Is ‘n video-opname van ‘n erediens steeds kerk, vra Doppers

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Is ‘n video-opname van ‘n erediens steeds kerk, vra Doppers | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 5 Februarie 2023

Is ’n video-opname van ’n erediens ’n waardige plaasvervanger vir die ware Jakob? En kan ’n lidmaat werklik die seën van die Here ontvang deur net daarna te kyk?

Dít is van die vrae waarmee die algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika die afgelope week gestoei het. Die sinode het Donderdagaand ná ’n hewige debat oor die kwessie besluit om dit na ’n taakspan vir ondersoek te verwys.

Hulle hoop om oor sowat drie jaar uitsluitsel oor die saak te kry.

Verskeie predikante, onder wie ds. Piet Venter, voorsitter van die algemene sinode se 2023-vergadering, het aangevoer dat die kwessie glad nie op hul tafel moes beland het nie omdat gemeentes self oor die saak moes besluit het.

Die streeksinode in Pretoria het in ’n adviesvraag oor uitsaai-eredienste ’n meerderheids- en minderheidsverslag na die algemene sinode verwys.

Volgens die meerderheidsverslag kan ’n byeenkoms slegs as ’n erediens gereken word wanneer gelowiges “liggaamlik teenwoordig is” en “mekaar bind in die onderlinge bemoediging en vermaning” “op grond van die offerbloed van Jesus Christus”.

Ingevolge die minderheidsverslag is dit wel ’n erediens as die gemeente nie fisiek kan saamkom nie “mits dit deur buitengewone noodomstandighede genoodsaak word”.

“Sulke noodomstandighede mag byvoorbeeld oorlog, rampe of peste wees. In hierdie gevalle oordeel die kerkraad of dit noodsaaklik en die beste wyse is,” lui die verslag.

Venter het gesê hy gaan dit nie as voorsitter sê nie, maar sy eerlike gevoel is dat dit ’n saak is vir elke gemeente en nie ’n saak vir die algemene sinode nie.

Ds. Wim Vergeer van die Krugersdorp-gemeente het gesê in die tyd van Paulus was die skryfkuns die jongste tegnologie en een uit 2 000 mense kon lees en skryf.

“Paulus kon nie by almal uitkom nie. Nou stuur jy briewe. En jy sê die briewe moet in die gemeente voorgelees word. Die brief begin met die uitspreek van die seën en eindig daarmee.

“Die feit dat Paulus nie self daar is as die brief voorgelees word nie, beteken dit nou die gemeente is nie geseën nie?

“Vandag het ons nuwe tegnologie. So dink maar wat die implikasie daarvan is.”

Vergeer het gewaarsku die kwessie laat hom dink aan die jare lange stryd in die kerk oor die rol van die vrou in die amp.

“Ek kry so ’n gevoel van déjà vu, want die vrouedebat het so begin toe ons gesê het ons moet uit die Skrif uit duidelike uitsprake vind dat die vrou nie in die amp mag dien nie terwyl daar geen Skrifgedeelte is wat direk daaroor praat nie.

“Ek kan u nou waarborg, as studiedeputate aangewys word gaan hulle oor twee of drie jaar terugkom met twee of drie meerderheids- en minderheidsrapporte oor die saak.

“En dan wys hulle ’n adviseur aan wat in die sinode gaan opstaan en sê julle moet oor die rapporte stem, want dit raak leerdiens en tug. En ons gaan weer verdeeldheid van vooraf hê. Kom ons los hierdie saak vir die vryheid van kerke.”

’n Kollega het nie saamgestem nie.

“Ek en my vrou het tydens die Covid-19-pandemie rustig en veilig kerk by die huis geluister, maar ná ’n jaar het die werklikheid tot ons deurgedring dat jy nie regtig voor die aangesig van die Here is nie.”

Hy sê hierdie ervaring het hom laat besef jy moet persoonlik ’n erediens bywoon wanneer die Here se seën uitgespreek word.

“As jy nie die streep trek nie . . . dan maak jy die deur oop vir mense wat by hul huise sit en nagmaal hou terwyl die nagmaaldiens (by die kerk) gehou word.”

Hy sê die ouderlinge kan verder nie toesig hou oor lidmate wat nie eredienste fisiek bywoon nie.

“As jy hulle nie by die kerkgebou sien nie ten opsigte van erediensbywoning nie dan weet jy nie wat hulle doen nie. So ons beweeg op ’n gevaarlike terrein oor die toepassing van die tug as ons sê jy kan maar by die huis op YouTube na eredienste kyk.”

Ds. Jan-Louis Lee van die Brits-gemeente het gesê die bespreking moet teruggevat word na Maart 2020 toe die staat van inperking die land getref het.

“Ons is oornag gekonfronteer deur die saak. Wat is die erediens, hoe is die erediens en hoe kom ons bymekaar? Dit is ’n ding wat nie net in ons kerkverband gebeur het nie, maar kerke oor die wêreld heen getref het.

“Ek dink dit is daarom ’n saak wat tuishoort op die algemene sinode se tafel. Ons moet meerdere advies kry oor hoe dit ons raak en daaroor praat. Dit is ’n saak waaroor daar groot verdeling kan ontstaan as dit nie aandag kry nie.”

Kommentaar

In ‘Dís hoe Dopperkerke ’n verskil maak en wil maak’ (6 Jan 2023) is baie pertinent gesê dat die “plaaslike kerk” (gemeente) in die Gereformeerde Kerk volledig kerk is. Ek dink ds Piet Venter en al die ander predikante wat gesê het dat gemeentes self oor die saak moes besluit het, is reg. Dit is darem werklik waar nie ‘n punt waaroor die algemene sinode moet besluit indien die plaaslike gemeente volledig kerk is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui