Verskillende godsdiensgroepe kan nie saam bid

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Verskillende godsdiensgroepe kan nie saam bid | Netwerk24

Gerhard Mahne, Kaapstad

04 Oktober 2023

Op die komende algemene sinode van die NG Kerk (15 tot 20 Oktober) se agenda op bl. 75, onder die opskrif: “Gesamentlike aanbidding?”, vra ’n taakspan dat NG gemeentes saam met Moslems en ander gelowe moet aanbid. Gemeentes word ook aangemoedig om sodanige aanbiddingsgeleenthede in kerkgeboue te reël.

Dis waarskynlik om oor gedeelde, kwellende kwessies in Suid-Afrika saam te bid. En sinodegangers moenie daaroor wonder nie, want “. . . die oordeel (word) aan God alleen oorgelaat”. Maar veroordeel God in sy Woord nie reeds hierdie soort gesamentlike aanbidding nie?

Dis soos om ’n man en meisie met reuseverskille in oortuigings te laat trou of om politieke partye wie se beleide radikaal bots in koalisies saam te gooi. Dit kan tog nie!

Moslems is dierbare mense, maar leer hul kinders daagliks: “Daar is ’n God, sy naam is Allah en hy het nie ’n seun nie” en Jode verwerp die feit dat Jesus die Christus is. Hieroor sê die Skrif: “Elkeen wat nie by die leer van Christus bly nie, maar verder as dit wil gaan, het God nie; wie by die leer bly, so iemand het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in julle huis ontvang nie, en hom nie groet nie” (2 Joh:9-10); nie in julle huis ontvang en nie groet nie beteken om nie op godsdienstige vlak met diesulkes te verkeer nie.

En dít, ten spyte van die argument dat alle godsdiensgroepe tog maar in dieselfde skepper glo.

Wel, in die antieke heidense Egipte was Ra die skeppergod en onder die Grieke was dit Phanes. Tog is daar vir Bybel-gelowiges net één God in wie se teenwoordigheid hulle mag leef en aanbid, en dít is Jahwêh, wat Homself in sy Seun, Christus Jesus, geopenbaar het.

Vraag is dan hoe Bybel-gelowiges in ’n land met gedeelde uitdagings moet optree. Die Woord sê: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word . . .” (Fil. 4:5). Alle mense! Selfs vreemdelinge moet met liefde behandel word – ’n liefde “soos vir jouself” (Lev.19:34). Dis ’n beroep tot vriendelikheid, hulpvaardigheid, bedagsaamheid en ware liefde teenoor ons Moslem-bure, Jode en wie ook al. Dit alleen skep ’n omgewing waarin agting en vrede gedy. Gesamentlike aanbidding tussen godsdiensgroepe is téén die Bybel.

Kommentaar

Aanbeveling aan sinode laat my dink aan Elia | Netwerk24

Arie van der Bijl, Bloemfontein

05 Oktober 2023

Die aanbeveling van ’n taakspan aan die komende algemene sinode van die NG Kerk dat verskillende gelowe saam moet bid (Gerhard Mahne se brief, 04.10) laat ’n mens dink aan Elia, wat onder die besembos gesit het en by die Here gekla het dat die Israeliete al die profete doodgemaak en dat net hy (Elia) oorgebly het (1 Konings 19).

Die Here sê dan aan Elia hy sal 7 000 in Israel laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.

Gelukkig het Hy ook in vandag se tyd mense soos dr. Bernhard Ficker en prof. Johan Janse van Rensburg laat oorbly – mense wat nie van Sy Woord afwyk nie.

Baie dankie dat Volksblad nog gereeld dr. Ficker se briewe publiseer.

1 thought on “Verskillende godsdiensgroepe kan nie saam bid”

  1. Ek vind dit voorwaar vreemd dat sommige gelowiges so onseker is oor hulself dat hulle nie om die tafel of in ‘n kerk kan sit met ander gelowiges wat in die selfde God as hulle glo nie. In watter vrees en ongemak moet hulle dan leef in ‘n wereld waar hulle heeldag met mense te doen het wat in geen God of gebod glo nie. Dis tragies , gelukkig is daar geloofs mense wat die moed het om aan te beweeg.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui