NGK besin weer ná sterk nee vir Belhar

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Netwerk24 verskyn. Let op wat Nelus Niemandt sê:

“Belhar het volgens Niemandt ’n karakter gekry en handel oor meer as net die inhoud daarvan. Hy het gesê op ’n simboliese vlak is dit ’n verklaring deur mense dat hulle in Suid-Afrika wil bly en ’n positiewe bydrae wil maak en nooit weer die pad van apartheid wil stap nie.”

Dus gaan dit vir hom oor Belhar se “politieke” waarde.

**************

NGK besin weer ná sterk nee vir Belhar

Vicus Bürger Dinsdag 17 Februarie 2015 06:29

“Dít kom nadat die oorweldigende meerderheid van Vrystaatse gemeentes nee gesê het vir die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die kerkorde

“Ons kan nie toelaat dat Belhar ’n skeuring in ons gemeentes veroorsaak nie,” het ds. Helgard Janse van Rensburg, Vrystaatse moderator van die NG Kerk, gesê.

’n Moderamen-vergadering word Woensdag in Bloemfontein gehou waarop hulle sal besin oor hoe “heling” in die NG Kerk en die NG Kerk-familie bewerkstellig kan word.

Janse van Rensburg meen onenigheid bestaan onder lidmate – sommige is dalk kwaad vir mekaar en die “Here Jesus se kerk kry seer”.

“Ons wil die ‘seerkry’ aanpak.”

Dít kom nadat die oorweldigende meerderheid van Vrystaatse gemeentes nee gesê het vir die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die kerkorde, het Kerkbode berig.

141 gemeentes het teen die wysiging gestem en net 16 daarvoor.

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode, het Maandag gesê: “Ek is baie bekommerd oor en teleurgesteld in die uitslag.”

Janse van Rensburg, ’n leraar van die NG kerk Villiers, het gesê Vrystaatse lidmate het uiteenlopende standpunte oor die voorgestelde Artikel 1, wat ruimte vir die aanvaarding of nie van die Belydenis van Belhar wou maak.

Twee derdes van sowel die gemeente as kerkraad moes egter volgens die kerkordelike proses ten gunste van die voorgestelde Artikel 1 gestem het vir die betrokke gemeente om as geheel die ja-woord te kon gee.

Enigiets minder is as ’n nee-stem beskou.

Janse van Rensburg het gesê van die redes hoekom sommige mense teen Belhar gekant is, is dat hulle nie met die inhoud daarvan saamstem nie en nie die sprong na ’n nuwe bedeling kan maak nie.

“Ander lidmate stem saam met die inhoud daarvan, maar wil nie hê dit moet deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk wees nie.”

Stappe wat die kerkraad van Janse van Rensburg se eie gemeente reeds gedoen het om weer eenheid teweeg te bring, is om die uitslag van die stemmery te aanvaar en te verklaar hulle het die proses met integriteit gevolg.

Voorts het lidmate nie onder dwang deelgeneem nie.

Die kerkraad het ook ’n beroep op lidmate gedoen om ondanks uiteenlopende standpunte hande te vat en voorbidding vir die kerk te doen.

Hy het gesê ander gemeentes in die provinsie het soortgelyke stappe gedoen.

Dit is nie net gemeentes wat vir of teen die voorgestelde Artikel 1 moet stem nie, maar ook die tien sinodes.

Die Vrystaat se buitengewone sinode is op 17 Maart in Bloemfontein waarop die provinsie dan stemme gaan uitbring.

Die Oostelike Sinode en Oos-Kaapland het reeds ja gestem, het Kerkbode berig.

Belhar het volgens Niemandt ’n karakter gekry en handel oor meer as net die inhoud daarvan.

Hy het gesê op ’n simboliese vlak is dit ’n verklaring deur mense dat hulle in Suid-Afrika wil bly en ’n positiewe bydrae wil maak en nooit weer die pad van apartheid wil stap nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui