Gereformeerde Kerk se standpunt oor homoseksualiteit

Hier volg die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (GKSA) se amptelike standpunt oor homoseksualiteit. (Van hier gekopieer.)

Dit is onbekend wanneer hierdie dokument uitgereik is. Die nuutste bron waarna verwys word in hierdie dokument is Desember 2004. Daarom is dit waarskynlik opgestel toe die Suid-Afrikaanse regering besluit het oor die wettiging van homoseksuele huwelike in 2006. Tydens daardie geleentheid het die NG Kerk se twee parlementêre verteenwoordigers, Ben du Toit en Kobus Gerber, aanbeveel dat homoseksuele huwelike gewettig word.

*********

GKSA Standpunte: Homoseksualisme

Datum: 2006?

Brief aan die regering rakende Homoseksualisme

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
Posbus 20004, Tel. (018) 297 3989
NOORDBRUG 2522 Faks. (018) 293 1042
POTCHEFSTROOM
E-pos: nvorster@telkomsa.net
The Hon. F Chohan-Kota
Chair, Protfolio Committee on Justice & Constitutional Development

The Hon. HP ChaukeChair, Portfolio Committee on Home Affairs

National Assembly
PO Box 15
Cape Town
8000

Geagte Me. Chohan-Kota and Mr Chauke

Voorlegging aan die Portefeulje-Komitee van die Departement van Binnelandse Sake oor die wysiging van die Huwelikswet (Wet No. 25 van 1961): reaksie op die Konsepwet vir Burgerlike Verbintenisse (Civil Unions Bill)

Die deputate vir skakeling met die owerheid van die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika wil graag die volgende standpunt aan u voorlê in verband met die voorgenome wettiging van homoseksuele huwelike. Die standpuntstelling word vergesel van ’n bylaag waarin ’n beredenering van Bybelse gegewens en regsfilosofiese gegewens vervat is.

Ons standpunt is soos volg:

Volgens die Skrif is homoseksuele gedrag teen die skeppingsorde (contra naturam). God het die heteroseksuele monogame huwelik ingestel as die ruimte waarbinne seksualiteit moet plaasvind. Daarom moet enige vorm van homoseksuele gedrag en dus ook die sogenaamde homoseksuele huwelik deur die Christelike etiek afgewys word. Persone met die homoseksuele oriëntering het die verantwoordelikheid om hulle te weerhou van homoseksuele gedrag net soos alle ander mense ten opsigte van hulle gebroke menslike natuur selfbeheersing moet beoefen.

Vanweë die feit dat homoseksuele gedrag contra naturam is, kan die Christelike etiek en dus ook die kerk nie enige legitimiteit verleen aan ’n homoseksuele verhouding of ’n homoseksuele huwelik nie. Hierdie beskouing vorm die waardestelsel van die meerderheid van die Suid-Afrikaanse samelewing. Vanweë die feit dat ’n grondwet groei uit ’n bepaalde geskiedenis en die waardestelsel van die gemeenskap behoort te weerspieël, behoort die owerheid in Suid-Afrika daarom ook nie enige legimiteit te verleen aan homoseksuele huwelike nie. Aangesien wetgewing ook ’n etiese waarde weerspieël en skep, sal sodanige wetgewing die boodskap aan die Suid-Afrikaanse bevolking deurgee dat homoseksuele gedrag moreel aanvaarbaar en normale gedrag is.

Dit is verder ons mening dat die wetlike herdefiniëring van die huwelik tot ’n verbintenis wat mense van dieselfde geslag kan insluit, verreikende gevolge vir ons samelewing kan hê. Dit sal beteken dat homoseksuele egpare ook kinders wetlik mag aanneem en grootmaak. Volgens ons kan ’n homoseksuele huwelik nie ’n ruimte bied waarin kinders natuurlik opgevoed kan word nie, aangesien studies reeds bewys het dat kinders leiding van ouers van beide geslagte nodig het. Sodanige herdefiniëring van die huwelik sal eerder tot verdere abnormaliteite in ons samelewing lei, wat reeds swaar getref word deur die verbrokkeling van familie- en gesinsnetwerke. Verder sal ’n herdefinisie van die huwelik beteken dat die staat die reg op seksuele oriëntasie ingevolge artikel 9 van die Grondwet ongekwalifiseerd handhaaf, sonder om enige grense vir die uitoefening van die reg te stel. Dit sal volgens ons ruimte laat vir die toekomstige wettiging van poligamiese huwelike en ander verbintenisse.

Volgens die gedragswetenskappe is die homoseksuele oriëntering van kern- of egte homoseksueles nie veranderbaar nie. Hierdie oriëntasie is geleë in ’n bepaalde verlies in die ontwikkelingsfases gedurende die kinderjare. Die kerk behoort met Christelike liefde en pastorale deernis die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie te begelei om hierdie verlies te verstaan en te verwerk. Die homoseksuele persoon het nie gekies om so ’n oriëntasie te hê nie, maar kan kies wat om daarmee te maak.

Die gelowige persoon met ’n homoseksuele oriëntering, wat nie homoseksuele gedrag beoefen nie, moet as volle lid van die kerk hanteer word en moet dieselfde regte as enige ander gelowige geniet. As landsburger moet die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie alle regte van die grondwet geniet en mag daar op geen wyse teen so ’n persoon gediskrimineer word nie. Hierdie regte sluit egter nie die aangaan van ’n homoseksuele verhouding of huwelik in nie, omdat die huwelik ’n heteroseksuele verbintenis is. ’n Homoseksuele huwelik of wettige homoseksuele verbintenis word nie in die Christelike etiek as ’n fundamentale reg beskou nie.

Homofobiese gedrag en ook ander diskriminasie teen persone met ’n homoseksuele oriëntasie is egter strydig met die liefdesgebod en dus oneties. Die kerk en die owerheid moet alle vorme van homofobiese gedrag afwys.

Persone met ’n homoseksuele oriëntasie het dus die reg om volledig menslik behandel te word in die kerk en in die samelewing, maar het die verantwoordelikheid om hulle te weerhou van enige vorm van homoseksuele gedrag en kan nie aanspraak maak op die reg van ’n homoseksuele huwelik nie.

Met agting

Dr. N. Vorster

Skriba Deputate vir gesprek met die owerheid.

__________________________________________________________________________

Onderstaande artikel is gepubliseer deur prof. J.M. Vorster as ʼn standpunt stelling. Die inhoud van die artikel is nie hanteer deur ʼn algemene sinode van die GKSA en moet dus nie gesien word as die amptelike standpunt van die GKSA nie.

J.M. Vorster
Skool vir Kerkwetenskappe (NWU Potch)
kwsjmv@puk.ac.za

Abstract

The rights and responsibilities of the homosexual person.

Homosexual conduct is at the moment a very contentious issue in Christian Ethics in South Africa. The arguments in favor of a Christian ethical approval of homosexual relations, that were entertained in the seventies and eighties of the previous century in Europe and the United States, are now on the agenda of the Dutch Reformed Churches in South Africa. The issue of possible official marriages between homosexual partners are also under consideration due a judgement of the Court of Appeal in South Africa that a prohibition on same-sex marriages should be regarded as unconstitutional. This article investigates the arguments of the proponents of homosexual marriages by evaluating the scriptural testimonies regarding homosexual conduct and by formulating ethical norms applicable to this theme. The conclusion is that Scripture forbids homosexual conduct because it is considered as contra naturam. Therefore the government and the Church cannot condone homosexual conduct as well as same-sex marriages because these relations run against the Biblical and constitutional value of human dignity. However, in spite of this principle both government and the Church has an obligation to treat homosexual people with justice and love and to reject any form of homophobia.

Opsomming

Die regte en verantwoordelikhede van die homoseksuele persoon.

Homoseksuele gedrag is vandag ’n baie omstrede saak in die Christelike etiek in Suid-Afrika. Die argumente ten gunste van die etiese regverdiging van homoseksuele gedrag, wat in die sewentiger- en tagtigerdekades van die vorige eeu in Europa ontwikkel is, is nou ook op die agenda van kerke in die gereformeerde tradisie in Suid-Afrika. Die sogenaamde gay huwelike is ook hier onder bespreking as gevolg van die uitspraak van die Appèlhof dat die verbod op sodanige huwelike as ongrondwetlik beskou moet word. Hierdie artikel ondersoek die argumente van die voorstaanders van gay huwelike deur hulle beroep op die Skrif te evalueer en om etiese norme te formuleer wat op die saak van toepassing is. Die konklusie is dat die Skrif gay huwelike verbied omdat dit beskou word as contra naturam. Die kerk en die sentrale owerheid mag nie gay huwelike en homoseksuele gedrag kondoneer nie omdat dit strydig is met die Skriftuurlike en grondwetlike waardes van menswaardigheid. Tog het die owerheid en die kerk die taak om mense met ’n homoseksuele oriëntasie regverdig, billik en met liefde te behandel en om enige vorm van homofobie teen te staan.

1. Inleiding

Sedert die tagtigerjare van die vorige eeu is die Christelike etiek in die Westerse wêreld toenemend gekonfronteer met die saak van homoseksualiteit.(1) Hierdie konfrontasie is meegebring deur die opkomende menseregtekultuur wat dit bepleit het dat die reg van homoseksuele mense om self keuses te maak oor die hantering van hulle seksuele oriëntasie erken moet word. Verder word daar ’n saak voor uitgemaak dat homoseksuele persone dieselfde regte as alle ander mense in die samelewing moet geniet. Hierdie regte sluit in dat hulle instaat behoort te wees om met mense van dieselfde geslag ’n huwelik te kan sluit. Menseregteorganisasies en sommige kerke het tradisionele opvattings oor homoseksualiteit die stryd aangesê en gestry vir die bevryding van die persone met ’n homoseksuele oriëntasie.

Nou, twintig jaar later, word die moderne Westerse samelewing ten opsigte van hierdie saak gekenmerk deur twee uiteenlopende tendense. Die een tendens is dat homoseksuele gedrag as normale gedrag beskou word en dat die huwelik tussen homoseksuele mense gewettig moet word. Nederland het in die wettiging van die homoseksuele huwelik die voortou geneem en in Suid-Afrika het die Appèlhof in Desember 2004 ’n appèl laat slaag teen ’n vroëere uitspraak van die Hooggeregshof dat die homoseksuele huwelik onwettig is. Die Suid-Afrikaanse regering by die Konstitusionele Hof het appél aangeteken, maar die appèl is afgewys. Die Konstitusionele Hof het die Parlement opdrag gegee om die huwelikswet so te wysig dat homoseksuele verbintenisse wettig is. Dit is duidelik dat regslui oordeel dat ’n verbod op die homoseksuele huwelik die grondwet se grondwaardes van vryheid en gelykheid aantas. Homoseksuele gedrag word in die reg en ook in die menswetenskappe al hoe meer as normale gedrag getipeer.

Hierdie tendens het egter ook ’n fel teenreaksie opgeroep. Fundamentalistiese godsdiensgroepe en inheemse kulture wat die normalisering van homoseksuele gedrag in die Westerse lande as immoreel en as in stryd met hulle eie lewenswaardes beskou, antwoord daarop met wat beskrywe kan word as “homofobie”. Hierdie term omskryf ’n gesindheid van haat en dade van aggressie, wantroue en verontregting teen persone met ’n homoseksuele oriëntasie. Soos die normalisering van homoseksuele gedrag toegeneem het, het homofobie ook toegeneem.

Christelike kerke het in die verlede homoseksuele gedrag afgewys (Douma, 1984:19). As gevolg van die nuwe besinning oor die afgelope vyf dekades het sommige kerke ’n ander standpunt ingeneem. Tans staan die Christelike kerke aan weerskante van die spanning. ’n Onlangse studie wat vir die Algemene Sinode van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (NGKSA) oor die tema gedoen is, meld die volgende:

Aan die eenkant is daar persone (en kerke – JMV) wat die tekste (oor homoseksualiteit) as verwysings na die verskynsel van homoseksualiteit as sodanig beskou en dit derhalwe interpreteer as ’n duidelike aanduiding dat die Skrif ’n sterk negatiewe oordeel daaroor uitspreek. Aan die ander kant is daar persone (en kerke – JMV) wat dieselfde tekste beskou as verwysings na spesifieke geperverteerde vorme vam homoseksualiteit (byvoorbeeld verkragting, tempelprostitusie, afgodery en pederastie) en op grond daarvan aanvaar dat dit nie as veroordeling van homoseksualiteit as sodanig beskou kan word nie (NGKSA, 2004:4).

Daar is ook verskeie Christelike etici wat oordeel dat homoseksuele gedrag as ’n normale uitdrukking van seksualiteit beskou moet word solank dit beoefen word binne ’n vaste verhouding. Christelike etici neem een van drie posisies in:

Die eerste beskouing gaan uit van die standpunt dat die Skrif enige vorm van homoseksuele gedrag verbied (Douma, 1984:41; Grenz, 1990:215; De Bruyn, 1998:189; Van Wyk, 2001:321). Hierdie posisie kan getipeer word as die tradisionele beskouing.

Die tweede beskouing beskou eersgenoemde standpunt as fundamentalisties (Johnston, 1983:3). Hierdie etici oordeel dat die Skrif voorsiening maak vir homoseksuele gedrag binne ’n vaste verhouding en dat die beginsels van ’n heterogene huwelik ook op so ’n verhouding van toepassing is (McNeill, 1977:113; Johnston, 1983:173; Edwards, 1984:103; Brash, 1995:55, McCormick & Russell, 2002:189). Hierdie posisie kan getipeer word as die moderne beskouing.

Die derde posisie gaan uit van die standpunt dat die Skrif geen relevante gegewens oor homoseksualiteit bied nie, omdat die Bybel ’n ou boek is wat met die kennis en insigte van daardie tyd geskryf is. Die probleem lê nie by homoseksualiteit nie maar by die Skrif self. Standpunte oor homoseksualiteit moet gevorm word in die lig van hedendaagse wetenskaplike kennis oor homoseksualiteit en die bevrydingsboodskap in die Bybel (Macourt, 1977:24). Hierdie posisie kan getipeer word as die Skrifkritiese beskouing.(2)

Die skerp reaksie in Suid-Afrika oor die uitspraak van die Konstitusionele Hof en die verdeeldheid daaroor tussen christene onderling, asook tussen sommige christene en die ander godsdienste in die land, maak verdere besinning oor hierdie saak noodsaaklik. Aan die eenkant moet die regte van die homoseksuele persoon in ’n grondwetlike demokrasie verskans word, maar aan die anderkant kan dit nie gedoen word sonder inagneming van die waardestelsel van die gemeenskap nie.

Hierdie artikel poog om ’n bydrae te lewer in die verdere nadenke oor die saak in Christelike kringe. Daar word van die voorveronderstelling uitgegaan van die goddelike inspirasie en gesag van die Skrif as die besondere openbaring van God, soos bely word in artikels 3 – 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die logiese konsekwensie van hierdie voorveronderstelling is dat die Skrif wel vir die moderne tyd eties relevant is en die saak van homoseksuele gedrag aanspreek. Dit beteken egter nie dat die insigte van die wetenskap geïgnoreer word nie. Inteendeel, daar sal ook gewys word op die feit dat die resultate van navorsing oor die saak van groot waarde is in die formulering van ’n Christelik-etiese standpunt asook vir die wyse waarop die kerk haar roeping teenoor persone met ’n homoseksuele oriëntasie kan vervul. Die skrifkritiese standpunt dat die Skrif in hierdie opsig nie meer relevant is nie, is ’n hermeneutiese vraag wat nie hier gedebatteer word nie. Die navorsing sal dus toespits op die tradisionele beskouing en die moderne beskouing en nie op die skrifkritiese beskouing nie.

Die navorsingsvraag lui soos volg. Watter beginsels en norme kan die Christelike etiek neerlê vir homoseksuele gedrag en wat is in die lig hiervan die regte en verantwoordelikhede van die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie in ’n grondwetlike demokrasie? Vrae wat hieruit voortvloei is die volgende: Is homoseksuele gedrag aanvaarbaar as dit uitgeleef word in ’n permanente verhouding?

Wat sê die gedragswetenskappe?

Kan homoseksuele huwelike gewettig word?

Hoe moet “homofobie” beoordeel word?

Wat is die rol van die owerheid en die kerk in die hantering van homoseksualiteit?

As hipotese word die volgende gestel: Homoseksualiteit as oriëntasie is ’n komplekse saak wat met omsigtigheid hanteer moet word. Homoseksuele gedrag is egter contra naturam en kan nie gelegitimeer word as normale gedrag of normale verhoudinge in intermenslike verkeer nie. Hoewel die owerheid die fundamentele regte van persone met ’n homoseksuele oriëntasie moet beskerm, kan die owerheid nie legitimiteit verleen aan homoseksuele huwelike nie, omdat dit contra naturam is en indruis teen die waardestelsel van die gemeenskap.

In die ondersoek word eers aandag gegee aan die etiese beginsels ter sprake. In die lig hiervan word etiese norme uitgespel waarna die konsekwensies hiervan vir die verantwoordelikhede van die gemeenskap, die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie, die roeping van die kerk en die plig van die owerheid ten opsigte van die hantering van die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie bespreek word.

2. Etiese beginsels ten opsigte homoseksualiteit

Vir ’n ondersoek na die Skriftuurlike gegewens oor homoseksuele gedrag is drie sake belangrik. Eerstens moet die sosio-historiese konteks van die gedeeltes verreken word. Hierin het die moderne beskouing ’n besondere bydrae gelewer. Tweedens moet die uitsprake wat voorkom in verskillende dele van die Ou en Nuwe Testament nie van die geheel van die Skrifboodskap en die deurlopende heilshistoriese lyne losgemaak word nie. Om die Skrif te verstaan is die verklaring van dié deel teen die agtergrond van die geheel uiters belangrik. Hierdie uitgangspunt is ’n belangrike beginsel in die tradisionele gereformeerde hermeneutiek (Berkhof, 1969:134: REC. 1990:7).

Derdens, en in die lig van bogenoemde verklaringsbeginsels, moet alle Skriftuurlike gegewens oor huwelik en seksualiteit gelees word teen die agtergrond van die skepping van man en vrou en die instelling van die huwelik en seksualiteit as die verkeer tussen man en vrou binne die geborgenheid van die huwelik. Hieroor enkele gedagtes. Kroeze (1970:16) vermeld dat God in die skepping by die mens spesifiek differensiasie van geslag aangebring het met die oog op seksuele verkeer. Daarmee begin die seksbegrip van die Ou Testament. Na die sondeval word hierdie heteroseksuele seksbegrip bevestig deurdat aan die vrou gesê word dat haar begeerte na die man sal wees. Hierdie begeerte dryf seksueel verskillendes na mekaar toe om die eenheid te soek wat deur die sondeval versteur is. Daarom haal Jesus hierdie woorde in Matteus 19:4-6 en Markus 10:5-9 aan om te bewys dat dat dit nie geoorloof is om om allerande redes van jou vrou te skei nie. Kroeze (1970:19) sê dat Jesus daarmee die bedoeling van God handhaaf dat die begeerte wat die eenheid soek nie ongebreideld tot uitdrukking moet kom in die eenwording van iedere willekeurige man met iedere willekeurige vrou nie. Dit sou dierlik wees.

Die begeerte moet vervul word in die huwelik, die onverbreekbare band van een man met sy eie vrou wat hy gekies het. Hoewel Kroeze hom in hierdie uiteensetting nie uitspreek oor homoseksuele gedrag nie, is dit billik om die afleiding te maak dat homoseksuele gedrag soos willekeurige seksuele gedrag teen die skeppingsorde van God ingaan. Douma (1984:75) kom tot dieselfde konklusie na sy bespreking van skepping en verbond. Ook Keane (1980:80) betoog dat die Skrifgedeeltes wat handel oor homoseksualiteit nie in isolasie gelees moet word nie, maar teen die agtergrond van die hoë premie wat die Skrif stel op die huwelik.

In reaksie teen hierdie standpunt betoog Johnston (1983:30) dat die skeppingswil van God nie as argument teen homoseksuele gedrag aangevoer kan word nie. Indien dit so was dat God slegs die monogame huwelik gewil het, dan moet geboortebeperking en mense wat nie trou nie ook as oneties beskou word. Volgens hom is die huwelik ingestel met voortplanting as doel. Dit is egter nie die vraag nie. Die vraag is wat God se bedoeling met seksualiteit is en uit die skeppinggebeure is dit duidelik dat seksualiteit bedoel is vir man en vrou binne die geborgenheid van ’n vaste huweliksverhouding. Mense word in Genesis 1:28 nie verplig om te trou nie en ook nie om kinders te hê nie. Dit gaan hier oor die vervulling van die kultuurmandaat. Hierdie slotsom word versterk deur Genesis 2:5. Ook na die sondeval word aan die vrou gesê dat haar begeerte na die man sal wees (Gen. 3:16). Vanweë die androgene karakter van baie Skrifgedeeltes moet die teendeel ook hier aanvaar word en dit is dat die man se begeerte na die vrou sal wees.

Homoseksuele gedrag is dus contra naturam. Dit druk, soos willekeurige seksuele verkeer, nie die natuurlike skeppingsorde ten opsigte van die verhouding tussen die geslagte, die huwelik en seksualiteit uit nie. Gesien in die lig van die eenheid van die Skrif behoort alle uitsprake oor seksualiteit en homoseksualiteit teen hierdie agtergrond gelees te word.

Met hierdie drie sake as vertrekpunt kan nou gelet word op die Skriftuurlike uitsprake wat direk handel oor homoseksualiteit, te wete Genesis 19; Rigters 19; Levitikus 18 en 20; Romeine 1; 1 Korinthiërs 6:10 en 1 Timotheus 1:8-10.

2.1 Genesis 19

Gen. 19 verhaal die gebeurtenis toe die twee engele as mans by Lot oornag het. Toe die mans van Sodom voor Lot se huis saamgedom het en hom gevra het om die mans uit te bring na buite sodat hulle met die mans “geslagsgemeenskap wou hê” (Gen. 19:5). Lot het hulle gemaan om nie so ’n “verkeerde ding” te doen nie en aan hulle sy twee ongehude dogters aangebied.

Die tradisionele beskouing, soos verwoord deur Douma (1984:47), handhaaf die siening dat Lot die homoseksuele begeertes van die Sodomiete afwys en hulle liewer ’n mindere sonde laat doen deur sy twee dogters aan hulle aan te bied. Die moderne siening stel die standpunt dat dit nie hier gaan om geslagsgemeenskap nie, maar dat die Sodomiete die mans net wou leer ken (jada). Daar is geen sprake van ’n bedoeling van homoseksuele verkeer in hierdie vers nie (sien Grenz, 1990:20). Daar is ook nie bewyse van grootskaalse homoseksuele gedrag in Sodom nie. Voorts is die verkeerde ding waarna Lot verwys, nie dit wat hulle met die mans wou doen nie, maar die feit dat hulle ongasvry optree teenoor die mans aan wie hy “onderdak gegee het” (Gen. 18:8). In die Oosterse kultuurwêreld is sulke ongasvryheid as verkeerd beskou (McNeil, 1977:43).

Hoewel dit waar is dat jada in die Ou Testament gebruik is vir “om te leer ken”, is dit ook gebruik om geslagsgemeenskap aan te dui. Volgens die grammatikale verklaring vir die doeleindes van eksegese van Fretheim (1997:409) wys die woord jada in hierdie geval onteenseglik op homoseksuele verkeer, soos inderdaad ook die geval is in Lev. 18:20 en 20:13.

Wanneer die res van die Skrif oor die Sodomverhaal geraadpleeg word, kom Esegiël 16:49-50; 2 Petrus 2:6-8 en Judas 1:7 ter sprake. Esegiël 16 noem die sondes van Sodom hoogmoedigheid, hebsug, selfsug én dat hulle afskuwelike dinge gedoen het. Wat was hierdie afskuwelike dinge? 1 Petrus 2 praat van die goddelose mense van Sodom en dan word spesifiek na hulle sedeloosheid verwys. Judas 1:7 praat van die Sodomiete se onsedelike dade wat hulle wou pleeg met “vreemde wesens”. Hierdie gegewens dui aan dat die goddelose lewe van die mense van Sodom weerspieël is in hulle sedelose gedrag. Hierdie sedelose gedrag het homoseksuele gedrag ingesluit, veral as Judas 1:7 te berde gebring word. Lot en die Sodomiete het die engele in Gen. 19 tog as mans beskou. En hulle as mans uit die huis geroep. In die lig van al hierdie gegewens is dit onwaarskynlik dat dit in die verhaal van Genesis 19 nie om ’n afwysing van homoseksuele gedrag gehandel het nie. Die gebeure word ook nie net deskriptief aangebied nie, maar is duidelik preskriptief van aard.

2.2 Rigters 19

In Rig. 19 word die begeerte van die straatboewe om geslaggemeenskap met die Leviet in Gibea te hê deur die gasheer as ’n begeerte tot ’n immorele daad getipeer. In die tradisionele beskouing word hierdie uitspraak as ’n verdere bewys beskou dat homoseksuele gedrag teen die wil van God is (Douma, 1984:52). Daarenteen is die moderne siening die mening toegedaan dat homoseksuele gedrag hier slegs sydelings aangespreek word (Gudorf, 2000:140). Volgens díe beskouing gaan dit hier om skending van die gasvryheid van die gasheer, die skending van die menswaardigheid van die gas en die verkragting en moord op die twee vroue. Dit is die afkeurenswaardige saak wat Israel genoop het om Gibea aan te val.

Die vraag is of hierdie gedeelte wel as preskriptief beskou kan word. Word hier nie maar net ’n ongelukkige historiese gebeurtenis, wat uitgeloop het op ’n oorlog, beskryf nie? Kan hieruit werklik etiese afleidings gemaak word wat steeds relevant is? Die saak kan soos volg beredeneer word: Eksponente van die moderne beskouing sê dat die woord nebalah, wat die gasheer gebruik om die daad te beskryf, eintlik “dom” beteken. Hiervolgens sou die gasheer die aanvallers maan om nie ’n dom ding te doen nie, omdat dit reperkussies kan hê – soos wat dit inderdaad gehad het. Die woord nebalah kan inderdaad ook vertaal word met dom. Maar Hamlin (1990:165) dui aan dat die woord hier gebruik word as dom in die sin “nie kennis het van die wil van God nie”. Fausset (1999:300) is ook van oordeel dat die gasheer hierdie aanvallers beskou as “dwase voor God” omdat hulle dom is oor sy oordeel oor die moedswillge sonde. Die begrip nebalah beskryf ’n handeling wat ingaan teen die “vrees van die Here”. So word die begrip inderdaad gebruik in Psalm 74:18; Deuteronomium 32:5-6 en Jesaja 32:6. Die gasheer vermaan dus die aanvallers dat hulle begeerte die verbondsverhouding tussen God en die mens versteur. Die feit dat hy sy dogter en die byvrou van die gas aan die aanvallers uitlewer blyk dat hy hier ’n morele konflik hanteer waarin hy vir die minste van twee immorele handelinge kies (Vorster, 2004:106).

Die voor die handliggende verklaring van hierdie gedeelte is dat die aanvallers se begeerte tot homoseksuele gedrag beskou word as ’n sonde – selfs meer as heteroseksuele promiskuïteit. Die gedeelte kan dus beskou word as preskriptief, want dit is ingebed in ’n etiese tema wat deurlopend in die Skrif aangespreek word en dit is dat homoseksuele gedrag teen die wil van God is. Juis omdat die verbod op sulke gedrag ’n deurlopende tema is, is dit nie tydgerig nie, maar behoort die uitspraak vir die kerk altyd relevant te wees.

2.3 Levitikus 18 en 20

Die tradisionele beskouing beskou die verbod op homoseksuele gedrag in hierdie heiligheidswette as ’n etiese voorskrif wat vir alle tye geldig is en nie soos die seremoniële wette van die Ou Testament vervulling vind in die Nuwe Testament nie. Douma (1984:53) het in 1984 reeds uitvoerig geskryf oor die betekenis van hierdie gedeeltes vir ’n Christelik-etiese standpunt vandag. Volgens hom lê die etiese uitspraak van Levitikus 18:22 en 20:13 in lyn met dit wat oor die saak in ander plekke in die Skrif aangedui word, soos blyk uit die reeds besproke dele van die Ou Testament en dit wat Paulus skryf in Romeine 1; 1 Korinthiërs 6 en 1 Timotheus 1. Hoewel die straf wat aangedui is vir homoseksuele gedrag naamlik, die doodstraf, wel verander, verander die strafwaardigheid voor God nie. In dieselfde wette geld die doodstraf vir owerspel, maar in die Nuwe Testament word owerspel ’n vergeefbare sonde, sê Jesus (Joh. 8:11). Daaruit kan afgelei word dat ook homoseksuele gedrag ’n vergeefbare sonde is. Dit bly egter sonde – ook in die Nuwe Testamentiese bedeling (Douma, 1984:62).

Die moderne beskouing het beswaar teen so ’n letterlike verklaring en meen dat die gedeeltes soos ander ook in die breër verhaal van God se heilsgeskiedenis verklaar moet word (May, 2001:587). Hierdie breër verhaal is ’n verhaal van bevryding en beteken ook bevryding van die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie. Hoogstens kan hierdie gedeeltes gelees word as ’n verbod op homoseksuele promiskuïteit en nie op ’n permanente homoseksuele verhouding tussen twee persone nie.

Voorstaanders van hierdie beskouing grond hulle beswaar op die argument dat die wette oor homoseksualiteit deel is van die heiligheidswette van Israel, wat te doen het met kultiese en rituele reinheid van daardie tyd. McCormick & Russell (2002:188) verdedig hierdie standpunt soos volg:

First they (these citations – JMV) form a part of the “Holiness code’ of ancient Israel, a code that was concerned primarily with cultic and ritual purity, with making certain the Hebrews were not defiled or contaminated by contact with unclean things or practices – particularly those of their idolatrous neighbors. As a result, this code forbids a number of practices that contemporary Christians would not see as immoral, including the eating of certain “unclean” foods and intercourse during menstruation. Second, scholars tell us that it is most likely that the condemnations of homosexual acts in Leviticus 18 and 20 are directed specifically against the practice of temple or cultic prostitution. Israel’s Canaanite neighbors often used male prostitutes as part of their Worship Services of fertility gods and goddesses, and the biblical authors condemned any association with such idolatrous practices. Thus, it is unclear whether these passages can be seen as offering an absolute ethical condemnation of all homosexual acts.

Myns insiens word hierdie argument goed weerlê deur Potgieter en Van Huysteen (2002:87). Hulle toon met grondige sosio-historiese gegewens, verwysings na ander Skrifgedeeltes en woordeksegese aan dat dit nie hier gaan om die kultiese nie, maar om alledaagse gedrag. Ook wanneer die heilhistoriese lyne van die Bybel hieroor nagegaan word, kan daar geen bewys gevind word wat aandui dat die afwysing van homoseksuele gedrag opgehef word nie. Die teendeel is juis waar! Soos blyk uit Romeine 1; 1 Korinthiërs 6:10 en 1 Timotheus 1:8-10 word die homoseksuele persoon nie, soos die vrou en die slaaf, bevry nie, maar steeds gehou aan die verbod op homoseksuele gedrag. Wat die Skrif dus hier aanspreek is alle vorme van homoseksuele gedrag – nie net in die Ou Testamentiese bedeling nie, maar ook vandag.

2.4 Romeine 1

Seksuele immoraliteit was ’n bekende verskynsel in die tyd waarin Paulus sy brief aan die gelowiges in Rome gestuur het. Hieroor sê Botha (2004:50) in sy onlangse studie:

Paul was at home in the Graeco-Roman world. He spoke the language, lived and work in its cities and knew its culture. Paul surely knew the Roman world inside out. He knew that there were a great deal of immorality, abortion and the exposure of children. Prostitution and the keeping of courtesians were equally common. Divorce was frequent and many married to get access to a large fortune.

Teen hierdie agtergrond stel Paulus sy vermaning in Rom. 1:26-27 teen homoseksuele gedrag. Ook hierdie gedeelte word deur die moderne beskouing geïnterpreteer as ’n uitspraak teen bepaalde vorme van homoseksuele gedrag en nie teen die gedrag in die algemeen nie. Keane (1980:79) verduidelik hierdie alternatiewe betekenis van Rom. 1. Volgens hom gaan dit hier om kultiese praktyke en die apostel vermaan gelowiges om hulle nie aan afgodery skuldig te maak deur deel te neem aan hierdie kultiese praktyke wat met allerlei seksuele immoraliteit gepaard gegaan het nie. Dit gaan hier, volgens hierdie beskouing, nie primêr om homoseksuele gedrag nie. Johnston (1983:105) is ook hierdie mening toegedaan. Voorts word geredeneer dat die uitdrukking para fusin (teen die natuur) hier dui op “teen die algemene kuturele gebruike van daardie tyd”. Paulus vermaan dus gelowiges om nie teenoor die gangbare kultuur van hulle tyd, afgodiese praktyke te beoefen nie.

In sy onlangse sosio-historiese ondersoek toon Botha (2004:52) egter aan dat homoseksuele praktyke nie net tot die kultus beperk was nie. Pederastie (liefde vir seuns) en homoseksuele gedrag onder mans was ’n bekende, aanvaarde praktyk in die Grieks-Romeinse kultuur. Hy grond sy standpunt op die ontleding van die semantiese domeine van die Skrifwoorde wat met onsedelikheid te doen het. Op grond hiervan toon hy aan dat die apostel in hierdie gedeelte ook die buite-kultiese onsedelikheid in die oog het.

Die uitdrukking para fusin kan ook nie anders vertaal word as met “teen die natuur” nie. Hiermee sluit Paulus aan by die skeppingsorde. Homoseksuele gedrag is teen die skeppingswil van God en gaan in teen die diepste bedoeling van seksualiteit naamlik die geestelike “eenword” tussen man en vrou in die huwelik. Hier is ook nie sprake van ’n bevrydende daad in die godsopenbaring soos die geval is met vroue en slawe nie. In sy omvangryke uiteensetting ten opsigte van die deurlopende Bybelse getuienis rakende hierdie temas kom Webb (2001:250) tot die volgende konklusie:

The same canons of cultural analysis, which show a liberalizing or less restrictive tendency in the slavery and women texts relative to the original culture, demonstrate a more restrictive tendency in homosexuality texts relative to the original culture.

Die afwysing van homoseksuele gedrag in die Ou Testamentiese openbaring word hier in die Nuwe Testament voortgesit met ’n beroep op die skeppingswil van God. Homoseksuele gedrag word vir alle tye as contra naturam beskou.

2.5. 1 Korinthiërs 6:10 en 1 Timotheus 1:8-10

In hierdie twee gedeeltes word die woorde malakos en arsenokoites deur Paulus gebruik. Albei word in die standaardvertalings met homoseksualiteit vertaal. Letterlik beteken malakos sag en het dit volgens Botha (2004:73) op die oog af geen seksuele konnotasie nie. Arsenokoites, daarenteen, het ’n duidelike seksuele betekenis. Wanneer die semantiese domeine van die twee woorde egter ondersoek word, blyk dit dat albei te doen het met homoseksualiteit en wel op ’n interessante wyse. In hulle semantiese ondersoek kom Louw en Nida (1989:773) tot die konklusie dat arsekonoites dui op die aktiewe manlike persoon in die homoseksuele daad en malakos op die passiewe vennoot. Dit is dus korrek om hierdie woorde met “mense wat homoseksualiteit bedryf”, te vertaal.

Die moderne beskouing betreur hierdie vertalings. Beide McNeil (1977:52) en Johnston (1983:107) betwyfel dit of hierdie woorde werklik so vertaal kan word. Tog meen hulle dat dit moeilik is om te bepaal wat Paulus met hierdie woorde bedoel het en neem aan dat hy bedoel die omgang van mans met seuns, of te wel, die sogenaamde pederastie. Moontlik het dit ook gewys op manlike prostitusie (McNeill, 1977:53). McNeill se standpunt, wat deur baie eksponente van die moderne beskouing nagevolg is, is in 1977 geformuleer. Hy het egter gebruik gemaak van verouderde en uitgediende metodes van woordanalises. Sedertdien is baie vordering gemaak met die ondersoek van begrippe binne hulle semantiese domeine. Met hierdie metode van ondersoek weerlê Louw & Nida ( 1989:773) die beskouing van McNeill en Johnston oortuigend en gee goeie redes vir die vertaling van hierdie woorde met “mense wat homoseksualiteit beoefen”.

Gesien in die lig van die deurlopende etiese afwysing van homoseksuele gedrag deur die Ou en Nuwe Testament is dit moeilik om die moderne beskouing te aanvaar. Daar is genoeg grond om te konstateer dat die Skrif enige vorm van homoseksuele gedrag afwys as ’n daad wat indruis teen die wil van God.

3. Etiese norme

Die wegskryf van die verbod op homoseksuele gedrag in die Skrif deur die moderne beskouing kom uiteindelik nie verby die contra naturam-argument nie. Homoseksuele gedrag is teen die skeppingswil van God en ’n aantasting van die mens se beeldskap van God. Christelike etiek moet vanaf hierdie vertrekpunt beweeg. Indien dit nie aanvaar word nie, moet etiese beginsels ten opsigte van baie ander sake ook onder verdenking geplaas word. Boonop sou ’n mens kon argumenteer dat die oproep om die werke van die vlees (Gal. 5: 13 – 26) te bestry nie meer geldig is nie omdat al die sake wat daar aangedui word, dan ook as normale gedrag getipeer kan word. Eerder moet gesoek word na ’n wyse waarop die liefdesgebod en die Christelike opdrag tot deernis en barmhartigheid vir die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie. Hiervoor is dit nodig om meer te sê oor die aard van die homoseksuele oriëntasie en die implikasies daarvan vir ’n Christelik-etiese beskouing.

3.1 Die homoseksuele oriëntasie

Die rapport wat gedien het voor die Algemene Sinode van die NGKSA bied, met verwysing na verskeie navorsers in verskille dissiplines uit die gedragswetenskappe en die natuurwetenskappe, ’n genuanseerde bespreking van die oorsake van homoseksuele oriëntering. Aandag word gegee aan die siening van die oriëntering en die bestudering daarvan deur die loop van die geskiedenis. Die rapport dui aan dat die oorsake van die homoseksuele oriëntering lê in ’n kombinasie van konstitutiewe (aangebore), psigiese en sosiale faktore wat moontlik ’n rol kan speel. Daar is navorsers wat dit toeskryf aan sielkundige faktore en nuwer navorsing wat ’n saak uitmaak vir ’n basiese genetiese aard van homoseksualiteit. Dan is daar ander navorsing wat ook moontlik sou kon dui op die aangebore aard van die verskynsel wat kan ontstaan as gevolg van bepaalde hormonale invloede tydens swangerskap, die ontwikkeling van die breinstruktuur en die moontlike invloed van chromosomale variasies. Die rapport meld verder:

Sosiale faktore wat oor die jare in aanmerking gekom het as moontlike oorsake van homoseksualiteit, is onder andere gesinsdinamika (dominante moeders en afwesige vaders), opvoedingspatrone (seuns wat soos meisies en dogters wat soos seuns grootgemaak word), verleiding van kinders deur volwassenes en die blootstelling aan die voorbeeld van homoseksuele persone (NGKSA, 2004:12).

Wetenskaplike navorsing wat gedoen word in verskillende dissiplines het nog nie duidelik vasgestel of daar ’n genetiese oorsaak van ’n homoseksuele oriëntasie is nie. Sommige in die gedragswetenskappe is oortuig dat ’n homoseksuele oriëntasie:

Does not depend on a genetic predisposition, hormonal imbalance, abnormal learning processes, but on difficulties in the parent-child relationship, especially in the earlier years of life (Moberly, 1983:2).

Hierdie navorsing word in ander kringe skepties bejeën. Vanweë die etiese aard van hierdie ondersoek word nie ’n keuse gemaak tussen die navorsingsresultate nie. Tog blyk dit dat die standpunt wat Moberly (1983:2) hierbo stel die wydste aanvaarding geniet. Hierby word in hierdie etiese perspektief aangesluit. Wat verder belangrik is, is om te aanvaar dat daar minstens genoeg wetenskaplike getuienis is wat aandui dat persone met ’n egte of kernhomoseksuele oriëntasie op een of ander wyse hierdie oriëntasie buite hulle beheer ontvang of ontwikkel het. Dit was nie hulle keuse nie (Balswick & Balswick, 1999:100). Daar is ook genoeg getuienis dat hierdie persone nie hulle oriëntasie kan verander na ’n heteroseksuele oriëntasie nie (Keane, 1980:78). Hoewel die oorsaak van ’n homoseksuele oriëntasie dus nog nie bo alle twyfel vasgestel is nie moet aanvaar word dat, ten minste persone met ’n egte of kernhomoseksuele oriëntasie, nie hulle oriëntasie self gekies het nie. Hierdie argument geld egter nie by mense wat die homoseksuele oriëntasie doelbewus aangeneem het soos byvoorbeeld gevangenes, soldate of ander sosiale verbande waar dit as normaal aanvaar word nie.

Die vraag wat na die lees van al hierdie navorsingsresultate na vore kom en wat, soos reeds gesê, vir ’n etiese beoordeling uiters noodsaaklik is om te beantwoord, is of hierdie oriëntasie en homoseksuele gedrag as normaal aanvaar moet word en of dit as ’n afwyking beskou moet word? Die Skrif beskou homoseksuele gedrag as contra naturam. Wat sê die wetenskap? In 1973 het die American Pschycological Association homoseksuele gedrag afgehaal van die lys van afwykende gedragspatrone en dit sedertdien beskou as ’n normale variant van seksualiteit (Botha, 2004:3). Hierdie beskouing is in baie lande en gemeenskappe nagevolg en baie kerke het vrede daarmee.

Tog is die saak ook uit ’n modern-wetenskaplike oogpunt nie so eenvoudig nie. Moberly (1983:21) bied in hierdie opsig belangrike insigte. Met haar psigologiese navorsing het sy bevind dat die persone met ’n homoseksuele oriëntasie opmerklike verlies ervaar. Hierdie verlies het ontstaan in die groeiproses waar bepaalde leemtes in gesinsverhoudinge bestaan het. Op die hantering van daardie verlies word later teruggekom. Hieruit kan ook tot die konklusie gekom word dat ’n homoseksuele oriëntasie nie as normaal beskou kan word nie omdat daar bepaalde emosionele en psigologiese behoeftes en verliesbelewing is wat nie algemeen by mense voorkom nie. Indien geoordeel word dat hierdie verliesbelewing normaal is en dus nie belangrik is nie, waarom word ander gedragspatrone soos ’n geneigdheid tot chemiese afhanklikheid, woedeuitbarstings, maniese depressie, paniekaanvalle, ’n pedofiele oriëntasie, kleptomanie en ander afwykende gedragspatrone nie ook as normaal aanvaar nie?

Vir ’n etiese besinning is die volgende twee twee gevolgtrekkings dus bepalend:

Die persoon met die egte of kernhomoseksuele oriëntasie het die oriëntasie nie gekies nie en kan volgens wetenskaplike gegewens tot op datum hierdie oriëntasie nie verander nie.

’n Homoseksuele oriëntasie is ’n psigologiese en ’n sosiale afwyking en homoseksuele gedrag kan nie beskou word as ’n normale variant van seksualiteit nie.

Nou kan gelet word op die betekenis van hierdie gevolgtrekkings vir die homoseksuele verhouding, vir die erkenning van ’n huwelik tussen homoseksueles en vir homofobiese gedrag.

3.2 Die homoseksuele verhouding

Die etiese beginsels ten opsigte van homoseksuele gedrag maak enige vorm van homoseksuele gedrag onaanvaarbaar. Daarom kan die moderne standpunt dat homoseksuele gedrag aanvaarbaar is, solank dit geskied binne ’n vaste verhouding en onderworpe is aan dieselfde vereistes as die heteroseksuele huwelik, nie aanvaar word nie. Indien wel, dan moet al die ander menslike oriëntasies wat deel is van die gebroke wêreld waarin mense leef en waarteen hulle moet stry ook binne bepaalde voorwaardes goedgekeur word. So ’n standpunt bring by implikasie dus die hele saak van Christelike lewensheiliging in gedrang.

Hierdie Bybelse beginsel vind steun in die wetenskap. Ook op grond van wetenskaplike navorsing sê Moberly (1983:21) dat homoseksuele gedrag nie die oplossing van die probleem van verliesbelewing by die persoon met die homoseksuele oriëntasie is nie. ’n Permanente homoseksuele verhouding is ook nie die antwoord nie. Juis omdat die oriëntasie die gevolg is van ’n verliesbelewing in so ’n persoon se vormingsjare en dit die kardinale saak is wat aangespreek moet word, is so ’n persoon nie in staat tot ’n permanente verhouding nie (Moberly, 1984:36). Die oplossing lê in die persoon se hantering van sy oriëntasie en moet op die psigologiese vlak gesoek word.

Homosexuality involves both a state of incompletion and a drive towards completion. The normal process of psychcological growth has been checked in a significant respect, but the potential for restoration is not absent, and the process of growth may be resumed. This reparative attempt is, we must repeat, the solution and not the problem. The normal process of growth has been interrupted and left unfulfilled, and the capacity for same-sex love is itself the attempt to restore the disrupted attachment. It is this that the homosexual strives towards.

3.3 Vir erkenning van die homoseksuele huwelik

Wat hierbo gesê is, geld ook vir die huwelik tussen persone met ’n homoseksuele oriëntasie. ’n Ander argument kan hierby gevoeg word. Omdat homoseksuele gedrag contra naturam is, bring dit die menswaardigheid van die mense wat betrokke is, in gedrang. Die mens as beelddraer van God is op weg uit die gebroke bedeling. Dit is God se bedoeling dat die mens ’n nuwe mens word en moet uitgroei uit die ruheid en onvolmaakdheid van hierdie aarde. Die mens onderweg moet juis stry teen die letsels van die sondige bedeling. Christus se soenverdienste maak hierdie stryd moontlik en die Heilige Gees begelei God se kinders op hierdie vernuwingspad. Die mens wat hom oorgee aan gedrag wat juis een van die gevolge is van die gebroke bedeling, bring sy beeldskap van God in gedrang. Dit geld nie net homoseksuele gedrag nie, maar alle gedrag wat in stryd is met die vrugte van die Gees (Gal. 5:22-24).

Daarom kan die sogenaamde homoseksuele huwelik nie as menswaardig beskou word nie. Die Christelike etiek erken menswaardigheid as een van die fondamente van die grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika. Maar ’n verbintenis wat contra naturam is, bring die Christelik-etiese beskouing oor menswaardigheid in die gedrang en moet dus vanuit hierdie perspektief gesien word as in stryd met hierdie grondwetlike waarde. Meer sal hieroor gesê word wanneer die plig van die owerheid behandel word.

3.4 Vir homofobiese gedrag

Hoewel homoseksuele gedrag contra naturam is, is die homoseksuele mens soos alle gebroke mense egter die beeld van God. Die Christelike leer van die mens as beeld van God is die grondslag vir die christen se menswaardige hantering van sy naaste. Mense is nie vanselfsprekend menslik nie, maar moet menslik wees en menslik word (König, 1993:57). Verontmensliking van ander deur diskriminasie of haatspraak stol die proses van self mens word.

Hierby vereis die liefdesgebod ’n liefde tot alle mense. Christelike liefde kan nie beperk word tot persone van dieselfde groep, volk, ras, stand of ook seksuele oriëntasie nie. As gebroke mens wat stry teen sy eie gebrokenheid moet die christen alle ander mense ongekwalifiseerd liefhê, hoewel hy die sonde haat. Die persoon met ’n homoseksuele oriëntering moet dus met liefde betrag word. Soos in die geval van rassisme, etnosentrisme, xenofobie, en seksisme, moet homofobiese gedrag afgewys word (Vorster, 2004:155). Homofobiese gedrag is onmenslik – vir die dader sowel as vir die objek. Verder is dit aantasting van die homoseksuele mens se beeldskap van God en strydig met die liefdesgebod.

4. Die plig van die kerk

Die standpunt van Hauerwas (2002:341 ) dat die kerk nie ’n “sosiale etiek het nie” maar “’n sosiale etiek is”, is in die omlyning van die taak van die kerk ten opsigte van homoseksualiteit, van besondere belang. Hoewel hy anders oor die hantering van homoseksualiteit oordeel, is die klem wat hy lê op die kerk as voorbeeld van morele saamleef van mense in hierdie opsig waardevol. As ’n algemene vertrekpunt kan dus gesê word dat die kerk as “sosiaal-etiese voorbeeld” die samelewing moreel opbou sodat die waardestelsel van die gemeenskap die Skriftuurlike etiese perspektiewe weerspieël. Die kerk is per slot van sake, in getuienis en as ’n voorbeeldige vorm van samelewing, ’n morele opinievormer.

Wanneer die algemene vertrekpunt verder verfyn word, kan die volgende gesê word: Die taak van die kerk is eerstens om ’n duidelike prinsipiële getuienis die samelewing in te dra. Juis in hierdie tyd, wat die vrug is van jarelange sekularisering van seksualiteit met al sy negatiewe en pynlike gevolge vir mense en verhoudinge, moet die Skriftuurlike beginsels duidelik onderstreep word. Die Rooms Katolieke kerklike tradisie is hierin inderdaad ’n voorbeeld. Ongelukkig het die stem van die Protestantisme in die samelewing vanweë onderlinge verskille oor die saak van seksualiteit grotendeels irrelevant geword en blyk dit dat in sommige kringe telkens slegs ’n etiese onderbou gegee word vir die verdere sekularisering van seksualiteit.

Tweedens het die kerk ’n besondere roeping teenoor mense met ’n homoseksuele oriëntasie. In die uitvoering hiervan is dit nodig om onderskeid te tref tussen homoseksuele oriëntasie en homoseksuele gedrag (Moberly, 1983:1). Hoewel die kerk geen erkenning kan gee aan enige vorm van homoseksuele gedrag en aan die homoseksuele huwelik nie, moet die kerk in pastorale bewoëndheid omsien na die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie. Die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie dra soos ander mense die beeld van God en is geregtig om ten volle as mens gerespekteer en behandel te word (McCormick & Russell, 2002:192). So ’n persoon moet volledig in die gemeenskap van die gelowiges opgeneem word en kan nie as gevolg van die afwykende oriëntasie uitgesluit word uit, byvoorbeeld, die kerklike ampte nie. So ’n persoon moet gelei word om die afwykende oriëntasie te hanteer sonder om dit op enige wyse seksueel uit te leef. Net soos enkellopende heteroseksuele mense, geskeides, weduwees en wewenaars nie hulle seksuele begeertes in buite-egtelike verhoudinge mag uitleef nie, net so moet die persoon met die homoseksuele oriëntasie nie sy seksuele begeerte uitleef in homoseksuele gedrag nie.

In die begeleiding van die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie moet in ag geneem word dat die persoon ’n bepaalde verlies probeer verwerk en hierin kan die pastorale bediening ’n groot bydrae lewer. Moberly (1983:36) sê:

Unmet needs are to be met – but without erotisation. It is the sexual expression of pre-adult pschycological needs that is unacceptable, and it is in this sense that one may say that God did not intend homosexuality. The needs are legitimate: the only question is of the legitimate means of fulfilling such needs when they have not been met in the ordinary process of growth.

Sy sê verder dat dit nie help om die persoon te oorreed tot die aangaan van ’n heteroseksuele huwelik nie, want

Marriage (heterosexual – JMV) cannot be a cure for homosexuality, since a relationship with the opposite sex cannot deal with same-sex deficits. Indeed, the practice of heterosexuality may bring unhappiness not only to the homosexual but to the heterosexual partner (Moberly, 1983:38).

Ook die oproep tot seksuele onthouding kan nie gesien word as die enigste oplossing nie. Hierdie oproep moet gepaard gaan met die begeleiding om die verlies te verwerk. By die persoon is daar psigologiese behoeftes betrokke en hy kan sy oriëntasie, wat nie verander kan word nie, beter hanteer en beter keuses uitoefen as hierdie behoeftes op psigologiese vlak aangespreek word (Moberly 1983:21).

5. Die plig van die owerheid

Twee sake is onder die soeklig wat betref die plig van die owerheid teenoor persone met ’n homoseksuele oriëntasie soos beredeneer in die huidige diskoers in Suid-Afrika. Die eerste is die wettiging van ’n huwelik tussen twee persone van dieselfde geslag en die tweede is of daar teen persone met ’n homoseksuele oriëntasie gediskrimineer mag word in bepaalde omstandighede. Oor die wettiging van ’n homoseksuele huwelik word tans in Suid-Afrika besin. Na die uitspraak van die Appèlhof in Suid-Afrika in Desember 2004, is in ’n hoofartikel van die Afrikaanse dagblad, Beeld (Anon. 2004:20), geoordeel dat die uitspraak ’n suiwer juridiese uitspraak is en nie ’n morele uitspraak nie. Hiermee het die dagblad die opinie van baie voorstaanders van die huwelik tussen mense van dieselfde geslag weergegee. Hierdie standpunt gaan uit van die positivistiese beskouing dat regspraak paradigmavry of moreel neutraal is. Hierdie positivistiese beskouing kan egter met goeie gronde bevraagteken word. Die post-modernistiese wetenskapsbeskouing het reeds so ’n benadering as ongeldig bewys (Kuhn, 1970:VIII; Knox, 1993:1; Rossouw, 1993:894; Vorster, 1996:10). Alle wetenskapsbeoefening en rasionele standpuntinnames funksioneer, en word bepaal deur, bepaalde paradigmas. Dieselfde kan gesê word van regspraak. Regspraak funksioneer nie in ’n vakuum asof dit “objektief” is nie. Ook regspraak is altyd waardegedrewe en geskied binne ’n bepaalde geldende paradigma.

Die uitspraak oor huwelike tussen mense van dieselfde geslag in Suid-Afrika gaan uit van ’n bepaalde beskouing van gelykheid en menswaardigheid – in hierdie geval ’n sekulêr-humanistiese lewens- en wêreldbeskouing. Vanuit ’n Christelike etiese perspektief kan hierdie onderliggende lewens- en wêreldbeskouing bevraagteken word. Eerstens stry dit teen die Skriftuurlike idee van menswaardigheid. As die mens toegelaat word om ’n huwelik aan te gaan wat contra naturam is, reduseer dit menswees tot op die vlak van die dierlike want die mens is juis, anders as diere, uit die willekeurigheid van seksuele verkeer uitgelig. Dieselfde geld oor heteroseksuele verhoudings wat losgemaak word van die liefde tussen man en vrou. Die uitspraak is dus ook ’n morele uitspraak wat op ’n gemeenskap afgedwing word. As morele uitspraak druis dit in teen die onverbondenheid wat die owerheid teenoor godsdienstige beskouinge moet handhaaf. Met die wettiging van die huwelik tussen mense van dieselfde geslag neem die owerheid dus ’n besliste morele posisie in en kom sy onverbondenheid in gedrang.

Vanuit ’n ander hoek benader, kan ’n verdere argument teen die wettiging van ’n homoseksuele huwelik gevoer word. ’n Grondwet en die toepassing daarvan in regspraak, behoort die waardes van die gemeenskap in ag te neem (Van der Vyver, 1999:670; Vorster, 2004:89). Uitoefening van die regte moet nie teen die waardestelsel ingaan nie, want dan vervreem dit die grondwet van die gemeenskap en geskiedenis waaruit die grondwet gegroei het. Die sterk Christelike inslag van die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die invloed van die Islam en die tradisionele Afrikagodsdienste in daardie bepaalde gemeenskappe is sterk gekant teen die wettiging van die huwelike tussen persone van dieselfde geslag. Daarom behoort die owerheid so ’n huwelik nie te wettig nie.

Oor die beskerming van die ander menseregte van persone met ’n homoseksuele oriëntasie kan egter anders geoordeel word. In ’n grondwetlike demokrasie kan die owerheid nie anders as om die regte van alle mense te erken en te beskerm nie. Alle burgers leef immers onder die beskerming van die grondwet en word verplig om die verantwoordelikhede wat die grondwet oplê na te kom. Die klem wat die huidige Suid-Afrikaanse owerheid lê op die beskerming van die regte van voorheenbenadeeldes, vroue en gestremde mense moet verwelkom word. Dit is in lyn met die norme van die Christelike etiek. Ook die persone met ’n homoseksuele oriëntasie se regte moet beskerm word. In hierdie opsig is die opvatting van die Vatikaan (Brash, 1995:74) dat dit nie ’n onreg is om teen mense met ’n homoseksuele oriëntasie te diskrimineer in terreine soos onderwys, sportafrigting, militêre werwing, openbare behuising en gesondheidswerk, nie verdedigbaar nie. Behalwe dat so ’n opvatting in stryd is met die liefdesgebod, weerspreek dit die kernbeginsels van ’n grondwetlike demokrasie. Hierdie opvatting bevorder ook homofobie.

Die owerheid kan vanweë sy staanplek as ’n godsdienstig-onverbonde owerheid en die beginsels van godsdiensvryheid en vryheid van gewete nie ’n bepaalde waardesisteem op ’n gemeenskap afdwing nie. Hy kan alleen die bestaande waardes in ag neem soos reeds hierbo geredeneer is. Daarom lê dit nie op die weg van die owerheid om seksualiteit met wetgewing te reël nie. Daar mag dus nie met wetgewing teen mense met ’n homoseksuele oriëntasie gediskrimineer word soos wat by tye in die geskiedenis wel plaasgevind het nie. Seksuele moraliteit moet gevorm word deur kerke, ander godsdienstige instellings en opvoedkundige verenigings by wyse van opvoeding en oorreding en nie by wyse van owerheidwetgewing nie.

6. Konklusie

Die vrae wat in die inleiding van hierdie artikel gestel is kan, in die lig van die navorsing, soos volg beantwoord word:

Homoseksuele gedrag is contra naturam. Daarom moet enige vorm van homoseksuele gedrag deur die Christelike etiek afgewys word. Die persoon met die homoseksuele oriëntering het die verantwoordelikheid om hom te weerhou van homoseksuele gedrag net soos alle ander mense ten opsigte van hulle gebroke menslike natuur selfbeheersing moet beoefen.

Volgens die gedragswetenskappe is die homoseksuele oriëntering van kern- of egte homoseksueles nie veranderbaar nie. Hierdie oriëntasie is geleë in ’n bepaalde verlies in die ontwikkelingsfases gedurende die kinderjare. Die kerk behoort met Christelike liefde en pastorale deernis die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie te begelei om hierdie verlies te verstaan en te verwerk.

Die gelowige persoon met ’n homoseksuele oriëntering, wat nie homoseksuele gedrag beoefen nie is, soos ander, ’n beelddraer van God en moet as volle lid van die kerk hanteer word en dieselfde regte as enige ander gelowige geniet. As landsburger moet die persoon met ’n homoseksuele oriëntasie alle regte van die grondwet geniet en mag daar op geen wyse teen so ’n persoon gediskrimineer word nie.

Vanweë die feit dat homoseksuele gedrag conta naturam is, kan die Christelike etiek en dus ook die kerk nie enige legitimiteit verleen aan ’n homoseksuele verhouding of ’n homoseksuele huwelik nie. Vanweë die feit dat ’n grondwet groei uit ’n bepaalde geskiedenis en die waardestelsel van die gemeenskap weerspieël, behoort die grondwetlike hof uitspraak te lewer teen die wettiging van homoseksuele huwelike.

Homofobiese gedrag en ook diskriminasie teen persone met ’n homoseksuele oriëntasie is strydig met die liefdesgebod en dus oneties. Die kerk en die owerheid moet alle vorme van homofobiese gedrag afwys.

Persone met ’n homoseksuele oriëntasie het dus die reg om volledig menslik behandel te word in die kerk en in die samelewing, maar het die plig om hulle te weerhou van enige vorm van homoseksuele gedrag.

Geraadpleegde bronne

ANON, 2004. Hoofartikel: Gay huwelike. Beeld:20, Des 2.

BALSWICK, J.K. & BALSWICK, J.O. 1999. Authentic human sexuality. An integrated Christian approach. Downers Grove: InterVarsity Press.

BERKHOF, L. 1969. Principles of Biblical interpretation. Grand Rapids: Baker Book House.

BOTHA, P. 2004. The apostle Paul and homosexuality: A socio-historical study. Potchefstroom: North-West University (Potchefstroom Campus), (Ph.D thesis.).

BRASH, A.A. 1995. Facing our differences. The church and their gay and lesbian members. Geneva: WCC Publications.

DE BRUYN, P.J. 1998. The Ten Commandments. Potchefstroom: P.U. vir C.H.O.

DOUMA, J. 1984. Homofilie. Kampen: J van den Bergh.

EDWARDS, G.R. 1984. Gay/lesbian liberation, A Biblical perspective. New York: The Pilgrim Press.

FAUSSET, A.R. 1999. A critical and expository commentary on the Book of Judges. Edinburgh: Banner of Truth Trust.

FRETHEIM, T.E. 1997. Jada. (In VAN GEMMEREN, W.A. 1997. New international dictionary of Old Testament theology and exegesis, Volume 2. Grand Rapids: Zondervan. p. 409-415.)

GRENZ, S. 1990. Sexual ethics. A Biblical perspective. London: Word Publishing.

GUDORF, C. 2000. The Bible and science on homosexuality. (In BALCH, D.L. Homosexuality, science and the “plain sense” of Scripture. Grand Rapids:Eerdmans. p. 121 – 141.)

HAMLIN, E.J. 1990. Judges. At risk of the Promised Land. Grand Rapids: Eerdmans.

HAUERWAS, S. 2002. The Hauerwas reader. London: Duke University Press.

JOHNSTON , M. 1983. Gays under grace. A gay Christian’s response to the moral majority. Nashville: Winston-Derek Publishers.

KEANE, P.S. 1980. Sexual morality, A catholic perspective. Dublin: Gill & Macmillan.

KNOX, C. 1993. Changing Christian paradigms and their implications for modern thought. New York: Brill.

KöNIG, A. 1993. Menslike mense. Gelowig nagedink. Deel 5. Oor die mens en die sonde in die praktyk. Halfway House: Orion.

KROEZE, J.H. 1970. Bybel en seks. Braamfontein: De Jong.

KUHN, T.S. The structure of scientific revolutions. Chicago: The University of Chicago Press.

LOUW, J.P & NIDA, E.A., ed. 1898. Greek-English Lexicon of the New Testament: Based on semantic domains, volume 1: Roggebaai: Bible Society of South Africa.

MACOURT, M. 1977. Towards a theology of gay liberation. London: SCM Press.

MAY, M.A. 2001. Homosexuality. (In Fahlbusch, E. et al. The Ecyclopedia of Christianity. Leiden: Brill. Volume 2:587 – 589).

McCORMICK, P.T. & RUSSELL, B.C. 2002. Facing ethical issues. Dimensions of character, choices & community. New York: Paulist Press.

MCNEILL, J.J. 1977. The Church and the homosexual. London: Darton, Longman & Todd.

MOBERLY, E.R. 1983. Homosexuality: A new Christian ethic. Cambridge: James Clarke.

NEDERDUITS GEREFORMEERDE KERK IN SUID-AFRIKA, 2004. Rapport insake homoseksualiteit wat gedien het voor die Algemene Sinode 2004. Pretoria: NGKSA.

NGKSA. kyk NEDERDUITS GEREFORMEERDE KERK IN SUID-AFRIKA.

POTGIETER, J. & VAN HUYSTEEN, F. 2002. Homoseksualiteit in perspektief. Hoop en heling uit die Bybel. Wellington: Lux Verbi.

REC. kyk REFORMED ECUMENICAL SYNOD.

REFORMED ECUMENICAL SYNOD, 1990. Report on hermeneutics and ethics. Grand Rapids: REC

ROSSOUW, G.J. 1993. Theology in a post modern culture: Ten challenges. Hervormde Teologiese Studies, (49):894-907, November.

VAN DER VYVER, J.D. 1999. Constitutional perspective of the Church – State Relations in South Africa.Brigham Young University Law Review. (2): 665-678.

VAN WYK, J.H. 2001. Etiek en eksistensie in koninkryksperspektief. Potchefstroom: Potchefstroomse Teologiese Publikasies.

VORSTER, 1996. Is die kerk funksioneel? Gedagtes oor gereformeerde kerkvernuwing in ’n post-moderne konteks. Potchefstroom: Potchefstroomse Teologiese Publikasies.

VORSTER, J.M. 2004. Ethical perspectives on human rights. Potchefstroom: Potchefstroom Theological Publications.

WEBB, W.J. 2001. Slaves, women and homosexuals. Exploring the hermeneutics of cultural analysis. Downers Grove: InterVarsity Press.

(1) Christelike etici gebruik verskillende terme om hierdie menslike oriëntasie te beskryf. Benewens die term homoseksualiteit word die terme “homofilie” (Douma, 1984:9; Moberly, 1983:20), “homogenital” of “same sex ambivalence” em homo-erotic” gebruik (Keane, 1980:72). In die algemene omgangstaal word die term “gay” gebruik. Hoewel Moberley (1983:20) oordeel dat die term “homoseksualiteit” dui op ’n eensydige erotisering van die toestand, word die term tog in hierdie artikel gebruik vanweë die feit dat dit die mees gebruikte benaming is vir persone se liefde tot mense van dieselfde geslag. Daar sal egter deurgaans onderskei word tussen “homoseksuele oriëntasie” as aanduiding van die aard van die persoon en “homoseksuele gedrag” as die persoon se aktiewe seksuele uitlewing van die oriëntasie.

(2) Vir ’n gedokumenteerde uiteensetting van hierdie beskouing en die etiese implikasies daarvan kan gewys word op die werke van Edwards (1984:47); Botha (2004:4); Johnston (1983:163).

1 thought on “Gereformeerde Kerk se standpunt oor homoseksualiteit”

  1. Wat gaan vandag aan in ons wêreld en in die kerk?

    Belangrike inleidende agtergrond

    “The world will not be destroyed by those who do evil, but by those who watch them without doing anything”.
    Albert Einstein

    Ek is ʼn bevoorregte man wat in my lewe tyd in die teenwoordigheid van enkele individue kon deurbring wat ʼn wesentlike invloed op my lewenspad en lewenswyse gehad het.
    Ek sal slegs verwys na 4 sulke mense en kortliks verduidelik hoekom ek hulle noem.
    Die eerste is my oupa, H G Scholtz, ʼn boer in die Christiana distrik wat my as jongman geleer het om die swart mense op sy plaas asook hul kinders met deernis en respek te behandel. Die rede daarvoor was baie eenvoudig: ons is almal skepsels van God. Dit was nié onderhandelbaar nie en daar was geen uitsonderings nie. My oupa het ook nie slegs vir homself geleef nie maar was beslis daar om ander mense te bedien.
    Nommer twee is my moeder, Maria Magdalena Käber (NEE Scholtz). My vader is in ʼn motorfiets ongeluk oorlede toe ek 1 jaar en 10 maande oud was. My moeder was verwagtend en my suster is eers 4 maande later gebore. My moeder was ʼn Christen en het ons ook so groot gemaak. Sy het onder andere besluit om nie weer te trou terwyl een van ons twee kinders nog skool gegaan het nie omrede sy nie kans gesien het vir die moontlikheid dat ʼn stiefpa se liefde vir haar kinders nie dieselfde sou wees soos vir sy eie bloed nie. Sy was 22 jaar lank ʼn weduwee voordat sy weer getroud is met my stiefpa wat 14 jaar by haar gekuier het voordat my suster ook skool klaar gemaak het. Net soos my oupa, het my moeder ook nie net vir haarself geleef nie maar was sy beslis daar om ander mense te bedien.
    Derde is Dr. Willie Marais, destyds van die NG Kerk Pretoria-Oos Gemeente. Dr. Willie het ʼn gawe gehad om dinge so te verduidelik dat niemand enige twyfel kon hê oor presies wat dit was wat God vir jou wou sê nie. Mens kon ʼn speld op die mat in die kerk hoor val wanneer hy gepreek het en ek het Sondae kerk-toe gegaan omdat ek wou en omdat dit lekker was. Ons het ʼn paar keer persoonlik ontmoet en ek het sy raakvat wysheid baie spesiaal gevind. Dr. Willie het geleef vir God en Sy gemeente hier op aarde.
    Tussen my oupa, my moeder en Dr. Willie Marais het die vyand geen kans gehad nie en het die Heilige Gees my op die naam kom roep en my naam in die Boek van die Lam geskrywe.
    Nommer vier het eintlik voor nommer drie gebeur maar ek noem dit laaste vir twee redes. Eerstens het dit ʼn baie groot impak op alle vlakke van my lewe gehad. Tweedens omrede die impak van hierdie gebeurtenis die hoof-motivering is vir hierdie skrywe. Sowat 50 jaar gelede was ek bevoorreg genoeg om ʼn lesing deur die wêreldberoemde Amerikaanse skrywer en filosoof Earl Knightingale te kon bywoon. Ek noem graag twee sake. Eerstens het Earl Knightingale my met uiters sinvolle inligting bemagtig om my lewe van daardie dag af te omskep in een van doelgerigte en beplande optrede met vooropgestelde doelwitte en tydslyne. Dit het gewerk en ek het oor jare my doelwitte bereik sonder om my lewensstyl, oortuigings of geloofslewe in te boet. Ek glo vas dat dit ʼn bestiering was so deur God beskik sodat ek daardie blootstelling kon ervaar asook die volgende onvergeetlike storie kon hoor. Earl Knightingale het vertel dat eers behoorlike navorsing oor ʼn onderwerp gedoen het alvorens hy daaroor sou skryf. Een van die sake waaroor hy vir lank navorsing gedoen het, was om te bepaal waarom tegnologie met rasse skrede gegroei en verbeter het terwyl die oorgrootte meerderheid Amerikaners in dieselfde tydperk min of geen persoonlike groei getoon het nie. Ten opsigte van die gemiddelde Amerikaner het hy gedink dat dit ʼn moeilike onderwerp was en het dus vir moeilike, belangrike en versteekte antwoorde gesoek. Na ʼn lang tyd het hy wel op die antwoord afgekom en bepaal dat hierdie dilemma eintlik ʼn baie maklike antwoord gehad het. Hy het bepaal dat ʼn man in die oggend werk-toe gaan nes die persoon oorkant die straat, die manne langs hom en die manne agter hom. Dan kom hy 17:00 tuis en sy vroutjie ontmoet hom by die deur, sê hy lyk moeg, bring vir hom sy pantoffels, die koerant en ʼn koppie koffie net soos die vrouens van die mans wat oorkant, langs en agter hom woon. Dan kom sit sy 18:00 die televisie aan, bring 19:00 sy aandete, sê so 20:30 hy lyk moeg en sy dink hy moet gaan slaap, net soos die mense oorkant en langsaan en agter hulle en more oggend staan hy weer op en gaan werk. So gaan dit vir jare en dit is wat hulle dus ook hul kinders leer (“Children learn what they live”.) Sy bevinding was heel eenvoudig en is as volg gestel: “It is because one monkey teaches another monkey to be like a monkey”.
    Wat sê die mense met meerdere kennis vandag oor ons wêreld en die kerk?
    Dit blyk dat dinge intussen baie verander het en dat Earl Knightingale moontlik verkeerd was met die slotsom waartoe hy gekom het sowat 50 jaar gelede.
    Ek stel dit egter aan die leser dat dit my opinie is dat niks werklik verander het nie, behalwe dat dinge nou vinniger gebeur.
    Tegnologiese ontwikkeling snel steeds voort. Jan Alleman is steeds Jan Alleman, alhoewel mense vandag as gevolg van die blootstelling aan elektroniese media, baie meer bewus is van sake van belang wat aan die gang is. Hulle is egter steeds relatief oningelig omdat hulle grootliks opskrifte lees sonder om die detail in beriggewing te bestudeer. In die bedeling sedert 1994 kan ʼn blinde man met ʼn stok voel dat die inwoners in SA progresssief meer negatief raak oor wat in ons land aan die gebeur is. Die huidige regering sien nié om na die welstand van al die land se inwoners nie en mense protesteer gereeld daaroor. Hierdie protes-optrede gaan skynbaar egter slegs oor kritiek teenoor die regering op nasionale-, provinsiale- en plaaslike regeringsvlak. Dit gaan oor mense se sosiaal-ekonomiese posisies en raak nié die grootste bydraende faktore wat tot sosiale verval aanleiding gee nie, naamlik mense se ingesteldheid en hul waardesisteem nie. Dit blyk waar te wees dat hoe minder belangrik mens God en Sy Woord ag, hoe groter is die kans dat dit jou gedrag negatief kan beinvloed. Daar is ook grootskaalse dwaling as gevolg van mense se sogenaamde reg tot vryheid. Dit blyk ook dat ʼn groter persentasie van mense as in die verlede afgedwaal het op die pad van verslawing en opstand teen alles wat goed en reg is.
    So ±15 jaar gelede het die NGK gewik en geweeg oor die kwessie van homoseksualisme. Die Sinode het vir lang tye besluiteloos rond gedobber terwyl van die lidmate nie kon verstaan waarom daar nie eenvoudig gesê kon word wat die Bybel hieroor sê nie. Skielik het daar nuwe gedagtes op die voorgrond verskyn waar die Bybel baie moontlik verkrag is. Ons is vertel dat ons die homoseksuele mense moet liefhê soos onsself wat 100% korrek is maar die interpretasie daarvan was totaal verkeerd. Wanneer jy iemand lief het en daardie persoon leef in sonde, dan is dit jou Christelike plig om daardie persoon die waarheid te vertel. In die plek daarvan was die interpretasie dat ons hulle bloot moet aanvaar en dat dit onchristelik en liefdeloos is om hulle daaroor aan te spreek. Dit het sover gegaan dat hulle in hul praktiserende homoseksuele staat kerkraadslede en selfs leraars kon word. Skreiende skande wat op die NGK se voorstoep geplaas is.
    Die eindresultaat was dat die Sinode hul verantwoordelikheid abdikeer het en die finale besluit oor hierdie belangrike saak aan die kerkraad van elke individuele gemeente delegeer het.
    Die uwe het hoog en laag in die PWV omgewing gesoek vir ʼn kerk wat die hele Bybel letterlik glo, wat glo dat ons net die Bybel nodig het, dat ons nié onsself kan verhef of met werke kan verdien om in die hemel te kom nie maar slegs deur die bloed en genade van Jesus Christus gered kan word. Ek kon slegs enkele Baptiste kerke vind wat aan hierdie vereistes voldoen waarvan slegs een ʼn Afrikaanse gemeente baie ver van ons af in Pretoria is. Anders as baie lede van die NGK wat oorgeloop het na Mosaïk Gemeentes of die AGS kon ek my nié met hulle vereenselwig nie aangesien hul benadering van homoseksualisme soortgelyk was aan dié van die NGK. My kerk bywoning is sedertdien derhalwe elektronies en alhoewel in Engels, is dit by Ligonier Ministries en Grace for You waar ek so tuis voel soos toe ek nog by my moeder in die huis gewoon het. Kerke in die VSA waar vals predikers optree word openlik in die media op die naam genoem en teen gewaarsku.
    Die oorlog van vandag teen God en Sy woord
    Maar nou ja, dit was 15 jaar gelede en ek woon in Suid-Afrika wat net soos in baie oorsese lande vandag in ʼn veel feller stryd betrokke is teen mense wat God en Sy woord haat.
    Daar is ʼn besliste geveg teen God en Sy Woord maar die mense besef klaarblyklik nie dat God in ʼn ander dimensie bestaan en dat niemand op aarde teen Hom kan veg nie.
    Teen wie veg hierdie mense dan? Teen die Christene. Alhoewel relatief klein in getalle, het hulle die finansiering van groot multinasionale korporatiewe reuse aan hulle kant en maak hulle ʼn baie groot geraas. Daar word effektief diskrimineer teen die meerderheid en die grootste hefboom aan hulle kant is iets wat reeds in die laat 1940’s die lig gesien het, naamlik menseregte. Hoe groter die fokus op menseregte hoe groter die sedelike verval in ons land.
    Die vraag ontstaan dus waar staan die kerke en burgerlike instellings vandag in hierdie verband? Die antwoord is eenvoudig. Wanneer dit oor die aanval op kerke en Christene gaan, skitter die kerk en burgerlike instelling tot ʼn groot mate in hul afwesigheid.
    Die burgerlike instellings fokus op sosiale aspekte asook menseregte en die basiese definisie van menseregte word reeds verkrag.
    En vandag, terwyl die Bybel in staatskole in SA verbode is, kerk bywoning kwyn, vals leraars en hul kerke gedy, mens op een van die grootste nuusmedia se elektroniese nuusblad bykans 7/24/365 artikels sien oor onderwerpe soos masturbasie, orgasmes, seks buite die huwelik, huwelike tussen mense van diesefde geslag, homoseksualisme, die idee dat kinders en groot mense teen die Skepping in mag besluit hulle “voel” eerder soos iemand van die teenoorgestelde geslag word mans dan sommer transvroue of anders om, en nog meer en ander afstootlike dinge, is die kerk waar mens nog Afrikaanssprekende en Engels-moedertaalsprekende mense kan sien, so stil soos ʼn dooie muis.
    Terwyl mense op tegnologiese vlak voortdurend aan nuwe ontwikkelings werk en nuwe deurbrake maak, is die kerke se onderwerp staties, mag niemand iets wegneem of byvoeg nie. Hul onderwerpe is God, Jesus, die Heilige Gees en die Bybel. Hoe kan hulle dan nou nuwe ontdekkings maak en/of nuwe sake of nuwe feite bloot lê?
    Vandag blyk dat baie leraars hulself besig hou met navorsing en studies oor hul sienings en interpretasies van woorde en/of temas in die Bybel. Dit gaan ook dikwels gepaard met die behaal van akademiese kwalifikasies. Ek lees byvoorbeeld onlangs op hierdie webwerf “ons glo nie aan die Bybel nie, ons glo aan God”. Ook oor die Bybel die Woord van God is of ʼn storieboek, of ons dit moet interpreteer of dit letterlik opneem. Dat baie mense die standpunt huldig dat groot dele in die Bybel ignoreer moet word aangesien dit sekere mense se beeld of karakter aantas. Beteken jy moet jou naaste lief hê soos jouself dat ons moet stilbly oor die sedelike verval en sonde waarin mense volhard? Word die beginsel van ons mag nie oordeel nie misbruik om Christene se monde te snoer? Wat het geword van eer jou vader en jou moeder en die werklike betekenis daarvan? Is dit nie ons plig om mense te vertel dat diegene wat byvoorbeeld praktiserende homoseksuele is hulself kan en moet bekeer ten einde nie vir ewig dood te gaan aan die einde van hul reis hier op aarde nie? Het ons reeds as gevolg van die sogenaamde menseregte die punt bereik waar ons nie meer glo aan die opdrag om vissers van mense te word en hulle van God te leer nie? Hoekom het die kerke nie ernstige en openbare besware gemaak teen dit wat ons land se regering homself mee besig hou nie? En dit in ʼn land waar die meerderheid van die inwoners hulself Christene noem en die regering ook onder daardie vaandel optree wanneeer dit hulle pas. Het die kerk te midde van die losbandigheid en sedelike verval hul plig versaak asook hul gesag en stem verloor? Wanneer, hoekom en hoe?
    Ek lees dat die doel met die OorglodieBybel.co.za webblad nie ’n aanval op die kerk is nie, maar ten doel het om die Christelike kerk van dwaling te suiwer. Alhoewel dit verblydend is, maak die lees daarvan my persoonlik baie ongemaklilk. Beriggewing oor byvoorbeeld leraars met onbybelse houdings jeens sekere onderwerpe, soos Stephan Joubert se houding jeens homoseks, stem my onrustig. So doen die beriggewing oor byvoorbeeld die teologiese verkragting van Peter Nagel ook. Dit blyk dat daar verskille en selfs onmin is tussen mense oor sekere sake. Laastens word daar grootliks op webwerwe kommunikeer asook in die Kerkbode met berigte in koerante soos Rapport, Die Burger en Beeld wat baie mense nie meer lees nie. Rapport was die grootste Afrikaanse koerant wat op ʼn stadium bykans 1 miljoen eksemplare per week verkoop het. Dit het volgens die jongste inligting wat beskikbaar is tot sowat 200 000 gedaal. Wat sê dit vir die enkele “gewone” lidmate wat hiervan bewus is?
    Ek glo beslis God is in beheer en bid dat Hy ʼn plan het om die wêreld te red wat bokant ons begrip en verstand is.
    Amen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui