Hoffie Hofmeyr skryf: Sinodegangers moet hulself deeglik ondersoek

Kyk ook:

*******

Hoffie Hofmeyr skryf: Sinodegangers moet hulself deeglik ondersoek – Kerkbode

Kerkbode

31 Oktober 2022

Hoffie Hofmeyr skryf: Die berigte oor die streeksinodes (Hoëveld en Noordelike Sinode) wat ek gelees het en van verneem het, teken ’n prentjie daarvan dat die NG Kerk waarskynlik onherroeplik verander het. Dit blyk dat baie gemeentes erg verdeeld, gepolariseerd en selfs kwynend is en dat groepe in die NG Kerk nie meer mekaar hoor of na mekaar luister nie.

LEES OOK: Kerkbode se sinode-dekking

Die vraag is of die NG Kerk sy hart en siel op sekere plekke in kerkvergaderinge en gemeentes reeds verloor het. Wat het van die sentraliteit van God, sy Woord en ook van dissipline oorgebly, want deesdae is dit ’n kwessie van “everything goes”.

Daar word deur baie kerkleiers en predikante gesê dat hulle nog by die Skrif staan. Die probleem is egter dat hulle in baie gevalle die kar voor die perde span, want hulle kyk onder invloed van die 21e eeuse sekularisasie, post-modernisme, menseregtekulture, LGBTQIA+ agendas en sosiale geregtigheid dikwels eers na die konteks en dan na die Skrif.

Sinodegangers, ook op pad na volgende jaar se Algemene Sinode, moet hulleself deeglik ondersoek oor die vraag of hulle met eerlikheid en integriteit en in afhanklikheid van God Almagtig en onder die leiding van die Heilige Gees sinodes bywoon en aan gesprekke deelneem. Die realiteit van sinodokrasieë en sentralisasisie beide in streeksinodale en in algemene sinodale verband versterk intussen die kanse op manipulering van vergaderings.

Met betrekking tot die modelle waarmee die NG Kerk tans eksperimenteer om die verdeeldheid en polarisasie teen te werk, kom die Nederlandse model van die Protestantse Kerk van Nederland (PKN) sterk na vore, dit wil sê die akkommodering van liberale vrysinnigheid, die draadsittersgroep in die middel en dan diegene wat wel Skrifgetrouheid nastreef. Soos in Nederland eindig die vrysinniges en liberales meestal in ’n doodloopstraat, want hulle verkondig ’n leë evangelie.

Uiteindelik is dit juis die Skrifgetroues wat saam met baie ander kerke oor taal- en kultuurgrense en byvoorbeeld selfs ook met die charismatici gaan saamspan om die evangelie te red. En die draadsitters gaan myns insiens meestal kies vir die pad van Skrifgetrouheid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui