Volksblad briewe oor Belhar

Die volgende briewe het in die Volksblad verskyn nav die Belharkwessie:

**********

Belhar en apartheidskwas

Neels Jackson se resensie oor Belhar geweeg “Belhar-boek wys waar menings uiteen loop” (VB, 6/06/2013) het betrekking. Hy maak die volgende stellings: “Op plekke in Belhar geweeg, onder meer in genl. Johan van der Merwe se bydrae, lyk dit of die destydse regering en polisie bloot ’n edele stryd gevoer het om die land teen bose magte te verdedig.

“Dit lyk soms of teenstanders van Belhar apartheid glad nie as ’n mensonterende stelsel sien nie.

“En dan is dit maklik om tot die gevolgtrekking te kom dat Belhar eintlik ’n klomp politiek op kerklike terrein kom invoer het.

“Hierteenoor is Belhar gebore uit die siening dat apartheid glad nie met die evangelie versoenbaar is nie.”

Ek het in my bydrae tot die boek feite verstrek om aan te toon dat die polisie in ’n stryd teen terreur gewikkel was, asook watter rol Belhar in die stryd gespeel het. Eie aan Belhar-kampvegters, maak Neels Jackson net stellings. Hy verstrek geen feite nie en plaas ook nie enige van my feite in geskil nie. Om geloofwaardigheid aan sy stellings te verleen, word bloot die apartheidskwas ingespan.

Neels Jackson negeer die feit dat ek prof. Dirkie Smit en dr. Allan Boesak gevra het of hulle ’n leuenverklikkertoets sou ondergaan om die volgende vrae te beantwoord om eens en vir altyd duidelikheid oor die vraag te kry of Belhar uit die staanspoor in politieke oorwegings verstrengel was:

  • Is die belydenis, volgens u kennis, op so ’n wyse opgestel, of op enige tydstip in kerklike kringe gebruik om verset teen die vorige regering aan te wakker en die regering te diskrediteer?
  • Het u op enige tydstip in die openbaar die terreurvoorvalle van die jare tagtig veroordeel en Christene aangemoedig om dit op geen wyse te steun nie?
  • Het u ooit deur u optrede of uitlatings op enige wyse, hetsy regstreeks of deur beïnvloeding of deur geld beskikbaar te stel, die revolusionêre aanslag gesteun?
  • Is die belydenis volgens u kennis gedurende die jare tagtig op enige wyse hoegenaamd gebruik om die terreur en geweld wat deur die ANC/SAKP-alliansie bedryf is, te regverdig?

Ek het onderneem om, indien hulle slaag, al die koste te dra en my Belhar-besware terug te trek. Albei het geweier. Neels Jackson het self in Beeld, susterkoerant van Volksblad, só berig.

Johan van der Merwe

Pretoria

Belhar en Pantserskool

Dr. Gerhard Botha se artikel (“Belhar maak die skuldlas ligter”, VB, 24/05/2013) is vir my ’n groot hindernis omdat ek ook daar was en van mening is dat die feite soos in die artikel beskryf, nie korrek is nie.

Die Pantserskool in Bloemfontein is ’n opleidingseenheid en nie ’n eenheid wat tydens onluste in plekke soos Bo-tshabelo operasioneel aangewend is nie. Dit het nog nooit gebeur dat soldate van die Pantserskool uitgerus was met haelgewere en met flitsbatterye geskiet het om meer effek te kry nie.

Botha verwys na Mirage-vegvliegtuie wat oor die woongebied Botshabelo gevlieg het. Hy moes dit verwar het met ’n passasiersvliegtuig wat van Bloemfontein se lughawe opstyg.

Hy vertel ook dat soldate (van wie hy een was) uitgehonger, ooreis en beledig was, maar in my tyd het dit nie gebeur nie. Hy beweer ook dat iemand soos hy met ’n BA-graad ’n goeie leier kan wees en goeie offisiersmateriaal is; en as jy nog ’n kenteken van ’n geweer dra, tel dit sommer baie punte.

Laat ek hom verseker dat hierdie vereistes nog nooit die enigste maatstaf was om ’n militêre leier te wees nie.

Wat my baie van Botha se ondervinding in die weermag pla, is eerstens dat ek nie verstaan wat hy met dié uitlatings probeer bereik nie en tweedens sy verwysing na die kapelaan se roetine van lees en bid.

Sulke uitlatings maak my en ander (oud)soldate baie seer, want die lees en bid deur die kapelaan het werklik baie beteken, veral in tye van nood, verlange en seerkry, wat hy as soldaat by die Pantserskool waarskynlik nie beleef het nie.

E. van der Watt

Kleinmond

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui