is die antwoord eenvoudiger. Die 2015-besluit was bloot teenstrydig met die Bybel. Die 2016-besluit het die fout herstel.]

2015 se besluit is op niemand afgedwing nie. Gemeentes kon self besluit of hulle dit wou aanvaar? Daar is mense wat sê ons moet ruimte maak vir mekaar se Skrif-interpretasie. As jy nie die reëls van goeie interpretasie volg nie, kan jou interpretasie ’n afwyking wees van die waarheid. Die Here sê al ruimte waarin ’n seksuele verhouding kan bestaan, is in ’n huwelik tussen man en vrou. Jy moet iewers besluit: gaan jy by die Bybel bly of nie.

Jy glo ook gays kan “skuif” en heteroseksueel word? Ja, dis belangrike stemme wat ook deel moet wees van die debat. Ek ken meer as 50 sulke mense.

En oortuigde Christene wat gay is en nie kan of wíl “skuif” nie? Daar is wel getuienis van gays wat verander het, selfs kernhomo’s.

Kernhomo’s? Wat is dit? Dis nie ’n erkende psigiatriese of mediese term nie, maar dis iemand vir wie dit totaal onmoontlik lyk om sy/haar seksuele oriëntasie te skuif, ten spyte van vele pogings en baie terapie. Maar selfs hulle kan skuif.

Ongeag navorsing wêreldwyd wat die teendeel bewys? Daar is navorsing wat wys dis wel moontlik as die Here werk in hul lewens. In die dokumentêr Such ­Were Some of You getuig 20 mense wat aanvaar het hulle is gay, hul predikante het selfs gesê hulle moet hul seksuele oriëntasie omhels, dis God se wil, maar hulle kon nie vrede vind nie, want Bybeltekste het hulle oortuig dis nie die Here se bedoeling nie. En dan gee hulle hul lewens totaal aan Hom oor en skuif terug na hul biologiese seksuele identiteit.

[Kommentaar: Die nuutste wetenskaplike navorsing bewys, anders as wat mense dink, dat jy NIE homoseksueel gebore word nie. Kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit.]

En as jou biologiese seksuele identiteit homoseksueel is? Jy het ’n gender-identiteit (hoe jy jouself beleef in jou gedagtes) en biologiese seksuele identiteit (jou liggaam). As jy herstel na jou biologiese identiteit, kan vrede toetree. ’n Vriend se broer was gay, maar sy ouma is ’n sterk voorbidder. Dié ou se lewe het herstel en hy is getroud. Die kerk se besluit laasjaar dat dominees mense van dieselfde geslag kan trou, was vir sy familie ’n teleurstelling, want hulle het gevoel dit misken die Here se werk in die man se lewe. Hulle, en ander gesinne, het nou die kerk verlaat. Seksualiteit is nie vas nie, dit kan skuif, soos Lisa Diamond sê in Sexual Fluidity.

Jý kan self skuif en gay word? Dis heeltemal reg. Mense se identiteit en seksuele identiteit is kompleks. Daar’s geen be­wyse dat daar ’n gay chromosoom is nie.

Jy sê dus ’n mens word nie gay gebore nie? Nee. Volgens die Bybel is die homoseksuele leefstyl nie die Here se bedoeling nie.

Baie gelowiges verskil reëlreg van jou. Ek kan net uit eie perspektief praat. Ons almal is kernsondaars, almal het genade van die Here nodig.

En gay mense wat “skuif” en dan trou, maar dit nie kan volhou nie en dan weer “terugskuif”? Daar’s traumatiese stories daaroor op die sinode aangehoor. Hulle het te gou opgehou en nie die volle pad geloop nie.

Jesus self het niks gesê oor homoseksualiteit nie, maar wel gesê egskeiding is sonde. Voel jy ewe sterk oor egskeiding? Egskeiding doen verskriklik baie skade, veral as daar kinders is. Die Here wil ons dit spaar.

[Kommentaar: Egskeiding is natuurlik net so ’n groot sonde as homoseksualiteit, maar dit is veel meer kompleks. Om twee dinge te noem: (1) Tydens egskeiding is daar twee partye. In baie gevalle is die een party heeltemal onskuldig. (2) Egskeiding is eenmalig. Wanneer ’n man sy vrou los en met ’n ander vrou trou, dan is hy in ’n onomkeerbare situasie. Hoe presies God hierdie situasie gaan oordeel wanneer die man te sterwe kom, weet mens nie, maar dit is glad nie dieselfde as ’n homoseksuele verhouding wat enige tyd beëindig kan word nie.]

Nou hoekom is daar nie spesiale sinodesittings oor egskeidings nie? Dit was jare terug wel ’n groot kwessie in die kerk.

[Kommentaar: Wat sou die doel wees? Om beter riglyne te gee oor hoe ’n gemeente geskeide mense hanteer? Ek weet nie of dit moontlik sou wees nie. Elke situasie sal op eie meriete beoordeel moet word.]

Met ander woorde, homoseksualiteit sal in die toekoms ook aanvaarbaar wees, soos egskeidings? Dit sal vir my hartseer wees as dit gebeur. My hart gaan uit na homoseksuele mense, ek verwerp hulle nie, maar die Bybel wil nie hê hulle moet volhard in ’n homoseksuele leefstyl nie.

Wat sal die Here eerder seën: ’n Liefdevolle, getroue gay huwelik of ’n liefdelose heteroseksuele huwelik vol woede en egbreuk? Albei maak die Here se hart seer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui