Hier onder volg die skripsie van Jan Louw oor die kindernagmaal.
Let op dat die promotor, prof Mias (JJ) de Klerk, die oom was van Jan Louw. Prof de Klerk het egter nie die siening van hierdie skripsie ondersteun nie. Kyk Jan Louw se dagboekinskrywing heel onder terwyl hy die skripsie geskryf het. ‘n Mens sou kon redeneer dat dit die feitelike inhoud van die skripsie meer integriteit gee.
**************
Die plek van die kind aan die verbondsdis
deur
Jan Daniel Louw
Onafhanklike studie vir die B.D.-graad
Promotor: Prof JJ de Klerk
Teologiese Fakulteit (Afdeling B)
Universiteit van Pretoria
Opgedra aan die Ned. Geref. Kerk van Suid-Afrika
Oktober 1973
Hoofstuk II: Historiese gegewens met betrekking tot die kindernagmaal
- 1. Die apostoliese tyd
- 2. Die tyd van die kerkvaders
- 3. Beëindiging van die suigelingsnagmaal in die westerse kerk
- 4. Ontwikkeling van die konfirmasie
- 5. Veranderinge tydens die reformasie
- 6. Samevatting
Hoofstuk III: Die kind in die genadeverbond
- 1. Ou- en nuwe verbond – eenheid en onderskeid
- 2. Die plek van die kind in die verbondsgemeenskap
- 3. Samevattende opmerkings
Hoofstuk IV: Die betekenis van die nagmaal
- 1. Verbondenheid met die pasga
- 2. Die teenwoordigheid van Christus
- 3. Die rol van die rasionele
- 4. Samevatting
*******
Hoofstuk I: Aktualiteit
By die Kerke van die Reformasie bestaan die gewoonte vry algemeen dat die jong lidmate belydenis moet doen van hulle geloof voor die gemeente voordat hulle erken word as volwaardige, mondige lidmate van die Kerk. Die belydenis open die poort na al die “regte en verantwoordelikhede”[1] verbonde aan volle lidmaatskap. Die belangrikste van die voorregte wat die belydenis meebring word beskou as die deelname aan die nagmaal.[2]
Deur ‘n historiese proses, waaraan in die volgende hoofstuk verder aandag gegee sal word, het daar ‘n verbinding gekom tussen die sakrament van die nagmaal en die belydenis wat lidmate moet doen. Vandag word hierdie kerklike praktyk waarin die belydenis as toegangspoort dien na die nagmaal as ‘n vanselfsprekendheid aanvaar. So skryf Ridderbos[3] “dat, terwyl de kinderdoop een der moeilikste vragen vormt van de sacramentstheologie, er door niemand over gedacht word ook de kleine kinderen op de een of andere wijze bij de Avondmaalsviering te betrekken”. Ook Berkouwer wat in sy boek oor die Sakramente ‘n hoofstuk wy aan die kinderdoop, ag dit nie nodig om insgelyks iets te sê oor die kindernagmaal nie.
1. Nuwe gedagtes
Skynbaar het daar in die vorige dekade vir die eerste keer werklik stemme opgegaan vir die deelname van die kinders aan die nagmaal. Die beweging in hierdie rigting het begin rondom die ekumene.[4] In Nederland is daar in toenemende mate ekumeniese ontmoetinge tussen verskillende kerke. By gesamentlike nagmaalsdienste het daar probleme ontstaan rondom die deelname van die kinders. By die Roomse kerk het kinders reeds deel aan die mis vanaf sewe jaar. By die kerke van die Hervorming is dit heelwat hoër, nl. 18 jaar (in Nederland). So het dit dan gebeur det die Gereformeerde Kerk van Utrecht-Oos ‘n brief ontvang het van ‘n aantal seuns en dogters waarin hulle gevra het vir deelname aan die nagmaal. Hulle het hiertoe gekom weens hulle gesprekke met Rooms-Katolieke maats.[5]
In 1962 het die sluimerende gedagtes stimulus gekry toe die Algemene Sinode van die Hervormde Kerk ‘n rapport aanvaar het onder die opskrif “Open en Occumenisch Avondmaal.” Hierdie rapport is toe na die kerkrade en klassisse gestuur vir “ernstige oorweging”. Die inhoud van die afdeling “De leeftyd voor toelating tot occumenische avondmaalsviering” van die rapport kom kortliks op die volgende nee.[6]
- Die vraag word gevra of die leeftyd waarop belydenis van geloof afgelê word (18 jaar), nie vervroeg moet word in die lig van die ekumeniese nagmaalsvieringe nie.
- Die sinode is met sorg vervul oor die neiging om die openbare belydenis na ‘n aanmerklik later leeftyd uit te stel. Daardeur ontbeer baie jongmense die seën van die nagmaal en word hulle gewoond aan ‘n kerklike lewe sonder deelname aan die heilige maaltyd.
- Die vraag word gevra of dit nie goed sou wees om die katkisante wat die einde van hulle onderrig nader, tot die nagmaal toe te laat nie. Selfs jong kinders wat aan die gemeente behoort kan toegelaat word, by voorkeur saam met hulle ouers.
- Daar behoort egter nie skeiding gemaak te word tussen die nagmaalsviering en die belydenis nie. Die katkisante en jong kinders moet sodanig onderrig word in die Christelike geloof, dat hulle op hulle eie manier kan bely en die liggaam van die Here kan onderskei. ‘n Kindernagmaal sonder enige begrip en geloof moet nie in die hand gewerk word nie.[7]
Dit is interessant dat die saak nie net gebly het by oorweging nie. Daar is verskeie van die Hervormde gemeentes in Nederland wat reeds ‘n begin gemaak het met die saak. In so ‘n mate selfs dat die Visitator-Generaal van die Hervormde Kerk[8] ds. Groenenberg[9] moes waarsku dat elke kerkraad nie sommer sy eie koers kan gaan nie. “Ze nemen besluiten, ze doen er vaak niet eens bericht van … Hoe leven we in de Hervormde Kerk met elkaar?
Ook in ander kerke is al proefnemings gemaak of het die gebruik reeds posgevat. In die Vrijgemaakte-Gereformeerde Kerk te Rijsbergen,[10] is die gebruik reeds lank in swang. Ook die Westerkerk te Amsterdam het al ‘n paar keer ‘n gesinskommunie gehou, met druiwesap en ongesuurde brood.[11] Die Gereformeerde Kerk van Groningen-Zuid het in 1970 reeds toestemming by sy klassis gevra om die saak prakties en prinsipieel te ondersoek vir die gemeente. Dit sou interessant wees om te weet wat die posisie op die oomblik in die gemeente is.[12]
2. Standpunte rondom die kindernagmaal
2.1 Teen die kindernagmaal
Die heel basiese beswaar teen die kindernagmaal is natuurlik dat hulle dit nie kan verstaan nie.[13] Mense is van mening dat ons op die terrein van die Roomse sakramentsteologie[14] beweeg as ons die sakrament aan die kinders wil bedien terwyl hulle gladnie kan verstaan waarom dit gaan nie. Alles kom dan alleen maar van God af in die sakrament. Van Ruler[15] wil vashou daaraan dat die mens mede-subjek met die sakrament is naas God. Hy lê groot klem op die mondigheid van die mens wat na die nagmaalstafel toe stap. Die versterking van die swak geloof is vir hom slegs ‘n bykomende motivering. As mense nie eers belydenis van geloof afgelê het nie, ontbreek die mondigheid. Dan lyk dit vir hom na die behoefte van “varkens naar de trog.”(!)
M.H. Bolkestein het ook sy afkeur uitgespreek in ‘n artikel in die tydskrif “Kerk en Teologie”[16] teen die kindernagmaal. Hy wil vashou aan die samehang van die belydenis en die nagmaal. Die gang van sy redenasie kom duidelik na vore uit die volgende aanhalings:[17] “In het Nieuwe Testament is de belijdenis steeds de vooronderstelling van de avondmaalsviering. In plaats van belijdenis mag ik ook wel zeggen: de doop.[18] De doop werd immers aan volwassen en bediend op belijdenis”. Verder bewys hy dat slegs gedooptes die nagmaal gebruik het in die Nuwe Testament, en kom dan tot die konklusie: “Het Nieuwe Testament kent dus een onlosmakelijke samenhang tussen doop en avondmaal. Het ziet in de doop de poort tot het avondmaal … Een avondmaalsviering losgemaakt van de doop (resp. de belijdenis) kent het Nieuwe Testament niet. Belijdenis en doop wijzen steeds vooruit naar het avondmaal. Het avondmaal vooronderstelt ze.”
Die ouderdom van 18 jaar ag hy dan geskik vir die aflê van die belydenis en die deelname aan die nagmaal. Die ouderdom van 17 jaar ag hy saam met Bijlsma “aan de lage kant”.
A.F.N. Lekkerkerker het ook sy mening gegee in die tydskrif “Kerk en Teologie”.[19] Hy verdedig die bestaande strukture op grond van 1 Kor 11. Dit is noodsaaklik dat die nagmaalgangers die liggaam van die Here onderskei en hulleself kan “beproef”. Verder stel hy die vraag dat as mens sê dat die doop prinsipieël beteken toetrede tot die nagmaal, of dit nie dan ook behoort te geld vir die heel klein kindertjies of die suigelinge nie. Die voorstanders van die kindernagmaal in die Weste wil nie daarmee rekening hou nie.
Lekkerkerker is wel van mening dat die nagmaal vandag te veel ‘n aangeleentheid is vir volwassenes, maar hy wil tog nie die korrelasie belydenis en nagmaal verbreek nie. Hy meen ook dat die Nuwe Testament ‘n verbondenheid van die volgorde belijdenis-doop-nagmaal vertoon.
Die standpunte van hierdie paar teoloë is waarskynlik verteenwoordigend van die algemene houding vandag ten opsigte van die bestaande gebruik.
2.2 Vir die kindernagmaal
Prof. R. Bijlsma[20] het ‘n interessante voorstel om die probleem op te los. Hy is van mening, dat ons in die kerklike begeleiding van die opgroeiende mens, ‘n seremonie mis. Die afstand vanaf die doop na die openbare geloofsbelydenis is te groot. Die kerk moet in ‘n groter mate saamleef met die lewenstadia waardeur die jeug gaan. Veral by die intrede van die puberteit waardeur die jong lidmate gaan, behoort daar ‘n seremonie te wees.
Hy stel dan voor dat daar op 12 tot 14-jarige leeftyd ‘n “bevestiging” plaasvind waarby ‘n kerklike boek-geskenk aan die kind oorhandig word. Nou begin sy katkisasie en eers heelwat later wanneer mens in staat is tot ‘n persoonlike geloofskeuse kan die “openbare belydenis” afgelê word. Die “bevestiging” op 12 tot 14-jarige leeftyd kan egter reeds die begin wees van die jong lidmaat se deelname aan die nagmaal saam met sy ouers.
Ds. M. Groenenberg[21] het ook ‘n positiewe houding oor die kindernagmaal, alhoewel hy ‘n aantal “aarzelingen” het. Hy gee die volgende riglyne aan vir bespreking:
- Dit gaan nie om suigelingsnagmaal soos in die Oosterse kerk nie, maar kindernagmaal.
- Mens moet daaraan dink dat die nagmaal sy oorsprong het in die Joodse pasgamaaltyd en die kinders het daaraan deel gehad.
- Die Nuwe Testament gee geen definitiewe riglyne nie, daarom was daar blykbaar vanselfsprekendheid ten opsigte van die toelating of weiering van die kinders.
- Die kindernagmaal sou slegs geld vir gedoopte kinders.
- ‘n Mens sal moet teologiseer vanuit die Verbond waarin die kinders opgeneem is en daarom gedoop mag word as kinders en erfgename van God.
Alhoewel Groenenberg dus die kindernagmaal ondersteun is die ontkoppeling van die nagmaal en die belydenis vir hom “ondoordacht”. So sou mens tekort doen aan die nagmaal sowel as aan die belydenis. Die nagmaal is vir hom die mees eksistensiële vorm van openbare belydenis. Die gewone openbare belydenis sou daarna ‘n leë dop wees.
C.P. van Andel[22] dink in dieselfde rigting. Hy sien dit as ‘n “grote geestelijke winst, als ons gemoenteleven van binnenuit zou kunnen worden vernieuwd door de gezinnen op een tot nu toe onbekende manier bij de eredienst te betrekken.” Nogtans wil hy ook vashou aan die onderlinge relasie van doop-belydenis-nagmaal.
Van der Plas[23] wys in hierdie verband daarop dat ons met die Apostolicum ook belydenis doen. “Het is voor ons geloof wezentlijk dat wij met de gemeente mee geloven en met de gemeente belijden wat ij belijdt … Het ligt voor de hand dat bij een belijden in de vorm van het met-de-gemeente-mee-belijden in het credo, veel minder nadruk valt op het individuele.” As ons die saak so sien dan kom die kwessie van die leeftyd enigsins in ‘n ander lig te staan ten opsigte van die nagmaal. Dit gaan meer om die gemeente wat belydenis doen, ook by die nagmaal, as om die indiwidu.
Van der Plas stel verder voor dat ‘n minimale kategese vir die kinders behou word sodat die kinders ‘n aanduiding het van waarom dit in die erediens gaan.[24] Omdat die belydenis plaasvind in en deur die hele gemeente word die verband tussen belydenis en nagmaal nie verbreek nie. So word die probleem van Groenenberg en Van Andel dan opgelos.
Ten slotte noem ons nog slegs twee skrywers wat baie duidelike standpunte het oor die kindernagmaal. Prof. G.P. Hartveld[25] praat in duidelike taal oor die ontkoppeling van die openbare geloofsbelydenis en die nagmaal. Die belydenis kan later kom wanneer die jongmens sy voete gevind het. Die doop beteken inlywing in die kerk van Jesus Christus. Daarom het die kinders ook deel aan die bruilof van die Lam. Hy wil egter ook by Calvyn aansluit en verwag dat die kinders ondersoek sal word om te sien of die ouers hulle kinders grootmaak in die beginsels van die Christelike godsdiens.
Ds. Pel[26] ‘n predikant van die Evangelies-Lutherse Kerk het min of meer dieselfde standpunt. Daar kan net bygevoeg word dat hy die ouderdom van 12 jaar ongeveer, geskik ag vir die eerste nagmaal. Hy verwag ook ‘n kort kursus op daardie stadium aan die kinders oor die betekenis van die nagmaal wat afgesluit word met kort ondervraging.
Die onderwerp het nooit ‘n baie breë diskussiestroom uitgelok nie.[27] Nogtans is die onderwerp aktueel omdat dit alreeds vir meer as ‘n dekade die gedagtes van prominente teoloë[28] in Nederland besig hou en daar is nog geen teken dat die belangstelling kwyn nie. Dit is iets wat op die oomblik in die kerklike atmosfeer hang.[29] Dit word bespreek deur sinodes, klassisse, kerkrade, studiegroepe onder die jeug en ouderlingvergaderinges.[30] Dit kan vrugbaar wees as daar in Suid-Afrika ook ‘n begin gemaak kan word met die diskussie. Nie om in die mode te wees, of ter wille van sensasie nie, maar omdat die kerk van Jesus Christus geroepe is om altyd weer te buig voor Sy Woord en Gees wat ons steeds dieper in die volle waarheid wil inlei. (Joh. 16:13).
Hoofstuk II: Historiese gegewens met betrekking tot die kindernagmaal
1. Die apostoliese tyd
Net soos in die geval van die kinderdoop het ons geen direkte Skrifgegewens waaruit ons kan aflei dat die kinders wel deel gehad het aan die nagmaal nie. As ons egter let op die vorm van die nagmaal in die Nuwe Testament kan ons nie anders as om te konkludeer dat die kinders waarskynlik daaraan deel gehad het nie.
1.1 Nagmaalgebruik in die Nuwe Testament[31]
In Hand. 2:42 lees ons dat die eerste bekeerdes volhard het in die gemeenskap en die breking van die brood. Die uitdrukking “breking van die brood” dui waarskynlik die eerste stadium aan van die nagmaalsgebruik. Dit sou spoedig ontwikkel tot die eucharistia of liefdesmaaltyd, in navolging van die Joodse gemeenskapsmaal of haburah.
Die Christelike liefdesmaaltyd het gewoonlik in die aand of in die nag plaasgevind. Dit was gewone maaltye aan iemand se huis wat gedien het om te versadig. Mense het gewoonweg gesels en nuus oorgedra onder die ete. Elkeen het sy eie voedsel saamgebring, maar ter wille van die koinonia (1 Kor. 10:16 e.v.) het hulle dit gesamentlik genuttig.
Omdat hulle ‘n vergadering van “verlostes” was het hulle waarskynlik by die geleentheid teruggedink aan Jesus Christus se versoeningswerk. Die voorganger of apostel het brood geneem en God gedank, veral vir die verlossing in Christus. By die breek van die brood het hy moontlik ook die instellingswoorde van Jesus Christus herhaal soos dit aan hulle oorgelewer is (1 Kor. 11:23-25). Aan die einde van die maaltyd is die beker wyn dan waarskynlik rondgestuur ook in navolging van die Joodse gemeenskapsmaaltye.
Daar is geen rede om te vermoed dat die kinders weerhou is van hierdie maaltye nie, veral in die lig daarvan dat dit in die aand plaasgevind het en die ouers nie hulle kinders by die huis sou laat nie.
Bolkestein beklemtoon ook hierdie punt. Met die aanvang van die kinderdoop het die kindernagmaal ook begin. “Aan de pas gedoopte zuigelingen gaf men dan dezelfde rechten als aan de gedoopte volwassenen, die belijdenis van hun geloof aflegden.”[32] Waar ons dan lees in Hand. 16:33 dat die tronkbewaarder van Filippi gedoop is saam met “al sy mense”, kan ons aanvaar dat hulle ook almal aan die liefdesmaal deel gehad het. Die apostels het huisgesinne gedoop,[33] daarom kan ons aanneem dat die mense gesinsgewys na die nagmaal gegaan het.
2. Die tyd van die kerkvaders
2.1 Kinders en die Nagmaal
Die eerste skriftelike getuienis tot ons beskikking dat die nagmaal bedien is aan die kinders kom uit die 2e/3e eeue. Cyprianus, ‘n biskop uit die kerk van Noord-Afrika rondom 250 nC, skryf dat die kleintjies ook die brood en die wyn moes proe, al was hulle liggaamlik nog so klein dat hulle gedra moet word.[34]
Die Apostoliese Konstitusies het die volgende opdrag ten opsigte van die nagmaal in die vroeë kerk: “Daarna moet die biskop deelneem, dan die ouderlinge, en die diakens, die onderdiakens, en die voorlesers en die sangers, en die askete; en dan van die vroue, die diakonesse, en die maagde, en die weduwees; dan die kinders, dan al die mense op ordelike manier, met eerbied en Gods vrees sonder rumoer”.[35] Ons kry hier ‘n pragtige kykie in die kerklike lewe van die vroeë Christene, maar opvallend is die teenwoordigheid van die kinders by die nagmaal, onder al die groepe mense.
Augustinus[36] het die kindernagmaal selfs noodsaaklik geag. Hy het (as verteenwoordiger van sy tyd) die woorde in Joh. 6:53 letterlik opgeneem: “As julle nie die vlees van die Seun van die Mens eet en Sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” Om hierdie rede was die nagmaal volgens hom onontbeerlik vir die kinders, selfs vir die suigelinge.
Moll[37] maak ook melding van Innocentius die biskop van Rome (402-417 nC). Innocentius noem dit ‘n dwase stelling dat kinders sonder die genade van die doop met die beloning van die ewige lewe bedeel sou word; want hulle kan die lewe nie in hulle hê nie. So ook diegene wat nie die bloed van die Here gedrink het nie.”[38]
Gregorius die Grote, Pous van Rome in die 6e eeu, het toegelaat dat moeders eers kanskry om hulle kinders te soog voor hulle begin nagmaal gebruik.[39]
Uit hierdie gegewens kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word ten opsigte van die kindernagmaal in die vroeë kerk:
- Die gebruik het wyd versprei voorgekom nl. in die Oosterse Kerk (Apostoliese Konstitusies),[40] die Westerse Kerk te Rome (Gregorius en Innocentius) asook in Noord-Afrika (Cyprianus en Augustinus).
- Die terloopse wyse waarop melding gemaak word van die kinders by die nagmaal, laat die vermoede ontstaan dat dit as vanselfsprekend aanvaar is. Indien die apostels ‘n ander opvatting gehad het oor die kinders sou daar beslis meer diskussie onder die kerkvaders gewees het oor hierdie saak.[41]
2.2 Kinders en die kategese
Bouwman[42] is van mening dat die kategese in die eerste eeue al die brug geword het tussen doop en nagmaal. Die volgorde doop-kategese-nagmaal is met ander woorde toe reeds gevolg. Daar is gegewens wat tot hierdie gevolgtrekking kan lei. Die vroeë kerk het naamlik geweldig baie gemaak van die kategese. Die kategumene moes ‘n tydperk van drie jaar intensiewe onderrig en ondersoek deurloop. Hulle kon nie deel hê aan die voorregte van die kerklidmate nie. Die kategumene is uitgestuur voordat hulle die nagmaal kon gebruik,[43] (selfs voor die evangelie gelees is.)[44] Hierdie kategumene was egter gewoonlik nog ongedooptes. Dit is moontlik dat die kinders uit die huisgesinne van gelowige ouers ook hierby betrek is, in sommige dele. Dit is egter baie moeilik om te aanvaar dat die kategese vir die kinders toegang verleen het tot die nagmaal. Daarvoor is drie redes aan te voer:
(a) Daar is die reeds aangehaalde getuienis dat die kinders reeds vroeg die nagmaal moes gebruik. As die kinders eers moes wag tot hulle opgeneem kon word tot die kategumene-klas voor hulle nagmaal kon gebruik, sou dit in stryd wees met hierdie historiese gegewens. Ons kan hoogstens toegee dat daar afwykings was in sommige dele (waarvan ons geen bewys het nie).[45]
(b) Die doel van die kategese in die breë was om die nuwelinge geleentheid te gee om bewys te lewer van ‘n hartgrondige lewensverandering by hulle,[46] voordat hulle gedoop kan word en so deel kan kry aan die gemeenskap van die heiliges. Verder wou die Christelike opsiener waak daarteen dat “velen dier nieuwelingen door onkunde en gebrek aan geestelike wasdom, ontydig in de gemeente toegelaten, haar nadeel en verderf zouden zijn.”[47] Die kategese was dus afgestem op die nuwelinge wat in die kerk gedoop wou word.[48] Die volgorde was belydenis-doop-nagmaal en nie doop-belydenis-nagmaal nie.
Bijlsma ruim alle twyfel uit die weg as hy skryf: “Het al vroeg opkomen van de kinderdoop in de oude kerk betekende voor kinderen uit christen-gezinnen een uitschakeling van de catechese, die immers de bedoeling had overgekomen heidenen op hundoop voor te bereiden. Wat er aan onderricht voor reeds gedoopten bestaan mag hebben, werd in elk geval geen eatechese genoemd. Catechese werd bes chouwd als iets, dat vóór de doop moest plaatsvinden. Zelfs schijnt aan pasgeboren kinderen, die gedoopt zouden worden, nog wel een soort korte catechese te zijn gegeven … De opvatting was, dat een gedoopte door het feit van de doop tot het ontvangen van alle sacramenten was toegerust. Wie gedoopt was, had daarom geen onderricht meer nodig voor de verdere gang naar de kerkelijke handelingen.[49]
(c) Dit kan ook net genoem word dat die aard van die kategese sodanig was dat die jong kinders moeilik daar sou kon bykom. Volgens die Apostoliese Konstitusies moes die volgende onderwerpe o.m. met die kategumene behandel word:
- Die wetenskap aangaande die Ongeskapene.
- Die kennis van die eniggebore Seun.
- Geloof aan die Heilige Gees.
- Die orde van die verskeidenheid in die skepping, ens.[50]
3. Beëindiging van die suigelingsnagmaal in die westerse kerk
Wat ons in die vroeë kerk gehad het was nie alleen kindernagmaal nie, maar ook suigelingsnagmaal. In die Oosterse Kerke, soos die Grieks-Ortodokse Kerk vandag, word hierdie gebruik nog voortgesit (glo onder groot protes van vele kleintjies!) In die Westerse Kerk het die gebruik amptelik ten einde gekom in 1251 nC. By die vierde Lateraanse Konsilie is toe bepaal dat die plig om eenmaal per jaar te bieg en die kommunie rondom Paasfees te ontvang, moet begin by die jare van onderskeiding (anni discretionis).[51] Onder die jare van onderskeiding is verstaan die tyd waarop ‘n kind kan onderskei tussen goed en kwaad en in staat was om ‘n doodsonde te doen. Mense het gedink aan ‘n leeftyd van sewe jaar.[52] By die konsilie van Bordeaux (1255) is die klein kindertjies selfs uitgesluit by die kommunie.[53] Die rede vir die uitsluiting van klein kindertjies by die Roomse kommunie het blykbaar voortgevloei uit die transsubstansiasieleer wat vaste vorm begin kry het. Al meer mistiese betekenis is geheg aan die brood en die wyn. Dit is geag as die werklike liggaam en bloed van Jesus Christus. Die gevaar het bestaan dat die kinders daarvan kon laat val en hulle skuldig maak aan ontering van God self. Dit het die Kerk van Rome beweeg om die nagmaal te weerhou van jong kinders.[54]
Die presiese ouderdom vir die eerste kommunie het die Roomse Kerk egter nie dadelik bepaal nie. Thomas van Aquino het ‘n effens hoër ouderdom as die tot dusver aanvaarde gestel, naamlik 10 jaar. Hy het die aanwesigheid van ‘n daadwerklike toewyding verlang vir die ontvang van die kommunie. Vir ‘n tyd was die minimum ouderdom 10 of 11 jaar. Vanaf 14 jaar was die kinders verplig om deel te neem.[55]
Eers in 1910 het Pous Pius 10 ‘n dekreet uitgevaardig oor die eerste kommunie van die kinders. Daarna is weer teruggekeer na 1251. Sowel vir die eerste bieg as die eerste kommunie is gedink aan die ouderdom van ongeveer sewe jaar. Dit is die ouderdom waarop ‘n kind begin nadink.[56] Vandag is dit nog die beslissende ouderdom vir die R.K. Kerk.
4. Ontwikkeling van die konfirmasie
Met verloop van tyd het die neiging, in die kerk van die Middeleeue, toegeneem om allerhande versiering by die sakrament van die doop te voeg. Daar was byvoorbeeld die praktyk van die salwings met olie en handoplegging. Later is soveel waarde daaraan geheg dat dit verhef is tot afsonderlike sakrament. Dit het plaasgevind by die sinode van Lyon in 1274 toe die sakrament van die konfirmasie ingestel is, vir die kinders op 7-jarige ouderdom.[57] Dit het beoog om die genade wat die kind by die doop reeds ontvang het te vermeerder.[58]
Die ontstaan van die konfirmasie is myns insiens, ‘n baie belangrike ontwikkeling in die sakramentsleer vir die onderwerp onder behandeling. Vir die eerste keer in die geskiedenis is die direkte verband tussen doop en nagmaal verbreek. Die konfirmasie het geword die sakrament van die wasdom van die liggaam.[59] Die sondaar moes eers sy doopsgenade vermeerder, voordat hy verder kon gaan in sy sakramentbelewenis. Die volgorde was nou doop, konfirmasie, nagmaal, bieg ens.[60] In die volgende paragraaf kan ons nou nagaan in watter mate die Reformatore beïnvloed is deur hierdie sakrament wat reeds meer as twee eeue in swang was by die aanbreek van die Hervorming.
5. Veranderinge tydens die reformasie
5.1 Die Lutherse Beweging
Luther het weggedoen met die onnodige sakramente van Rome, waaronder die konfirmasie. Die gedagte en gebruik het hy egter nie mee weggedoen het nie.[61] Hy het naamlik in navolging van Rome, steeds ‘n plegtigheid daargestel wat toegang verleen het tot die sakrament van die nagmaal. Die naam konfirmasie of bevestiging is behou en die gebruik van die handoplegging is behou. Selfs die ouderdom waarop die konfirmasie moes plaasvind is behou naamlik sewe jaar.[62]
Eg aan die reformasie het Luther geloof en kennis nou verbonde aan mekaar gesien. In sy Formula Missae et Communionis van 1523 begeer hy jaarlikse ondersoek na die kennis van die kinders. As die kinders nie wou leer nie en nie voldoen het aan die verwagtinge nie kon die kind ook nie die nagmaal gebruik nie.[63] Blykbaar het die konfirmasie wel die weg geopen na die nagmaal, hoewel die onderrig nie dan opgehou het nie.
Verskeie invloede het meegewerk om die aanvanklike ouderdom van sewe jaar te laat opskuif. Bucer (1551) het bepaalde kenmerke van die geloof gewis van diegene wat belydenis van hulle geloof afgelê het.[64] Hy wou die vrugte van die wedergeboorte sien. Op hierdie stadium was die gemiddelde ouderdom vir konfirmasie nog 12 jaar.[65] In die daaropvolgende eeue het die ouderdom nog verder opgeskuif. Die opkomende Pitisme wou ‘n verhaal hê van die bekering. Die Rasionalisme het die eis gestel dat elke Christen ‘n rasionele bewys moes kan lewer van die egtheid van die Christendom. Die Aufkläring het die gedagte gepropageer dat ‘n kind vry moet kan kies tussen alle godsdienste. Hierdie strominge waarin die kerk hom bevind het, het almal geroep om ‘n hoër ouderdom vir die aflê van die geloofsbelydenis.[66]
In die Lutherse kerk word die jongmense vandag “gekonfirmeer” op omtrent 15-jarige leeftyd.[67] Die opvallende is dat Luther wel nog met kindernagmaal begin het, maar dit is ‘n vraag of mens dit nog so kan noem. In die huidige opset is die mense al in hulle puberteit voor hulle by die nagmaal kan aansit. “In die loop van die tyd het die kindernagmaal stil-stil uit ons kerke verdwyn.”[68] Ons vind dieselfde proses wanneer ons kom by die kerke van die Gereformeerde rigting.
5.2 Die Gereformeerde Beweging
Ons het gesien dat Luther in ‘n groot mate aangesluit het by die bestaande konfirmasie-gebruik wat gegeld het by Rome. Calvyn het sy reformasie verder gevoer as Luther, maar is tog ook beïnvloed deur die bestaande konfirmasiegebruik. As hy in sy Institusie skryf oor die vormsel (of konfirmasie) dan noem hy dit ‘n “ontydig gedrocht van een sakrament.”[69] In die plek daarvan[70] wou Calvyn terugkeer na die kategese van die vroeë kerk.[71] Hy wou dat daar nie meer “een vormsel zou zijn, … maar een onderwijzing waardoor de kinderen of de aankomende jongelieden rekenschap zouden afleggen van hun geloof.”[72] In die plek van die vormsel het daar dus ‘n “onderwysing” gekom.[73] Wat die onderwysing betref het Calvyn wel teruggekeer na die vroeë kerk, maar die plek van die onderwys was anders. Dit was nou tussen die doop en die nagmaal.
Calvyn het in gedagte gehad dat ‘n bevatlike formulier geskryf moes word wat die kinders moes leer.[74] Die ouers moes blykbaar sorg dra dat die kinders die formulier ken.[75] Oor die ouderdom skryf Calvyn “dat een kind van tien jaar zich aan de gemeente zou aanbieden om belijdenis des geloofs af te leggen.[76] Van amptelike weë moes die kinders dan ondervra word oor elke hoofstuk van die formulier. As daar nog by hulle probleme was kon hulle gehelp word en dan kon hulle deelneem aan die nagmaal. By Calvyn het dit gegaan om die waardigheid van die kind (in die sin van sy kennis) voordat hy toegelaat is tot die nagmaal.[77] Hy het gestreef na ‘n groter eendragtigheid van die geloof onder die Christenvolk. Hy wou nie hê dat die gelowiges so maklik deur vreemde leringe rondgesleur word nie.[78] Calvyn het dus nie in die eerste plek belang gestel in die kwaliteit van die geloof nie (fides qua) maar in die kwaliteit van die kennis aangaande die geloof (fides quae).[79]
Die ouderdom van tien jaar wat Calvyn aangee waarop hierdie ondersoek gedoen moet word verbaas ons dus ietwat. Is ‘n kind op daardie stadium ryp om werklik “rekenskap af te lê”[80] van hulle geloof? Die ouderdom van tien jaar is omstrede. Plomp interpreteer die tien jaar byvoorbeeld so dat dit die ouderdom is waarop die kategese begin het[81] Persoonlik sou ek op die gesigwaarde van die aangehaalde woorde meen dat dit wel die ouderdom was wat Calvyn aanvanklik in die oog gehad het. Ons moet in gedagte hou dat Calvyn se Institusie een van sy eerste werke was. Hy het dit geskryf voordat hy deur Farel gevra is om hom in Geneve te vestig.[82] In Geneve het Calvyn eers, in sy twintiger-jare, met dié praktyk in aanraking gekom. In die praktyk het dit moontlik anders verloop.
In die Kategismus van St. Gallen (Switserland, 1527) is gedink aan ongeveer 15 jaar. Bolkestein maak melding dat a Lasoo ‘n tydgenoot van Calvyn, ‘n leeftyd van ongeveer 14 jaar in gedagte gehad het.[83] Dit blyk dus dat die ouderdom vir die belydenis van geloof reeds in Calvyn se tyd begin klim het. Geleidelik is meer en meer eise gestel aan die kennisinhoud by die ondersoek. Ons moet ook in gedagte hou dat die rypwordingstyd by kinders toegeneem het sedert die 16de eeu. Die historiese psigologie wys dat die puberteit ‘n lewensfeer is wat voorheen op ‘n vroeër stadium verbygegaan het.[84]
So het dit dan gebeur dat die ouderdom waarop belydenis van geloof gedoen is, geleidelik verhoog is. Vandag is die ouderdom in Nederland onder die kerke van Gereformeerde tradisie nie onder 18 jaar nie.[85] In die Hervormde Kerkorde (Ordinansie 9, art. 4, lid 1)[86] word die ouderdom van 18 jaar selfs voorgestel.
Saam met die verhoging in die ouderdom waarop belydenis afgelê word het onvermydelik gevolg die verhoging in die ouderdom vir deelname aan die nagmaal. Die belydenis het steeds toegang verleen tot die nagmaal. Vandag word dit aanvaar as een van die noodsaaklike onderdele van die Calvinistiese tradisie. In Nederland is dit so vasgelê deur beide die Kerkordes van die Hervormde Kerk (art. 16, 17) en die Gereformeerde Kerke (art. 72). Interessant genoeg het die Ned. Geref. Kerk in Suid-Afrika geen spesifieke bepaling dat die belydenis toegang verleen tot die nagmaal nie.[87]
6. Samevatting
Uit die historiese oorsig kan ons nou die volgende konklusies maak:
- Na alle waarskynlikheid het die kinders deel gehad aan die nagmaal (of liefdesmaal) in die apostoliese tyd.
- Om dogmatiese redes (bv. Joh. 6:53) en in navolging van die kinderdoop is die nagmaal selfs aan suigelinge bedien.
- Met die ontwikkeling van die transsubstansiasieleer is die nagmaal later weerhou van klein kindertjies en suigelinge (1251).
- Met die aanbreek van die Reformasie het Luther en Calvyn nog die nagmaal bedien aan kinders onder 12 jaar. Die ouderdom het egter spoedig opgeskuif, omdat meer en meer eise gestel is aan die belydenis, wat weer toegang verleen het tot die nagmaal.
- Die historiese wortels van die belydenis, wat toegang verleen tot die nagmaal, moet gesoek word by die sakrament van die Konfirmasie, wat ingestel is in 1274.
HOOFSTUK III: Die kind in die genadeverbond
‘n Kenmerkende beginsel wat ons deur die hele Skrif vind, is dat die Here Sy uitverkorenes versamel tot ‘n volk en met hulle handel volgens ‘n vaste ooreenkoms. Dit het die Here in Sy ewige raadsplan (Pactum salutis)[88] behaag om Hom nie in die eerste plek aan losstaande indiwidue te openbaar nie, maar hulle wat die Here ken, leef in ‘n gemeenskap, ‘n kudde (Eseg. 34), ‘n volk (1 Petr. 2:9-10).
In die Gereformeerde teologie het die term “genadeverband” uitgekristaliseer om hierdie besondere kenmerk van God se handelinge uit te druk. Die samevatting van die verbond is in die Skrif telkens weer: “Ek sal vir jou ‘n God wees en jy moet vir my ‘n volk wees.”[89] (Vgl. Jer. 11:4; Eseg. 11:20; Sag. 8:18; 2 Kor. 6:16; Openb. 21:3). Die verbond van die Here met die gelowiges is van soveel belang vir die Christen dat die Christelike godsdienstige lewe al getipeer is as die ganse lewe binne die verbond.[90]
1. Ou- en nuwe verbond – eenheid en onderskeid
Toe die Here met Abraham ‘n verbond opgerig het, het Hy dit ‘n “ewige” verbond genoem. Alhoewel “olam” in die Ou Testament die betekenis het van ‘n “onafsienbare tyd”,[91] moet ons dit tog so verstaan dat die verbond met Abraham sou deurloop na die nuwe bedeling en uiteindelik tot by die einde van die tyd.[92] Met die koms van Jesus Christus het die Sinaitiese seremoniële verbondsverpligtinge wel verval, maar die ewige genadeverbond met Abraham sou voortduur. Abraham sou die vader van ‘n “menigte van nasies”[93] word (Gen. 17:4). Dit het dan ook inderdaad gebeur toe Jesus Sy disippels die wêreld ingestuur het, met die woorde: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.” (Mat 28:19). Op ‘n besondere wyse is die gelowiges uit al die nasies vandag dus die “nageslag” van Abraham.[94] Toe die Here gesê het: “Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ewige verbond,” (Gen 17:7) was ons ook daarby betrokke. Van Abraham af tot nou toe leef ons in een grootse “Godsfamilie”.
Voorheen was hierdie “Godsfamilie” hoofsaaklik beperk tot die volk Israel. Dit was ‘n bedeling met baie gebreke en skadubeelde van die toekomstige heerlikheid (Hebr. 8:5). Deur die Middelaarswerk van Jesus Christus op die aarde het Hy die ou verbond vervul en ons ingelei in die nuwe verbond (Mat 26:28).
Die kontinuïteit met die Ou Testament is egter nie verbreek nie.[95] Die feit dat Jesus, “in ooreenstemming met die twaalf seuns van Jakob ook twaalf apostels roep en later by sy heengaan die Heilige Gees aan sy dissipels belowe en so die Joël-profesie vervul, wys … onverbiddelik heen na die kontinuïteit tussen Sy werk en die werk van God in die Ou Testament.”[96]
Vele skrywers beklemtoon die verbondenheid van die Ou- en die Nuwe Verbond aan mekaar. Behm[97] praat van die eenheid in “vorm” en “inhoud”. “The only difference is to be found in the step from prophecy and fulfilment.” Ridderbos[98] verklaar “Oud en Nieuw Verbond zijn één in wezen”, al is daar ‘n “verscheidenheid in bediening.”
Aalders[99] redeneer in dieselfde rigting as hy skryf “dat voor de nieuwe bedeeling dezelfde regel geldt als voor de oude dat het verbond Gods betrekking heeft op de geloovigen en hun zaad.” Polman[100] skryf: “allen stellen toch een nauw verband, ja eenheid tussen het Abrahamitisoh en het nieuwe verbond van Jer. 31 en Hebr. 8 en 10. … Tegenover de Anabaptisten en Spiritualisten, handhaven ze zo de eenheid tussen het oude en het nieuwe verbond.”
Daar is egter ook ‘n baie duidelike onderskeid tussen die twee verbonde. Die Here het gesê, die nuwe verbond sal nie wees “soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op die dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie.” (Jer. 31:32)[101] Die nuwe verbond word veral gekenmerk deur die nuwe heerlike werking van die lHeilige Gees. Dit kom duidelik na vore in Eseg. 36:26; Eseg. 27:1-28 en Joël 2:28. Hieruit blyk dat die ganse volk van die Here, seuns en dogters, ou mense en jongelinge op ‘n besondere manier die werking van die Heilige Gees in hulle lewe ondervind.[102] Daarmee hang saam dat “klein en groot” sal beskik oor die ware Godskennis en omgang met die Here (Jer. 31:33-34)[103] in die nuwe verbond. Vgl. hieroor verder Jes. 11:9; Jes. 54:13; Joël 2:28, Joh. 6:45; 1 Joh. 2:27.
Vir die doel van ons onderwerp is dit nou nodig om nader in te gaan op die rol van die kinders in die ou en die nuwe verbonde.
2. Die plek van die kind in die verbondsgemeenskap
2.1 Die kind in die ou verbond
2.1.1 Die instelling van die besnydenis – Genesis 17
Die besnydenis is altyd een van die treffendste bewyse dat God altyd eerste na die mens toe kom. Voordat ‘n mens nog kan dink of besluit, wil God ons reeds verseker dat Hy ons “genadiglik wil aanneem” in sy verbond. In Gen. 17:12 lees ons hoe vêr hierdie ontferming van God strek. As God die verbond oprig met Abraham dan geld die besnydenis nie slegs vir Abraham self en sy eie kinders nie, maar ons lees: “Die wat in jou huis gebore is en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie – die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word.”
Hier is baie mense ter sprake in hierdie teks. In Gen. 14:14 lees ons dat die geoefende manne wat in Abraham se huis gebore is en waarmee hy oorlog gaan voer het, 318 in getal was. Hierdie manne, saam met hulle kinders (wat seker ‘n hele paar honderd beloop het), moes almal besny word en wel vanaf agt dae ouderdom. Dit is opvallend dat dit nie alleenlik die geoefende manne is wat reeds besluit het dat hulle by Abraham wil staan, wat hierdie teken ontvang dat hulle ook aan Abraham se God verbonde is nie. Ook die kleintjies wat vir Abraham nog van geen betekenis is en sy God nog nie kan dien nie, moet die teken ontvang dat hulle betrokke is by die Here se verbond. Na my gevoel het ons hier met ‘n heel veelseggende opdrag te doen, wat nie bloot te verklaar is uit praktiese en tydshistoriese faktore nie. Ons moet dit sien as ‘n Goddelike onderwysing dat sy verbond nie in die eerste plek uitgaan na indiwidue nie. Die verbond is sterk gemeenskaplik en korporatief gekleur. Die volk van die Here moet opgroei in die verbond. As ons kom by die instelling van die pasga word hierdie feit nog verder beklemtoon.
2.1.2 Die instelling an die pasga – Eksodus 12
In Ex. 12:24-27 kry ons hierdie veelseggende woorde: “Onderhou dan hierdie saak as ‘n insetting vir jou en jou kinders, tot in ewigheid. En as julle in die land kom wat die Here aan julle sal gee, soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. En as julle kinders julle vra: ‘Wat beteken die diens daar?’ dan moet julle sê: ‘Dit is ‘n paasoffer aan die Here, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref, maar ons huise gered het.’ ”
Die teenwoordigheid en deelname van die kinders in die Ou Testamentiese pasga val ons dadelik op in hierdie gedeelte. Daar word eintlik klem op gelê dat dit ‘n insetting is ook vir die kinders. Hulle moes daar teenwoordig wees sodat die gebruik by hulle vrae moes oproep. So het die pasga dan ‘n unieke geleentheid geword om die kinders te onderrig aangaande God se wonderdade en hulle verlossing uit Egipte. Die verhaal van die uittog saam met die ongesuurde brode en die bitter kruie moes ‘n onuitwisbare indruk gemaak het op die kinders se gemoed. Hulle, meer as die ouers selfs, het waarskynlik die volk se ondervindinge belewe by die pasga.[104] Hulle sou dit nie maklik vergeet nie en sou dit weer aan hulle kinders oordra. So sou dit dan waarlik ‘n gedenkdag bly, tot eer van die Here. ‘n Ewige instelling vir die geslagte wat kom. (Ex. 12:14).
Vgl. verder oor die oordra van die instelling aan die kind by Ex. 13:8,14; Deut. 6:2,7,20.
2.1.3 Die Sinaïtiese verbond en latere bevestigings[105]
Die Sinaïtiese verbondsluiting is opgeteken in Ex. 24:3-8. Dit was ‘n gebeurtenis wat van groot betekenis was vir die kultiese opset en sedelike lewe van Israel. Telkens in die geskiedenis van die volk het hulle, hulle weer opnuut aan hierdie verbond verbind, veral wanneer daar ‘n tydperk van afdwaling was. Voorbeelde hiervan kry ons by Deut. 29:1; Jos. 24:25; 2 Kron. 15:12; 2 Kon. 11:17; 2 Kron. 23:16; 2 Kron. 29:10; 2 Kon. 23:2-3; 2 Kron. 34:30-31.
Telkens het ons hier te doen met plegtige en heilige byeenkomste waar die volk opnuut onderneem het om hulle Verbondsgod te dien. Dit kan ook beskou word as verantwoordelike stap wat die volk geneem het. Indien daar nie ernstige voornemens was om die Here voortaan te dien nie, kon hulle selfs ‘n dubbele oordeel verwag omdat hulle hulle beloftes verbreek het teenoor God. In Jos. 24:26-27 lees ons dat Josua die saak so belangrik beskou het dat hy ‘n gedenksteen opgerig het wat as getuie moes dien teen die volk, sodat hulle nie sommer ligtelik hulle verbond moes breek nie.
Nou is dit weereens opvallend dat die kinders saam met hulle ouers telkens deel uitgemaak het van die verbondsgemeenskap wat met die Here ‘n ooreenkoms aangegaan het. In geen enkele van die genoemde plekke word daar onderskeid gemaak tussen mondige en onmondige verbondsgenote nie. In al die gevalle word klem gelê op die geheel van die volk. Die woorde “hele volk” of “hele vergadering” word in al die gevalle genoem.
Hierdie woorde dui wel nie noodwendig op die kinders nie. Dit kan ook die eenstemmigheid aandui waarmee die ooreenkoms aangegaan word. Daar is egter gevalle waar die persoonlike betrokkenheid van elke persoon teenwoordig, nog beter uitgedruk word. In 2 Kron. 15:13 bepaal die verbond dat almal wat die Here nie soek nie “sou gedood word, klein en groot, manne sowel as vroue.” In vers 15 staan: “En die hele Juda was verheug oor die eed.” Niemand sou in hierdie geval die persoonlike betrokkenheid van elke mens, wat enigsins aan die verrigtinge kon meedoen, wou betwyfel nie.
Ons vind dieselfde beklemtoning by 2 Kron. 34:30. Daar lees ons dat “die hele volk, groot en klein”, moes luister na die woorde van die “verbondsboek”. Vers 32 bepaal dat “almal wat in Jerusalem en in Benjamin te vinde was” moes toetree tot die verbond.
Deut. 29:10-12 noem egter die duidelikste wie betrokke is by die verbondsluiting. Moses het die volk met hierdie woorde toegespreek: “Julle staan vandag almal voor die aangesig van die Here julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters – al die manne van Israel: julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, om oor te gaan in die verbond van die Here jou God – en in Sy eedswering – wat die Here jou God vandag met jou sluit”.
0ns moet tot die gevolgtrekking kom dat daar in die ou verbond hoegenaamd geen onderskeid gemaak word tussen mense nie. Daar word wel onderskeid gemaak tussen besnedenes en onbesnedenes (Ex.12:43-49), maar by die verbondsvolk, word daar telkens gestreef na die volle getal, by name dan ook die kinders.
2.1.4 Kinders deur die Here gebruik en aan gespreek
Kenmerkend van die Verbondsgod is dat Hy Hom ontferm oor die nederiges en eenvoudiges. (Jes. 57:15). Dit is dan ook nie vreemd dat daar gevalle is waar Hy op ‘n besondere manier aandag gegee het aan kinders nie.
Daar is die geval van Samuel, aan wie die Here Hom openbaar het en nie aan Sy priester Eli wat ook daar teenwoordig was nie. Samuel was nog so klein, dat hy “die Here nog nie geken (het) nie; ook was die woord van die Here nog nie aan hom geopenbaar nie.[106] Toe die Here met hom gepraat het, moes die priester hom eers leer om te sê: “Spreek Here, want u kneg hoor.”
‘n Ander geval is die klein dogtertjie[107] in die diens van Naäman se vrou. Toe die dogtertjie verneem dat haar meester, ‘n belangrike leërowerste in die land, melaats was, het sy in kinderlike naïwiteit gesê: “Ag was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is, dan sou Hy sy melaatsheid wegneem”. Dit het inderdaad daartoe gelei dat die Aramese leërowerste gaan hulp soek het by die profeet van die Here.
In hierdie verband kan ook die geweldige gebeure by die bekendmaking van die Tien Gebooie genoem word. Toe die berg rokende was en die hele volk die donderslae en die blitse waargeneem het, toe die volk gebewe het en op ‘n afstand bly staan het,[108] het die Here ook die kinders aangespreek met die woorde: “Eer jou vader en jou moeder!”
As ons dan wil saamvat dan blyk dit dat die kinders in die ou verbond hoegenaamd nie ‘n afsonderlike plek naas die volwassenes beklee het nie. Hulle het in die verbondslewe grootgeword en het deel gehad aan die verbondstekens nes die volwassenes. Die Here het ook nie die kinders oor die hoof gesien nie, maar Hy het hulle ook in Sy diens gebruik en verbondseise aan hulle opgelê wat ook hulle moes nakom. Hulle was egter nog onder die sorg van die ouers en veral die vader as verbondshoof. Hy is in die besonder aangespreek om sorg oor die kinders te neem (Deut. 6).
2.2 Die kind in die nuwe verbond
2.2.1 Profesieë aangaande die nuwe verbond
In Jer. 31:13-34 kry ons ‘n beskrywing van die nuwe verbond. Een van die opvallende verskynsels in die nuwe verbond is “hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want elkeen sal My ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here.” (vers 34). In die nuwe verbond word die Here baie beter geken (omdat Hy Hom beter openbaar het). Die kennis is egter ook vir baie meer mense beskikbaar. Waar die profete in die ou verbond grotendeels die wil van die Here geken en oorgedra het, sal almal in die nuwe verbond in die geleentheid gestel wees om die wil van God te ken. Dit geld vir volwassenes en kinders.
Die rykdom van die nuwe verbond word veral ook beklemtoon in Joël 2. Voor die beloftes van die nuwe verbond uitgeroep word, word die hele volk eers byeengeroep dat hulle, hulle kan bekeer en God om genade smeek.[109] Daarna kry ons die belofte van ‘n nuwe rykdom en oorvloediger genade wat kom: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.” (2:28) Die nuwe en kragtige vervulling deur die Heilige Gees geld dus in die nuwe verbond vir oud en jonk.
2.2.2 Die aanbreek van die Nuwe Testamentiese tydperk
Dit is nodig om Jesus se houding teenoor die swakkes en die eenvoudiges na te gaan omdat een van die basiese besware teen die kinders se deelname aan die nagmaal is dat hulle dit nie verstaan nie.[110] Ons gee aandag aan slegs twee van Jesus se aanduidings hieroor:
Die eerste woorde van die bergpredikasie is: “Salig is die wat arm van gees is. (Mat. 5:3). Dit gaan hier om die geringes en innerlik vromes[111] Israel. Hulle was die teenpool van die Fariseërs wat hulleself “ryk van gees”, ryk aan eie vermoeëns en eie geregtigheid geag het.[112] Die armes van gees is diegene wat nie ‘n dinamiese persoonlikheid het nie, min invloed het, hulleself nie kan laat geld nie[113] en daarom ook arm aan materiële besittings is. Hulle is arm van gees in die oë van ander, maar is self ook (pynlik) bewus daarvan.[114]
Dit gaan natuurlik nie hier in die eerste plek om kinders nie, maar ons kry tog ‘n idee van Jesus se ontfermende houding teenoor hulle wat te vergelyk is met kinders ten opsigte van hulle plek in die samelewing. Die houding van Jesus teenoor die kinders word egter baie duidelik beskryf in Mat. 19:23-15, Mark. 10:13-16 en Luk. 18:15-17 waar die kindertjies na Jesus gebring word dat Hy hulle kan seën.
In die tyd van Jesus het die kinders ‘n baie geringe plek gehad. Die rabbyne het gediskusseer oor wat van vroegsterwende kinders sou word omdat hulle nog geen verdienste verkry het uit wetswerke nie.[115] Vir die Jodendom het ‘n kind geen verstand gehad nie.[116] Daarom verdryf die dissipels die mense wat die kindertjies na Jesus bring om deur Hom geseën te word. Dit sou nie pas in die volwasse mannegeselskap nie.
Jesus het egter oneindig meer waarde geheg aan die kindertjies.[117] Hy het die dissipels erg verkwalik oor hulle onbarmhartige gesindheid. (Mk. 10:14). Die kindertjies mag nie verhinder word om na Jesus te kom nie, want hulle en diegene wat hulle gesindheid van nederigheid openbaar sal juis “die grootste in die koninkryk van die hemele wees.” (Mt. 18:4)
Die koninkryk van God word juis toegesê aan die kindertjies omdat hulle nog kan “vader” sê, ook in hulle gebede! Volwassenes sê dit nie meer nie en daarom moet hulle dit geleer word, want die ryk van God kan mens alleen soos kind ontvang.[118] Daarom het Jesus “sy arms om hulle geslaan. Sy hande op hulle gelê en hulle geseën.[119]
Uit hierdie gebeurtenis het kommentatore heelwat gevolgtrekkings gemaak. Grosheide[120] wys dat die kinders “staan met de volwassenen, die God vrezen, op een lijn.” Hy bring dit dan ook in verband met die bogenoemde saligspreking. Verder laat Jesus ons verstaan “dat de kinderen der gelovigen, die in de oude bedeling als staande in het verbond, moesten worden besneden, ook in de nieuwe bedeling Gods gunst genieten. Ook de kleine kinderen die nog geen oordeel des onderscheids hebben, bezitten het koninkrijk der hemelen, dat is hier weer, als (Mt. 5:3,) zijn burgers van dat rijk en hebben deel aan al de weldaden die in dat rijk worden genoten” (my kursivering).
Gosheide maak verder die belangrike opmerking dat Jesus by hierdie gebeurtenis nie alleen ‘n onderwysing gegee het aan die moeders en die kinders nie, maar ook vir sy dissipels, wat in die nuwe bedeling moet gaan werk. Ons het dus ongetwyfeld in hierdie gebeurtenis ‘n uitdrukking van God se wil, vir Sy Kerk van die Nuwe Testament.
Ten slotte moet ons ook verwys na 1 Kor. 7:14 waar Paulus hierdie woorde aan die Korinthiërs skryf: “die ongelowige man is geheilig deur die vrou en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig”. Die gedagte wat Paulus wil tuisbring is “dat die gelowige eggenoot in die huislike lewe ‘n atmosfeer skep waar die evangelie voortwerk en die liefde van Christus die huisgenote omsluit.[121] Ook die kinders is inbegrepe in die verborgenheid van die huwelik (Ef. 5:32) en kan daarom ook genoem word “die geheiligdes in Christus Jesus”. ( 1 Kor. 1:2)[122]
De Boor[123] gaan nog verder en meen dat Paulus in vers 14b nie alleen die gesinne aanspreek nie maar die hele gemeente. “Julle kinders” is m.a.w. die kinders van die gemeentes.[124] Deur die gelowige ouers is dus ook die kinders in die gemeente geheilig en moet as sulks beskou word.[125]
3. Samevattende opmerkings
Die wese van die genadeverbond, bestaan dus in ‘n gemeenskapsbetrekking tussen God en die gelowiges.[126] In hierdie gemeenskapsbetrekking word daar nie onderskeid gemaak tussen volwassenes en kinders nie. Die kinders moet net soos die volwassenes genoem word “geroepe heiliges” (Rom. 1:7; 1 Kor. 1:2 ), “heiliges in Christus Jesus” (Fil. 1:1 ) en “heilige en gelowige broeders in Christus”. (Kol. 1:2)[127] “De Here heeft onze kinderen een plaats toegekend onder zijn vrienden en huisgenoten, dat is onder de leden der kerk.[128] Hij heeft ons gezin gestempeld tot een christelijke gemeenskap, een gemeenschap der heiligen.[129]
Die Wederdoperse rigtings wil nie rekening hou met die verbond as ‘n wesentlike band tussen God en mens nie. Hulle ontken nie dat daar so ‘n band tussen God en die jong kindertjies kan bestaan nie, maar hulle wil hoegenaamd nie daarmee rekening hou in die gemeentelike lewe nie. Hulle meen dat dit sinneloos is om van so ‘n veronderstelling te wil uitgaan. Die aanwesigheid van die verbond moet eers bewys word deur die openbare geloofsbelydenis.[130] Hiermee word die Bybelse karakter van die verbond natuurlik aangetas omdat dit indiwidualisties besien word. Dit is dan alleen maar die band tussen ‘n indiwidu en sy God. Dat ons egter in die “kudde van God” (l Petr. 5:2) gebore word, word nie raakgesien nie.
Aan die verbond moet ons dus vashou, omdat dit van wesentlike betekenis is vir die kerklike praktyk. Dit raak twee van die grondpilare van die ware kerk nl. die suiwer bediening van die Woord en van die Sakramente.[131] Weens ons verbondsbeskouing in die Gereformeerde leer, handhaaf ons die kinderdoop.[132] Die verbond, soos ons dit nou uiteengesit het pleit ook vir die deelname van die kinders aan die verbondsdis, die nagmaal. “Wat zou het voor zin hebben, te behoren bij het verbond, en geen deel te hebben aan de schatten van het Verbon?[133] Indien de kinderen deel hebben aan de betekende zaak, waarom zullen ze dan van het teken afgehouden worder?[134]
Die praktyk om die nagmaal te weerhou van die kinders is skynbaar ‘n afwyking van die verbondsperspektief. Die skeiding binne die gemeente tussen mondige en onmondige lidmate is vreemd aan die gees wat die Skrif openbaar. Dat die goddelike verbondstekens en weldade hieraan verbind word, is selfs nog meer bevreemdend. Die enigste grond vir die bestaande praktyk moet dan lê in die aard van die nagmaal self. Dit is daarom nou noodsaaklik om die karakter van die nagmaal te ondersoek en vas te stel watter betekenis dit vir die kerk en die indiwidu het of behoort te hê.
HOOFSTUK IV: Die betekenis van die nagmaal
1. Verbondenheid met die pasga
As mens die karakter van die nagmaalshandeling wil begryp moet mens eerstens die verband met die Joodse Pasgaviering nagaan. Die Ou Testament gee nie vir ons ‘n beskrywing van bestaande gebeurtenisse nie, maar ons moet dit verstaan as simptome[135] van die wyse waarop God met sy volk handel. Ons moet vir ons praktiese gebruik vandag gaan soek na dit wat wesentlik en blywend is in die Skrif en dit gaan toepas in ons persoonlike en gemeenskaplike verbondsverhouding.[136]
As ons dan nou na die nagmaal gaan dan is dit ongetwyfeld so dat Jesus en sy dissipels die laaste maaltyd opgeneem het as ‘n pasga maaltyd.[137] Jesus het die pasga met ‘n nuwe inhoud beklee. Die ongesuurde brood wat altyd herinner het aan die uittog uit Egipte (Ex. 12:39) sou voortaan herinner aan die verlossingswerk van Jesus Christus. Die wyn wat die “verbondsbloed” voorgestel het, sou voortaan die bloed van die nuwe verbond voorstel.[138] Dit is om hierdie rede dat gesê word, dat die nagmaal binne die “raam” van die pasga verstaan moet word.[139] Net soos die doop in die plek van die besnydenis gekom het, het die nagmaal gekom in die plek van die pasga. Calvyn het gesê “dat al wat op de besnijdenis past, ook behoort tot de Doop”.[140] Dieselfde moet gesê kan word van die pasga en die nagmaal. Ons huidige sakramente is nie totaal nuwe “uitvindsels” van die nuwe verbond nie. Hulle skadubeelde[141] vind ons reeds in die ou verbond. Reeds in die Ou Testament lees ons dat God met sy volk “maaltyd hou”. (Ex. 24:11).
Die wesentlike en blywende beginsels[142] van die verbondsmaaltyd is oor die hele Skrif versprei, nie net in die Nuwe Testament, nie. Vanuit die gesigspunt van die pasga wil ons dan twee van die belangrike karaktertrekke van die nagmaal aandui wat van belang is vir ons onderwerp.
1.1 ‘n Gemeenskapsmaaltyd
In Deut. 12:7 lees ons “En daar moet julle voor die aangesig van die Here julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne.” In die Here se handelinge met sy volk speel ‘n maaltyd besondere rol. Op ‘n besondere manier wil die Here Sy volk maak tot sy tafelgenote. Daar is seker nie nog ‘n manier waarmee intimiteit en vriendskap so duidelik geïllustreer kan word nie. Die volk aan tafel saam met sy God is bly. Hierdie besondere manier waarop God met Sy volk wil omgaan kry ons dikwels in die Skrif. Vgl. Ex. 18:12; Ex. 24:11; 1 Kron. 29:22; Ps. 23:5; Jes. 25:6; Mt. 8:11; Openb. 3:20; Openb. 19:9. Dikwels word die maaltyd in die Skrif geteken as beeld van volle saligheid.[143] Dit geld ook van die verbondsmaaltyd of die nagmaal. Die nagmaal is ‘n geringe skaduwee van die ewige maaltyd met die Bruidegom. Wat in die ryk van God die versadiging van vreugde sal wees, vind in hierdie maaltyd reeds ‘n begin en ‘n voorsmaak.[144]
Sonder om dan afbreuk te wil doen aan die heiligheid en die grootsheid van die gebeurtenis, moet ons ook onthou dat die nagmaal bedoel is as ‘n maaltyd.[145] Dit is ‘n gemeenskapsmaaltyd waarin daar werklik geëet en gedrink word.[146] Ons wyk dikwels af van die Bybelse “realisme” van genieting en toeëiening. Ons gaan dikwels die moeisame weg op om die nagmaal intellektueel te probeer begryp en dit langs hierdie weg van verstandelike begrip ons eie te maak in plaas daarvan dat ons dit as ‘n maaltyd geniet.[147]
Bouwman[148] spreek ook van ‘n “gemeenschapsmaaltijd, waarbij de leden der gemeente met Christus en met elkander gemeenschap oefenen … de dissipelen … werden door het genieten van het sakrament gesterkt. En niet alleen is het avondmaal ingesteld voor de discipelen, die met Jesus aan tafel zaten, maar ook voor allen, die door hun woord in Christus gelooven zouden.”
Nou is dit so dat kinders onbewus ‘n besondere gemeenskapsvormende waarde het. Deur hulle innerlike spontaneïteit en hartlikheid breek hulle dikwels die mure af wat mense vreemd hou vir mekaar. Hulle is ‘n aanwins vir die gemeentesang en die atmosfeer in die kerk. As die kinders, wat ‘n integrale deel van die verbondsvolk uitmaak, ontbreek, kan dit nie anders as dat die besondere feestelike karakter van die nagmaal aangetas word nie.
1.2 ‘n Herinneringsmaaltyd
Zwingli het ongelukkig hiermee volstaan en nie ook die gemeenskap met Christus in aanmerking geneem nie.[149] Nogtans is die “gedagtenis” aan Christus se dood een van die basiese opdragte vir die nagmaal. (1 Kor. 11:25)
Ons vind dit reeds by die pasga dat die volk die uittog uit Egipte moes gedenk (Ex. 12:14). Die nagmaal is ook ingestel om ons te herinner aan onse Here Jesus Christus en wat Hy vir ons gedoen het (1 Kor. 11:24). Die dood van onse Here mag ons nooit vergeet nie, want daardeur lewe ons. Iedere keer wanneer ons die nagmaal gebruik, verkondig ons aan mekaar en aan die wêreld die evangelie van Jesus Christus.[150]
Ook die kinders durf nie by hierdie verkondiging uitgesluit word nie. By die instelling van die pasga moes die ouers hulle kinders se vrae beantwoord. Hulle moes onderrig word aangaande die Here se heerlike verlossingsdade van die verlede. Gispin[151] skryf hieroor: “Het Israelietische kind zal niet gedachtenloos een dode cultus oefenen, het zal vragen: Wat beteken dat? En de Israelietische vaders moeten de vragen van het ontwakende geestesleven niet neerslaan maar beantwoorden, en daarmee de vergeestelijken van de Pascharitus beginnen.”
By die opgaan na die nagmaal en in die gesprekke daarna behoort ouers en kinders saam die heerlike verlossingsdade van God op die heuwel Golgotha te oordink.
Rondom die nagmaal in die besonder moet die ouers hulle kinders vertel van Jesus se lyding en die heilsbetekenis daarvan vir ons. Hulle moet vertel word dat Jesus die “nagmaal-maaltyd” vir ons gegee het, om ons te herinner aan ons verlossing.
2. Die teenwoordigheid van Christus
2.1 Die Reformatore
Die wyse waarop Christus by die nagmaal teenwoordig is, het een van die hooftemas geword in die diskussies rondom die nagmaalsleer.
Dit gaan om die woorde van Jesus by die instelling van die nagmaal: “Dit is my liggaam” (Mat. 26:26 en par.) Rome en Luther neem die woorde letterlik op. Hulle hou daaraan vas dat mens die werklike liggaam van Jesus in die hande het en in die mond steek. By Rome verander die brood en wyn van substansie. By Luther is Christus “in” en “onder” die elemente teenwoordig.
Swingli het totaal weggedoen met hierdie leer. Vir hom was die nagmaal ‘n blote herinneringsmaaltyd, waarin teruggedink is aan wat Christus vir ons gedoen het. Daar is gladnie sprake van ‘n verborge teenwoordigheid van Christus by die nagmaal nie.
Calvyn het ‘n middeweg probeer bewandel. Hy het soos Swingli gesê dat die brood en die wyn simbole is. Die woorde: “Dit is my liggaam” is ‘n figuurlike wyse van spreke.[152] Tog wou Calvyn vashou aan die teenwoordigheid van Christus by die nagmaal. Hy het geleer dat ons deur die Heilige Gees deel het aan Christus wanneer ons die brood en die wyn gebruik.[153] Veral in daardie tyd was die probleem van die teenwoordigheid van Christus so aktueel dat die Heidelbergse Kategismus nie minder as vyf vrae wy aan die saak nie.
Dit is nodig dat ons vir onsself sal rekenskap gee hoe Christus teenwoordig is:
Calvyn wou beklemtoon dat Christus werklik teenwoordig is. Hy het radikaal standpunt ingeneem teen Swingli wat die elemente as blote tekens gesien het. Hy kon geen woorde vind wat kragtig genoeg sou laat uitkom dat hy vashou aan die werklike, wesentlike en waaragtige teenwoordigheid van Christus se eie vlees en bloed in die nagmaal nie.[154] Om hierdie rede skryf hy “dat de gelovigen het lichaam en het bloed ontvangen, niet slechts door de verbeelding of het inzicht van het verstand, maar dat zij ze inderdaad genieten tot een voedsel des eeuwigen levens.”[155]
Op ‘n ander plek skryf hy dat dit in die nagmaal is “of Christus zelf tegenwoordig zijnde voor onze ogen gesteld en door onze hande getast werd”.[156] Wanneer ons die brood eet wil Christus ons leer dat Sy liggaam “met ons één substantie wordt.”[157] Hoewel Calvyn hier baie naby aan Rome beweeg moet ons egter nie die fout maak dat hy wel Rooms is in sy nagmaalsleer nie. Inteendeel – hy noem die Roomse nagmaalsleer ‘n “wonderlike sluheid van de Satan”.[158]
Dit is hoegenaamd nie so “alsof het lichaam van Christus daar door een plaatselijke aanwezigheid gesteld werd, zodat het met de handen getast, met de tanden vermaald en met de mond ingeslukt zou kunnen wordon.”[159]
Dit lyk natuurlik vir ons of ons hier ‘n teenstrydigheid het by Calvyn. So is Calvyn dan ook al beskuldig dat hy liewer nie moet praat van die teenwoordigheid van Christus by die nagmaal nie, omdat hy dit nie werklik bedoel nie. Elert meen hy moes liewer gepraat het van die teenwoordigheid van die Heilige Gees en nie van Christus nie.[160]
Berkouwer gee heelwat aandag aan die probleem. Sy oplossing vir die “ware liggaam en bloed” in die nagmaal waarvan Calvyn praat, is dat dit nie gaan om “liggaam” en “bloed” op sigself nie. In die “ligaam en bloed” gaan dit om die daad van sy versoening.[161] Dit is egter opvallend dat Calvyn nie self die terminologie nader omskryf nie. Die wyse waarop ons Christus deelagtig word in die nagmaal noem hy uiteindelik ‘n “grote verborgenheid”.[162] Hy erken ruimhartig dat hy sukkel om hierdie saak in woorde uit te druk, wat hy “niet eens met mijn verstand genoegzaam begrijp”.[163]
2.2 Die konfessies en nagmaalsformulier
Ons vind dan dat hierdie probleem, wat nooit werklik deur Calvyn opgelos is nie,[164] oorgedra is in die latere kerk. Die Heidelbergse Kategismus probeer ook hierdie “verborgenheid” in woorde omsit. Vraag 76 lui: “Wat beteken: die gekruisigde liggaam van Christus eet en sy vergote bloed drink?” Die kern van die antwoord is dat ons, “met sy heilige liggaam hoe langer hoe meer verenig word.” In vraag 79 kry ons die woorde: dat ons “waarlik sy ware liggaam en bloed deur die werking van die Heilige Gees deelagtig word”.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis praat in dieselfde rigting as dit sê dat ons “die ware liggaam en die ware bloed van Christus, ons enigste Saligmaker ontvang”.[165] Om effens uit die probleem te kom word bygevoeg “deur die geloof” en “in ons siele”, maar ons ontkom nog nie aan die onduidelikheid wat Calvyn nagelaat het nie.
Die nagmaalsformulier leer ook dat Christus ons “hongerige en dorstige siele met (Sy) gekruisigde liggaam en vergote bloed tot die ewige lewe spysig en laaf”.
Ons kan nie anders as om te konkludeer dat hierdie terminologie waarna die nagmaalvierende gemeente gereeld moet luister, aanleiding kan gee tot groot verwarring by die eet en die drink van die voedsel. Aan die een kant word geleer dat die brood en die wyn gewone voedsel is met heenwysende karakter, maar aan die ander kant is dit tog op ‘n besondere manier[166] die ware liggaam en bloed van Christus.
Waarskynlik is hierdie probleem ook ‘n groot oorsaak vir die huiwering om kinders toe te laat by die nagmaal. As die volwassenes sukkel om te begryp wat presies gebeur by die nagmaal, hoeveel te meer nie die kinders nie. As die brood en die wyn gevul is met mistieke, misterieuse inhoud,[167] is die kinders dan bevoeg om te verstaan wat hulle eet en drink? Die gevaar is nie uitgesluit dat hulle dan ‘n oordeel oor hulleself kan eet en drink nie.
2.3 Nuwere besinning
Wat sou dan die werklike betekenis wees van die brood en die wyn wat ons gebruik? Op watter manier is Christus daar teenwoordig indien Hy wel op ‘n besondere manier teenwoordig is?
Laat ons ter inleiding duidelik stel dat ons nie te veel teologiese konstruksies op die woorde: “Dit is my liggaam”, kan bou, soos in die verlede gedoen is nie. In ons Griekse Nuwe Testament het ons ‘n vertaling van die Aramees wat Jesus gebruik het. Die Aramees is ‘n taal met ‘n heel ander struktuur, waarin ons gladnie die afsonderlike woordjie “is” kan uithaal nie.[168] Dit net terloops.
In die huidige Nuwe Testamentiese ondersoek van o.m. Behm J. Jeremias en H.N. Ridderbos, het daar interessante gegewens na vore gekom oor die nagmaal.[169] In die volgende uiteensetting wil ons hoofsaaklik gebruik maak van die studie wat H. Ridderbos gemaak het.[170]
‘n Teks wat myns insiens, van sentrale betekenis is vir die verstaan van die nagmaalsgebeure is 1 Kor. 10:18 : “Let op Israel na die vlees het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie”. Hierdie teks wil sê dat die eet van die offervleis, onmiddellik vir die Israeliete ‘n aanduiding was van hulle betrokkenheid by die offer op die altaar.[171] In die ou verbond was dit slegs die priesters wat bevoorreg was om van hierdie hoogheilige voedsel (Lev. 7:6) te eet.[172] In die nuwe verbond mag al die gelowiges deel hê aan die offer. Jesus Christus het die heiligdomme vir ons geopen deur Sy bloed. (Hebr. 10:19).
Vanuit hierdie teks kan ons dus aflei dat die nagmaal ‘n offermaaltyd is.[173] Dit is nie ‘n offer nie, (Rome) maar offermaaltyd. “Het is een offermaaltyd en wel de offermaaltijd bij uitnemendheid, die van het Nieuwe Verbond.[174] Wat men in brood en beker ontvangt zijn de offerspijzen van het Nieuwe Verbond, zijn de vrugten van het Nieuwtestamentisch offerbloed”.[175]
Ons het hier ‘n uiters belangrike perspektief op die pasgamaaltyd vir die verstaan van die nagmaalsgebeure. Ons ken hieruit baie duidelik verstaan waarom die brood en die wyn geen misterieuse betekenis het nie. Die voedsel wat ons eet is deur Jesus Christus self geheilig as offervoedsel, met ander woorde dit wys heen na die offer wat plaasgevind het. Wanneer ons hierdie offervoedsel eet dan het ons ook deel aan die offer wat Jesus Christus gebring het. Die heerlike vrugte en seëninge wat vanuit die offer stroom kom ook na my toe.
Daar is dus “geen enkel reël bezwaar … tegen de symbolische opvatting van de instellingswoorden”.[176] As Jesus sê “Dit is my liggaam”, dan bedoel Hy eenvoudig: “Dit is die teken van my liggaam”. Dit val gewoonweg onder die aanskoulike, beeldryke, simboliese manier waarop Jesus gepraat het.[177] Vgl. Mt. 23:24-28; Mk. 8:15; John. 6:35; John. 10:7,11). Verder moet mens nie te veel probeer inlees in die woordjie “liggaam” nie. As Jesus sê die brood is die teken van Sy liggaam, moet ons dit alleen maar verstaan as die teken van die offer[178] wat Hy op die punt was om te bring. In 1 Kor. 10:16 is ook sprake van “gemeenskap met die bloed” en die “liggaam” van Christus. Indien ons hierdie uitdrukkinge letterlik wil opneem beland ons net in dwaalweë. Vers 18 verklaar die uitdrukkinge. Daarvolgens beteken dit eenvoudig dat ons deel het, gemeenskap het aan die offer van Jesus Christus en die vrugte daarvan.[179]
Die instellingswoorde gaan saam met ‘n bepaalde handeling nl. die uitdeel. Die breek van die brood en die uitgiet van die wyn dui nie bepaaldelik op die behandeling wat Jesus se liggaam ondergaan het nie. Dit is doodgewoon deel van die uitdelingshandelinge by die maaltyd.[180] Dit was die taak van die huisvader by elke maaltyd.
Ons moet nou nog die vraag beantwoord hoe Christus teenwoordig is by die nagmaal. Jesus Christus is beslis by die nagmaal teenwoordig. Hoe anders – die dood van Christus, wat in die nagmaal herdenk word, is die sentrale gebeurtenis van die nuwe verbond.[181] Dit sou egter naïef en onterend vir die grote Christus wees om Hom, alleen te soek in die brood en wyn. Om die waarheid te sê ons sal Hom dáár nie kry nie, want Sy plek is baie meer sentraal.[182] Hy sit nog steeds aan die hoof van die tafel en Hy self deel die vrugte van Sy offer uit aan Sy geliefdes. Hy is steeds die Gasheer, die Uitdeler[183] van die gawes. Die Here word wel verteenwoordig deur die ampte. Namens Hom deel hulle die offervoedsel uit, maar Sy plek is aan die hoof van die tafel. So gesien kan ons wel praat van die wonder, die verborgenheid, die misterie van Christus teenwoordig by die nagmaal. Maar dan kry die brood en die wyn ook weer hulle regte plek.
Dit is gewone voedsel wat vir ons getuig dat ook ek deel het, nie aan die liggaam of selfs die persoon van Christus in die eerste plek nie, maar dat ek deel het aan die versoening wat straal uit die dood en offerande van Christus.[184]
By die nagmaal word ons dus teruggewerp op, en verseker van die mees basiese in ons geloof – ons verlossing in Jesus Christus. In ons nagmaalsbelewing moet ons ons waarskynlik minder bekommer oor die “hoe” en meer sien as ‘n geleentheid om God te loof vir die “dat” van ons verlossing.[185]
3. Die rol van die rasionele
Ons kom nou by die belangrikste beswaar teen die kinders se gebruik van die nagmaal. Calvyn[186] het reeds gesê: “Welke gedachtenis, vraag ik u zullen wij van de kinderen eisen van die zaak waarvan ze nooit besef gehad hebben? Welke prediking van het kruis van Christus waarvan ze de kracht en de weldaad nog niet met hun verstand begrijpen?” Ook Wiersinga[187] voel dat ‘n kind se verstandelike en geestelike onrypheid hom ongeskik maak vir die gebruik van die nagmaal. Hy meen die nagmaal is ingestel “voor de volwassen gelovigen, die zichself en hun Heiland kennen, en op zijn roepstem Hem begeren te volgen”. Die probleem met ‘n kind is dat hy nog nie kan “kiezen vóór Jesus én tegen de zonde. Wel voor Jesus, nog niet geheel tegen de zonde. Het kent de zuigkracht der hartstochten, de verlokkingen der wereld nog zo niet … Dat kan het eerst bij’t opgroeien gewaar worden”.
3.1 Selfondersoek
Beide die genoemde skrywers noem in hierdie verband dat die nagmaal selfbeproewing vereis. Hiertoe is ‘n kind nie in staat nie. Dit is dan nou nodig om die aspek van selfbeproewing by die nagmaal na te gaan. In die Gereformeerde leer word baie gemaak van die ondersoek vooraf wat elke gelowige moet doen, anders bestaan die gevaar dat jy ‘n oordeel oor jouself kan haal. Die nagmaalsformulier wy ook ‘n groot ruimte hieraan. Daarvolgens moet ons in die eerste plek “nadink” oor ons sondes. In die tweede plek moet elkeen sy “hart ondersoek” of hy werklik die geregtigheid van Christus sy eie gemaak het. In die derde plek moet elkeen sy “gewete ondersoek” of hy werklik dankbaar is. “Almal dan wat so gesind is, wil God gewis in genade aanneem en vir waardige deelgenote van die tafel van Sy Seun Jesus Christus hou. Daarenteen diegene wat hierdie getuienis in hul harte nie gevoel nie, eet en drink ‘n oordeel oor hulself”. Op grond van hierdie eise wat aan die nagmaalsganger gestel word, word die kinders dan uitgesluit.
3.2 Betekenis van 1 Korinthiërs 11:27-29
Die aspek van selfondersoek by die nagmaal word aan die nagmaalganger opgelê op grond van 1 Kor. 11:27-29[188] : “(27) Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. (28) Maar die mens moet homself beproef en so van die brood eet en uit die beker drink. (29) Want wie (sommer) eet en drink,[189] eet en drink ‘n oordeel oor homself as hy die liggaam van die Here nie onderskei nie”.
Dit is belangrik om daarop te wys dat Paulus in hierdie gedeelte nie sekere indiwidue aanwys wat fouteer ten opsigte van die nagmaal nie. By die leer oor die opstanding uit die dode, was daar wel sulke indiwidue wat gedwaal het (1 Kor. 15:12). Ons lees op ander plekke ook van sulke indiwidue wat gesondig het. (1 Kor. 5:3-5; 2 Kor. 2:5-11). Hier vermaan Paulus egter die gemeente, omdat hulle nie die nagmaal reg verstaan het nie. Hulle het die liefdesmaaltyd waarby die sakrament bedien is verander in ‘n platvloerse sondige byeenkoms. By hierdie gemeentelike byeenkomste van hulle was daar verdeeldheid (vers 17) en liefdeloosheid (vers 21)[190]. Die armes was nog honger en ander was reeds dronk (vers 21).
As Paulus in vers 30 verwys na die “swakkes en sieklikes” en die aantal wat al ontslaap het, moet ons hulle nie sien as die spesifieke “sondebokke” nie. Paulus sien dit as die Here se oordeel oor die gemeente, omdat hulle Sy heilige nagmaal verontheilig het.[191]
Paulus skryf dus hierdie gedeelte om die gemeente te leer dat die nagmaal ‘n heilige gebeurtenis is.[192] Dit is nie maar sommer ‘n gewone maaltyd sondermeer nie.
Dit is ‘n heilige byeenkoms wat deur Jesus self ingestel is en besondere betekenis daaraan verleen het (verse 23-25). Verder moet die “liggaam” (van die Here)[193] onderskei of raakgesien word (vers 29) in die nagmaal. Die term “liggaam” dui nie op ‘n “geestelike liggaam” van Christus wat geëet word nie! Ridderbos[194] wys herhaaldelik dat dit ‘n teken is van die vrug van die offer wat ons deel word. By die nagmaal word dus die skatte van die nuwe verbond aan ons uitgedeel. Daarom is dit ‘n heilige gebeurtenis en die Korinthiërs besef dit nie.
In hierdie lig moet ons dan ook Paulus se vermaning verstaan dat die gemeente hom moet beproef.[195] Hulle moet weer as gemeente en elkeen afsonderlik hulle instelling teenoor die nagmaal van die Here ondersoek. Is daar by hulle die nodige eerbied en respek, of storm hulle die heiligdomme van God binne om ligsinnig daar te verkeer? Dan kan die gemeente alleen maar die oordeel van God verwag. Hulle is onwaardige tafelgenote van God.
As ons hierdie opdrag van Paulus reg in sy verband[196] verstaan dan werp dit ‘n vraagteken op die geweldige eise wat gewoonlik aan die nagmaalganger gestel word. Dit blyk uit die eksegese dat Paulus die Korinthiërs in hierdie gedeelte nie beskuldig dat hulle onwaardig na die nagmaal kom nie. Hy vermaan hulle bloot oor die wyse waarop hulle dit vier.[197] In die laaste twee verse van die hoofstuk vat Paulus dan ook sy boodskap in die voorafgaande gedeelte saam as hy sê: Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar; en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot ‘n oordeel saamkom nie.
Die opdrag wat ook geldend is vir ons, is dus dat die nagmaal met eerbied bejeën moet word.[198] Dit is ‘n heilige byeenkoms. Geen onordelikheid kan geduld word by die fees van die Here nie. Die ampte en elkeen wat ‘n verantwoordelikheid het teenoor ‘n ander (bv. dan ouers oor hulle kinders) sal hieroor moet waak. Daar is nie sprake van ‘n opdrag tot moeilike verstandelike voorbereiding of instelling teenoor die nagmaal nie.[199]
4. Samevatting
In die kort oorsig van die betekenis van die nagmaal het ons gesien dat dit in sy verbondenheid met die pasga ‘n gemeenskapsmaaltyd en ‘n herinneringsmaaltyd is. Christus is deur Sy Gees daar as die Gasheer teenwoordig en wil ons op ‘n besondere manier ontmoet. Hy wil ons verseker dat ons ook deel het aan die verlossing wat Hy vir ons bewerk het. Ons moet ons vergewis van die heiligheid van die maaltyd, sodat dit nie ligsinnig benader word nie.
Met ons onderwerp in gedagte moet ons dan weereens konkludeer dat ons niks kan vind in die karakter van die nagmaal wat die kinders sou uitsluit nie. Ons het eerder gedagtes gevind wat pleit dat ook die verbondskinders geleidelik onderrig moet word in die heilige omgang met God.
HOOFSTUK V: Sintese
In hierdie studie het ons die historiese wortels van die huidige praktyk van belydenis as toegangspoort na die nagmaal nagespeur. Ons het verder die plek van die kind in die verbondslewe ondersoek en uiteindelik vasgestel dat die nagmaal ‘n noue samehang vertoon met die pasga en ten diepste as ‘n verbondsmaaltyd of ‘n offermaaltyd gesien moet word. Telkens het ons tot die gevolgtrekking gekom dat daar niks te vinde is wat die kinders van hierdie maaltyd weerhou nie. Ons is dus genoodsaak om aan te beveel dat ernstige oorweging daaraan geskenk behoort te word, of die bestaande praktyk nie verander moet word nie.
1. Moontlike oplossings
1.1 Kinders moet slegs teenwoordig wees
Ouers word soms deur hulle leraars gevra om hulle kinders saam te bring na die nagmaal, sodat hulle nie heeltemal vreemd van die sakrament grootword nie. Nogtans gebeur dit selde dat groot getalle kinders by die nagmaal opgemerk word.[200]
Die blote teenwoordigheid van die kinders kan nie aanbeveel word as ‘n geskikte oplossing nie. Om dit te verduidelik kan die volgende beeld gebruik word, wat ten nouste aansluit by die nagmaal: As bruilofsgaste aan die feestafel gaan sit en hulle is nie van plan om van die keurige voedsel te geniet nie, stel hulle, hulleself en die Gasheer in die verleentheid. Dit is in elk geval ook nie aangenaam om net na die redes van die sprekers te luister, sonder om deel te hê aan die feesvreugde en dit wat vir die gaste voorgesit word nie.
Die beeld kan verder gevoer word: Gestel die kindjie daar “teenwoordig” saam met sy ouers, sou ongemerk van die brood neem en ook daarvan eet; sou die onsigbare Gasheer daaroor ontsteld gewees het en die ouers beveel het om liewer nie weer hulle kleinding saam te bring nie? Dit sou ‘n heel wettige vraag wees om te vra ten opsigte van die nagmaal, omdat een van die basiese betekenisse van die nagmaal is dat dit ‘n prefigurasie of voorafskaduwing is van die ewige bruilof met die Lam.[201] So gesien is dit ondenkbaar dat ons hemelse Gasheer sommiges onbevoeg sou ag om deel te hê aan die maaltyd wat Hy vir ons berei het. Hy het almal uitgenooi tot die geringste toe, wie ookal die bruilofskleed aan het. (Mat. 22:1-14).
Indien daar ‘n oproep gemaak word om die kinders slegs saam te bring na die nagmaal, voorsien ons geen noemenswaardige verandering in die bestaande praktyk nie. Dit sou egter ook ‘n misvatting oor die betekenis van die brood en die wyn ten toon stel en in die gemeente bevorder.[202]
1.2 Kategese vooraf
Soos blyk uit die eerste hoofstuk is daar verskeie skrywers wat die kindernagmaal bepleit, maar ook ‘n kort onderrig verwag voordat hulle toegelaat word.
So ‘n stelsel sou heelwat probleme inhou. Ons noem twee:
(a) Die inhoud van so ‘n kursus sou ‘n probleem wees. Wat sou ons meer aan die kinders kon leer as dat die nagmaal ons herinner aan die lyding van Jesus Christus vir ons aan die kruis? Dit is die belangrikste wat ons nodig het om te weet, as ons aan die nagmaalstafel gaan sit. Maar is dit dan nog nodig om ‘n spesiale kursus in te stel daarvoor? Deur die prediking en deur die onderrig aan moedersknie behoort ons nie, wat dit betref, probleme te hê nie.
Dit is nie nodig om die verdere dogmatiese onderskeidinge van Calvyn, Zwingli, Luther en Rome te ken, om die nagmaal sinvol te kan gebruik nie. Dan sou dit beteken dat die nagmaal vir ‘n groot deel van ons dogterkerke en vir eenvoudige mense ‘n onverstaanbare gebeurtenis is.
(b) Die ouderdom waarop so ‘n kursus moet plaasvind sou steeds ‘n probleem wees. Soos reeds aangetoon, het Calvyn begin met 10 jaar en dit het geëindig by 16-18 jaar vandag in Gereformeerde kringe. Die posisie is dat ons maar weer die deelname aan die nagmaal afhanklik sal stel van die deelnemer se verstandelike vermoëns. Daarvan wil ons juis afstand doen. Selfs ‘n verstandelike vertraagde behoort ‘n plek te hê aan die maaltyd van die Here, as hy nie die orde daar versteur nie.[203]
1.3 Die voorstel van Bijlsma[204]
Soos reeds gesien het Bijlsma ‘n “kinderplechtigheid” in gedagte op die ouderdom 12-14 jaar. Hierdie “plegtigheid” moet saamhang met die oorskakeling van die laer- na die hoërskool en die Sondagskool na die katkisasie. Na die katkisasieonderrig, wanneer die nodige rypheid verkry is, volg die openbare geloofsbelydenis. Die eerste “opneming” of “bevestiging” moet egter reeds toegang verleen tot die nagmaal saam met die ouers.
Die groot waarde van hierdie voorstel is dat hierdie plegtigheid vir almal “een verzekering (is) van de belofte, dat God met hen meegaat op de levensweg”. Iets van die kinders se betrokkenheid in die verbondsgemeente kom reeds hierin na vore. Bijlsma maak ook nie melding van ‘n kursus-met-die-oog-op-nagmaal, naas die gewone Sondagskool nie. Met die oog op die nagmaal is hierdie voorstel dus aan te beveel.
Die enigste beswaar is net dat alle laerskoolkinders nog steeds tydens nagmaalsdienste by die huis sal sit. In die praktyk sal ons dit nog nie kry dat die gelowiges volledig gesinsgewys na die nagmaal gaan nie.
1.4 Aanbevole oplossing
Vanuit die inhoud van die voorafgaande bespreking, sou ons graag die lyne wou deurtrek na ons praktyk om sodoende ook ‘n eie voorstel te probeer maak in die onderhawige diskussie.
Dit lyk of die enigste konsekwent, prinsipieël verantwoorde praktyk sou wees dat geen onderskeid gemaak word tussen dooplidmate en belydende lidmate ten opsigte van die nagmaal nie. Alle dooplidmate (behalwe in tuggevalle) behoort volledige toegang te hê tot die nagmaal.
As ons wil praat van verbondsgemeente, moet die eenheid van die gesin in ag geneem word (Vgl. 1 Sam. 1:21). Daar behoort nie ‘n kerklik vasgestelde ouderdom of seremonie te wees wat die kinders van die gemeente, van die nagmaalstafel kan weerhou nie. Slegs die ouers wat verantwoordelik is vir hulle kinders, behoort te besluit oor die ouderdom waarop hulle kinders groot genoeg is om hulle te gedra by die nagmaal. Dit is reeds die ouers se plig om hulle kinders op ‘n geskikte ouderdom na die gewone erediens te bring. Dit sou verkeerd wees om ‘n skeidslyn te trek tussen “gewone erediens” en die “nagmaalsdiens”. Die een is nie ‘n “spesiale diens” teenoor ‘n “gewone diens” nie. Elke erediens is ‘n besondere geleentheid. As die ouers dan waardig geag word om hulle kinders kerk toe te bring, behoort dit ook te geld van die nagmaal.
As daar egter ‘n ouderdom genoem móét word, dan sou ons meen dat ‘n kind van vyf jaar ontwikkeld genoeg is om ordelik van die brood te eet. Gewoonlik kom kinders reeds lank voor daardie ouderdom na die kerk toe. Daar behoort nie beswaar te wees om die kinders reeds van die begin af ook na die nagmaal te bring nie, behalwe dat die diens vir hulle baie lank sou wees. Ouers behoort egter te wag tot hulle kinders ordelik aan ‘n tafel kan eet,[205] voordat hulle ook die brood kan ontvang. Dit sou die enigste kriterium wees vir die ontvang van die element van die brood.
Daar moet in gedagte gehou word, dat dit nie daarom gaan of die kinders alles verstaan wat gebeur nie. Hulle verstaan in elk geval aanvanklik maar min van die gewone erediens. Die verbondgemeente wil egter hê dat hulle kinders moet grootword in die heilige dinge van die Here.
Dit word natuurlik nie aanbeveel dat die jong kinders ook van die huidige nagmaalswyn moet neem nie. Dit sou vir hulle te sterk en onaangenaam wees om te gebruik. Een van twee oplossings is moontlik: Of ‘n sagter tipe wyn kan aangebied word sodat die kinders vroeër daarvan kan gebruik, óf die kinders kan net wag met die wyn tot op 10- of 12-jarige leeftyd wanneer hulle ook daarvan kan gebruik.
Dit sou nie afbreuk doen aan die nagmaal as die kinders aanvanklik slegs een van die elemente gebruik nie. Daar moet in gedagte gehou word dat dit om praktiese- en nie prinsipiële oorwegings gedoen word nie, bv. dat daar misterieuse betekenis aan die elemente geheg word, soos by Rome, wat nie die wyn aan leke bedien nie. Brood én wyn wys albei heen na een saak, die offerdood van Jesus Christus.[206] Indien die kinders dus voorlopig nie die wyn ook gebruik nie, is die nagmaal nie dáárom vir hulle betekenisloos nie.[207]
2. Besware teen die kindernagmaal
2.1 Lei na ‘n volkskerk
Die gevoel mag ontstaan dat die kerk nou maar sy deure oopgooi sonder dat daar enige keuring plaasvind. Die heilige nagmaal word nou oopgestel vir mense oor wie ons geen sekerheid het van hulle leer en lewe nie.
Hierteenoor moet ons daarop wys dat die “sifting” by die doop reeds plaasvind. Dit is immers net die verbondsouers wat die voorreg het om hulle kindertjies ten doop te bring. Die ongelowiges en afvalliges wat van die verbondsbeloftes ‘n bespotting maak, word van die doopvont geweer. So het hulle en hulle kinders ook geen plek aan die nagmaalstafel nie.
2.2 Kategese verval
Die beswaar kan genoem word dat die motivering vir die jeug om gekatkiseer te word sal verval. Daar is niks meer vir hulle om na uit te sien nie. Die kerk het ook geen “vat” op diegene wat weier om gekatkiseer te word nie.
Ons moet dadelik sê dat die deelname aan die nagmaal hoegenaamd nie die eerste motivering behoort be wees vir die katkisasie nie. Dit gaan om veel meer. Dit gaan om die opvoeding van die jong lidmate van die gemeente in hulle allerheiligste geloof. Die nodige kennis van die leer is noodsaaklik om as mondige gelowiges in die wêreld te werk en die wêreld te konfronteer.
Die openbare geloofsbelydenis is ‘n mooi kerklike gebruik wat ons behoort te behou, vir diegene wat die katkisasie ondergaan het. Dit moet vir die jongmens die bewys wees dat die kerk hom nou waardig ag om in die ampte te dien en leiding te neem in die gemeente. Die belydenis moet verder steeds ‘n voorwaarde wees om uit die kerk te trou. Hoe kan ‘n mens sonder die nodige kennis van die leer en die regte lewe, ‘n gesin wil opbou en kinders grootmaak volgens die eise van die Woord? So moet daar steeds meer gemaak word van die kategese en die openbare belydenis. Dit moet egter nie toegang verleen tot die sakrament van die nagmaal nie, maar moet dien as onderrig in die volle rykdom en diepte van die nagmaal o.m. aan die jong lidmaat.
2.3 Kerk te vol
By nagmaalsdienste is die kerk gewoonlik reeds baie vol. Nou kan daar geredeneer word dat daar nie nog plek is vir kinders tydens ‘n nagmaalsdiens nie.
Hierdie beswaar wil ons byna nie noem nie, omdat dit geen beswaar behoort te wees nie. Dit behoort by ons groot blydskap op te wek as die feesvierende gemeente in sulke groot getalle opdaag dat ‘n ekstra diens gereël moet word.
2.4 Kinders wat opdaag by die nagmaal sonder hulle ouers
Net soos wat dit af te keur is dat ouers sonder hulle kinders by die kerk opdaag is die omgekeerde ook waar. Ons sal egter nie sulke kinders kan weier om nagmaal te gebruik nie. Gedoopte kinders sal ons as verbondskinders moet beskou. Ons is ook nie by magte om ‘n oordeel uit te spreek oor die geloof van ‘n jong kindergemoed nie. Die ouers van sulke kinders sal egter baie beslis bearbei moet word.
3. Slot
As die verandering in ons nagmaalspraktyk gemaak word, wat hier voorgestel word, dan is daar moontlik nog ander praktiese implikasies wat nie aangeraak is nie. Die ondervinding sal in ‘n groot mate vir ons ‘n leermeester moet wees, waar aanpassings dalk gemaak sal moet word. Dit is egter ‘n ander onderwerp as die een onder bespreking.
Wat ons hier probeer aantoon het is dat daar bedenkinge in te bring is teen die huidige gebruik waarin verbondsouers en -kinders nie saam die dood van die Here kan herdenk en verkondig nie. Vanuit die agtergrond van die genadeverbond waarin ons leef, is dit ‘n vraag of Jesus Christus dit so vir Sy kerk bedoel het.
Bibliografie
Aalbers, B.J., – Kinderen aan het avondmaal? Gemeentetoerusting, Kampen.
Aalders, G.Ch., – Het Verbond Gods, Kampen, 1939.
Berkouwer, G.C., – Dogmatische Studien: De Sacramenten, Kampen, 1954.
Bijlsma, R., – Kleine Catochetiek, Callenbach, Nijkerk, 1969.
Bouwman, H., – Gereformeerd Kerkrecht, Kampen, 1934.
Cadier, J., – The Man God Mastered, London, Inter-Varsity. (Vertaling uit die Frans deur O.R. Johnston).
Calvijn, J., – Institutie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst, vert. Sizoo, Meinema, Delft.
Danneels, G., – Drie aanzetten tot een theologie over de eucharistie, Tijdschrift voor Liturgie, Jrg. 57, no. 3.
De Boor, W., – Der erste Brief des Paulus an die Korinther, Brockhaus, Wuppertal, 1968.
De Klerk, J.J., – Die Onderlinge Vermaning in Pastorale Perspektief, Stellenbosch.
De Pressensé, E., – Early Years of Christianity. Hodder and Stoughten, London.
Donaldson, J. – Ante-Nicene Christian Library, Boek 8, Clark, Edinburgh.
Gemser, B., – Die Bybel met verklarende aantekeninge, Protestantse uitgewers, 1958.
Gispen, W.H., – Exodus, Korte Verklaring, Kok, Kampen.
Groenewald, E.P., – Die Eerste Brief aan die Korinthiërs, N.G. Kerk uitgewers, 1971.
Groenewald, E.P., – Oorvloediger geregtigheid, N.G. Kerk Boekhandel, 1968.
Grosheide, F.W., – Mattheus, Commentaar op het Nieuwe Testament, Kampen, 1954.
Grundmann, W., – Markus, Theologischer Handkommentar zum Neuen Testament, Evangelische Verlagsanstalt, Berlin.
Hartveld, G.P., – Tastbaar Evangelie, Graafsckap, Aalten.
Heyns, J.A., – Die Kerk as diens aan die Koninkryk, Univ. Stellenbosch, 1967.
Janssen, K., – Konfirmation, Weltkirchen Lexikon, Stuttgart.
Kittel, G., – Theological Dictionary of the N.T., Eerdmans, Grand Rapids. (Vertaling uit die Duits).
Kock, P. de B., – Christelike Wysbegeerte, Sacum, 1970.
Kritzinger, J.H., – Joël, Die Bybel met verklarende aantekeninge, Protestantse uitgewers 1958.
Kuyper, A., – Het werk van den Heilige Geest, Kampen, 1927.
M’Neile, A.H., – The Gospel according to St. Matt., Macmillan, 1965.
Moll, W., – Geschiedenis van het Kerkelijke Leven der Christenen gedurende de zes eerste eeuwen, Prins, 1846.
Moule, C.F.D., – Worship in the New Testament, Ecumenical studies in worship, Knox, Virginia.
Nauta, D., – Confirmatie, Christelijke Bnoyclopedie, Kampen, 1959.
Nauta, D., – Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde kerken in Nederland, Kampen, 1971.
Plomp, J., – De kerkelijke tucht bij Calvijn, Kampen.
Polman, A.D.R., – Verbond, Christelijke Encyclopedie, Kampen, 1961.
Pop, F.J., – De eerste brief van Paulus aan de Corinthiërs, Callonbach, 1965.
Ridderbos, H., – De Komst van het Koninkrijk, Kampen, 1972.
Ridderbos, H., – Paulus: ontwerp van zijn theologie, Kampen, 1966.
Ridderbos, H.N., – Het Dogma der Kerk, Groningen, 1949.
Van den Berg, J.H., – Metabletica, Nijkerk, 1956.
Van der Plas, D., – Kinderdoop en kinderoommunie, Jaarboek voor de eredienst, Boekoncentrum, 1965/66.
Van Gelderen, J., – Kinderdoop, Christelijjke Encyclopedie, Kampen, 1959.
Van Ruler, A.A., – Waarom zou ik naar de kerk gaan?, Callenbach, Nijkerk.
Van Selms, A., – Genesis, De Prediking van het Oude Testament, Callenbaoh, 1967.
Von Allmen, J.J., – Worship: It’s theology and practice, London, Lutterworth.
Van Rad, G., – Genesis, Old Testament Library, S.C.M.
Vorster, J.A., – Christus vir ons Joodse buurman, N.G. Kerk-Uitgewers.
Wiersinga, W.A., – Gods werk in ons, Kampen, 1952.
Tydskrifte
Bijlsma, R., – Over een dienst tot opneming of bevestiging van kinderen in het midden der gemeente, Ministerium, Jrg, 2, no. 1,
Bolkestein, M.H., – Confessio en admissio, Kerk en Theologie, Jrg. 15, no. 1.
Danneels, G., – Drie aanzetten tot een theologie over de eucharistie, Tijdschrift voor Liturgie, Jrg. 57, no. 3.
Durand, J.J.F., – By genot van wyn en brood, Polumnia (Jaarblad van die Teologiese fakulteit, Universiteit Stellenbosch) 1972, Jrg. 28.
Engelbrecht, B.J., – Die probleem van wie aan die avondmaalstafel mag aansit? Jaarblad, Van der Hoff Teologiesevereniging, 1973.
Groenenberg, M., – Vragen rond de kindercommunie, Woord en Dienst, Jrg. 19, no. 4.
Hartveld, G.P., – Kindercommunie, Centraal Weekblad, 30 Jan. 1971.
Lekkerkerker, A.F.N., – Gezinscommunie, Kerk en Theologie, Jrg. 19, no. 1.
Pel, C., – Kindercommunie en confirmatie, Ministerium, Jrg. 3, no, 4.
Van Andel, C.P., – Mogen kinderen meedoen aan het vondmaal, Hervormd Nederland, 1 en 8 Mei 1971.
Van Minnen, J.M., – Kinderverlokkers in een consumptieve kerk, Gemeentetoerusting, Jrg. 24, no. 11.
Kerkorde van die Ned. Geref. Kerk, N.G. Kerkboekhandel, 1970.
Voetnotas
[1] Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, N.G. Kerkboekhandel, 1970, p. 13.
[2] Bijlsma, R., Kleine catechetiek, Nijkerk, 1969, p. 22.
[3] Ridderbos, H.N., Het dogma der kerk, Groningon, 1949, p.546.
[4] Van der Plas, D. Kinderdoop en Kindercommunie, Jaarboek voor de eredienst, 1965/66, p. 101. Vgl. ook B.J. Aalbers, Kinderen aan het avondmaal? Gemeentetoerusting, Kampen, p. 11. Die skrywer gee in die boekie ‘n opsomming van die diskussie in Nederland oor die kinderkommunie, die afgelope dekade. Die aanhalings uit die amptelike Sinodale stukke o.m. is veral van groot waarde, omdat die meeste van hierdie gegewens moeilik verkrygbaar is in die R.S.A.
[5] Aalbers, B.J., op. cit., p. 12.
[6] Idem., p. 14.
[7] Die gedeelte wemel van onduidelikhede en selfs teenstrydighede. Katkisante en jong kinders word in dieselfde asem genoem, Die belydenis moet skynbaar steeds toegang verleen tot die nagmaal. Dit is egter onnodig om verder op die rapport uit te brei. M.H. Bolkestein het in “Kerk en Teologie” (Confessio en admissio, Jaarg. 15, p. 28.) die rapport verder bespreek.
[8] Aalbers B.J., op. cit., p. 14.
[9] Groenenberg, M. Vragen rond de Kindercommunie, Woord en Dienst, jaarg. 19, no. 24.
[10] Aalbers, B.J., op. cit., p. 15.
[11] Lekkerkerker, A.F.N Gezinscommunie, Kerk en Theologie, Jaarg. 19, no. 1, p. 76.
[12] Aalbers, B.J., op. cit., 9 p. 86.
[13] Calvyn, Institusie, 4, 16, 30.
[14] Van Minnen, Kinderverlokkers in een consumptiewe kerk, Gemeentetoerusting, Jaarg. 24, No. 11. (Aangehaal deur Aalbers, B.J. op. cit., p. 23).
[15] Van Ruler, A.A., Waarom zouik naar de kerk gaan? Callenbach, p. 91.
[16] Confessioen admissio, Kerk en Teologie, Jaarg. 15, p. 28.
[17] Idem., p. 31.
[18] My kursivering.
[19] op. cit., p. 76.
[20] Bijlsma, R., Over een dienst tot opneming of bevestiging van kinderen in het midden der gemeente, Ministerium, Jaarg. 2, no. 1.
[21] Groenenberg, M. op. cit., Jaarg. 19. no. 24.
[22] Van Andel, C.P. Mogen kinderen meedoen aan het Avondmaal, Hervormd Nederland, 1 en 8 Mei 1971.
[23] Van der Plas, D., Kinderdoop en Kindercommunie, Jaarboek voor de eredienst, Boekencentrum, p. 108.
[24] Ek glo nie hy bedoel dat dit die enigste kategese moet wees nie.
[25] Hartvelt, G.P., Kindercommunie, Centraal Weekblad, 30 Jan. 1971.
[26] Pel, C., Kindercommunie en confirmatie, Ministerium, Jaarg. 3, no. 4.
[27] Van der Plas, D., op. cit., p. 101.
[28] Ook dr. D. Nauta het in sy “Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, Kampen, 1971, p. 268,” dit nodig gevind om hom daaroor uit te spreek: “In dit verband komt aan de orde de zin, die de openbare belijdenis des geloofs heeft. Moet deze inderdaad als een onmisbare voorwaarde worden verstaan? … Vooralsnog komt het mij voor, dat er geon reden is om het in onze kerken bestaande gebruik, dat ook in de kerkorde word gehandhaaft los te laten. Wij kunnen niet zeggen dat dit gebruik rechtstreeks aan de Heilige Schrift is ontleend. Er is daarin nergens sprake van een verbindende schakel die tussen doop en avondmaal zou bestaan en ten aanzien waarvan aan de gedoopten in de gemeente een bepaalde eis gesteld zou moeten worden.”
[29] Groenenberg, M. op. cit.
[30] Soos o.m. deur B.J. Aalbers behandel, op. cit.
[31] Moule, G.,D., Worship in die New Testament. studies in worship, Knox, Virginia, p. 30. Ecumenical
[32] Bolkestein, M.H.,Confessio en admissio, Kerk en theologie, Jrg. 15 no. 1, p. 34. Bolkestein neem in aanmerking dat die kinderdoop nie van die begin af in die Apostoliese tyd in werking getree het nie. Dit behoort volgens hom tot ‘n “tweede fase.” Die kindernagmaal het in elk geval hiermee saamgegaan.
[33] Ridderbos, N.H., Het Dogma der Kerk, Groningen, 1949, p. 540.
[34] Cyprianus, De Laps. c.9, vgl. c.25,
[35] The Apostolical Constitutions, Ante-Nicene Christian Library, (8) Edinburgh, Bk. 8,13. Boek 8 waaruit die aanhaling kom, dateer waarskynlik uit die einde van die 4e eeu.
[36] De Peccat. merit. 1,20.
[37] Moll, W., Goschiedenis van het Kerkelijk Leven der Christenen gedurende de zes eerste eeuwen, Prins, 1846, Band 2, p. 318%
[38] Innocentius, Epist.Silvano, onder die briewe van Augustinus Ep. 182. aangehaal deur Moll op. cit.
[39] Gregorius, Sakramentar.off. sab. aangehaal deur Moll, op. cit.
[40] Die Apostoliese Konstitusies het waarskynlik hulle oorsprong in die Oosterse Kerk (Donaldson, Anti-Nicene Christian Library asook Nauta, Apost. Const., Christelijke Encyclopedie.)
[41] In Gereformeerde kringe word dieselfde argument gebruik om die kinderdoop vanuit die apostoliese tyd te bewys. (J. van Gelderen, Kinderdoop, Christelijke Encyclopedie, Kampen, 1959.)
[42] Bouwman, H., Gereformeerd, Kerkrecht, Kampen, 1934. Band 2, p. 369. Hy sê: “toen de kinderdoop algemeen geworden was, werd de jeugd der gemeente onderwezen in de kennis der leer des heils, en daarna na belijdenis als mondig lid der kerk erkend en tot de viering van het heilig avondmaal toegelaten.” Indien die skrywer ‘n aanduiding gegee het vanwaar hierdie inligting te vinde is, was ons probleem opgelos!
[43] Apostoliese Konstitusies, op. cit.
[44] De Pressens, E., Early Years of Christianity. p. 11.
[45] Moll, op. cit. Deel 1, p. 25. “een voldoend antwoord is niet ligt te vinden.” Verderaan verwys hy na “een flaauw bewijs.” Ook J.J. van Oosterzee, Gesch, der Christ. Kerk, Amsterdam, 1852, Deel 1, p. 260: “op de vraag naar een vasten ouderdom, waarop het cathechetisch onderwijs voor geboren Christenkinderen aanving zoekt men vruchteloos een bevredigend antwoord”.
[46] De Pressensé, op. cit.
[47] Moll, op. cit. Deel 1, p. 24.
[48] Moll is wel van mening dat die kinders van gelowiges m.a.w. gedooptes, deel gehad het aan die kategese. (p.24). Dit lyk egter na ‘n persoonlike interpretasie, want in al die verwysings wat hy maak na die Kerkvaders, gaan dit om kategese met die oog op die doop.
[49] Bijlsma, Kleine catechetiek, p. 51.
[50] Apost. Konst. Bk. 7, 39, aangehaal deur Moll op. cit. Deel 1, p. 41.
[51] Can. 21, Denz. 437. aangehaal deur Bolkestein op. cit., p. 35.
[52] Bolkestein, M.H., op. cit. p. 35.
[53] Hartveld, G.P., Tastbaar Evangelie. Aalten, p. 89.
[54] Von Allmen, J.J., Worship : It’s theology and practice, London, Lutterworth, p. 187.
[55] Bolkestein, op. cit. p. 35.
[56] Denzinger, 2137. Vgl. Hartveld op. cit.
[57] Nauta, D., Confirmatie, Christelijke Encyclopedie, Kampen, 1959.
[58] Berkouwer, G.C., Dogmatische Studien: De Sacramenten, Kampen. p. 38.
[59] Idem., p. 33. “Het is het uitgroeien tot volwassenheid.” Ook: Janssen, K., Konfirmation, heltkirchen Lexikon, Stuttgart. “Als wirkung der Konfirmation werden die Mundigkeit des Getauften.”
[60] Berkouwer, op. cit. p. 33.
[61] Janssen, K. op. cit. “die Konfirmation als kirchl. Brauch in irgendeinen Form erhalten. Jedoch war ihr Inhalt durchgreifend verändert.”
[62] Pel, G., Kindercommunie en confirmatie, Ministerium, Jrg. 3, No. 4.
[63] Klein Kategismus, W.A. 30, 1, 271. Vgl. Bolkestein op. cit. p. 36.
[64] Nauta, D., Confirmatie, Christ. Eno,
[65] Pel, C., Kindercommunie en confirmatie, Ministerium, Jrg. 3. No. 4.
[66] Bouwman, H. op. cit. p. 384.
[67] Hartvelt, G.P., Kindercommunie, Centraal Weekblad, Jrg. 19 No. 4.
[68] Idem.
[69] Calvyn, J., Institusie, 4, 19, 13, vert. deur Sizoo.
[70] Vgl. in hierdie verband G.P. Hartveld, Tastbaar Evangelie, p. 90: “Het sacrament van het vormsel is nl. komen te vervallen, en in plaats daarvan kwam een systematisch opgezette catechese”.
[71] Calvyn op. cit.
[72] Idem.
[73] ‘n Verdere bewys dat Calvyn “kind van sy tyd” was is die interessante feit dat die onderwysing van lidmate reeds ‘n gebruik was by die Waldense. Die Waldense het reeds die vormsel afgeskaf in die 12e/13e eeu, in navolging van die Kathare, en ‘n grondige onderrig ingestel voor die konfirmasie plaasgevind het. (Bijlsma, MiniseriumJrg. 2, no. 1). Ook Die Boheemse Broeders het in die 15e eeu reeds hulle eie kategismusboek gehad wat vir hulle konfirmasieplegtigheid voorgeskryf was. (Pel, Ministerium, Jrg. 3, no. 4)
[74] Calvyn, op. cit.
[75] Idem. en Hartvelt, Tastbaar Evangelie p. 91.
[76] Calvyn, op. cit.
[77] Idem.
[78] Idem.
[79] Pel, op. cit.
[80] Calvyn, op. cit.
[81] Plomp, J. De kerkelijke tucht bij Calvijn, Kampen, p. 67-71.
[82] Cadier, d., The Man God Mastered, London, vert, deur Johnston, p. 76.
[83] Bolkestein, op. cit. p. 38.
[84] Van den Berg, J.H., Metabletica, Nijkerk, 1956, p. 24 e.v. aangehaal deur Bolkestein, op. cit.
[85] Bijlsma, R. Ministerium, Jrg. 2, No. 1.
[86] Aalbers, B.J., op. cit. p. 26.
[87] Die naaste aanduiding vind ons in art. 50, wat handel our die kategese Die kinders van die gemeente … moet onderrig word in die Woord van God en die leer van die Kerk met die oog op die aflegging van belydenis van geloof, waardeur hulle tot volle lidmaatskap van die Kerk toetree, met alle regte en verantwoordelikhede daaraan verbonde.”
[88] Aalders, G.Ch., Het Verbond Gods, Kampen, 1939, p. 189.
[89] Wiersinga, W.A., Gods werk in ons, Kampen, 1952, p. 193.
[90] Kock, P. de B., Christelike Wysbegeerte, Sacum, 1970, p. 22.
[91] Van Selms, A., Genesis De Prediking van het Oude Testament, Callenbach, 1967, p. 233.
[92] Von Rad, G., Genesis, Old Testament Library, S.C.M. p. 195 “a reference to its timeless validity”.
[93] Idem., “salvation beyond the limits of Israel (ch. 12:3)”.
[94] Berkouwer, G.G., De Sakramenten, Dogmatische Studiën, Kampen, 1954, p. 219: Hy haal Gal. 3:7, 9 en 14 aan.
[95] De Klerk, J.J., Die Onderlinge Vermaning in Pastorale Perspektief, p. 110.
[96] Heyns, J.A., Die Kerk as diens aan die Koninkyk, p.15.
[97] Kittel, G., Theological Dictionary of the N.T. by diatheke.
[98] Ridderbos, J., De Apostolische Kerk, p. 24 (Aangehaal deur J.J. de Klerk, Die Onderlinge Vermaning in Pastorale Perspektief).
[99] Aalders, G.Ch., op. cit. p. 211,
[100] Polman, A.D.R., Verbond, Christelijke Encyclopedie, Kampen, 1961.
[101] Hier is natuurlik sprake van die Sinaïtiese verbond in teenstelling met die Messiaanse bedeling. (Vgl. Aalders, op. cit. p. 162).
[102] Kritzinger, J.H., Joël, Die Bybel met verklarende aantekeninge, Protestantse uitgewers, 1958.
[103] Gemser, B., Jeremia, Idem.
[104] Tot vandag het die kinders ‘n besondere rol by die viering van die pasga in Joodse gesinne. Dit is iets waarna die kinders uitsien. Die vorige aand gaan die vader saam met die kinders op ‘n skyn soektog na enige oorblyfsels van gewone brood. (Ex. 12:15). Die aand van die pasga is dit die oudste seun se taak om die vader te vra om die verhaal van die uittog vir hulle te vertel. (Vorster, J.A., Christus vir ons Joodse buurman, N.G. Kerk-Uitgewers, p. 42 – 45).
[105] Vgl. Aalders G.Ch., op. cit., p. 79 – 111.
[106] 1 Sam. 3:7.
[107] 2 Kon. 5:2.
[108] Ex. 20:18.
[109] Weereens het ons ‘n opvallende bewoording nl. “Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes , versamel die kinders en die suigelinge.” (2:16)
[110] Calvyn, Institutie, vert. Sizoo, 4, 16, 30: “Welke gedachtenis, vraag ik u zullen wij van de kinderen eisen van die zaak waarvan ze nooit besef gehad hebben? … en de weldaad nog niet met hun verstand begrijpen?
[111] M’Neile A.H., The Gospel according. to St. Matt. Macmillan, 1965.
[112] Groenewald, E. P., Oorvloediger geregtigheid. N.G. Kerk Boekhandel, 1968, p. 28.
[113] Grosheide, F.W., Mattheus, Com. op het N.T., Kampen, 1954.
[114] Idem.
[115]. Grundmann, W., Markus, Theologischer Handkommentar zum N.T., Berlin, p. 206.
[116] Idem.
[117] Idem.
[118] Idem.
[119] Mk. 10:16. Ook aangehaal deur die doopsformulier.
[120] op. cit.
[121] Groenewald, E.P. , Die Eerste Brief aan die Korinthiërs, N.G. Kerk-uitgewers, 1971.
[122] Idem.
[123] De Boor, W. Der erste Brief des Paulus an die Korinther, Wuppertaler Studienbibel, Brockhaus, 1968.
[124] Idem.: “Wo ihr und euer steht, ist immer die ganze Gemeinde gemeint.”
[125] Ridderbos, H., Paulus: ontwerp van zijn theologie, Kampen, 1966, p. 462. In die verband van 1 Kor. 7:14 skryf hy: “Het ‘heilig zijn’ van de kinderen houdt dus metterdaad voor hen in, dat zij tesamen met en als behorende tot hun ouders door de doop in de gemeente werden ingelijfd en aldus participeerden in de gaven van Christus en in de verlossende heerschappij van zijn Geest.”
[126] Polman, A.D.R., op. cit.
[127] Aalders, G.C.H, op. cit., p. 218.
[128] Wiersinga, W.A. Gods werk in ons, Kampen, 1952, (‘n Aanhaling van Calvyn).
[129] Idem.
[130] Aalders G.Ch., op. cit. p. 218.
[131] N.G.B. Art. 29.
[132] Berkouwer, G.C., De Sakramenten, Dogmatische Studiën. Kampen, 1954, p. 231 : “Men kan zonder overdrijving zeggen dat deze visie op de eenheid van Oud en Nieuw Verbond de eigenlijke en diepste grond vormde voor de verdediging van de kinderdoop”.
[133] Veldkamp, H. Zondagskinderen, T. Wever, Deel II p. 61.
[134] Calvijn, op. cit. p. 373.
[135] Aalders, G.Ch., op. cit., p. 207 : “… Ismael en van Ezau niet als de beschrijving van gevallen, maar van symptomen te zien.
[136] Idem., p. 186.
[137] Ridderbos, H., De Komst van het Koninkrijk, Kampen, 1972, p. 356. Bij de synoptici kan er dus geen twyfel overblyven, dat wij onder Jesus’ laaste maaltijd de pascha-viering te verstaan hebben.
[138] Idem., p. 362.
[139] Idem., p. 344. Vgl. ook G.N. Lammens, Tot Zijn Gedachtenis p. 185 (Aangehaal deur. J.J. de Kerk, Die Onderlinge Vermaning in Pastorale Perspektief)
[140] Calvijn, op. cit. 4, 16, 4.
[141] Idem., 4, 14, 25.
[142] Kuyper, A., Het werk van den Heilige Geest, Kampen, 1927. p.92 “de dienst der schaduwen in Israels staatkundig en maatschappelijk en huiselijk leven openbaart ons de goddelijke eeuwige en onveranderlijke beginselen …”
[143] Grosheide, F.W., Commentaar op het Nieuwe Testament, Mattheus, Kampen, 1954, by Mt. 8:11.
[144] Ridderbos, H. op. cit. p. 349.
[145] Durand, J.J.F., By genot van wyn en brood. Polumnia (Jaarblad van die Teologiese fakulteit, Universiteit Stellenbosch) 1972, Jrg. 28.
[146] Idem.
[147] Idem.
[148] Bouwman, H., Geref. Kerkrecht, Kampen, 1934, Band 2, p364. Op p. 413 wys hy dat die maaltydkarakter ook in die bediening moet uitkom.
[149] Ridderbos, H.N. Het Dogma der Kerk Groningen, 1949, p. 548.
[150] Groenewald, E.P., op. cit., by 1 Kor. 11:26.
[151] Gispen, W.H., Exodus, Korte Verklaring, p. 130.
[152] Calvijn, op. cit. 4 , 20, 21.
[153] Calvyn, op. cit., 4 , 17 , 12.
[154] Berkouwer, G.C., Dogmatische Studien: De Sacramenten, Kampen, 1954, p. 302.
[155] Calvijn, op. cit., 4, 17, 19.
[156] Idem., 4, 17, 3.
[157] Idem.
[158] Idem., 4 , 17, 11.
[159] Idem.
[160] Berkouwer, op. cit. p. 301.
[161] Idem., p. 307.
[162] Calvyn, op. cit., 4, 17, 7.
[163] Idem.
[164] Wiersinga, W.A., Gods werk in ons, Kampen, 1952, p. 208. “De voorstelling, die Calvijn zich daarvan maakt, is niet in elk opzicht duidelijk, zegt Bavinck.”
[165] N.G.B., art. 35.
[166] Berkouwer (De Sakrmenten p. 319) sê dat “deze gemeenschap ook kan worden omschreven als de gemeenschap met zijn ware lichaam en bloed.
[167] Dit is veral Kuyper wat baie maak van die misterie by die nagmaal. Dit gaan om die daad van Christus waarin Hy ons met Sy gekruisigde liggaam spysig en laaf. (E vote III, p. 159 – aangehaal deur Berkouwer op. cit. p. 314) Vgl. ook A. Kuyper, op. cit. p. 174 “dat alle gemeenschap met den Heiligen Geest voor ons hangt aan onze mystieke gemeenschap aan het lichaam van ons Hoofd Christus; de diepste gedachte van ons heilig Avondmaal.”
[168] Berkouwer, G.C., op. cit. p. 278.
[169] Hartvelt, G.P.,Tastbaar Evangelie, Graafskap, p. 56.
[170] Ridderbos, H., De Komst van het Koninkrijk, p. 354 e.v.
[171] Groenewald, E.P., Die eerste brief aan die Korinthiërs. op. cit.
[172] Idem.
[173] Durand, J.J.F., op. cit. “Nuwere Skrifondersoek het m.i, voldoende aangetoon dat die nagmaal in die Nuwe Testament sy besondere karakter kry, as offermaaltyd”. Bouwman (op. cit., p. 364) het reeds hierdie gedagte baie pertinent na vore gebring: “Hieruit blijkt duidelijk dat het avondmaal is, een offermaal, een versoeningsmaaltijd”.
[174] Ridderbos, De Komst van het Koninkrijk, p. 362.
[175] Idem. (my kursivering).
[176] Idem., p. 368.
[177] Idem.
[178] Idem. p. 362: “Dat wil dus zeggen, dat het eten en drinken, de spijs en drank die men ontvangt, op de grondslag van het volbrachte offer plaats heeft en ontvangen wordt, daarvan de vrucht en het resultaat is”.
[179] De Boor, W., op. cit. “Dieses ‘Blut’ ist nicht eine magische, Substanz, die sich in dem Wein befindet, sondern es ist das vergossene Blut, mit dem wir erkauft sind und das uns rein macht van aller Sünde. Mit dem gesegneten Becher erhalten wir den realen Anteil an diesem Blut und an seiner wirksamen Kraft. (my kursivering) … Das ganze Leiden und Sterben des Hernn ist damit uns geschenkt. Es wird in seiner ganzen Heilsamkeit mit dem Brot uns zugeeignet.” Vgl. ook Ridderbos, H., Paulus: ontwerp van zijn theologie op. cit. p. 464: “Lichaam” en “bloed” spreken niet in het algemeen van Jesus “Zelf” of van zijn “persoonlijkheid, maar zijn … als offerterminologie op te vatten … Het is het eten en drinken van de offergave aan de offer maaltijd.”
[180] Idem. p. 363-4.
[181] Hartvelt, G.P., op. cit. p. 60.
[182] Bouwman, H., op. cit. p. 364: “Christus is het middelpunt van den disch.”
[183] Ridderbos, H., De Komst van het Koninkrijk, p. 371. Vgl. ook J.J.F. Durand, op. cit. “Christus as die Gasheer en die Gewer van wyn en brood.”
[184] Ridderbos, H, De Komst van het Koninkrijk, p. 372.
[185] Durand, J.J.F., op. cit. “Dit is die vraag van die ‘hoe’ van Christus se teenwoordigheid in die nagmaal en nie die vraag na die ‘dat’ van sy teenwoordigheid nie, wat die brandpunt gevorm het van die nagmaalstryd in die Reformasie.”
[186] Institusie, 4 , 16, 30.
[187] Wiersinga, W.A., Godswerk in pns, Kampen, 1952, p. 210.
[188] Vgl. by die bg. aangehaalde skrywers asook die nagmaalsformulier. Sien veral B.J. Engelbrecht, Die probleem van wie aan die avondmaaltafel mag aansit? Jaarblad, Van de Hoff Teologiesevereniging, 1973, p. 19. N.a.v. 1 Kor. 11:28 skryf hy: “Uit bostaande is dit alreeds duidelik dat diegene wat die gawe van onderskeiding nie het nie, nie tot die Avondmaalstafel toegelaat kan word nie. Hierdie “gawe van onderskeiding” veronderstel in hierdie verband twee dinge: “Eerstens die geloof as ‘n sekere kennis van God en Sy beloftes, ook dus kennis van die betekenis van die Avondmaal binne die raamwerk van die hele Evangelie; tweedens om binne die raamwerk van die geloof in Christus jou eie lewe krities in die lig van Gods Woord te kan beoordeel. Daarom moet kinders uitgesluit word van die aansit van die Avondsmaalstafel, want hulle besit nie één van dié twee vereistes in dié nodige mate nie”.
[189] Korrekte vertaling van die beste Griekse manuskripte.
[190] Vgl. Groenewald, Korinthiërs p. 147.
[191] Pop, F.J., De eerste brief van Paulus aan de Corinthiërs, Callenbach, 1965, p. 260. “Hij brengt een oordeel over de gemeente, en de reden ligt in die misstand bij de maaltijden … (31) Het oordeel van de Heer gaat dus over de gemeente.”
[192] Ridderbos, H., Paulus: ontwerp van zijn theologie op. cit., p. 475: “Het gaat om de heiligheid van zijn disgemeenschap vgl. 1 Kor. 10:21. In vs. 29 word dit op een nog enigzins andere wijze uitgedrukt, nl. als het “niet onderscheiden van het lichaam”, d.w.z. het niet in haar afgezonderdheid en heiligheid erkennen van de offergave en daarmee van het offer van Christus zelf.”
[193] Nie in die beste handskrifte nie.
[194] Ridderbos, H., De Komst van het Koninkrijk, p. 362-372.
[195] Pop, F.J., op. cit. p. 256. Die onwaardige manier van eet en drink verklaar hy as volg: “Uiteraard denkt de apostel aan de misstand, dat men in Corinthe meer zijn hongerige maag en dorstige tong gedacht dan de Heer. Men at om te eten en dronk om te drinken en niet om de heilswerklikheid van het nieuwe verbond te vieren.”
[196] De Boor, W., op. cit. p. 194: “Der grie Text aber sagt eidentigs, Wer in unwürdiger Art isset und trinket. So passt es ach allein in den Zusammenhang des Abschnittes”.
[197] Idem.
[198] Ridderbos, H., Paulus: ontwerp van zijn theologie, op. cit. p. 478: “De conclusie … is … positief, d.w.z, zij houdt de gemeente niet van het avondmaal terug, maar wekt haar op tot de door Christus geboden, Gode-waardige avondmaalsviering”.
[199] Dat dit inderdaad bepleit word blyk o.m. uit die aangehaalde artikel van prof. B.J. Bngelbrecht.
[200] Aalbers, B.J., op. cit. p. 10 maak melding van ‘n Gereformeerde predikant wat in ‘n kerklike meelewende streek navraag gedoen het onder 14- en 15-jariges. Hy moes verneem dat verskeie kinders van daardie ouderdom nog nooit ‘n nagmaal bygewoon het nie en ander slegs een of tweemaal in hulle lewe.
[201] Ridderbos, H., De Komst van het Koninkrijk, op. cit. p. 349: “verkrijgt hierdoor … een praefiguratief karakter. Wat aan deze maaltijd geschied, zal in het rijk Gods zijjn vervulling vinden”. Vgl. veral Openb. 19:7 en 9, waar die bruilofsmaal van die Lam genoem word. Opvallend dat ons andermaal die woorde “klein en groot” kry in vs. 5.
[202] Dit vertoon dieselfde neiging as die Roomse Kerk wat nie die wyn aan die gewone lidmate wil toedien nie, omdat buitengewone betekenis daaraan geheg word. In hierdie geval moet die kinders teenwoordig wees, maar hulle mag nie die elemente in die mond plaas nie.
[203] Vgl. G. Danneels (Drie aanzetten tot een theologie over de eucharistie, Tijdschrift voor Liturgie, Jaarg. 57, no. 3), het tot die volgende konklusie gekom na ‘n bespreking van o.m, die standpunt van Durrwell: “Hij schijnt beroep te doen op de innerlijke kraoht van het kerygma, dat door zijn verkondiging zelf, direct en zonder veel menselijke aanloop, de macht bezit om het hart te raken.” Hy besluit uiteindelik “dat ze kragtig zal moeten affirmeren dat dit alles geheel overstegen wordt door het woord van de Heer: ‘Neemt en eet, dit is mijn lichaam.’ … deze is immers op het eerste gezicht verhelderender voor (gelovigen) dan elke rationele uitleg”.
[204] Bilsma, R., op. cit.
[205] Hanna het gewag totdat haar seun gespeen was voor sy hom na die Here gebring het (l Sam. 1:23). Gregorius die Grote het ook toegelaat dat die kinders eers “gesoog” is, voordat hulle nagmaal gebruik. (Vgl. Hoofstuk 2, voetnota 9).
[206] Vgl. by H. Ridderbos, De Komst van het Koninkrijk, op. cit., p. 362.
[207] Gerehabiliteerde alkoholiste kan ook nie van die wyn gebruik nie.
**************
Uit Jan Louw se dagboek
Die volgende dagboekinskrywing is vanselfsprekend nie deel van die skripsie nie, maar word hier ingesluit om te wys onder watter omstandighede dit geskryf is.
2 Oktober 1973
Ek skryf my skripsie oor die kindernagmaal en dit maak my baie moedeloos. Dit is ‘n lang storie hoe ek hierop gekom het. Later het dit geblyk dat dit ‘n onderwerp is wat heel aktueel in Nederland is. Ek wil nie nou te diep daarop ingaan nie, maar die rede in kort waarom ek voel dat ons gesinswys na die nagmaal moet gaan kom vir my op uit die verbond. Daar is nêrens in die Skrif sprake van die verdeling tussen mondige en onmondige verbondslede nie. Ek het baie hieroor gelees en nagedink en gebid. Van jongs af het ek die Here gebid om wysheid. In die afgelope tyd nog meer. Ek is baie bang om op loop te gaan met ‘n ding. Dit is in my geaardheid, om van tyd tot tyd entoesiasties oor ‘n ding te raak en dat my entoesiasme later verflou.
In hierdie geval voel ek egter of die Here ‘n ding op my hart gelê het. Nie net op my hart nie, maar dit is vir my, of die Gees van God hierdie saak in hierdie tyd op die gewete van sy kerk begin lê. Ek glo dat die Heilige Gees ons steeds dieper in die volle waarheid wil inlei.
Dit is ‘n gevaarlike ding om te sê, maar die feit dat die saak op verskillende plekke, sommer so asof vanuit die niet, na vore gekom het, laat my so dink. Ek het nêrens daarvan gelees nie. Die gedagte kom geheel en al uit my binneste na vore. Ek het met prof Durand van Bellville gesels en hy voel amper sterker daaroor as ek. Sy dogtertjie het hom skynbaar gevra waarom sy nie by die nagmaal kan wees nie en hy kon haar nie antwoord nie.
Wat my egter so moedeloos maak is dat oom Mias, my promotor, alles in sy vermoë doen en die afgelope jaar gedoen het, om my te laat afsien van die saak. Dit is nie vir my lekker om van oom Mias te verskil nie. Na my gevoel het hy nog geen grondige argument vir my gegee teen die saak nie, maar hy sien altyd probleme.
As hy net reguit gesê het hy stem nie hiermee of daarmee saam nie, en my geleentheid gegee het om my saak te stel, sou ek tevrede gewees het. Hy redeneer egter gedurig met my om my te laat afsien en hy laat my verstaan dat hy teleurgesteld is oor my standpunt. Dit krap my só om. Ek het al soms gevoel om die hele gedagte maar te laat vaar om die vrede te bewaar.
Oor Amor {verloofde} is ek dankbaar. Sy stem nie noodwendig met alles saam nie, maar sy voel ek het ‘n punt beet en laat my begaan. As sy my ook nog veroordeel het, weet ek nie so mooi nie.
Dit is hierdie dinge wat my die afgelope tyd soms swaarmoedig maak. Dit het my egter opnuut weer op my knieë gebring. Ek vertrou op die Here. Hy weet dat ek ernstig nadink oor die dinge en ek glo dat Hy weet dat sy Gees aan ons belowe, my nie sal bedrieg nie.
Dit is nou waarlik interessant om dié te lees vanuit ‘n ouer garde se lering van dekades gelede, en veral dan ook die verskillende gedagtegange oor eeue heen oor die kindernagmaal. Self het ek as NG-katkisant in die laat-middel 1980’s die praktyk beleef om eers met ‘voorstelling’, en kategete-afhandeling (17 jaar oud), eers dán die nagmaal te kon gebruik. Om hierbo ook te lees hoe die Ou Testament interpreteer was deur ou kerkvaders, en ook die kerk se verskillende ‘kerklike denominasie voorvaders’ – om dit so te kan stel – en ook hoe die NG in die 1970’s geredeneer het, is insiggewend. As kind aanvaar mens – hoe dan nou anders – die gegewe dikwels as ‘n reeds gevestigde beginsel vir eeue, onbewus van al die redenasies, wat ook maar goed is, want ‘verwarring’, verwater geloof te maklik op ‘n jong ouderdom.
Self dink ek steeds – eie persoonlike mening – dat beide die doop en nagmaal eintlik eers ‘n werklikheid in die psige van ‘n mens word sodra daar ‘n meer omvattende begrip is van belangrike waarhede. Die waarskuwing aan die kerk oor dié wat die Nagmaal gebruik met oneerbied vanuit die Nuwe Testament, is nog verdere rugsteun, dat kinders eers ‘geestelike onvolwassenheid’ moet ontgroei om hul dan juis nie bloot te stel aan die gevolge hierin, synde hul maar self nog deur baie persoonlike groeifases gaan en nog onstandvastig is oor baie sake.
Ek het al opgemerk met die Nagmaal, waar klein kindertjies die brood of beskuitjie of nagmaal druiwesap, gebruik asof dit peuselhappie is, en soms sommer ‘n handvol brood neem, en die ouers dit dan te beskou as ‘prettig’ of ‘te dierbaar’. Baie ouers het lank, lank reeds verleer wat die Nagmaal wáárlik beteken – en stel ook nie waarlik belang – en ek dink, het lank nie meer ‘n oortuiging van die gewig van Christus se dood en opstanding nie.
“dat beide die doop en nagmaal eintlik eers ‘n werklikheid in die psige van ‘n mens word sodra daar ‘n meer omvattende begrip is van belangrike waarhede.”
Dis korrek… en ook in lyn met die bedoeling van die bybelse teks. En in daardie opsigte maak dit ook sin om slegs mense wat hierdie waarhede begryp te doop. En dan kan ook nie die nagmaal in beginsel aan hulle geweier word. Begrip moet natuurlik vir die Evangelie wees en dis ook waar die kaf nou eintlik van die koring gaan skei. Dit vereis ‘n vorige bekering en ‘n besluit om met die sondige bestaan te breek om geestlik wedergebore te kan word.