Gays in die kerk: Hulle oorheers die debat

Kyk ook:

Jan Louw en Henriëtta Klaasing het die volgende geskryf in reaksie op Neels Jackson se brief ’n week gelede.

***********

Gays in die kerk: Hulle oorheers die debat

Deur Henrietta Klaasing en Jan Louw

Sondag, 7 Julie 2019

Dr. Henrietta Klaasing, Randfontein, skryf: Neels Jackson (“Die kerk en die hof,” Rapport Weekliks, 30 Junie) vertel net een kant van die NG Kerk se worsteling met die 2015-besluit van die algemene sinode en die daaropvolgende buitengewone algemene sinode in 2016 rakende verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag. 137 beswaarskrifte en gravamen is ingelewer om te dien op die agenda van die BAS2016. Dit was ’n boek van meer as 600 bladsye en het van NG gemeentes oor Suid-Afrika heen en ook Namibië gekom. Daar is gevra dat ’n opname in elkeen van die 1 100 gemeentes rakende die debat gedoen word en elke individuele lidmaat kon daaroor stem.

Meer as twee derdes van lidmate was téén die 2015-besluit. Selfs Suid-Afrika se Grondwet kan met so ’n meerderheid verander word, maar hierdie statistieke word selde in die media genoem.

Ons lewe in ’n demokratiese land. Waarom word die stemme van die meerderheid nie gehoor nie?

Jan Louw, Reitz, skryf: Neels Jackson tree in die bres vir die lidmate wat “hof toe” is oor ’n besluit van die sinode van die NG Kerk. Hy sê die lidmate se geduld het opgeraak.

Wat my opval, is die obsessiewe aard van die optrede van die progay-groep, wat herhaaldelik advokate gebruik om dwang uit te oefen op die kerk, en hof toe is toe hulle nie hul sin kon kry nie.

Hulle moet tog verstaan: dit gaan oor ’n hoogs omstrede saak. Hulle vra mede-Christene dat lidmate wat gay, homoseksueel, biseksueel, ensovoorts is toegelaat moet word tot al die kerklike ampte. Dit is sieninge wat vir die deursnee-lidmaat totaal onaanvaarbaar is.

Die moderator, Nelis Janse van Rensburg, het in hierdie gebeure ’n belangrike rol gespeel. Twee streeksinodes, en verskeie leraars, het gevra dat die saak eers verwys word na die streeksinodes, waar dit bespreek kon word, maar Janse van Rensburg, die voorsitter, was nie daarvoor te vinde nie. Mense het vir my persoonlik gesê dat hulle by Nelis gepleit het om die meer “kerklike” weg te volg want die saak kan tot skeuring lei, maar hy wou nie gehoor gee nie. Die saak moes opsluit deurgedruk word.

Die optrede van die groep wat die hofsaak teen die kerk begin het, moet ook gesien word teen die agtergrond van ’n obsessie, ’n benepenheid met hul standpunt.

Dit is die kern van die tragiese verskeurdheid waarmee ons sit.

1 thought on “Gays in die kerk: Hulle oorheers die debat”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui