Moderator verklaar die Algemene Sinode tot niet. Ben du Toit sê die kerk moet skeur.

Kyk ook:

Die volgende artikel is geskryf deur Wynand Louw na aanleiding van Kerkrade ‘mág self kies’ op 13 November 2016.

*******

Moderator verklaar die Algemene Sinode tot niet. Ben du Toit sê die kerk moet skeur.

Deur Wynand Louw

13 November 2016

Nelis Janse van Rensburg word vanoggend deur Rapport aangehaal:

Twee dae nadat die NG Kerk se buitengewone algemene sinode met rooi kaarte in die lug “nee” gesê het vir verlede jaar se versoenende kompromis oor gays, het die ¬moderator gesê kerkrade kan steeds self besluit of hulle gay huwelike seën of nie.

Hiermee verklaar hy die Algemene Sinode van die NG Kerk tot niet. (Die AS het dit immers self besluit tydens die sitting vroeër die week toe bepaal is dat hulle besluite nie bindend is op gemeentes nie. Hy herhaal dus net wat die vergadering reeds onder sy voorsitterskap besluit het.)

Ben du Toit, hoofteoloog van vorige Algemene Sinodes en jare lank op die moderamen, gaan verder en verklaar prontuit dat die kerk nou moet skeur:

“Daar is baie gemeentes wat sedert die sinode se besluit in 2015 hul deure en harte onvoorwaardelik oopgemaak het vir die gay gemeenskap,” sê Du Toit. “Dié gemeentes moet nou hul onafhanklikheid ten opsigte van hierdie besluit aankondig, ongeag die gevolge, en ter wille van Christelike integriteit.”

Hierstaanek se opinie:

  1. Nelis Janse van Rensburg was die leier van die hoogste vergadering in die NG Kerk wat daardie selfde vergadering as oorbodig verklaar het. Integriteit vereis dat hy bedank.
  2. Ek het nooit gedink ek sal met Ben du Toit (Die selfde een wat sê Jesus het ‘n ligte mistykie gemaak om te dink die duiwel is ‘n persoon. En die selfde een wat verklaar dat Jesus nié uit ‘n maagd gebore is nie. Maria het dus die kat in die donker geknyp.) saamstem nie, maar ek dink hier is hy reg: Dit is tyd dat die liberales uit die NG Kerk tree en hulle eie kerkverband stig. Dan kan hulle hulle eie belydenisskrifte opstel wat nie vir hulle ‘n ketting aan die voet sal wees soos die NG Kerk se belydenisskrifte nie.

Hierstaanek

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui