Düring Cornelius skryf: AS-leierskap by kruispad

Dit is interessant dat Düring Cornelius hieronder beweer dat die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk by ’n kruispad is. Die teendeel is waar: Die Kairos Netwerk het reeds hulle saak aan die Algemene Sinodale Moderamen gestel en dit het op dowe ore geval. Die bal is in werklikheid tans nou in die behoudendes se baan.

*******

Düring Cornelius skryf: AS-leierskap by kruispad | Kerkbode

Kerkbode

17 Oktober 2022

Düring Cornelius van Kalkrand skryf: In sy uitwysing van die leierskap van die Algemene Sinode (AS) se verknegting aan die ideologie van sosiale geregtigheid, bring Dawie de Wet van Willowmore die AS en sy leierskap by ’n kruispad in sy skrywe van 10 Oktober. Ook die Namibiese Sinode se ernstige oproep tot bekering en sondebelydenis, om teen November 2022 gedoen te wees, lê steeds sonder sigbare vrug op die AS-leierskap se tafel.

Die AS-leiers sal, na luid van 2 Timoteus 3:16, onverdund moet kies om helder en duidelik in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en die regte lewenswyse te kweek – ooreenkomstig die Woord en ons belydenisskrifte. Soos die Namibiese Sinode in hulle voorlegging aan die AS uitgewys het, asook in ds De Wet se verwysings na AS-besluite die afgelope 20 jaar, faal die AS in al vier hierdie vereistes wat 2 Timoteus 3:16 stel.

Die AS se kruispad is eenvoudig: Terug na die Woord en belydenisskrifte van die Reformasie die afgelope 500 jaar, of versand geleidelik in die uitsiglose put van ontnugterende ideologiese strooihalms wat uit die mens, vir die mens geskep is.

Dit gaan mannemoed van die AS en sy leiers vra: Dit sal beteken dat bande gebreek moet word met die huidige teologiese instellings wat draers van die ideologie van sosiale geregtigheid geword het en volgens hulle eie verklarings nie meer die belydenisskrifte as vertrekpunt in die opleiding van voornemende leraars bied nie.

Dit sal ook vra dat Bybelse moraliteit as enigste bevrydende waarheid vir die sekulêrverworde mensdom in sy verwarring weer helder en sonder skroom aangebied word; hierby dus ook die afstof en aanmoediging tot selibaatskap as Bybelse antwoord aan sekere ongetroudes en diegene met SGV-oriëntasie. Die Skrif is tog duidelik oor die unieke roeping wat ongetroudes in die kerk van Jesus Christus het (1 Kor 7:32-33); dat die Here aan ongetroudes wat in toewyding aan Hom leef, seëninge beloof wat groter is as die seëninge van die huwelik en kinders (Jes 56:5); dat om ongetroud te wees ’n genadegawe is wat die Here skenk aan diegene wat Hy daarvoor uitgekies het (Matt 19:12).

Slegs in verkondiging van die evangelie in volle ooreenstemming met die Woord, is ware bevryding, vaste hoop en verlossing te vind wat vooruit reeds geanker is in die vaste sekerheid van ons ewige verlossing in Christus. ’n Vertroebelde evangelie met klein letters, toegerank deur verganklike ideologieë vanuit die mens en vir die mens, se rakleeftyd eindig by die graf van die aanhanger daarvan. Dit dra geen boodskap van hoop, ware verlossing en blye vooruitsig op nuwe lewe saam met Christus wat strek tot in ewigheid nie.

Ons bid ernstig vir die AS-leierskap. Die uurglas loop uit.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui