‘Krisis-uur’ breek aan vir NG Kerk

*******

‘Krisis-uur’ breek aan vir NG Kerk | Rapport

Johan Eybers

Rapport, 18 Februarie 2024

Die NG Kerk het ’n krisispunt bereik en dis tyd dat lidmate en predikante eens en vir altyd tussen die “ware” en die “valse” kerk kies.

So eis die behoudende Koi­no­nia-sinode, wat uit 56 NG gemeentes bestaan, in ’n nuwe dokument wat die afgelope week goedgekeur is.

Daarin maak die Koinonia-­sinode dit duidelik dat hulle hul “distansieer van samewerking met gemeentes en meerdere vergaderings wat die algemene sinode se dwaling ondersteun”.

“In hierdie krisis-uur” vra hulle dat lidmate “die identiteit van die ware en valse kerk moet onderskei en dan besluit waar hulle die Here wil dien”.

Luidens die dokument sal behoudende gemeentes voortaan na hulself verwys as “vrygemaakte gemeentes”. Hulle beskou gemeentes wat deel bly van die algemene sinode as “vrysinnige gemeentes” wat “die gesag van God ondermyn” en “afwyk van die gereformeerde leer”.

Die “vrysinnige gemeentes” word voorts as “tugwaardig” gebrandmerk. “Om belydende lidmate van ’n gemeente van die NG Kerk te word, moes ons eers ’n openbare geloofsbelydenis aflê. Die oomblik wanneer ons daardie beloftes verbreek, word ons tugwaardig en kom ons lidmaat­voorregte en selfs lidmaatskap van die NG Kerk in die gedrang.

“Die eerste en belangrikste kriterium vir lidmaatskap van enige NG gemeente is nie by watter gemeente, ring of sinode jy inskakel, of watter band jy met die algemene sinode het nie en watter besluite van sinodes jy aanvaar of verwerp nie, maar wel of jy in leer en lewe nog staan by jou lidmaatbelofte en legitimasie-eed.

“Op grond hiervan erken ons slegs die bevoegdheid van ampsdraers en teologiese dosente wat getrou bly aan bogenoemde beloftes,” lui die dokument.

Hiervolgens distansieer hulle hul van die “sogenaamde middelgrondkerk wat sy profetiese stem verruil vir ’n houding van toenemende toleransie teenoor afwykende leringe” wat insluit “die relativering van die Bybel se boodskap oor die huwelik”.

“Ons kan nie langer ’n kerkverband koester wat poog om waarheid en leuen onder een dak te huisves nie. Ons skort nie ons verband met die NG Kerk op nie, maar wel met die algemene sinode asook ander kerkvergaderings wat nog wil voorgee dat hulle die NG Kerk verteenwoordig, maar nie meer die merk­tekens van die ware kerk dra nie en nie meer getrou is aan die belydenisgrondslag van die NG Kerk nie.”

Volgens Koinonia moet “vrygemaakte gemeentes” self besluit oor hul keuse van opskorting van kerkverband.

“Opskorting is per definisie tydelik van aard. Die eindpunt van hierdie opskorting sal bepaal word deur die partye se gewilligheid of onwilligheid om te buig voor die gesag van die Woord. Opskorting bied die moontlikheid dat behoudendes en vrysinniges se paaie vorentoe op ’n welwillende wyse, in die gees van artikel 37 van die kerkorde, uiteen kan gaan.”

Ingevolge art. 37 kan ’n streeksinode volgens sommige vertolkings volledig wegbreek én sy status as NG kerk, voorregte, regte, besittings en naam behou.

Koinonia nooi verder “vry­gemaakte gemeentes” om in te skakel by die ring van Standerton met sy ses gemeentes wat “erken is as die heel eerste Koinonia-ring”.

Koinonia voer verder aan dat behoudende lidmate in “vrysinnige gemeentes” hul lidmaatskap sal kan oorplaas na “vrygemaakte gemeentes”, ongeag waar hulle bly.

“Alle deelnemende gemeentes sal aangemoedig word om hul eredienste direk aanlyn uit te saai en elektronies beskikbaar te stel sodat lidmate van enige omgewing af daarin kan deel.”

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia-sinode, sê sowat 20 gemeentes het reeds aangedui dat hulle net gewag het vir die goedkeuring van die dokument oor die pad vorentoe voordat hulle uit die kerkverband gaan tree.

Die Tafelberg-gemeente in Kaapstad se middestad was in Junie die eerste gemeente wat hom losgemaak het van die algemene sinode.

Die gemeentes van Leeuwberg, Vanstadensrus en Kestell in die Vrystaat het daarna hul kerkverband opgeskort. Hulle is gevolg deur die gemeentes van Kempton Krag en Die Strand wat hulle onderskeidelik in Desember en in die middel van Januarie van die algemene sinode losgemaak het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui