Hoe maak mens gereed om die Here te ontmoet?

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Oktober 2001 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek was jare gelede oppad na ’n byeenkoms waar ek moes preek. Voor my in die pad was daar ’n wolk. Dit het by my opgekom: Gestel die Here Jesus sou nou in daardie wolk verskyn en ek besef dit is nou die dag van die wederkoms. Wat sou ek vir die Here Jesus sê. Sou Hy tevrede wees met my lewe? Ek was op pad om te gaan kerkhou, maar dit het skielik vir my geen betekenis gehad nie. Ek het besef dit het geen waarde vir my om vir my tot redding te dien nie. Dit het my aan die dink gesit. Ek het vir ’n paar dae nagedink oor die ervaring wat ek gehad het.

Ek was toe al vir ’n jaar of wat ’n predikant. Ek het sewe jaar teologiese studie agter die rug gehad. Ek het al baie preke gemaak en gelewer. Ek het ’n entoesiasme gehad vir my werk as predikant en tog moes ek in daardie tyd vir myself afvra: wat het ek om vir die Here aan te bied as ek nou voor Hom moet staan.

Miskien is daar van julle wat in hierdie tyd ook meer begin nadink oor die einde van die wêreld. Ek glo die Here is besig om ons voor te berei vir die wederkoms. Die verskriklike terroriste aanvalle in Amerika, het meegebring dat daar ’n internasionale senuweeagtigheid by die mensheid ingetree het. Niemand weet regtig wat volgende gaan gebeur nie. Die dinge waaroor voorheen rolprente gemaak is, het nou in die werklike lewe begin gebeur.

Ek wil julle vertel wat ek geleer het uit my ondervindingdaardie dag toe ek na die wolke gekyk het daar voor in die pad.

Ek het tot die ontdekking gekom daar is niks wat ek vir die Here kan aanbied nie. Ek het nie iets waarmee ek kan betaal vir my tekortkominge nie. My studie en my preke en my werk vir die Here is betekenisloos, waardeloos om my vir God aanvaarbaar te maak. Ek het ontdek ek kan my alleen maar net beroep op God se genade as ek voor sy regterstoel te staan kom.

Daar is egter ’n paar dinge wat belangrik is:

  • Roep God aan in waarheid: Wat beteken dit? Jy moet glo dat Hy is wat Hy is. God is nie maar enige Iemand nie. God is die Een wat Hom in die Bybel aan ons bekend gemaak het. Hy het gesê Hy is vir jou ’n Pa en jy kan so met Hom praat, soos ’n kind met sy Pa.
  • God wil weet dat jy Hom liefhet: Nadat Petrus die Here verloën het wou Jesus een ding van hom weet en dit is: “Petrus het jy my lief?” Dit is wat God uiteindelik van ons almal wil weet. Moenie ongeërg deur die lewe gaan en hoop vir die beste as jy eendag voor God te staan moet kom nie. Jy betoon jou liefde vir God deur dit vir Hom te sê in jou gebede. Bid tot Hom met die woorde van Ges 190:

(1) Neem my lewe, laat dit Heer,
U gewy wees meer en meer;
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig!

(5) Maak my hart vir U tot troon
Deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil gevoel en daad
Altyd na u wyse Raad.

  • Demonstreer jou liefde vir God deur jou dade: Behandel jou medemens met liefde. Bekeer jou van die dinge wat die Heilige Gees aan jou as sonde openbaar.
  • Word ’n volgeling van Jesus: Begin ’n lewe in die teenwoordigheid van Christus. Laat Hy jou leer hoe om te lewe. Lees die Bybel sodat Jesus jou deur sy Gees kan onderrig. Jy moet ’n nuwe mens word. Christus se persoonlikheid moet algaande in jou gestalte kry.

Kom ons gee ag op die “tekens van die tye.” Maak jou gereed om Christus te ontmoet. Dit is nie moeilik nie, maar dit is belangrik. Dit is lewensbelangrik!

Ds Jan Louw

1 thought on “Hoe maak mens gereed om die Here te ontmoet?”

  1. Baie dankie vir die “eyeopener” . Ek het nie besef EK moet my gereed maak vir MY ONTMOETING met JESUS.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui