Ex-gay getuienis: Monique Swartz

Kyk ook:

In April 2019 het André Bekker nege getuienisse van voorheen homoseksuele mense van Suid-Afrika op Facebook geplaas. Hier is die vyfde een.

***********

  1. Sibusiso Mahlangu
  2. Daniël du Plessis
  3. EJ Lombard
  4. René Lourens
  5. Monique Swartz
  6. Liezel Theron
  7. Jean Roux
  8. Jane Gibson
  9. André Bekker

Monique Swartz se storie tot God se eer

Ek voel God druk dit erg op my hart om met julle te deel hoe oneindig groot ons God is en dat Hy waarlik kan red en vrymaak uit satan se kloue en leuens.

Ek was na matriek in verskeie homoseksuele verhoudings en het vreeslik begin drink. Ek het net na matriek my ouerhuis verlaat en partytjies was al wat my geïnteresseer het. Ek was op anti-depressante en die medikasie saam met drank was lewensgevaarlik. Ek het by verskeie geleenthede in die hospitaal wakker geword dat my kop uitgehaak het en toe besluit my ma-hulle dit gaan my goed doen om my Bloemcare toe te stuur. Ek het gegaan maar na dit net weer aangegaan soos tevore, die keer net sonder pille. Ek het soveel keer gebid en gesmeek dat God my lewe moet uitsorteer maar niks het gebeur nie. Op ’n stadium het ek besluit dat God nie rêrig bestaan nie, want hoekom baklei teen iets of iemand wat nie eens my lewe kan uitsorteer nie.

Ek ontmoet toe my volgende vriendin. Sy het wel in Jesus geglo maar nie werklik ’n verhouding met Hom gehad nie. Ons het vir 6 jaar uitgegaan en ek het geglo sy was díe een vir my. Hoe langer ons in die verhouding was hoe erger gif was ons vir mekaar en het mekaar meer afgebreek as opgebou. Ons kon nie ’n normale gesprek hê sonder drank nie.

Ek maak toe die fout om haar te verneuk, en soos julle weet, kom die waarheid altyd uit. Ek het myself so in ’n hoek begin in lieg, in ’n poging om als toe te smeer, dat ek meer skade as goed veroorsaak het. My vriendin het net ’n week daarvoor, na ’n groot uitval tussen my en haar, in haar kamer gesit en met God gepraat. Sy het gevloek en geskel en kon niemand meer blameer nie. Sy het begin selfondersoek instel en besef dat sy nie in haar eie krag haarself of dinge kan uitsorteer nie. As jy nie jou bagasie vir God gee nie, sal jy altyd ’n las dra. So dis presies wat sy gedoen het. Op haar knieë het sy daardie aand haar lewe aan God oorgegee. Haar oorgawe aan God was nie om haar homoseksuele leefstyl te verander, of om op te hou drink en vloek nie. Dit was ’n oorgawe van haarself aan God, omdat sy haarself nie meer kon help nie. Min wetend dat net soos God in Sy Woord sê, “kom soos jy is en Ek sal jou verander.”

Met my geliegery het sy vir my gesê dat God vir haar sê dat sy my nie in haar lewe kan toelaat nie, want ek trek haar af terug in die donker gat in, van waaruit God haar uithaal. Daardie oggend het ek ook tot die besef gekom dat ek nie meer ’n doel het om voor te lewe nie. Alles was net ’n groot gemors en ek nog ’n groter gemors. Ek het vir my vriendin ’n boodskap gestuur en haar die volle waarheid vertel hoe ek haar verneuk het.

Daardie selfde oggend van 18 Augustus 2016 het my vriendin nog ’n boodskap van Jesus ontvang: “As ek die man op die kruis langs my kon vergewe, wie is jy om nie vir Monique te vergewe nie, so klim in jou kar en gaan wys haar My liefde en leer haar van vergifnis”.

Net na 11 uur daardie oggend het sy my by my werk kom opsoek, dit nadat sy net vroeër vir my weggewys het. Sy het na my toe gestap en my ’n drukkie gegee en gesê: “Ek en Jesus het jou back vir altyd”. En ek was verstom met my mond wat op die grond hang…. Indirek het Jesus vir my kom wys hoe spesiaal ek eintlik vir Hom is. Hierin het ek gesien dat die gedagte dat my lewe niks werd is nie, net ’n klomp leuens van satan is, want ek is vir ’n baie duur prys gekoop aan die kruis deur Jesus se bloed. Ek het net daar omgedraai en na die badkamer toe gegaan en op my knieë gaan neerval en vir die eerste keer in my lewe voor God gebreek. Ek het met ’n kaal oop gebroke hart na God gesmag en net daar my hart vir Hom gegee en my sondes bely.

Ek en my vriendin was hierna steeds saam. Vir die eerste keer het dit so goed gegaan tussen ons. Ons sou selfs trou. Ons is saam groot gedoop al het ek nog nie die betekenis van doop verstaan nie. My vriendin wou net uitgaan en die wêreld begin vertel van Jesus en dat Hy leef. Toe stop Hy haar in haar spore en sê die volgende vir haar…. “My kind jy gaan confusion uitsaai, want geen mens kan ’n lou Christen wees nie. Óf jy is voluit vir God óf jy is vir die wêreld en jou eie begeertes. Jy kan nie ’n “gay” Christen of ’n moordenaar Christen ens wees nie, maar jy kan wel ’n “work in progress” Christen wees. God is so ’n “gentleman”. Hy forseer Homself glad nie op ’n mens af nie en Hy wag dat jy Hom met alles wil leer ken. En sy tydsberekening is so perfek, dit verbaas my tot vandag nog.

My vriendin wou my nie afskrik of wegdryf deur vir my te vertel wat God aan haar geopenbaar het nie. So toe vra sy vir Jesus om ’n persoonlike ontmoeting met my te hê en aan myself te openbaar wat Jesus vir haar gesê het. So ’n week na dit was ons in die kerk en uit die bloute uit sê ons pastoor: “raak net bietjie stil en wees in God se teenwoordigheid en praat net bietjie met Hom.” En net daar, terwyl my oë toe is, kry ek ’n visioen van ’n groot man met wit hare en ’n baard, met sandale aan, en Hy sit op ’n groot wit stoel. Voor hom, op haar knieë is ’n klein dogtertjie met swart lang hare wat vreeslik huil. Ek besef dis ek wat voor God gekniel sit. Hy sê in ’n harde maar steeds sagte stem, “kyk vir my”, maar ek kon nie vir Hom kyk nie. Weer sê hy “kyk vir my,” en weereens kon ek nie. Hy het sy groot vinger onder my ken ingedruk, om my kop op te lig, en net voor ek Sy gesig kon sien, vind ek my op sy skoot, in Sy warm arms toegevou, en ek voel so veilig. Net daar, met trane wat oor my wange rol, het ek besef dat ek nie kan aangaan met my leefstyl soos wat ek tans doen, as ek regtig ten volle vir God wil lewe nie.

By die huis gekom het ons in die kombuis gestaan en ek het nie geweet hoe om dit aan my vriendin oor te dra nie. Ek het besef daar is maar net een manier om dit te doen en dit is om dit te sê soos God dit aan my geopenbaar het. Ek het moed bymekaar geskraap en toe vir haar gesê dat God my gewys het dat ek nie by Hom sal wees as ek aangaan met my leefstyl soos ek dit nou doen nie. My vriendin het geglimlag, opgekyk en gesê: “dankie Jesus!” So het ons toe daar en dan ons verhouding prysgegee.

Dit was ook dieselfde met die drank storie: Ek het nie geweet hoe ek ooit sou ophou drink nie. Maar weereens het God vir my deurgekom en dit net so laat wegval, stadig maar seker. Dis nou al ’n volle twee jaar wat ons glad nie drink nie of uitgaan om te drink soos in die verlede nie.

Ek en my vriendin is vandag beste vriendinne en ons kan alles deel en ondersteun mekaar deur alles. Om jou kruis op te neem en die nou paadjie te loop is nie maklik nie, maar dit raak net meer draaglik. God belowe ons dat enige een wat sy lewe op aarde prys gee sal lewe in oorvloed hê na die dood, en enige een wat sy lewe behou sal dit verloor.

Ek wou nog altyd ’n gesin en kinders hê, maar ek het dit in die wêreld gaan soek en myself so bly regverdig. Ek was so verlore en in satan se kloue. Ek het begin bid vir God vir ’n Godsman wat Hom in alles eerste stel. As hy vir God eerste stel sal hy my met opregte liefde en respek hanteer en sal ons verhouding op n soliede Godsfondasie gebou wees. Ek het altyd gespot en gesê ek gaan nog ’n boerseun losslaan.

Op 10 Julie 2017, kry ek ’n boodskap van ’n outjie wat ek omtrent ’n jaar vantevore by ’n waterwinkel gesien het, en ek vir hom gesê het dat hy oulik is. Hy het in sy boodskap gesê dat geen meisie al ooit vir hom gesê het dat hy oulik is nie, en wou my al lankal ge-sms het. Hy het egter nie die moed gehad nie, en toe besluit hy daardie oggend om my te sms. Ek was op daardie stadium in ’n baie moeilike situasie waar ek voor ’n keuse gekom het om my werk te los vir ’n beter salaris by die see. Toe kom die jongman in die prentjie in, nadat ek vir God gesmeek het vir ’n teken dat ek net die regte keuse kan neem. Ons hou baie van mekaar en ek sien ’n toekoms saam hom. Hy dra my op sy hande en bederf my.

Ek het geloof in God dat die paadjie wat Hy my op gestuur het net vir my bedoel is om my volle ware self te wees. Vandag ken ek my doel asook my ware identiteit in God. En tot die dag van my dood sal ek vir God bly prys en loof dat Hy die sleg in my lewe kom omswaai het in iets moois vir Sy glorie.

Ek en my vriendin het al ons ou pelle verloor. Maar God het ons belowe hy haal mense uit ons lewe uit vir ons eie beswil en dan seën Hy ons weer met nuwe vriende wat dieselfde passie deel.

So dis my storie hoe God my kom vrymaak het na 11 jaar wat ek vasgevang was in leuen.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui