’n Dopper kan ook gay wees . . .

Die volgende artikel word geplaas vir rekorddoeleindes.

Aan die onderkant van die artikel reageer Jan-Louis Lee, tans ’n predikant by die Gereformeerde Kerk Brits.

*********

’n Dopper kan ook gay wees . . . | Rapport

Deur Francois Lion-Cachet

12 Julie 2020

Rapport

Dit pynig hom dat die Gereformeerde Kerk met sy homofobiese standpunte wegkom, skryf Francois Lion-Cachet.

Ten minste praat en wroeg die NG Kerk oor die menswaardigheid en aanvaarding van die gemeenskap bekend as LGBTI+, oftewel queer persone (’n sambreelterm vir die meeste seksualiteit- en gendervariasies).

Dis meer as wat gesê kan word oor die Gereformeerde Kerk of Dopperkerk – die kerk waarin ek grootgeword het.

My naamgenoot-oupa was ’n professor in teologie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en ’n geliefde prediker in dié kerk. Sy oupa, die bekende Jan Lion Cachet, was ’n prominente eerste prediker van die Gereformeerde Kerk en, saam met prof. Jacob Daniël du Toit (Totius) en ds. Dirk Postma, stigterslid van die Gereformeerde Kerk se kweekskool op Burgersdorp. Ná ’n skuif na Potchefstroom sou die PU vir CHO in 2004 die Noordwes-Universiteit (NWU) word, waarvan hy hoogleraar was. Hy word ook onthou as ’n vroeë Afrikaanse skrywer en digter.

Ek kon seker ook ’n dominee geword het, maar ek kon my nie versoen met die kerk se dogma nie. Ek het my lidmaatskap van die kerk in my tweede jaar van universiteit gekanselleer. Tog bly ek in bloed, as ’n Lion-Cachet en Kruger, ’n Dopper.

Die verwysing na bloed laat my dink aan Wilhelm Verwoerd se boek Bloedbande (2018, Tafelberg), waarin hy skryf oor sy verhouding met sy grootouers Hendrik en Betsie Verwoerd en oor sy “binnereis” om sy verhouding met hulle te versoen in postapartheid Suid-Afrika. Ek moes ’n soortgelyke binnereis begaan en ek doen dit steeds.

Daar is deernis en omgee te vinde in ’n kerk­gemeenskap en dit dra natuurlik waarde. Maar dogma openbaar ’n wrede kant van die werkinge van dié gemeenskap as jy uitkom as gay. Dit het die krag om gesinne en families uitmekaar te skeur en die potensiaal om verhoudings, selfs lewens te verwoes.

Dit alles was besonders pynlik toe ek sowat ’n week gelede op ’n Magister Divinitatis-gegradueerde, aan die NWU se Potchefstroomkampus, se Facebook-relaas afkom. Izak (ek weerhou sy volle naam vir sy onthalwe) skryf oor die onlangse film Moffie deur die regisseur Oliver Hermanus, wat aanleiding gegee het tot gesprekke om mense nie te “shame” nie. Hy draai vinnig na die uitwys van sonde deur te skryf dat dit “lekker” is om “skelmpies” te sondig, maar dat ’n ware Christen móét bely en nie met die sonde moet voortgaan nie.

Hy skryf: “Om vrede te vind daarin dat ander mense jou skel en sê jy is ’n ‘moffie’, is om vrede te vind daarin dat jy in sonde bly!” Ek ken geen persoon wat daarin vrede vind om deur ’n smet beklad te word nie. Nóg minder is dit waaroor die film Moffie gaan, juis die teenoorgestelde.

Ek is nie “in sonde gebore nie”, thank you very much. Ek wonder ook wat jou kwalifiseer om te sê my lewe is “onsedelik”?

“Ons ontvang Christus se genade en is vry van die wet!” Nee, gelykheid op grond van seksualiteit is in die Grondwet verskans en jy maak met jou uitinge inbraak op my en soveel ander se menswaardigheid. Net omdat jou uitspraak in die naam van (jou) God aangebied word, laat dit nie buite die reg val nie.

Izak gaan voort: “Ons mag nie wíl voortleef in ons sonde nie, ongeag of dit nou homoseksualiteit, verslawing, selfsugtigheid, afgodsdiens, haat, ens. ens. ens. is nie!” Ek wil nie eens weet waarna die “ensovoorts” verwys nie. “Ou deuntjie, nuwe versie,” merk een van my vriende op.

Selfs nog meer onrusbarend is die 61 likes, agt lowende kommentare en vyf shares van hierdie “wyse woorde van Salomo”.

Dis nie net Izak se siening nie.

Op “My Dopperdagboek”, ’n gewilde Facebook-groep vir dié kerkgemeenskap, is die name van onlangse teologiestudente se graadvang gepubliseer. Hieronder ook Izak se naam. Dit is ook dan hierdie groep se admin wat my verwys na die Gereformeerde Kerk se standpunt oor “homoseksualisme” – ’n bladsy wat ek al lank van weet en wat ek mee moes wroeg ten tyde van my aanvaarding van my seksualiteit.

Die kerk se standpunt lui soos volg: “Volgens die Skrif is homoseksuele gedrag teen die skeppingsorde (contra naturam). Daarom moet enige vorm van homoseksuele gedrag en dus ook die “homoseksuele huwelik” deur die Christelike etiek afgewys word. Persone met die homoseksuele oriëntering het die verantwoordelikheid om hulle te weerhou van homoseksuele gedrag net soos alle ander mense ten opsigte van hul gebroke menslike natuur selfbeheersing moet beoefen.”

Dit is interessant dat die kerk wel die onveranderbare aard van homoseksualiteit erken, maar beweer dat so ’n “oriëntasie geleë is in ’n bepaalde verlies in die ontwikkelingsfases gedurende die kinderjare.” So asof homoseksualiteit nie natuurlik voorkom nie. En asof die kerk en sy lede nie probeer om gays te “genees” nie.

In teenstrydigheid word daar bygevoeg “(h)omofobiese gedrag en ook ander diskriminasie teen persone met ’n homoseksuele oriëntasie, is egter strydig met die liefdesgebod en dus oneties. Die kerk en die owerheid moet alle vorme van homofobiese gedrag afwys.”

Pharos beskryf homofobie as die “vrees vir of afkeer van homoseksuele en homoseksualiteit.” Mag die kerk en sy lede dan gays afkeer of nie? Want daar ís diskriminasie. Is die standpunt dan onvoorwaardelike liefde of paternalistiese verwerping gegrond op vrees?

As die spreekwoordelike “verlore seun” weet ek presies wat ek van die kerk se standpunt dink.

Alle menseregte is aan mekaar verbind, wat in die akademie bekend is as “intersectionality”. Niemand is werklik vry totdat homofobie, rassisme, seksisme en ander vorme van diskriminasie uitgeroei is nie. Mens baklei nie net vir jou eie regte nie, maar ook vir ander s’n.

In die Black Lives Matter-beweging, maar ook al lank voor dit, word dit algemeen aanvaar dat rassisme nie ’n “opinie” is nie. Dit, en die waardigheid van alle mense, is nie oop vir bespreking of redenasie nie – veral nie ná honderde jare se drakoniese onderdrukking van swart mense, gays en vroue nie. Daar is nie meer ’n plek vir haat teenoor ander in die Suid-Afrikaanse samelewing nie. As dít sekere wit Afrikanermans ongemaklik laat voel, is dit nodig.

Dit help dat gays sigbaar is en hul stem laat hoor. In my eie hoedanigheid het ek al ervaar dat sekere Doppers se enigste verwysing na hoe ’n gay persoon lyk en optree, Nataniël is. Ons almal kan nie só stylvol wees nie.

Ons as gays en lesbiërs en almal oor die reënboogsprektrum heen, is nie randfigure nie: ons is jul seuns, dogters en genderqueer kinders en kleinkinders. Ons is jul ouers en grootouers.

Ek het ’n appeltjie te skil met die NWU se teologiese fakulteit.

Ek het my voorgraadse sowel as nagraadse studie aan die NWU voltooi. Ek het ook vir die NWU gewerk. Die NWU lê my baie na aan die hart en ek voel lojaal teenoor die universiteit in dié se huidige vorm – divers en progressief met heelwat transformasiewerk agter die rug. Die baba word nie met die badwater uitgegooi nie.

Maar dan is daar die Fakulteit Teologie waar tokkelokke opgelei word om te diskrimineer. Is daar dan nie sensitiwiteitsopleiding nie? Wat van die geskiedenis van mishandeling wat oorgegaan het tot marteling, skokterapie, mediese kastrasie en die moord van queer soldate deur die apartheidsregering? Dís waaroor Moffie gaan.

Leer teologiese studente van die eerste Johannesburg Pride in 1990 waar Hendrik Pretorius sy amp as NG dominee opgesê het en die Reformerende Gemeentes van Gelykes in Christus gestig het? Leer hulle van Simon Nkoli se toespraak, langsaan Beverley Ditsie en Edwin Cameron s’n? Van wat Beyers Naudé voor opgekom en baklei het?

Dit is sekerlik belangrik dat studente wat in die naam van die Here wil gaan preek, en leiersampte in die gemeenskap wil vol staan, hulself vertroud moet maak met die geskiedenis van onderdrukking in Suid-Afrika – wat deur die drie susterkerke ondersteun is? Dis nie genoeg om net die Bybel te lees nie.

Teologiese studente moet blootgestel word aan die skadelike gevolge wat dogmatiese wêreldbeskouings tot gevolg gehad het en steeds het. As die student(e) dan steeds kies om die onderdrukking van sekere groepe voort te sit, dan rus die gevolge op hul gewete en sal hulle daarvoor aanspreeklik moet wees. Homofobie, soos ander vorms van haat en diskriminasie, het van die gruwelikste dade tot gevolg.

Kan ’n staatsuniversiteit bande met ’n teologiese kweekskool behou wat skadelike dogma onderrig en meestersgraadstudente produseer wat dit propageer? Pas dit enigsins binne ons grondwetlike demokrasie?

Vryheid van geloof is nie vryheid om te haat nie.

Dis tyd vir die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika om daadwerklik en ten volle aan te sluit (soos hul naam voorgee) by hierdie wonderlike land van ons.

* Francois Lion-Cachet werk vir die Constitutional Court Trust in Johannesburg. Hy is ook die redakteur van Klyntji.com

***********

‘n Dopper moet sy Bybel lees

30 Julie 2020

Deur Jan-Louis Lee

Dit pynig my intens dat die Gereformeerde Kerke se belydenis oor homoseksualiteit sonder meer as homofobies afgemaak word.

‘n Mens kan Francois Lion Cachet se opiniestuk, ’n Dopper kan ook gay wees’, (Rapport, 5 Julie 2020) opsom in die volgende woorde: strooipoppe en ‘sweeping statements’.  Lion Cachet maak van sy eerste sin, tot sy heel laaste woord twyfelagtige aannames gepaardgaande met growwe veralgemenings en kom daarom heel logies tot verkeerde gevolgtrekkings, sonder dat hy êrens werklik die moeite doen om sy standpunt te begrond.

Sy siening kom kortom hierop neer: As jy die Skriftuurlike leer van seksualiteit en geslagtelikheid handhaaf, is jy homofobies.

Dit is besonder treffend dat die NG kerk geloof word vir die gesprekke oor menswaardigheid en aanvaarding vir LGBTQI+ persone, maar die ‘Dopperkerk’ staan in die beskuldigdebank en moet volgens hom ‘ten volle aansluit’ – nie net by die reënboognasie nie, maar by die mismaakte reënboog van geslagtelike rebellie en haat teenoor God.

Vanuit die staanspoor neem Lion Cachet ’n hoër morele posisie in, volgens hom is sy voorveronderstellings en vertrekpunt korrek, enige ander siening is verkeerd. En om dit te staaf, noem hy sy Dopper-wortels.

Ja, inderdaad was prof Jan Lion Cachet (sy oupa se oupa) ’n groot gees in die geskiedenis van ons kerke.  Saam met ds Dirk Postma en Totius – beide genoem in sy opiniestuk – het  die lewe en werk van prof Cachet ’n pioniersgestalte in die Gereformeerde Kerke ingeneem.

As tweede professor aan die Teologiese Skool (toe in Burgersdorp) het hy ’n daadwerklike invloed op die vorming van die GKSA gehad. As prediker, sendeling en professor was prof Cachet ’n kragtige instrument in die hand van die Here, wat sy gawes en vermoëns onverskrokke tot die eer van die Here gebruik het.  Waar hy egter self oor sy besluit om deel van die Gereformeerde Kerk te word skryf, dui hy dit aan as ’n besluit wat geneem is omdat hy verlang het na die suiwere leer (van die Woord).  Uit hierdie begeerte is die roeping om predikant te word gebore en is hy deur ds. Postma self opgelei.

Hierdie kort paragraaf kan onmoontlik die volle waarde van prof Lion Cachet se bydrae teken; maar dit is geskiedenis om op trots te wees.  Vandag nog dra die Teologiese Biblioteek in Potchefstroom sy naam.  ’n Mens sou natuurlik baie oor die dienswerk van sy oupa kon skryf, maar die tyd ontbreek.

Nietemin – hierdie stamboom maak allermins van Francois Lion Cachet ’n Dopper. Soos die Jode van ouds op hulle afstamming van Abraham geroem het, roem Lion Cachet op sy afstamming van manne wat met ’n liefde vir God en die Woord die goud daarvan gemyn en met sorg aan die kudde bedien het.

Hy staan skaamteloos op die skouers van reuse, en vertrap hulle nalatenskap. Waarskynlik is hierdie stuk genealogiese inligting vir ons ingesluit om sy verhewe posisie aan te dui, asof hy wil sê: “Ek mag julle kritiseer, want ek is een van julle!” Trouens noem hy homself die verlore seun van die Gereformeerde Kerk (dit terwyl die verlore seun juis tot inkeer gekom en na sy vader toe teruggekeer het).

Net so min as wat my Ierse herkoms van my ’n Ier maak, is hy ’n Dopper – selfs al het hy so ’n wonderlike geestelike erfenis.  Eintlik behoort hy des te meer van beter te weet.  Soos Timoteus van ouds deur Paulus aangemoedig is om te bly by dit wat hy geleer het, omdat hy weet van wie hy dit geleer het (2 Timoteus 3:14), is die Dopperbloed wat so volop deur sy are vloei eerder ’n aanklag teen hom as ’n platform vanwaar hy sy dwaling kan spuug.

Die volgende verkeerde aanname is sy strooipopaanval op die dogma van die kerk, wat onversoenbaar is met sy wêreldbeeld (as sou dit in die pad gestaan het van sy predikantskap. Dit blyk glad nie ’n probleem vir hom te wees dat hy ooglopend ’n krisis met die Skrif het nie). Volgens hom skeur hierdie dogma gesinne uitmekaar, dit is wreed en openbaar die onverkwiklike aard van Doppers wat mense se lewens verwoes. Later is dit skadelike dogma wat ’n skaakmat -posisie ten opsigte van die verhouding met die NWU veroorsaak.

Gereformeerde Dogmatiek is niks anders as die Skrifleer oor bepaalde sake nie.  Oor homoseksualiteit is daar in die Gereformeerde Dogmatiek en Etiek baie geskryf; en daarom is daar nie veel debat daaroor te voer nie; want die Skrif is besonder duidelik oor die saak.  Oor die pastorale hantering van lidmate wat met homoseksualiteit worstel, kan ons heeldag praat – maar die kruks van die saak is dat homoseksualiteit deur die Skrif aangedui word as ’n sonde.

Gereformeerdes glo onverbiddelik in die waarheid van die Woord, en probeer waar daar praktyke in ons lewens is wat onversoenbaar is met God se openbaring (dus: dogma wat hande en voete in die normale gang van die lewe kry) ons lewens daarby aanpas.  Ons lewens word nie ingerig na gelang van wat op hierdie stadium op die silwerdoek draai nie, nie Moffie nie, nie Cool Runnings of Driving Miss Daisy nie.

Dit is die mens wat moet aanpas, nie God nie, nie die Skrif nie.

Die Skrif leer ons ook duidelik dat daar in die kerk tog huigelaars is, wat uiterlik deel vorm van die kerk, maar nie werklik met hart en siel die Here liefhet nie. Dikwels hou mense vas aan ’n struktuur, leef volgens ’n klomp ‘moets en moenies’ (soos die Fariseërs in die tyd van Jesus, los van ’n lewende verhouding met God).

Om daarom ’n dwarsklap na die kerk te gooi en ongekwalifiseerd die Doppers as homofobies en liefdeloos af te maak, is om met een konstante werklikheid nie rekening te hou nie: die mensehart is korrup en die bron van alles wat sleg is.  Ons vlug met ons sonde na die Here toe, nie as lisensie om ongebreideld daarin te leef nie; maar met die wete dat Christus ons van die slawerny daarvan verlos het. Dit is die wonderlikste besef: dat al is my geloof swak, al het ek gesondig, al het ek teruggesak in my rebellie – God is genadig en vergewe my.  Maar belangrik: Hy tel my uit my sonde op, om met ’n lus om in liefde voor sy aangesig te leef en nie sodat ek voortploeter in die modder van eiegeregtigheid en selfregverdiging nie.

Dit is dus jammer dat Lion Cachet die erfsonde ontken, want soos ’n kaarthuis tuimel die res van sy argumente daarmee inmekaar.  Ontken die Skrif, ontken jou sondige natuur, ontken jou sondige lewenswyse.  Dit is juis in Romeine 1 waar die natuurlike gevolg van die ontkenning van God se openbaring gestel word: geslagtelike rebelle en onsedelikheid:

28En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:

29hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;

30nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers…”

Die ‘ensovoorts’ van Lion Cachet se swak verbloemde ad hominem aanval op ’n Teologiese student (wat met die druk van ’n knoppie dadelik identifiseerbaar is) is dus dinge wat alle mense mee worstel, en dit is alles rebellie teen God. (Dit val my tog op om te vra wat het die Dopperdagboek-Facebook groep nou enigsins met die prys van eiers uit te waai).

Ja, die tannie in die voorste ry wat skinder van haar buurvrou en die man twee rye verder agtertoe wat swig voor die pornografie-afgod, die man wat sy werkers swak behandel en sleg betaal, die broeder wat met ’n onaardse gevloekery sy sinne bemes ens. ens., lewe ewe rebels voor die aangesig van die Here.

Die verskil is: niemand  gaan ’n vlag verf vir skinder en leuens nie; niemand gaan in ’n optog loop om jou vrou te mag slaan nie en beslis gaan niemand ’n veldtog loods om diefstal te wettig nie. Hy stel tereg: gays is sigbaar – wêreldwyd en toenemend in ons tyd word die reënboog, in rebellie teen God, gewapper om dit wat contra naturam is; te normaliseer. Jy is helaas verkeerd, my vriend, as jy dink dat Doppers net na Nataniël kyk as verwysingsraamwerk.  Ongelukkig word hierdie dwaling in ons kele afgedruk, word ons gekonfronteer daarmee die oomblik as ons ons neuse by ons voordeur uitdruk.   En omdat ons onwrikbaar in die waarheid van die Skrif glo, wys ons homoseksualiteit af.

Let wel: homoseksualiteit, en nie homoseksueles nie. Daar kan by iemand die geneigdheid tot homoseksualiteit wees; maar as gelowige kind van God stry hy/sy daarteen.  Dit is wanneer daar nie meer gestry word nie; dit aanvaar word, dit beoefen word – waar gelowiges ’n krisis ontwikkel.  Soms is dit ’n lewenslange stryd, maar daarvoor gee ons Vader ’n oorvloed van genade.

Waar die fout in die stuk begaan word, is die denke dat die kerk mense probeer verander.  Dit is net God, wat in sy genade ’n mens tot inkeer en verandering kan bring. Waar daar individuele voorvalle is van liefdeloosheid tot homoseksueles; is dit werklik hartseer en verkeerd – soos ook duidelik in die uiteensetting van die GKSA se siening van homoseksualiteit uitgestippel word.  Hulle is ons broers en susters, wat ons in liefde ontvang, maar wat baie beslis gewaarsku moet word oor hul sonde – net soos enige ander lidmaat wat in sonde leef, gewaarsku word.

Net God kan verandering bring; God gee lewe – en daarom kan ons nie gelate die sonde aanvaar nie.  Dit is juis liefdeloos om gelowiges wat sê dat hulle Jesus Christus liefhet, toe te laat om in hul sonde te lê.

Dit is net so onstellend dat die leer van intersectionality by die korthare ingesleep word, saam met die Black Lives Matter beweging – wat eintlik ’n baie pragmatiese en wêreldse siening van die kerk probeer propageer.  Intersectionality is nes ’n ongebreidelde voortleef in homoseksualiteit, ’n dwaling wat uit die hel uit aangesteek word, en ons moet dit hand en mond beveg; want dit leer mense om in ’n slagoffermentaliteit voort te leef.  Dit stel die idee voor dat jou menswaardigheid bepaal word deur die diskriminasie wat jy in die verlede beleef het, en volgens hierdie rangorde word jou waarde in die samelewing bepaal.  Bo-aan hierdie hiërargiese struktuur is die Swart Transgender vrou en heel onder aan, die gehate Heteroseksuele Wit man (Straight White Male).  As dit nie rassisme aanwakker en haat aanblaas nie; dan weet ek darem nie. Boonop is menseregte onversoenbaar in die kerk: Dit gaan nie oor die regte van mense of oor wat mense wil doen nie – maar wat God openbaar en sy eer (dus: dogma wat hande en voete in ons lewens kry).

Vandaar dat Lion Cachet blykbaar soos De Mist van ouds glo dat die plig van die kerk is om morele burgers vir die staat te kweek.  Die enigste werklikheid wat ’n teologiese student wat dit op die kansel waag, homself mee moet vereenselwig, is die gebroke menslike hart en natuur, en hoe God Homself prysgegee het in sy Seun om ons daarvan te verlos. Enigiets anders is gebou op wankelmoedige fondamente en sal nie die toets van die tyd deurstaan nie (soos wat wêreldwyd met al die genitief-teologieë gebeur). Die kerk is nie ’n staatsdepartement nie, maar ’n ambassade in die buiteland wat die koms van die ware koninkryk (en Koning!) verkondig.

Net een en ander oor die verhouding met die NWU.  As Alumnus is ek bekommerd oor dit wat by die eens trotse PU vir CHO aan die gebeur is. Ek sou eerder vra of die GKSA nog langer bande met ’n instansie kan hê wat studente soos Lion Cachet produseer wat duidelik die Bybelse leer verwerp?

3 thoughts on “’n Dopper kan ook gay wees . . .”

  1. Goeie dag meneer Lion-Cachet, jy is presies die tipe persoon wat die Bybel ons teen waarsku, net soos Adam en Eva self wou besluit wat reg en verkeerd is wil jy nou vandag doen. Die Bybel, Paulus en Jesus Christus is baie duidelik dat dit verkeerd is. As homoseksualiteti werklik bedoel was vir die skepping sou God ons nooit beveel het om te vermeerder nie want vir n gay persoon is die opdrag onmoontlik. gaan saai jou onkruid eerder op progresiewe webtuistes soos Buzzfeed eerder as om Christene te probeer verwar met jou snert.

    Jy is vir vryheid maar wil ander onder sensuur plaas, jy wil alles hê dat dit jou idee van reg pas in plaas van wat dir Skrif sê.

    As die kerk gay mense werklik so erg gehaat het sou ons baie meer haatspraak hoor maar nee al wat gesê word dat die homoseksuele gedrag en seksualiteit verkeerd is, maar nee dit word geklassifiseer as haat en misdaad net omdat ons nie met julle saamstem nie, die legioen van die liberaliteit wat alles wat Christelik is wil verpletter. Jou oupa sou homself skaam vir jou opdrag en etiek.

    1. Ek wil daarby voeg dat ons nie inklusiwiteit en verdraagsaamheid met mekaar moet verwar nie. Ek moet verdraagsaam staan teenoor iemand wat homokseksueel as bybel gelowige christen want dit is ’n opdrag uit God se Woord. Maar daarmee saam is ek nie inklusief nie. Om inklusief te wees is om saam te stem en homoseksualiteit goed te praat. Christus het by verskeie geleenthede in gesprek getree met sondaars o.a’ n prostituut dit maak hom nie inklusief nie maar verdraagsaam. Hy het haar duidelik gesê: gaan en sondig nie meer nie….
      Die liberalisme wil graag inklusiwiteit vermeng met verdraagsaamheid maar dis duidelik twee verskillende dinge. As ek nie saamstem nie maak dit my nie ’n hater nie…

      1. Ek sou eerder die woord “geduldig” gebruik in plaas van “verdraagsaam”.
        Verdraagsaam beteken dat jy dit maar aanvaar.
        Geduldig beteken dat jy geduldig sal wees met ’n persoon dat hy sy lewe sal verander.

        Jesus het saam met sondaars gesit.
        Hy het nie saam met hulle gesondig nie.
        Daar is ’n groot verskil!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui