Uitgekies

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Oktober 2002 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ons, of laat ek sê, Amor, het ’n paar maande gelede weer nuwe honde vir die huis aangekoop. Dit moes toe weer volgens die tradisie, Duitse Herdershonde wees. Ek moes vir ’n vergadering Pretoria toe gaan en Amor is saam om die hondjies by ’n teler te koop. Sy het ’n aardige prys vir die twee hondjies betaal, ’n prys wat eintlik nie by ’n predikant se sak pas nie.

Hierdie spesiale diere moes darem ook spesiale name kry. Die een is Frodo genoem, vernoem na die hoofkarakter in die rolprent Lord of the Rings. Die ander een het die naam Firenze gekry. Dit is die Italiaanse naam vir Florance in Italië waar Michelangelo vandaan kom.

Na ’n dag of wat het ons agtergekom Frodo is nie lekker nie. Frodo wou nie eet nie en hy bly maer. Ons is veearts toe en later weer en weer. Die kostes het net opgegaan. Frodo moes spesiale kos kry omdat daar blykbaar iets was wat nie met hom geakkordeer het nie. Ons sit toe met die situasie dat daar drie honde op ons erf is wat elkeen sy eie kos moet kry. Daar is die ou teef van 13 jaar wat enige kos op die werf voor die voet opvreet. Sy moet weggehou word van die klein hondjies met etenstyd, want sy vreet hulle duur kos op en word net vetter en vetter. Frodo en Firenze moet ook apart kos kry, anders eet Firenze Frodo se spesiale kos op. Dit was ’n yslike administrasie en ’n moeite.

Nie dat ek dit nou self moet sê nie, maar ek dink ’n hond het ’n koninklike lewe op die Louw’s se werf. Soos ek gesê het, hulle kry goeie kos. Hulle kry ook goeie mediese behandeling. Ons het ’n groot erf, waar daar baie speelplek en interessante snuffelplekke is. Hulle kry elke dag ’n wandeling in die groen strook. Hulle het heerlike slaapplek. Die dominee moes vir hulle ’n huis bou. LW ’n huis, nie sommer ’n hok nie. Dit is ’n soort van ’n Wendy huis met ’n infrarooi lig vir die wintertyd. Toe die jong hondjies op die werf gekom het wou ou Nitza hulle nie in haar huis aanvaar nie en ek moes toe in die motorhuis ook ’n infrarooi lig aanlê. Vir ’n maand of wat was alles in die motorhuis omvergewerp ter wille van die nuwe aankomelinge.

Dit het my laat dink aan die uitverkiesing. Amor sê daar was honderde honde by die telers waar sy die hondjies gekoop het. Hoeveel van daardie hondjies beland nie op ’n erf waar hulle nooit weer uitkom nie. Hulle slyt hulle lewens as’t ware in ’n tronk. Hoeveel eienaars sien regtig om na hulle honde se siektes en kwale? Hoeveel honde wag tevergeefs vir ’n bietjie aanraking en belangstelling van hulle base?

Ek het in God se huis beland. Hy het my van alle mense op aarde uitgekies om aan Hom te behoort. God was bereid om my te koop, los te koop met die bloed van sy seun. My hele lewe lank het ek die voorreg gehad om op God se werf te wees en in sy teenwoordigheid te lewe. Ek kan ook soos Dawid sê: Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie. Hy sorg vir my en leer my en ek kan al my bekommernisse aan Hom toevertrou. Die belangrikste van alles: Hy gee vir my ’n toekoms. Hy gee aan my lewe ’n bestemming. Ek hoef nie vir die dood bang te wees nie.

Gebed: Ek verstaan nie Here, waarom ek deur U uitgekies is om in al hierdie dinge te kan deel nie. Vergewe my dat ek so onvergenoeg is oor baie dinge. Leer My om U te loof en altyd so entoesiasties te wees soos die honde op my werf. Amen!

Het jy geweet?

  • Daar word omtrent 4 swart sakke tweedehandse klere per week by die kerk afgelewer vir gebruik deur arm mense.
  • Daar word sowat R 2000 pm bestee aan alimentasie (onderhoud vir behoeftiges) in die omgewing.
  • Ons bestee elke maand omtrent R 30 000 aan onderhoud vir sendelinge oor die wêreld.
  • Ons bestee elke maand R 3900 aan sekuriteit by die kerk. (Wagte, alarmstelsels, vervoer van geld)
  • Die elektriese rekening van die kerk beloop sowat R 4500 per maand.
  • Die telefoonrekening beloop sowat R 6500 per maand.
  • Wyksgemeente 1 is die enigste wyksgemeente by die Rondekerk wat in die afgelope jaar geen groei in dankofferinkomste getoon het nie! Daar is net sowat ’n dosyn bydraers in Wg1 wat hulle dankoffers verhoog het.
  • As elke besoekpunt van nou af net R50 per maand meer gee kan ons, ons inkomste met R10 000 pm verhoog in Wg 1!

Groete in Christus

Ds Jan  Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui