Maats word predikante, maar gay nie

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn (skakel).

****************

Maats word predikante, maar gay nie

2012-03-05 23:35

Neels Jackson

Mnr. Mark le Roux is nie kwaad vir die Hervormde Kerk nie. Hartseer, ja. By tye ongeduldig. Soms moeg.

Maar nie kwaad nie.

As gay teologiestudent wat nie skaam is oor sy seksuele oriëntasie nie, gaan hy Donderdagaand kyk hoe sy klasmaats gelegitimeer word.

Hy het op die vorige algemene kerkvergadering ’n pleidooi gerig dat hy toegelaat moet word om predikant te word.

Toe dié vergadering egter met ’n kleinerige meerderheid besluit het om nie die deur vir gays te open nie, het hy besef legitimasie gaan hom nie nou al beskore wees nie.

Dat die dag egter gaan kom dat hy ook op ’n Hervormde kansel sal kan staan en die seën oor die gemeente uitspreek, daaroor het hy geen twyfel nie.

Intussen is hy besig met ’n meestersgraad oor homofobie in die Suid-Afrikaanse konteks en daarna sal ’n doktorsgraad seker volg.

Hy doen ook administratiewe werk vir ’n biokinetikus in die stad. Hoewel dit nie is waarvoor hy opgelei is nie, geniet hy dit baie, sê Le Roux.

Tog voel hy ook soms dat hy soveel meer het om te bied.

As hy maar die net die kans gebied word. Ja, hy het frustrasies daaroor.

Oor die legitimasieplegtigheid is hy ter wille van sy klasmaats opgewonde. Hulle het ’n hegte groep gevorm en hy weet hy het hul steun.

En terwyl hy daarvan oortuig is dat sy beurt ook eendag sal kom, gaan hy nou eers sy klasmaats se vreugde deel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui