Ex-gay getuienis: Liezel Theron

Kyk ook:

In April 2019 het André Bekker nege getuienisse van voorheen homoseksuele mense van Suid-Afrika op Facebook geplaas. Hier is die sesde een.

***********

  1. Sibusiso Mahlangu
  2. Daniël du Plessis
  3. EJ Lombard
  4. René Lourens
  5. Monique Swartz
  6. Liezel Theron
  7. Jean Roux
  8. Jane Gibson
  9. André Bekker

My naam is Liezel Theron en ek is tans betrokke by Spore vir Jesus Outreach Ministry.

My lewe as kind was nie baie gelukkig nie. My ouers het baie baklei en soms sou my pa so kwaad word dat hy aan my broer en ma slaan. Alhoewel ons nie finansieel gesukkel het nie, was my ma en pa se verhouding emosioneel en fisies ongesond. Toe ek 11 was het my ma en pa geskei. My pa het verdwyn en agv al die stres het my ma siek geword met ’n psigiese siekte. My ma en pa was afwesig in my lewe en gevolglik het ek op hoërskool verkeerde vriende gemaak waar ek begin rook, drink en eksperimenteer het met verskeie ongesonde dinge.

Ek het op die ouderdom van 17 ’n huispartytjie gehou, waar ek al my vriende na toe genooi het. My een vriend het sy vriendin saamgebring. Tydens die partytjie het sy my gevra of sy by my kan kom oorslaap in twee dae se tyd. Ek het ingestem.  Sy het vir my gesê dat sy met meisies uitgaan en aangetrokke is tot persone van die selfde geslag en dat sy by satanisme betrokke was. Daai tyd het ek nie omgegee nie.

Twee dae later het sy toe opgedaag. Ons het DVD’s gekyk, toe sy my vra, “wat sal jy doen as ek jou soen?” Ek het ingestem en ons het die heelaand gevry. Sy het in my kamer oorgeslaap en niks verder het gebeur nie. Die volgende dag is sy huis toe. Ek het haar nooit weer gesien nie, want sy was blykbaar in Weskoppies opgeneem. Ek het gevoel asof iets verander het, nie net in my nie, maar ook in my kamer.

Ek kon hierna vir 9 maande nie slaap nie. Ek het elke aand nagmerries gehad van waar iets my uitmekaar skeur. Ek was in die oggende omstreeks twee uur of soms drie uur deur `n ding in my kamer rond gegooi. Ek het later nie meer in my kamer geslaap nie. Ek het toe in die TV kamer op die bank geslaap of op die bank in die eetkamer. Die ding het my naderhand orals in die huis gevolg.

Ek het besluit om deur die aand wakker te bly want dis veiliger en deur die dag te slaap. Ek het baie skool gebank en net geslaap. Aan die begin van matriek is ek geskors agv al die afwesigheid en omdat ek ’n slegte invloed vir die ander kinders was. Ek het in ’n diep depressie verval wat omtrent 3 jaar geduur het. Ek het op die ouderdom van 20 ’n psigiater gaan sien en sy het my gediagnoseer as bipolêr.

Sy het vir my redelik baie medikasie voorgeskryf, wat vir ’n ruk gehelp het. Later dieselfde jaar beland ek egter in ’n psigiatriese hospitaal, waar hul vir my nog meer medikasie gegee het. Weereens het die medikasie dinge vir ’n ruk beter gemaak, nie dat ek regtig meer iets gevoel het nie. Dit het wel gehelp dat ek ten minste my “personal training” en vliegkursus daardie jaar kon voltooi.

Van daar af was ek in en uit verhoudings met ander vroue. Ek was veral aangetrokke tot mooi meisies met sterk persoonlikhede. Ek sou in verhoudings ingaan, maar sodra die meisie sag raak of daardie sterkheid verloor, dan was ek nie meer aangetrokke tot haar nie. My langste verhouding het 3 jaar geduur. Ons verhouding was ernstig. Ons was verloof, maar voordat ons getroud is, het die verhouding opgebreek.

Ek het steeds elke dag my bipolêre medikasie gebruik, gerook, baie gedrink en toe baie dagga  begin rook.  Ek het ook begin eksperimenteer met ander dwelms en pornografie. Ek het egter ’n groot leemte in my gehad in die vorm van alleenheid, en dit het veroorsaak dat ek van een verhouding tot die ander spring.

Ek was soms so dronk in kroeë gewees, dat ek nie geweet het wat rondom my aangaan nie. Soms het ek die volgende oggend langs ’n man wakker geword sonder dat ek geweet het hoe dit gebeur het dat ons saam is. Ek was daardie tyd so gebroke en het liefde op alle maniere gesoek.

Daar het in my hart ’n ontwaking begin plaasvind. Een Saterdagaand was ek en my vriend weer in die kroeg. Ek was toe 28 jaar oud. Tussen die dronkenskap deur het ek vir my vriend gesê dat ons moet begin kerk toe gaan. Die volgende oggend het ons so groot babbelas gehad dat ons nie kerk toe gegaan het nie. Ons het wel ’n belofte gemaak dat ons die volgende Sondag kerk toe sou gaan.

Die volgende Sondag is ons toe kerk toe. Aan die einde van die diens het die voorganger gevra dat as iemand gebed nodig het, hulle vorentoe kan kom vir gebed. Ek het toe vorentoe gestap. Daar was ’n meisie van min of meer my ouderdom wat vir my gebid het. Ek het haar my hele lewensverhaal vertel en sy het voorgestel dat ek en sy eenkeer ’n week vir ’n beradingsessie bymekaar kom. Ek het ingestem.

Ek het tydens die eerste beradingsessie die Here aangeneem. Die eerste ding wat gestop het, was my drinkery. Min of meer ’n maand later het ek tot `n hartsoortuiging gekom dat ek ’n leun lewe met die wat ek nog in ’n verhouding met ’n meisie was en ons ook nog saam bly. Dit was ’n swaar besluit wat ek moes neem om met haar op te breek. Ek moes haar ook vra om uit te trek.

Ek het na sy uitgetrek het weer daardie alleen leemte vir ongeveer twee weke beleef, maar toe genees liewe Jesus my.

Dis ’n jaar en half later en ek is vry van drank, rook, dwelms, aangetrokkenheid tot die vroulike geslag, geldgierigheid, pornografie en bipolêre medikasie. Vir my om oorwinning te kon kry, moes ek aan God gehoorsaam word en aan hom onderdanig wees. God is goed en Hy gee oorwinning.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui