Gemeente omgekrap oor getroude Dietmann se bevestiging

*************

Gemeente omgekrap oor getroude Dietmann se bevestiging | Kerkbode

7 Augustus 2019

’n Week ná die NG gemeente Stellenberg ds Philipp Dietmann as tentmakerleraar bevestig het, het die Tafelberg-gemeente in Kaapstad ’n pleidooi gerig dat daar vir dié gemeente gebid word en ook die breër kerkverband “op te roep tot bekering”.

“Dit is duidelik uit die Skrif dat daar deur die eeue heen, vanweë die gebrokenheid van die menslike natuur, valse leerstellings (1 Tim1:3-4), onsedelikheid (1 Kor 5:1-5), egbreuk, homoseksualiteit, dronkenskap, kwaadpratery, geldgierigheid en bedrog (1 Kor 6:9-11), slegte begeertes (Kol 3:5-10), losbandigheid (Ef 4:17-19), vals leraars (2 Kor 11:13-15) ensovoorts in die kerk van die Here voorgekom het,” lui ’n uittreksel uit ’n wydlopende verklaring wat ook op die gemeente se Facebookblad geplaas is. “Die enigste wyse waarop die apostels en die profete van ouds hierdie deformasie in die kerk geadresseer het, was deur die onverpoosde prediking van die onvervalsde Woord van God.”

Volgens die Facebook-plasing van Tafelberg gemeente is die verklaring gemaak “teen die agtergrond van die algemene teologiese en kerklike verval binne die NG Kerk en spesifiek na aanleiding van die onlangse gebeure by NG Stellenberg waar ’n man – wat met ’n ander man “getroud” is – as leraar bevestig is.”

Ds Why Duvenhage, wat Dietmann se bevestiging op 14 Julie gelei het, het tydens die diens genoem die gemeente was deurgaans daarvan bewus dat Dietmann in ’n selfdegeslagverbintenis is. “Hy (Dietmann) is onlangs ook getroud,” het Duvenhage gesê. By dieselfde geleentheid het die ringsverteenwoordiger, dr Francois Swart, laat hoor: “Ek wil vir Stellenberg-gemeente sê, julle liggie skyn baie helder in die Ring van Durbanville. Elke lidmaat moet dit weet. Die besluite wat julle neem, kyk ons na op.”

Kirstein Combrink, die kerkraadleier by Tafelberg-gemeente, het gesê die gemeente “wil nie ’n negatiewe ding dryf” met hierdie standpuntinname nie. “Dis een van die belangrikste goed in die kerk, om eenheid te bewaar,” het die leier van die raad, wat uit nege lede bestaan, op 7 Augustus aan Kerkbode gesê. Volgens Combrink is selfdegeslagverhoudings iets wat tweespalt veroorsaak. “’n Mens verstaan nie altyd hoe die Heilige Gees ’n mens so verskillend kan leer uit die Bybel nie … Dat mense nie konsensus kan kry nie.”

Hy is bekommerd daar steek meer daaragter. “Dis dalk die punt van die ysberg, dat Skrifuitleg en -verklaring aangewend word om mense se eie behoeftes te bevredig. Dis wat ons seermaak,” aldus Combrink, wat namens die gemeente met 120 lidmate en leraar dr Chris Saayman, gepraat het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui