Kyk ook:
Kyk Boere van Bethulie wys ons die pad in stryd om NG Kerk se siel (Bernhard Ficker, 6 Jul 2025) wat hierop reageer.
*******
Kerk gee Vrystaatse dominee die trekpas, maar gemeente klou vas | Rapport
Johan Eybers
Sondag, 29 Junie 2025
Drie gemeentes, twee ringe, ’n sinode en senior predikante in die Vrystaat is in ’n vurige twis oor ’n kerkraad wat weier om ’n tugliggaam se bevinding te aanvaar dat hul dominee onbevoeg is.
Die NG Kerk se Algemene Taakspan Predikantesake het ds. Rheinier Nel se bevoegdheid as leraar in Mei beëindig nadat ‘n tugliggaam van die ring van Smithfield hom skuldig bevind het aan onder meer misleiding, verdagmakery en skeurmakery.
Dié klagte spruit uit sy tyd as predikant van die Barkly-Oos-gemeente in die Oos-Kaap.
Nel is verlede jaar weg uit Barkly-Oos en het ’n beroep aanvaar na Bethulie in die Vrystaat.
Sy nuwe gemeente staan by hul predikant en betwis die uitslag van die tugondersoek.
Nel het die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA)[1] geneem.
Hy beweer hy het sy saak daar gewen. Omdat hy sy salaris van die Bethulie-gemeente kry, en nie van die ring of sinode nie, kan die ring of sinode nie sy diens beëindig nie, sê hy.
Ds. Hannes du Plessis, skriba van die moderamen van die Vrystaatse sinode, sê egter die KVBA het nog géén uitspraak gelewer nie.
“Dit is voortydig om enige kerkregtelike afleidings oor die proses by die KVBA te maak, en die bewerings wat daaroor versprei is, is niks anders as misleiding nie,” sê Du Plessis.
In ’n WhatsApp-boodskap van Nel wat verlede week onder gemeentelede van Bethulie versprei is, sê Nel om binne die kerk teen sy skorsing te appelleer “is so futiel as om te appelleer teen ‘Kill the boer, kill the farmer’”.
Hy het baie meer vertroue in die burgerlik hof “as om deel te neem aan ’n ‘quasi-judisiële’ kerklike tughandeling wat deurspek is met bevooroordeeldheid en partydigheid”. Kerklike tugliggame “se gesamentlike intellektuele en emosionele vermoëns (is) gemiddeld van aard”, lui die boodskap.
Die klagte in Barkly-Oos hou verband met Nel se pogings om glo die wykskerk van Rhodes selfstandig te verklaar van die Barkly-Oos-gemeente.
Die tugliggaam het bevind dat Nel kerkraadslede doelbewus mislei het deur hulle in WhatsApp-boodskappe valslik in te lig dat die NG Kerk se reëls (reglement 27) oor die beoogde afstigting van wykskerke nie op hulle van toepassing is nie.
Daar is verder bevind dat Nel WhatsApp-boodskappe aan gemeentelede gestuur het wat krities en disrespekvol was teenoor ander kerkleiers, dat sy uitsprake misleidend was vir persoonlike gewin en dat sy optrede “getuig van ’n liefdelose en roekelose omgaan met medegelowiges, hul ampte en die welsyn van die gemeente”.
Met sy optrede het hy volgens die tugliggaam “wigte ingedryf tussen lidmate en selfs tussen lede van families”. Selfs nadat hy Bethulie toe is, het Nel glo steeds lede van die Rhodes-wyksraad per WhatsApp aangemoedig om af te stig.
Die Bethulie-gemeente voer aan die tugliggaam se besluit is nie meer van toepassing nie, omdat dit gebeur het voordat hy by hulle aangestel is.
Dr. Johann (Tokkie) Ernst, ’n afgetrede predikant en voormalige aktuarius van die algemene sinode, het op versoek van Bethulie die saak bekyk en meen ook die tugproses was foutief.
Johan Bloem, die sinode se regsverteenwoordiger, het in sy skriftelike betoog voor die KVBA aangevoer dat die kommissie nie jurisdiksie het oor geskille oor predikante se bevoegdheid nie.
Nel sê hy is onskuldig en hy word geteiken omdat hy as ’n behoudende predikant as ’n bedreiging beskou word omdat hy sy menings met selfvertroue lug.
Du Plessis sê die Vrystaatse sinode en die ring van Smithfield gaan die Bethulie-gemeente besoek en die “werklike feite van wat in Barkly-Oos gebeur het”, aan hul kerkraad oordra.
Hy sê die ondersoek is behoorlik volgens kerklike prosedures gedoen.
“Ds. Nel het nie vir die verhoor opgedaag nie en ook nie teen die uitslag geappelleer nie. Dit het tot permanente verlies van sy bevoegdheid gelei.”
Junior Jacobs, kerkraadsvoorsitter van die Bethulie-gemeente, sê egter die ring en die sinode het geen reg om in Bethulie se sake in te meng nie.
Hy sê die kerkraad het besluit dat Nel nie aan die tugondersoek moet deelneem nie, en hy het dit gerespekteer. Die kerkraad het ook besluit die tugondersoek teen Nel is ongeldig en onwettig, dat sy bevoegdheid as dominee geldig bly. Daarom gaan die kerkraad Nel nie afdank nie.
“Die kerk sal nie betrokke raak by ’n regsgeskil aangehits deur die ring of sinode nie, en die koste daarvoor sal nie gedra word nie.”
As die geskil nie teen einde Julie opgelos is nie, sal die Bethulie-gemeente die ring en die Vrystaatse sinode verlaat en onafhanklik funksioneer as “NG Bethulie”, het hy gewaarsku.
Voetnotas
[1] In Engels: The Commission for Conciliation, Mediation and Arbitration (CCMA)
Ja wat so vrot die NGK van die kop en die stert na die middel en spartel hulle met die gays en lessies. Klink na n regte klomp ou sout pillare wat die broederbond beheer. Arme , kaal gat siele, of dalk beter > empty vessels.