Kyk ook:
*******
Dwaalleer aan fakulteite is bog, sê oud en jonk | Kerkbode
Kerkbode
24 Junie 2005
PRETORIA. – Bewerings van dwaalleer en teologiese liberalisme aan die teologiese fakulteite by die drie Afrikaanse universiteite waar NG predikante opgelei word, is onsin, het die kerk se leiers gesê.
Die kuratoria van die NG Kerk by die fakulteite te Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein het hulle volle vertroue en waardering vir die dosente aan die land se teologiese fakulteite uitgespreek. ’n Groep teologiestudente van Pretoria het hulle ook van die bewerings gedistansieer waarin ’n groepie NG teoloë sterk te velde getrek het teen sekere teologiese rigtings aan die teologiese fakulteite.
Op Stellenbosch het die NG teoloë aan die teologiese fakulteit hulle in ’n belydenis opnuut verbind aan die sentrale leerstellings van die Christelike geloof, die werklikheid van Christus se opstanding, Skrifgesag en die kerk se belydenisskrifte asook die Belydenis van Belhar.
’n Klein groepie NG predikante het onlangs kaalvuis onder die kerk se dosente ingeklim en hulle ernstig verdag gemaak met beskuldigings van teologiese liberalisme en dwaling.
Die kuratoria van die drie fakulteite, het gesê as daar grondige bedenkinge oor die teologiese suiwerheid van enige dosent of kuratoriumlid bestaan, staan dit enige lidmaat of predikant van die kerk vry om ’n goed gemotiveerde klag by die betrokke toesighoudende liggaam in te dien.
Die ses teoloë wat die verklaring onderteken het, is drr Coenie Burger en MDJ Smith namens die Kuratorium Stellenbosch, drr Kobus Gerber en Flip du Toit namens die Kuratorium Pretoria en drr GPV le Roux en RR Botha namens die Kuratorium Bloemfontein. Hulle sê wilde bewerings is ’n on-Bybelse manier van doen.
Die NG teoloë van Stellenbosch sê in hulle “belydenis” die spanning tussen teologie-as-wetenskap en teologie-as-geloof is niks nuuts nie. Dit is belangrik vir die wetenskaplike navorsing oor die Skrif en die leef van die waarhede daarvan. Sulke spanning is volgens hulle gesond en onontbeerlik vir ’n kerk wat bely dat dit ecclesia semper reformanda is, kerk-in-voortdurende-hervorming.
Vyf derde- en vierdejaar teologiese studente aan die Universiteit van Pretoria, Cobus van Wyngaard, Maartje Potgieter, Tiaan van Niekerk, Jo-Mari Schäder en Pieter Visser ontken in ’n brief aan Kerkbode ook bewerings van dwaalleer aan dié universiteit. “Dit is ons wat in die klasse sit en dus die sogenaamde ‘dwalings’ aanhoor, maar ons wil graag sê dat dit glad nie die geval is nie.”
– jean@tydskrifte.co.za