Ek glo steeds in dáárdie Jesus …

*******

Ek glo steeds in dáárdie Jesus … | Kerkbode

Kerkbode, 6 Sep 2002

VOOR my sit ‘n derdejaarstudent. Wanneer hy begin praat, sien ek sy oë swem in trane: “Professor, ek wil met u praat. Ek worstel met my geloof. Hoe kry u dit nog reg om in Jesus te glo?”

Ek kan nie onthou hoeveel teologiestudente het in die afgelope twee jaar in my kantoor kom sit met dieselfde vraag nie. Later begin hy onbeskaamd snik en sê: “Professor, ek voel soos ‘n verraaier. Tuis in my ouerhuis glo ek saam met my ouers en is ek aktief betrokke in ons gemeente. Maar wanneer ek hier by die universiteit kom, word baie van die dinge waaraan ek glo, in die klas met minagting afgelag.”

Skielik dink ek aan d¡t wat iemand op ‘n keer vir my gesˆ het: “Die teoloë leef met die geld van gelowiges, maar hulle ondergrawe die geloof van dieselfde gelowiges.”

Hierdie stelling is baie skerp, maar bevat dit nie tog ‘n element van waarheid nie? Maar wat antwoord ek die studente wat met hulle vrae kom? Wel, ek sê vir hulle: “Bly vashou aan die geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is. Akademici het beslis nie die laaste sê wanneer dit by geloofsake kom nie.”

Maar nou het ek al verskeie kere in die afgelope weke gehoor en gelees dat die “Nuwe Hervormers” sê ‘n mens kan tog nie jou persoonlike belewenis van God bo d¡t wat Bybelkundige navorsing vir ons vertel, plaas nie.

Hierop wil ek antwoord dat wetenskaplike navorsing beslis nie die hoogste prioriteit in my geestelike lewe het nie. Buitendien, watter “wetenskaplike navorsing” moet ek so hoog ag? Bybelkundige navorsers praat nie juis uit een mond nie! Onder watter navorsing se gesag moet ek my persoonlike belewenis van God plaas?

Maar dit wat ek in toegewyde gelowiges se lewe sien, spreek my veel meer aan as die mees opspraakwekkende bevindings van gesiene Bybelnavorsers. Die egtheid van dit wat ons (tradisioneel) glo, kan ek sien realiseer in talle mense se lewens rondom my. Ek het kort voor prof Murray Janson se dood ‘n onderhoud met hom gevoer vir Maksiman. Dit was ‘n grootse ervaring. Dit was vir my asof hy soos ‘n Stefanus van ouds reeds ‘n geopende hemel kon sien en iets van die heerlikheid van God kon ervaar wat op hom gewag het.

Ná my gesprek met hom, het ek met een hand alles van die tafel afgevee wat navorsers ons vertel oor ons “wanopvattings” oor die lewe n die dood. Hier waar ek agter my lessenaar op die 22ste vloer van die Geesteswetenskappe-gebou by Tukkies sit, kan ek nie die geestelike dimensies van ons geloof volkome raakvat met my navorsing nie. Ek lees dat die navorsers sê dat die gedagte van demone en bose geeste in die inter- testamentêre periode onder invloed van die Persiese dualistiese beskouings uitgebou is.

Maar gaan vertel dit vir sendelinge wat met toordokters op die sendingveld werk. Navorsers sê Satan bestaan nie. Gaan sê vir iemand wat met kinders werk wat by satanisme betrokke is, dat Satan eintlik net ‘n metafoor vir boosheid is. Ek het al goeie akademiese boeke geskryf oor hoe ‘n mens die Bybel op ‘n verantwoordelike wyse moet gebruik. Maar ek het ook al die mees merkwaardige getuienisse gehoor van mense wat deur God gelei is deurdat hulle hulle Bybel oopslaan en hulle vinger op ‘n vers plaas.

Ek moet bieg: In een van die grootste krisistye in my lewe het God my juis só gelei. Die vers was uit konteks, maar dit het ‘n dramatiese impak gehad op die gang van die res van my lewe. Die “Nuwe Hervormers” vra kort-kort vir ruimte en dat ons hulle moet akkommodeer. Maar hulle speel die godsdienstige spel volgens gans ander reëls. Ek is lief vir tennis en speel twee maal per week. Maar niemand moet my vra vir ruimte om rugby te speel op die tennisbaan nie. D¡t speel jy op ‘n ander plek.

Net so moet niemand vra dat ek hulle moet akkommodeer as hulle Christus van sy goddelikheid wil stroop, of as hulle ‘n streep trek deur die verlossing wat Jesus vir my aan die kruis bewerk het nie. Is ek outyds of konserwatief? Beslis nie! Ek het “oopkop” grootgeword, geniet die postmoderne lewe en leef nie in angs oor veranderinge nie.

Maar as postmoderne akademikus weet ek ook dat navorsing relatief is. Dit bewys niks met sekerheid nie. Wat vandag “waar” is, word môre verkeerd bewys. Daar is buitendien op hierdie oomblik ook ander navorsers wat weer tot ander gevolgtrekkings kom. Trouens, ek beleef die “Nuwe Hervormers” as uiters fundamentalisties (in die pre- moderne sin van die woord), terwyl hulle agter ‘n postmoderne front skuil. Agter al hulle argumente bespeur ek telkens presies dieselfde fundamentele beginsel wat hulle fanaties toepas, en dit is dat daar geen metafisiese wêreld is buiten hierdie wêreld wat ons sien nie, en dat God nie kan toetree vanuit die metafisiese wêreld tot ons wêreld en kan ingryp en téén sy eie natuurwette kan optree nie.

Baie mense sal verbaas wees dat ‘n akademikus by ‘n universiteit bogenoemde kwytraak rakende kennis en navorsing. Vir ‘n oomblik het ook ek gewonder of ek nie my akademiese status op die spel plaas met hierdie artikel nie. Maar hoe ouer ‘n mens word, hoe minder steur jy jou aan wat ander van jou dink. Die werklikheid is dat ek vandag nog steeds soos ‘n kind glo in daardie Jesus wat ek as jong seun met ‘n na‹ewe lees van die Bybel leer ken het. Wanneer ek terugkyk na my lewe, is daar ‘n klomp bakens waar God bonatuurlik vanuit die metafisiese wêreld in my lewe ingegryp het. Geen Bybelnavorsing sal ooit hierdie ervarings van my kan wegneem nie.

Om moderne navorsers se bevindinge klakkeloos te aanvaar, sal meebring dat ek ‘n klomp strepe deur my geloofsbelewenisse sal moet trek en vir myself moet sê dat dit nooit bestaan het nie, of dat ek my misgis het. Maar ek is nie bereid om vir myself te lieg nie. Daarom dat Bybelnavorsing nie die laaste sê in my lewe het nie. En daar is ‘n skare van geloofsgetuies rondom my.

  • Prof Hennie Stander is dosent in die Departement Antieke Tale aan die Universiteit van Pretoria en redakteur van die Christelike koerant, Maksiman.

Wat hou die kerk geheim?

DIE debat oor die historiese Jesus en die betroubaarheid van die Bybel is in volle gang. Een van die vreemdste beskuldigings teen die kerk is dat hy sekere dinge vir ons lidmate geheim hou. Wat is dit? Die verskille in die Bybel, veral dié tussen die Evangelies?

Natuurlik is dit onsin, net nog ‘n poging om by lidmate wantroue teen die kerk te wek. Maar daar is ‘n interessante agtergrond. Dit is waar dat daar selde of nooit in die gewone gemeentelewe op hierdie verskille gewys word. Dit het verband met die manier waarop leraars meestal preek. Die kerk preek uit die Bybel, en nie oor die Bybel nie. Die predikant sal ‘n deel uit die Bybel neem, dit uitlê en dit op die lewe van die gemeente toepas. Die een Paasfees sal Matteus se opstandingsverhaal gebruik word, en die volgende keer Johannes of Lukas s’n.

Maar baie selde sal die predikant twee of drie opstandingsverhale lees en dan die verskille behandel. Ook lidmate lees gewoonlik die Bybel in ‘n direkte verhouding van “wat beteken hierdie deel vandag vir my?” Daar is natuurlik niks mee verkeerd nie, behalwe dat dit eensydig is. Ons preek omtrent nooit oor die Bybel nie. Dit beteken ons kyk selde na die Bybel as geheel, na sekere trekke of verskynsels in die Bybel, na vreemde kenmerke of probleme. Ons ontwikkel geen oorsig oor die Bybel nie. Dit is die agtergrond van die beskuldiging dat die kerk sekere dinge vir die lidmate “geheim” hou.

Ons behandel byvoorbeeld nie die gesag of die inspirasie van die Bybel in ‘n preek nie. Ons neem nie ‘n tema soos die uittog en behandel die lyn wat dit dwarsdeur die Bybel loop en die verskillende betekenisse wat daaraan gegee word nie. Dit beteken dat die lidmate nie ‘n geheelbeeld van die Bybel het nie, en omtrent nooit blootgestel word aan die probleme wat bestaan oor sake soos die inspirasie, gesag en betroubaarheid van die Bybel nie.

Kom ons kyk na ‘n voorbeeld van die waarde daarvan om óór die Bybel te preek. ‘n Preek in die Lydenstyd sou die verskille tussen die Evangelies oor die kruisdatum kon uitwys. Is Jesus op 14 of 15 Nisan gekruisig? Volgens die Sinoptiese Evangelies is Hy n die Paasfees gekruisig (Hy en die dissipels vier die Donderdagaand die Paasfees waartydens Hy die nagmaal instel), maar volgens Johannes is Hy vóór die Paasfees gekruisig (die Skrifgeleerdes en familiehoofde wou nie Vrydagoggend in Pilatus se huis ingaan nie “sodat hulle nie onrein sou word nie, maar die Paasfees – die Vrydagaand – sou kon eet” (Joh 18:28; kyk ook 13:1,29, en die feit dat Johannes glad nie na Donderdagaand se ete as die Paasfees verwys nie).

Met ‘n fundamentalistiese Skrifbeskouing tel ‘n mens natuurlik ernstige probleme op. Daar is dan ook merkwaardige pogings aangewend om hierdie verskil te probeer verklaar. Maar ‘n mens kan ook in ‘n preek sin probeer maak van hierdie verskil. In beide die Sinoptiese Evangelies en Johannes kan ‘n mens besondere betekenis kry vir hierdie verskil. Volgens die eerste drie Evangelies stel Jesus tydens die Paasfees die nagmaal in.

Die Paasfees was die fees van Israel se bevryding uit die mag van die farao. Die nagmaal is die fees van die mensdom se bevryding uit die mag van die duiwel. By Johannes is Jesus die paaslam (1:29). Die paaslam is die dag voor die fees geslag. Dus word Jesus die dag vóór die fees gekruisig (Vrydag, vir die fees wat Vrydagaand gevier sou word). ‘n Mens sou hieruit ‘n paar dinge kon aflei.

Eerstens bring dit die verskillende beklemtonings tussen die Evangelies na vore, iets waarvan ons heeltemal te min maak.

Tweedens wys dit iets van die rykdom van die betekenis van Jesus, presies teenoor die “Nuwe Hervormers” wat ons voorstelling van Jesus al armer maak.

En derdens moet ons daaruit aflei dat die evangelieskrywers nie so presies met kleiner historiese besonderhede omgegaan het nie. Hulle het bepaald ‘n ander siening gehad van geskiedenisskrywing as ons wat op presiese besonderhede ingestel is.

As ons dít besef, maak dit ons vry om nie alles in die Evangelies in harmonie met mekaar te probeer bring nie. – Adrio König

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui