Dán nie beskaaf om op te tree

*******

Dán nie beskaaf om op te tree | Beeld

Beeld, 7 September 1993

J. JOUBERT, Hartbeespoort, skryf:

IN Beeld (27 Augustus) lees ek die siening van prof. Julian Müller, hoogleraar in praktiese teologie, oor die optrede van die groep Christene saam met eerw. Sibisi by ‘n teater. Hy veroordeel dié beswaar en die gepaard gaande protes dan nou as nié volgens die evangelie nie.

Wat ‘n vreemde wêreld!

Vir elke ding onder die son kan en ”mag” mense protesteer want dis dan hul demokratiese ”reg”. Prostitusie moet gewettig word, sê party. Openlik met plakkate. Dié een gaan hof toe omdat sy naam belaster is, dáárdie een kla oor vullis op ‘n sypaadjie.

Alles goed en reg.

Maar wanneer die eer, die Naam van die Allerhoogste aangetas word, dán is dit nou nie beskaaf om op te tree nie. Lees ons ”gewone” mense die Bybel anders as ‘n ”praktiese teoloog”? Verbeel ek my maar net dat Hy gesê het as ons ons voor die mense skaam vir Sy naam, sal Hy hom voor die Vader skaam vir ons? Dat wie nie vír jou is nie, téén jou is? Is dit dié dat die Here so lief was vir ”gewone” mense en baie van hule as Sy dissipels geroep het? Die professor sê: ”Dit maak nie saak hóé edel jou saak is nie, as jy ‘jou’ wil en siening aan ander opdwing, teen hul sin, moet jy nie steun by die evangelie soek nie.” Teen hulle sin. Die mens se sin soms ‘n dwase, nietige sin. Maar jy mag nié teen húlle sin (al behels dié sin ook godslasterlikhede) optree nie. Mag jy nie in die Naam van die Here, om Wie dit vir jou behoort te gaan, optree nie? Jy dwing nie jóú sin op nie, jy tree op as Christen wat volgens sekere beginsels móét leef en jou nie in die openbaar moet skaam om te wys dat jy ‘n Christen is nie.

As ‘n “praktiese teoloog” tog so bang is om op te tree teen die sin van ‘n paar mense, wat lasterlikhede teenoor die Here wil bedryf, wil ek liewer ‘n praktiserende Christen wees. As ek mag betoog teen nietige, tydelike irritasies, mag ek beslis ook in die belang van die Ewige optree en my voorkeure wys. Dit word nie gedoen met geweld, met vloek en skel nie. Of sal ons swyg daar is mos baie klippe wat dit kan uitroep?

Dankie, eerw. Sibisi en u mense, dat u die moed gehad het om sigbaar in verset te kom. Die Here het sigbaar in verset gekom en sigbaar die wil van God uitgevoer. Wie twyfel aan Sy liefde? Hy het dit nie gedoen om eie eer nie, maar om die wil van sy Vader, wat die voorkeur geniet bo alle ander “wille”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui