NG Kerk sê oor ‘Nuwe Hervorming’

*******

NG Kerk sê oor ‘Nuwe Hervorming’ | Kerkbode

Kerkbode, 28 Februarie 2003

Die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) van die NG Kerk het verlede week in Kaapstad sterk standpunt ingeneem teen aspekte van die “Nuwe Hervorming”.

Die ASK het in opdrag van die Algemene Sinode ‘n verslag oor die Nuwe Hervorming goedgekeur om aan lidmate en die pers beskikbaar gestel te word. In die stuk word · gesê dat die Nuwe Hervorming “saam met die ‘Jesus Seminar’ (in die VSA) sake betwis wat deur die eeue as die hartaar van die Christelike geloofbeskou is.” Hulle het, volgens die ASK, bedenkinge oor Jesus se geboorte uit ‘n maagd en dus oor ons geloof “dat Hy die God-mens is, verwek deur die Heilige Gees, gebore uit ‘n meisie sonder dat sy met ‘n man gemeenskap gehad het”. Hulle wek ook twyfel oor Jesus se werklike, liggaamlike, historiese opstanding uit die dood, “en bring dus die kern van ons geloof in ‘n opgestane Here in die gedrang”. Die ASK het hom gedistansieer van die beskouings van die Nuwe Hervonning wat in stryd is met die kerk se belydenisskrifte. Die waarde wat historiese navorsing vir die teologie kan hê, word erken, maar die ASK is daarvan oortuig “dat ons belydenis van die maagdelike geboorte van Jesus, sy wonders, sy opstanding en hemelvaart nie afhanklik is van die soort historiese bewysvoering wat in die kringe van die Nuwe Hervorming en Jesus Seminar gebruik word nie.”

Bybel-Media is gevra om so gou as moontlik toerustingsmateriaal te verskaf waarin ons geloof kernagtig bespreek word en ‘n “Jaar oor ons geloof” sal dalk ook binnekort in die NG Kerk gehou word. Die ASK sal ook gesprek met verteenwoordigers van die Nuwe Hervorming voer.

• Die volledige teks van die ASK se standpunt oor die Nuwe Hervorming word in die April-uitgawe van LIG gepubliseer

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui