NG Kerk en gays: Alliansie vra duidelikheid van hof

Kyk ook:

In Hof sê gay-uitspraak is ‘geensins onduidelik’ (11 Mei 2019) het die hof gereageer op hierdie navraag.

*************

NG Kerk en gays: Alliansie vra duidelikheid van hof | Maroela Media

28 Maart 2019

Christel Cornelissen

Die alliansie vir die verdediging van die onafhanklikheid van kerke in Suid-Afrika (Adacsa) het ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien waarin hy vra vir meer duidelikheid oor die regters se onlangse bevinding teen die NG Kerk.

Die hooggeregshof het vroeër vandeesmaand bevind die NG Kerk moet sy standpunte oor verhoudings van mense van dieselfde geslag wysig. Die NG Kerk se algemene sinode het in 2015 besluit kerke kan self besluit of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies in die kerk mag trou en of hulle gay predikante wil aanstel. Die sinodebesluit is egter in 2016 tydens ’n spesiale sitting vervang. Die hof het egter nou gelas dat die besluit van 2016 onwettig en ongeldig is.

‘n Groep mense het egter die NG Kerk hof toe gesleep oor die standpunt wat die kerk ingeneem het oor dié verhoudings. Die aansoek is deur dr. Frits Gaum, gewese redakteur van Kerkbode, sy seun Laurie, Judith Kotzé en Michelle Boonzaaier ingedien. Hulle verteenwoordig altesaam 11 teoloë, proponente en lidmate van die kerk.

Die lidmate is deur die kommissie vir geslagsgelykheid (KVG) as vriend van die hof ondersteun, wat van mening is dat dit ongrondwetlik vir kerke is om teen mense te diskrimineer.

Adacsa sê egter nou dit is onduidelik of die kerk se 2016-besluit weens prosedurele foute tersyde gestel is, en of die hof ook bevind het die besluit was ’n skending van die reg op gelykheid en ander grondwetlike regte.

Adacsa sê hy kan nou nie die groepe wat deel vorm van sy alliansie adviseer oor ’n moontlike appèl teen die bevinding nie, veral gesien in die lig daarvan dat die NG Kerk nou besluit het om nié teen die besluit te appelleer nie.

Michael Swain, uitvoerende hoof van Freedom of Religion South Africa (FOR SA), sê dit is belangrik om vas te stel of die hof se stellings oor die grondwetlikheid van die kerk se besluit deel vorm van die besluit om die 2016-besluit ter syde te stel en of dit bloot as opinieverklarings bedoel is.

In sy hofstukke verwys Adacsa na ’n artikel van die grondwetkenner prof. Pierre de Vos waarin hy skryf ’n gedeelte van die uitspraak wat verband hou met konstitusionele kwessies kan moontlik net ’n mening wees. Dit is dalk nie noodsaaklik vir die besluit nie en dus nie bindend op ander howe nie.

FOR SA vorm deel van Adacsa en verdedig en beskerm die onafhanklikheid van kerke en geloofsgroepe om hulle eie leerstellings te stel en hulle interne sake te bestuur volgens hulle eie interpretasie van godsdienstige tekste.

Swain sê sodra die hof meer duidelikheid gee sal die organisasie op ’n moontlike volgende stap besluit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui