Ex-gay getuienis: Daniël du Plessis

Kyk ook:

In April 2019 het André Bekker nege getuienisse van voorheen homoseksuele mense van Suid-Afrika op Facebook geplaas. Hier is die tweede een.

***********

  1. Sibusiso Mahlangu
  2. Daniël du Plessis
  3. EJ Lombard
  4. René Lourens
  5. Monique Swartz
  6. Liezel Theron
  7. Jean Roux
  8. Jane Gibson
  9. André Bekker

My naam is Daniël du Plessis. Ek is 68 jaar oud en dien Vader deur Sy genade nou vir 24 jaar.

Gebroke mense het een ding in gemeen: dit is die hoop in Christus Jesus. Daar is nog ’n deel in my wat gebroke is, maar die dele wat Hy genees het, is wonderbaarlik genees.

Uit my eie lewe het ek geleer dat liefde in begrip word geleer deur die woorde wat gespreek word tot jou, oor jou en om jou. As jy die leuen daarin aanneem as jou identiteit, kan jy God se skeppingsdoel vir jou lewe mis. Ons het ’n keuse in ons bestemming, nie net ons bestemming in hierdie lewe nie, maar selfs ook in die ewige lewe.

Toe Jesus uit die water van die doop opkom, het hy God hoor sê, “Dit is My geliefde Seun, wie Ek lief het, en in wie ek ’n welbehae het” (Mat 3:17). Jesus was daarna in die woestyn drie keer versoek deur Satan en die versoekings was in wese om Sy ware identiteit in twyfel te trek. Die vyand wil ons vestig in ’n valse identiteit.

Hopelik gee my getuienis ’n ietwat ander perspektief aan die proses van heiligmaking en hoe ek glo dat ons uit ons nuwe hart moet leer leef.

“Ek gee julle ’n nuwe hart met die regte begeertes en nuwe gees. Ek vat die ou hart van sonde weg en gee julle ’n nuwe, gehoorsame hart” (Esegiël 36: 26).

My getuienis is nie dié van ’n homoseksueel wie heteroseksueel wou word nie, maar dis wel ’n getuienis van ‘n  proses van heiligmaking.

“Alle homoseksuele gaan hel toe”, skreeu die prediker van die preekstoel af. Al was ek nege jaar oud, het ek geweet hy praat van my, want ek het toe reeds geweet dat ek anders is as ander mense. Hoe hy dit gesê het, en hoe ek dit in my gees ontvang het, het my hele lewe beïnvloed. My hart was gevul met vrees en van daardie oomblik af het ek van God en Sy gebod gevlug vir die res van my lewe – tot een aand. Die betrokke prediker het heel waarskynlik uit Romeine 1 gepreek wat handel oor die regverdige wie uit die geloof moet lewe en die mense wat die waarheid wat God in hulle geopenbaar het, verruil het vir die leuen.

Ek het daardie aand die versteekte leuen agter die waarheid geglo. Die vrees het my weggedryf van God af en het ek die liefde waarna ek so gesmag het, in die wêreld gaan soek.

Ek het seksueel vroeg ontwikkel en was normaal aangetrokke tot meisies. Ek was van nature ’n fyngeboude seun, baie saggeaard en volgens ander se goedbedoelde mening “te mooi om ’n seun te wees” – dis net nog ’n leuen wat ek geglo het. Seuns, en later volwasse mans, het my seksueel misbruik met die leuen voorhande dat hulle in my vriendskap belang gestel het. Nadat ek misbruik was, het hulle my verwerp. Ek was skelname toegesnou soos “sissie”, “moffie”, “homo” en ander. Dus, toe ek die “gay” lewe ontdek, het ek geglo dit is my identiteit en dit begin uitleef vanaf 21-jarige ouderdom.
“Al wat ’n valse identiteit doen, is om ’n pleister oor die seer te plak.” © Danie du Plessis

Ek was aan al die seksuele perversiteite, afwykings en demoniese invloede blootgestel en beïnvloed. Die “gay” leefstyl het die oop deur geword. Verslawing aan pornografie, asook die eksperimentering met verslawing substansies soos alcohol en dagga, het gevolg. Deur God se genade het ek dwelmverslawing vrygespring.

Aanvanklik was die “gay” wêreld opwindend en het ek aanvaar en bemind gevoel. Ek het kort voor die deur van geslags-verwardheid omgedraai. Bedags was ek die skaam teruggetrokke jongman, maar as die nag aanbreek, is ek deur wellus die strate in voortgedryf, op soek na liefde . . . altans, so het ek gedink. Maar dit was ’n leuen wat geëindig het in 23 jaar van skande, hartseer, verwerping, mislukking, self-haat, eensaamheid en uiteindelik selfmoord begeertes.

God het in die agtergrond in my lewe begin werk ten spyte daarvan dat ek die Evangelie verwerp het a.g.v. vrees. Jesus en die Heilige Gees was vir my slegs Sondagskool-sprokiefigure.

Eendag het ’n groepie jong Christene in ’n berugte winkelsentrum waar “gay” mense mekaar “informeel” ontmoet het, my raakgesien terwyl ek “liefde” gesoek het. Hulle het my in liefde gekonfronteer met die vraag, “Meneer, as jy vannag sou sterf, waar dink jy sal jy gaan?” My antwoord was kortaf, “die hemel”. Ek het van hulle weggestap met ’n beklemming om my hart, want ek het eerlikwaar nie geweet nie!

Op ’n dag het my lewe in totaliteit in duie gestort. Ek het alles van finansiële en materiële waarde verloor, My “lewensmaat” het my ook verwerp. Vir my was dit die einde van my lewe!

Op 24 Januarie 1994, nege-uur die aand, het God my in die tuin waar ek na die sterre in die hemel gestaar het, raakgesien. Al waaraan ek kon dink, was hoe ek my lewe kon eindig. Terwyl ek so staar, hoor ek ’n stem in my gees wat sê: “Dit waarna jy staar, het Ek gemaak. Ek is die Begin en die Einde-Ek is die Alpha en Omega. Daar is net reg en verkeerd. Daar is ’n hemel en ’n hel. Die keuse is joune!”

Dit was ’n stem vol eenvoud, liefde en meegevoel. Daar was ’n “Teenwoordigheid” wie my na die hoek van die tuin toe gelei het en my die keuse gegee het om Jesus as my Verlosser aan te neem. Ek het nie geweet Jesus is die Weg na die Vader toe nie. Ek moes die keuse daardie nag self maak. Die hoek van die tuin was simbolies van my pad van vrye keuse.
Later daardie nag lei die Heilige Gees my na my Bybel wat ek nooit gelees het nie. Ek het Psalm 19:1-11 gelees [Living Bible]. (Vers1) “The heavens are telling the glory of God; they are a marvelous display of his craftsmanship . . . . (Vers 11) For they warn us away from harm and give success to those who obey them.” Dit was ’n duidelike bevestiging van wat die stem daar onder die sterre vir my vroeër gesê het.

Ek het van daardie aand af geweet ek kan nie God volg en nog steeds komprimeer met ’n “gay” leefstyl nie. Ek het uit gehoorsaamheid gekies om heeltemal weg te breek van daardie leefstyl en vriende. Dit was al hoe ek geestelik sou kon groei. Dit het beteken dat ek die reg moes opgee om lief te hê, geliefkoos te word en sosiaal te verkeer soos ék dit geken het. Ek moes God vertrou!

Die instink vir liefde is so ferm in die mens se hart ingeplant toe ons geskape is, en dit is die enigste weg!” (Skrywer onbekend)

Ek het van Dag Een af die Vader se liefde as intiem en onvoorwaardelik ervaar. Die Heilige Gees was nog ’n vae begrip vir my en ek het lank geneem om intieme gemeenskap met Jesus te kon hê. Daar was ’n blokkasie daartoe. Jesus was God en ook mens. Ek kon Jesus se menswees sowel as Sy Godheid nie vertrou nie a.g.v. die feit dat die meeste mans figure in my lewe my misbruik het en natuurlik ook a.g.v. wat die prediker in my kinderjare gesê het. Ek het die prediker onlangs vergewe en so van baie jare se bitterheid vrygekom wat ek nie eens besef het in my hart was nie.

Jesus was getrou en het deur die jare wat sou volg, Hom self aan my geopenbaar as die Woord, die Waarheid en die Lig van die wêreld.

’n Sekere Mike Yaconelli het gesê dat genade bestaan nie om ons suksesvol te maak nie. God se genade bestaan om mense na ’n liefde te verwys soos geen ander liefde wat hulle ooit geken het nie.

Ek dank God vandag vir my stryd met homoseksualiteit, want daardeur het ek geleer wat genade is. Ek moes leer dat genade is Sy krag wat in my werk om dít in my te verander wat ek nie deur my eie werke kan verander nie. Die “gay” leefstyl was nie ’n opsie nie, maar slegs om te wandel in die Gees en genade. . . dít moes my leefstyl word.

Ek het besluit om na my “nuwe hart” te luister. My nuwe hart het my geleer dat ek nooit lewe sal kan kry vanuit sonde nie. Die begeertes was nog daar, maar het geweet ek sal nooit regtig vreugde van uit so ’n leefstyl kon verkry nie. Miskien satisfaksie, ja, maar dit is nie wat God vir my wil hê nie.

Genade stel ’n mens voor die keuse om óf aan die versoeking oor te gee óf andersins aan God se wil. As jy kies om nie jou nuwe hart te gehoorsaam nie, sal jy nooit vervuld wees nie. Jy sal nooit werklik gelukkig wees nie, want jy is ’n nuwe skepsel in Christus Jesus – dood vir die sonde en lewend tot God.

Titus 2:11 sê: “For the free gift of eternal salvation is now being offered to everyone; (v. 12) and along with this gift comes the realization that God wants us to turn from godless living and sinful pleasures and to live good, God fearing lives day after day.”

As dit die genade van God is wat ons leer om “nee” te sê vir sonde, dan is dít wat ons vir mense moet leer. Romeine 6 en 7 leer ons dat sonde nie ons meester is nie want ons leef onder genade.

“We want to make it law, we want to make it judgment. We want to highjack forgiveness and hold it hostage; and tell people you are forgiven if you stop sinning.” – [Dr Andrew Farley]

Nee! Dit is nie wat die Evangelie ons leer nie. Jesus het vir sondaars gesterwe, en nie vir mense wie kan ophou sondig nie. Sonde het geen lewe in opsig self nie. Die punt is: ons kompeteer en wen nie teen die Bloed van Jesus nie, maar daar is meer in die boodskap oor die Bloed van Jesus . . . daar is die opstanding! Jou nuwe hart is jou opgestane hart.

“You have every opportunity to see the worst in people or to see the best in people. Neither position gives you a clear picture in your judgement of others. Everyone has to endure challenges in life, and everyone makes mistakes.  You would do well to see others through My eyes, says the Lord.  That is to know My love and to apply mercy.  Be generous in your evaluations.”  Matteus 5:7 sê: “Blessed are the merciful, for they shall obtain mercy.” [Skrywer onbekend aan my]

“Do not gloat over me, my enemies! For though I fall, I will rise again. Though I sit in darkness, the Lord will be my light”. Micah 7:8 (TLB)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui