Elmarie Dercksen: Nomades wat op Advent wag

Kyk KOMMENTAAR onderaan en ook die skakels wat ek in die artikel ingevoeg het.

*******

Elmarie Dercksen: Nomades wat op Advent wag | Netwerk24

Elmarie Dercksen

22 November 2022

Ek en my Bybelleesgroep het hierdie kwartaal Genesis 1 tot 11 gelees – oor die voorgeskiedenis.

Die oergoed, die oorvertellings wat niemand kon aanskou om dit op te teken nie. Dis vreemde dinge, hoor!

’n Wonderlike tuin wat toe verbode word; die eerste moordkonflik, jou werklikwaar tussen sibbe; ’n baie groot boot (en ons het dit vergelyk met sommige van die ongeveer 200 vloedverhale van ander kulture); ’n baie groot stad met ’n toring en ’n heldekoning.

En teen die einde, ’n inleiding wat ons neem na hoofstuk 12: ’n Man neem sy oorlede broer se kind aan as sy eie, en hulle gesin trek.

Ons gesprek kies hierdie afdraaipaadjie: Wat het dit beteken dat God vir Abram sê om te trek?

Vir die eerste lesers van Genesis was dit betekenisvol dat hy en sy gesin juis padgee uit Ur van die Galdeërs, ’n ander naam vir Babilon.

Dit sou beteken dat God ook vir hulle uit ballingskap kon laat padgee, terug na Kanaän.

“Hoe voel dit om te trek?” vra ons mekaar. En elk het inderdaad ’n verhaal oor verhuising te vertel.

Een van ons het tien weke per skip gereis vanaf Australië, in 1975, om in die Kaap te kom hervestig.

Een van ons is hier gebore, maar die res is inkommers. Ons het almal al ons besittings opgepak of weggemaak, “want dis net aardse goed”, rondgeval om weer ’n inkopiesentrum te vind, ’n dokter en ’n tandarts, die verkeer gewoond te raak.

Kerk gesoek. Probeer vriende maak.

Dis rof om te trek.

En ons mymer: Daardie gesin aan die begin, was dit vir hulle ook rof om skielik nomadies te word? Moes hulle eers halt roep in Haran omdat oupa Tera siek geword het, of het hy botweg geweier om verder te gaan en hulle moes maar ’n dekade lank daar oorstaan?

Het hulle juis in “trek” ontdek wat dit beteken om op God te vertrou?

Byna vreemder as die oerverhale, vreemder as die geslagsregisters, vreemder en wonderliker as enige tuin of toring, is die persoonlike amperse “inbars” van God in hierdie verhaal.

God, die Onmeetlike, besluit om te praat? Met een persoon, in persoon?

Liewe leser, kan jy ook ’n oomblik neem om te waardeer hoe kosbaar hierdie vertelling is?

Dis so vreemd soos Kersfees. Wel, amper.

Kersfees behels die volheid van die tyd, ná die verloop van eeue van kultus en konings en profete, toe God weer persoonlik “inval”, hierdie keer finaal bepalend vir die mensdom se geskiedenis.

Ons betree byna Advent, en ek moet myself toelaat om te waardeer hoe vreemd dit ook vir my is. Ek moet myself toelaat om te dink wat ’n wêreld sou wees sonder God se invalle.

Ek moet myself toelaat om met verwagting my gesig te draai na die betekenis hiervan. Want dis regtig vreemd. Weird, sou my dramatiese storievertel-vriendin sê.

Ons het uitgesien na 2022. Ons was ontslae van die pes, ons kon weer begin skouer aan die wiel sit, momentum kry in werk en in speel. Gaandeweg het ons agtergekom dat dinge verander het, dat ons sukkel om bloot voort te gaan.

Op ’n manier het ons nomadies geword: Niks is meer so seker soos wat dit voorheen was nie.

Ons het nie sonder meer teruggekeer werk toe en skool toe en kerk toe nie; ons neem besluite vanuit ander oorwegings, nou.

Ons leer op nuwe maniere wat dit beteken om op God te vertrou, en dit is nie aldag maklik nie.

Ek hoop dat jy ook gedurende hierdie Advent jou verwagting gaan rig op die vreemde, lewensveranderende, liefdevolle inval van God in ons lewens.

Kommentaar

‘n Mens wonder hoekom kersfees vir Elmarie Dercksen vreemd is. Is dit omdat sy haar betwyfelinge het oor Jesus se Godheid?

Dit lyk ook of die hele Genesis 1 tot 11 vir haar baie vreemd is.

Elmarie Dercksen en haar man Thinus Britz is beide verbonde aan NG gemeente Bloubergstrand. Dit is hier waar Stefan de Klerk, ’n gay proponent, op Sondag, 13 Maart 2022 as predikant bevestig is.

As ’n mens dit in ag neem is mens nie verbaas dat ook hierdie Bybelse waarhede vir haar vreemd is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui