Mensgerigte godsdiens? Die diepste motivering is die liefde van Christus

Kyk ook:

*******

Mensgerigte godsdiens? Die diepste motivering is die liefde van Christus – Kerkbode

Neels Jackson

24 Oktober 2022

Neels Jackson van Centurion skryf: Baie dankie aan ds Dawie de Wet van Willowmore vir die brief waarin hy antwoord op my artikel oor mensgerigte godsdiens en sosiale geregtigheid.

Ds De Wet sien sosiale geregtigheid as ’n ideologie wat voortkom uit humanisme en Marxisme en wat die hart van die evangelie mis. Hy meen dat sosiale geregtigheid die totale verlorenheid van die mens ignoreer.

Indien dit so sou wees, wil ek graag hoor waar die Algemene Sinode sigself skuldig gemaak het hieraan. Ek het persoonlik al die algemene sinodes van 1990 tot 2019 bygewoon en ek het nooit daardie indruk gekry nie. My indruk was altyd dat die Algemene Sinode probeer het om in die lig van God se Woord op te tree.

Dit is so dat daar ’n skuif in die Algemene Sinode se teologie gekom het om meer mensgerig te wees. Daaroor skryf ek in Hoofstuk 9 van my boek Drie dekades van verandering – die NG Kerk se pad van verruiming. Daardie skuif het begin met die afskeid neem van apartheid en die onreg daarvan. Dit het later uitgemond in die Seisoen van Menswaardigheid waarvoor die Algemene Sinode van 2013 ’n teologiese begronding gegee het.

In daardie begronding is onder meer gesê “dat die sentraliteit van die begrip ‘menswaardigheid’ in die moderne wêreld slegs deur die invloed van die Christelike geloof deur die eeue verklaar kan word – iets waarop baie historici en sosiaal-wetenskaplikes, ook nie-Christene, wys.” Daar word ook gesê: “God ag mense so waardevol dat dat Hy sy Seun na hulle toe stuur.”

En oor Jesus: “Sy ongekende passie vir die randfigure van die samelewing , kinders, vroue, vreemdelinge, ens, kan nie as onbelangrike inligting afgemaak word nie. Dit is egter veral sy deelnemende betrokkenheid, sy beliggaaming van sy sorg en die oorsteek van grense na mense wat deur die magtiges uitgesluit is, wat die sleutel word tot die evangelie se oproep tot die erkenning van alle mense as beeld van God. Hierin moet Christus nagevolg word.”

Wat beteken dit in die praktyk?

Ek dink aan ’n verhaal op die voorblad van Kerkbode van 18 Mei 2018. Kitiwe Zwane was ’n dwelmverslaafde prostituut. Maar Ladies Arise, ’n bediening van PEN, het met die sagte liefde van Christus na haar uitgereik. Hulle het onder meer gehelp om vir haar huisvesting en werk te kry – dinge wat gemaklik onder die noemer van sosiale geregtigheid kan val. Hulle het haar gehelp om heel te word en ’n geestelike tuiste by die Arcadia Faith Community, ’n bediening van die NG gemeente Pretoria, te vind.

Kitiwe se herstelverhaal is die resultaat van ’n holistiese bediening aan die hele mens. Dit sluit geestelike én konkrete nood in.

Op dieselfde manier het die kerk op verskillende terreine begin reageer op verskillende vorme van nood. Dit wissel van mense sonder kos of blyplek, tot by mense wat diskriminasie beleef omdat hulle gekleurd is of vroue is, tot by gay mense.

En die diepste motivering is g’n ideologie nie, maar die liefde van Christus.

1 thought on “Mensgerigte godsdiens? Die diepste motivering is die liefde van Christus”

  1. Die Bybel sê:”Dit is wat die liefde van God beteken:Dat ons sy gebooie gehoorsaam en tog is sy gebooie nie moeilike om te gehoorsaam nie”
    Gevolglik is die sogenaamde diepste motivering,die liefde vir Christus ietwat van n treurmare
    Ek is bewus van n organisasie wat die goeie nuus van God se hemelse koningkryk verkondig regoor die wêreld.Dit is beslis nie die N.G kerk nie ooreenkomstig die Bybel se definisie van liefde vir God:”WAAR IS DIE N.G KERK SE GEHOORSAMIGHEID AAN JESUS SE INSTRUKSIE INDIEN HULLE WEL LIEF IS VIR GOD.DIE GOEIE NUUS WORD NIE WERELD WYD VERKONDIG DEUR KERKKLOKKE IN GOEIE OU SUID AFRIKA TE LUI NIE.DIE UITSAANDE IDENTIFISERENDE MERK VAN WARE CHRISTINNE OOREENKOMSTIG JESUS IS.HIERDEUR SAL ALMAL WEET DAT JULLE MY VOLGELINGE IS:”AS JULLE LIEFDE TUSSEN JULLESELF HET”GEVOLKLIK HET DIE N.G KERK N VORM VAN GODDELIKHEID,MAAR BEWYS HULLESELF VALS T.O.V DIE KRAG VAN GOD.SOOS DIE WETTELOSE MAN IN DIE TEMPEL VAN GOD,HET HULLE HULSELF BO GOD VERHEF,SODAT HULLESELF DIE NORME EN STANDAARDE VAN CHRISTENSKAP KAN BEPAAL EN NIE GOD NIE.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui