Boere van Bethulie wys ons die pad in stryd om NG Kerk se siel

*******

Brief | Boere van Bethulie wys ons die pad in stryd om NG Kerk se siel | Rapport

Sondag, 6 Julie 2025

Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf:

Toe ek die berig “Kerk gee Vrystaatse dominee die trekpas, maar gemeente klou vas” lees, kon ek nie help om aan my geskiedenislesse te dink oor die Franse Revolusie nie.

Ek onthou hoedat enige revolusionis sommer oor enigeen by Robespierre en sy kalante ’n klagte kon gaan indien en die volgende dag is die arme (dikwels onskuldige) beskuldigde deur die guillotine onthoof!

Lyk my deesdae doen die NG Kerk se ringe en sinodes iets soortgelyks.

Mense van buite die Bethulie-gemeente spring in en lê vae en twyfelagtige klagtes van “misleiding, verdagmakery en skeurmakery” by die ringe en sinode teen ds. Rheinier Nel.

Net so vinnig soos die Franse Inkwisisie destyds, organiseer die Ring van Smithfield ’n vinnige tugverhoor waarheen ds. Rheinier Nel “uitgenooi” word. Maar nee, sê die kerkraad van Bethulie, wat die guillotine in die verte sien staan, oor onse dooie liggaam sal dit gebeur! Onse dominee is glad nie onbevoeg soos beweer word nie, jul optrede is “ongeldig en onwettig”, en daar en dan word ds. Nel onmiddellik verbied om hierdie boendoe-tugverhoor by te woon.

Toe is die gort gaar. Vir die tugkomitee was dit net een te veel dat ds. Nel gehoorsaam is aan sy kerkraad se opdrag, eerder as om gedienstig en gedwee aan hulle te wees. Daar en dan besluit hulle op sy permanente verlies van bevoegdheid weens sy afwesigheid, asook omrede hy nie appèl teen sy onmiddellike skuldigbevinding aangeteken het nie.

Die gelowige NG boere van Bethulie laat nie op hulle wag nie en help reël dat die kwessie verwys word na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Die afgelope week lewer die KVBA sy bevinding waarvolgens nie die ringe, of sinode, die werkgewer van ds. Nel is nie en dus nie sy bevoegdheid as predikant kan opskort nie.

Maar die Ring van Smithfield wil bloed sien vloei en spring dadelik in en publiseer ’n ongewone (volgens sommiges ongeldige) amptelike kennisgewing in Kerkbode dat ds. Nel sy bevoegdheid verloor het.

Die parallelle tussen wat nou gebeur en die Hervorming is te duidelik vir woorde.

Toe het Luther en Calvyn in opstand gekom teen die dwaalleer van die Katolieke Kerk. As behoudende Skrifgetroue dominees op soortgelyke wyse in opstand kom teen die dwaalleer in die NG Kerk, word die guillotine gou-gou nader getrek.

Die gelowige NG boere van Bethulie is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie en kan duidelik dwaalleer onderskei. Hulle besef daar is tans ’n kategese-twis en dis ’n geveg om die siel van die NG Kerk tot die dood toe. Op 26 Junie stuur hulle ’n brief aan die algemene en Vrystaatse sinodes en Ringskommissie van Smithfield waarin hulle hulself distansieer van die nuwe valse kategese-boeke Roetemerkers en Ongekaart , wat die NGK se gay-dogma propageer.

Ons het nou ’n kerklike Afrikaner-twis op sy beste. Maar die keer nie broer teen broer nie, of boer teen boer nie, maar vrysinnige dominee teen regsinnige dominee!

Hou ons asseblief op die hoogte van sake met jul volgende insiggewende aflewering.

briewe@rapport.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui