Kerk moet eers voor eie deur vee

*******

Kerk moet eers voor eie deur vee | Volksblad

Volksblad, 20 Maart 2004

Sakkie Spangenberg

Dis my gewoonte om minstens een keer per week die elektroniese weergawe van Volksblad te lees en ook na die briewe te kyk. Ek was totaal verras toe ek gister (18/3/04) die brief van prof. Piet Strauss oor verdagmakery (12/3/04) te lees kry. Daarin skryf hy oor wat Christelike optrede behels: Dat mense wat nie groepdenke deel nie (nie tot die “kraal” behoort nie) gerespekteer moet word; dat hulle nie persoonlik en venynig aangeval moet word nie; dat hulle nie geëtiketteer moet word nie; dat die bal en nie die man gespeel moet word nie; “dat die kerk dinge op die manier van die kerk en daarom vanuit die Woord, moet doen”.

Ek het byna van my rekenaarstoel geval!

EK is ’n teoloog wat nie groepdenke deel nie (nie tot die “kraal” behoort nie). Ek speel graag krities in op die NG Kerk se teologie. Speel die bal en nie die man nie.

Maar wat was my ervaring die afgelope twee maande (ek kan eintlik skryf — die afgelope sewe jaar).

Sowat van venyn het ek lanklaas beleef. Ek word in die openbare pers verguis en beswadder – deur teoloë, dominees en lidmate. Is dit die kerklike en Christelike weg?

My naam is ook onregmatig uit die NG Kerk se Jaarboek 2004 as proponent verwyder — glo omdat daar ’n klag van leerdwaling teen my ingedien is.

Dit terwyl ek nog nie deur ’n kerklike liggaam aangekla, verhoor en skuldig bevind is nie!

Ek wag nog dat die Algemene Regskommissie (waarvan prof. Strauss lid is) my ’n verskoning in Die Kerkbode aanbied vir hierdie onprosedurele optrede.

Ek ondersteun die argumentasie in sy brief en sal dit waardeer indien hy daardie eerste paragraaf van sy brief aan alle teoloë, predikante en lidmate van die NG Kerk sal stuur.

Kom ons vee eers voor ons eie deur!

Prof I.J.J. Spangenberg
Departement Ou Testament, Posbus 392, Unisa, Pretoria

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui