Dit is antisemitiese haatspraak

*******

Dit is antisemitiese haatspraak | Netwerk24

Kobus De La Porte, Kaapstad

24 November 2023

Prof. Anton van Niekerk (22.11) verkondig die volgende narratief: “Benjamin Netanyahu het dit verklaar as ’n stryd tot die dood toe; geen ander uitkoms as die totale uitwissing van die Palestynse volk sal Israel tevrede stel nie.”

Wanneer, waar en in watter hoedanigheid het Netanyahu bogenoemde stelling gemaak rakende die “totale uitwissing van die Palestynse volk”? Die demokraties verkose regering in Israel het dit baie duidelik gemaak dat die opdrag en mandaat aan die weermag is om Hamas as terreurgroep in Gasa te verwoes en nie die totale uitwissing van die Palestynse volk, soos Van Niekerk verkondig nie.

Wie is die Palestynse volk waarna Van Niekerk verwys? Sluit dit die amper 1,9 miljoen Palestyne in wat volle stemreg en verteenwoordiging in die knesset het? Wie is die Israel waarna Van Niekerk verwys wat geen ander uitkoms as totale uitwissing van die Palestynse volk sal aanvaar nie?

Van Niekerk se siening dat Israel as internasionaal erkende staat en die Israelse regering as ’n demokratiese verkose regering daarop uit is om die totale Palestynse bevolking uit te wis, is niks anders nie as naakte antisemitiese haatspraak en brandstof op ’n reeds brandende vuur.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui