Brief uit besorgdheid aan die algemene sinode van die NG Kerk

Kyk ook:

Hieronder volg ’n brief van besorgdheid aan die NG Kerk leierskap geskryf deur Dr Arno van Niekerk namens die Christen Konsensus. Arno is een van Juig! se medewerkers.

Hierdie brief is egter een van vele skrywes en dokumente aan die NG Kerk leierskap:

Daar is geen hoop dat hierdie brief ’n duit se verskil sal maak nie. Dit is baie duidelik dat daar nie eenstemmigheid in die NG Kerk sal wees oor die homoseksuele kwessie nie. Die vraag is wie eerste hulle goed gaan vat en loop uit die NG Kerk – die behoudendes of die liberales?

***********

Brief uit besorgdheid aan die algemene sinode van die NG Kerk

1 Augustus 2019

Geagte lede van die Moderamen

Met groot besorgdheid is daar kennis geneem deur Christene landswyd van die onlangse hofsaak oor die gaykwessie teen die NG Kerk, asook die groeiende verdeeldheid oor hierdie kwessie. Met die gesindheid van “as een lid ly, ly die hele liggaam” nader ons julle as deel van die breër liggaam van Christus. Die Christen Konsensus, gegrond op 10 Bybelse beginsels, word op dié stadium deur amper twee miljoen Christene landswyd ondersteun. Ons is almal deeglik bewus van die sensitiwiteit rondom die gay-kwessie; daarom hierdie brief in absolute liefde en in die waarheid van God se Woord.

Ons leef gewis in ’n milieu en omgewing waar menslike diversiteit ’n groot realiteit en meningsvormer is. Die Grondwet skep ruimte hiervoor in ons samelewing en mense het die reg om hul lewensstyl binne daardie raamwerk in te rig. Die Kerk het egter ’n hoër roeping en morele verantwoordelikheid wat bepaal dat ons nie buig voor politieke korrektheid en “aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie…” (Rom. 12:2). Dit word wel met groot sensitiwiteit gesê weens die plurale aard van menslike ervaringe en gedragsvorming. Inderdaad moet ons almal met groot liefde en omgee na alle mense kyk, veral minderheidsgroepe, en spesifiek na mense met alternatiewe seksuele oriëntasies.

Die uitdaging vir die Kerk lê egter by die feit dat ons nie kan toelaat dat ’n subjektiewe (en veranderbare) interpretasie van die Grondwet ’n hoër morele gesag vir ons word as die objektiewe (en histories-getoetste) Woord van God nie. Hermeneutiek en interpretasie van die Bybel is belangrik, maar dit wat daar geskryf staan (soos Jesus dit herhaaldelik in Matteus 4 gestel het) dra op die ou end die gewig. Ook wanneer die Skrif in konteks en verband gelees word, is daar geen bewys dat dit homoseksualisme goedkeur nie. In die lig hiervan beweeg die Kerk, en veral die NG Kerk, nou op dun ys as ons alternatiewe lewensstyle goedkeur, bevestig en as voorbeeld laat dien (in leierskap) terwyl ons nie seker is dat dit God se Wil is nie. Met die druk van die huidige milieu gee ons toe aan die “gedragspatrone van hierdie wêreld” as ons dit goedkeur en so raak ons verdeeld en verswak. Eerlike introspeksie hieroor moet mens noop om na ’n stewiger fondasie te beweeg sodat eenheid in waarheid binne die Kerk gevestig kan word. Die Kerk diskrimineer nie onbillik as haar oortuigings oënskynlik met die Grondwet verskil nie; dis hoekom daar voorsiening vir godsdiensvryheid is (insluitend die Kerk se outonomie om eie leerstellings te bepaal). As die (sekulêre) Grondwet die Kerk se oortuigings voorskryf (of forseer), tel godsdiensvryheid niks. Dit gebeur nie, so daarom moet ons dit nie innooi nie.

Met absolute respek en liefde teenoor diegene betrokke by die hofaansoek, dié wat dit gesteun het en dié wat daarop gereageer het (bv. as gay predikante gelegitimeer is), rig ons namens soveel Christene ’n wekroep op die NG Kerk om by haar Algemene Sinodesitting op korrekte prosedurele wyse ’n besluit te neem wat afstand doen van die goedkeuring van ’n gay leefstyl. Dis nié ’n afkeuring van gay persone nie, want die Kerk se deure moet altyd met liefde oop wees vir gay persone, soos vir enige ander. Die risikos van kerkskeuring (veral groot gemeentes), die verdeeldheid veroorsaak oor die gay bedieningsegpaar (waar een gelegitimeer is by Stellenberg gemeente), asook die onlangse hofsaak, beaam die kritieke tydgleuf om nóú die regte rigting in te slaan. Neem met hierdie skrywe kennis dat duisende Christene dit ondersteun, waaronder NG-lidmate, ex-gay persone, lidmate van ander kerke en gesiene Christenleiers in die land.

Met groot liefde en waardering vir die waardevolle rol van die NG Kerk in die liggaam van Christus,

Dr Arno van Niekerk

Namens die Christen Konsensus

2 thoughts on “Brief uit besorgdheid aan die algemene sinode van die NG Kerk”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui