Gebede ‘verlaag tot vlak van pantserkar’ by vertoning

Gebede ‘verlaag tot vlak van pantserkar’ by vertoning | Beeld

Beeld, 27 Augustus 1993

Neels Jackson

Kerksake-verslaggewer

DIE Christene wat ‘n teater twee uur lank beset het in ‘n poging om ‘n vertoning van die rolprent The last temptation of Christ te verhinder, het die gebede en geestelike liedere wat hulle in daardie tyd gesing het, verlaag tot die vlak van ’n pantserkar.

Dié oordeel kom van prof. Julian Müller, hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Prof. Müller kritiseer in Die Kerkbode, weeklikse koerant van die NG Kerk, die optrede van ‘n groep Christene wat in Johannesburg probeer keer het dat die rolprent vertoon
word.

Onder dié groep was eerw. Fano Sibisi, president van Christene vir die Waarheid, en baie van dié organisasie se lede.

Prof, Müller skryf hul optrede lyk vir hom nie veel anders as die verregse besetting van die World Trade Centre nie. Dat hul instrumente gebede en liedere was, gee nog nie ‘n Christelik-etiese regverdiging aan hul optrede nie.

“Dit maak nie saak hoe edel jou saak is nie, as jy jou wil en siening aan ander opdwing, teen hul sin, moet jy nie steun by die evangelie gaan soek nie.

“En as jy dan nog Christelike simbole en rituele soos gebed en sang op dié manier misbruik, word dit soveel meer verwerplik. Dan moet jy miskien maar liewer ‘n pantserkar gebruik,” skryf hy.

Prof. Müller verwerp ook die redenasie dat ’n mens alles in die stryd moet werp tot eer van God se Naam as dit belaster word. Dit is volgens hom dié soort redenasie wat in die geskiedenis aangevoer is ter regverdiging van die sogenaamde heilige
oorlog. En dit het telkens ‘n laagtepunt in die geskiedenis van die Christendom geword.

Eerw. Sibisi het gister by navraag gesê hy ken dié soort redenasies van liberale teoloë. Hy meen dit is baie onregverdig dat sy organisasie se optrede met dié van verregses vergelyk word. Christene vir die Waarheid het geen geweld gebruik nie.

Eerw. Sibisi het gesê hy twyfel sterk daaraan of iemand wat meen die rolprent is nie godslasterlik nie, ooit ’n persoonlike ontmoeting met Christus gehad het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui