Wat kan ons leer van ’n lentebloeisel?

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in September 2002 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Dit is weer die tyd wanneer die lentebloeisels verskyn. Wat wil God vir ons met hierdie pragtige blommetjies wat oral verskyn sê? Ek het aan ’n paar dinge gedink.

1 Petrus 1:24,25: Die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here bly vir ewig.

Die lentebloeisels is net vir ’n kort tydjie daar. Hulle kondig maar net vir ’n paar weke die lente aan. Hulle bring vir ons kleur na die eentonige wintertyd, dan is hulle rol vervul. Hulle word gou droog. Hulle verwelk en hulle val af.

So is alles waarmee ons op aarde te doene kry. Ons word beïndruk met die intelligensie of die rykdom van mense. Ons word banggemaak deur die mag van mense. Die lentebloeisels sê vir ons om te onthou dat mense ook maar van korte duur is. Moenie toelaat dat mense jou gemoedstoestand bepaal nie. Vul jou gemoed met die Woord van God en jy sal die regte uitkyk op die lewe hê. Die Woord van God maak jou sterk. Dit bevry jou van onsekerheid en vreesagtigheid. Jy leer om die dinge wat om jou gebeur in die regte perspektief te sien. Jy leer wat is regtig waardevol.

Lukas 21:29,30: Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop (bot), weet julle vanself dat die somer al naby is.

Jesus het hierdie beeld gebruik om ons te leer dat ons aan die tekens van die tye sal kan sien dat die einde naby is. Oorloë en siektes en rampe is vir ons die tekens dat ons, ons moet gereedmaak vir die wederkoms van Jesus.

As ons hierdie jaar die bloeisels aan die bome sien, laat ons, ons afvra: Kom Jesus nie hierdie jaar saam met die somer nie? Bring jou lewe in orde om God te ontmoet. Dit is nou die regte tyd. Dit is nou God se lentetyd. Moenie dat hierdie goeie tyd vir jou verbygaan nie.

Matteus 6:28: Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.  As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?

Almal moet erken: Elkeen van die miljoene lenteblommetjies is ’n kunswerk van God. Elkeen is ’n wonderwerk. Mense kan dit nie nadoen nie. As God soveel ag gee op elkeen van die lenteblommetjies, wat maar net vir ’n paar weke bloei, hoeveel te meer sal Hy nie op jou ag gee nie – so sê Jesus.

Pluk een van daardie bloeisels in jou tuin en luister wat hy vir jou sê. Ek dink hy wil vir jou in die oor fluister: “Moet jou nie so bekommer oor baie dinge nie. Die God wat my gemaak het, is ook die God wat jou gemaak het. Die God wat vir my sorg is ook die God wat vir jou sorg.”

Kom ons neem elkeen ons plekkie op God se aarde in met vrolikheid en kleur en entoesiasme, net soos die bloeisels wat ons in hierdie dae oral om ons sien. Elkeen van ons is vir God belangrik. Elkeen van ons het ’n boodskap om te verkondig. Vertel van die boodskap wat God ons wil oordra uit die bloeisels in die natuur.

Dankie vir almal se samewerking. Dit is tot eer van die Here.

Ds Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui