Briewe in media oor Trojaanse Perd

Kyk ook:

Ek wonder of Ernst en Gerber die regte boek oor Bybel lees

deur Dr. Henrietta Klaasing van Groblersdal skryf

2010-12-13 23:38

http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/Ek-wonder-of-Ernst-en-Gerber-die-regte-boek-oor-Bybel-lees-20101213

Neels Jackson se berig “Boek ‘kwaadwillig’ wat NG Kerk kap oor Bybel” (Beeld, 11 Desember) het betrekking.

’n Mens wonder of dr. Johann Ernst, vir wie Jackson uitvoerig geleentheid gee om sy mening te lug, ooit die “regte” boek gelees het aangesien dit tot ons ore (en oë) gekom het dat daar ’n roofkopie in omloop is.

Baie belangrike dele ontbreek in dié onvolledige, onafgewerkte werkdokument uit ’n vroeë stadium, onder meer die agtergrond, voorwoord en rasionaal van die boek (lees verder op www.glodiebybel.co.za) en mense buite die kerk se aanbevelings op die agterblad van die boek.

Uit die egte kopie sal dit duidelik word dat die skrywer se bedoeling allesbehalwe kwaadwillig is.

Daar word in die berig ook oormatig klem gelê op slegs een van die hoofstukke, naamlik die een oor evolusie, en wel uit ’n neerhalende oogpunt.

Op die genoemde webwerf word ’n uiteensetting van ander hoofstukke en ’n kort opsomming van elk gegee.

Een van die belangrikste hoofstukke in die boek is myns insiens die hoofstuk oor die ongelyke speelveld waar aangetoon word dat joernaliste, redakteurs en moderators van webwerwe die invalshoek bepaal en ook op ander maniere bewimpel wie gehoor en wie nie gehoor word nie.

Die feit dat drr. Gerber en Ernst albei wal gooi, bewys juis hoe nodig die boek is.

’n Mens sou ten minste verwag dat hulle fyner en met meer simpatie sal luister in hierdie “seisoen van luister” na wat lidmate sê.

Die lidmate ís immers die kerk – dáárdie deel van die kerk wie se getroue bydraes amptenare se salarisse betaal.

Ds. Gideon Aggenbag (Emeritus) – nie geplaas nie

2010-12-14

Geagte Redakteur,

Ek reageer graag op sekere aspekte van u berig “Boek ‘kwaadwillig’ wat NGK kap oor Bybel” in Beeld van Saterdag, 11/12/2010.

Dr. Gerber meen: “…as die skrywers van die boek regtig ’n punt wou maak, moet hulle die kerklike pad stap deur beswaarskrifte in te dien teen besluite waarvan hulle verskil.” Dr. Gerber, sover my kennis strek, het as parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk by die parlement aanbeveel dat gay huwelike gewettig word. Die Bybel verbied enige vorm van homoseks. Watter impak sou so ’n beswaarskrif hê? Hoeveel lidmate sou daarvan kennis dra? Die bekende dr. Willie Marais se baie geldige beswaarskrif van 40 bladsye aan die Algemene Sinode van 2002 het tot niks gekom nie. Hoeveel sou ’n eensame stem roepende in die woestyn, uitrig? Die Algemene Sinode het reeds ’n koers ingeslaan en daarby gebly.

Dr. Gerber praat maklik van “ ’n kwaadwillige stofopskoppery”. Hierdie opmerking van hom het talle gebreke. Eerstens vergeet hy dat die NG Kerk homself beskryf as in ’n “seisoen van luister”. Tweedens veralgemeen hy kwaadwilliglik sonder om een enkele voorbeeld van kwaadwilligheid uit te wys – eenvoudig omdat daar niks in daardie trant in die betrokke boek is nie. Derdens laat hy blyk dat hy gladnie die boek gelees het nie, of dat hy moontlik ’n onwettige roofkopie besit. Sy opmerking is oneties en pas nie by ’n persoon in sy amp nie.

Ja, dr. Gerber is reg: “Die NG Kerk het duidelike standpunte oor hoe hy die Bybel verstaan en oor die verhouding tussen die Bybel en wetenskap.” Hy was een van die moderatuur van die Algemene Sinode wat op hulle sitting van 23-24 Junie 2009 amptelik besluit het (in duidelik-evolusionistiese taal), o.a. “…die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer,…” Hoe verstaan mens dat God geskep het bloot deur wetmatighede hulle gang te laat gaan? Hierdie is tog ’n duidelike standpunt: Daar was geen wonderbaarlike, Goddelike skepping soos die Bybel dit beskryf nie. Dit was dus slegs wetmatighede wat gefunksioneer het. En dan het hulle bygevoeg: “…veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.”

Die berig hieroor in die Kerkbode net daarna het duidelik uitgespel dat met “wetenskap” die evolusiehipotese bedoel word. Die Bybel moet dus aangepas word by, en gelees word in die lig van, die evolusiehipotese wat voorgehou word as ’n wetenskap.

“Dr. Johann Ernst, aktuarius van die algemene sinode, sê die skrywers maak baie veralgemenings, onder meer in hul titel wat verwys na ’n Trojaanse perd in die kerk.” Bid jou aan: Die titel van ’n boek is nou ’n “veralgemening” – nie meer net ’n aanduiding van waaroor die boek gaan nie!? Van die “baie veralgemenings” kon hy nie één uitwys nie. Ook dít beskou ek as kwaadwillig en oneties. Die vraag kom by my op of hierdie twee doktore hoegenaamd die boek (of miskien ’n verouderde roofkopie?) onder oë gehad het, maar matig hulleself aan om slim-klinkende uitsprake daaroor te maak. Is dít hoe die “seisoen van luister” daar uitsien?? Hulle het blykbaar geen erg daaraan dat daar lidmate is wat erg bekommerd is oor die rigting wat ingeslaan word deur die Kerk waarin hulle grootgeword het en liefhet nie. Is húlle miskien die verraaiers wat dr. Ernst in gedagte het?

As die NG Kerk (volgens dr. Ernst) dan so “deeglik bewus [is] van die gevare van liberalisme…”, waarom doen die Kerk dan niks daaraan nie? Hoe kan ’n Kerk wat bewus is van die gevare, dan al só ver gevorder het op daardie pad? Hoe kan ’n Kerk wat reeds ver van die standpunte van die formuliere van enigheid afgewyk het, homself hoegenaamd nog ’n “kerk” noem?

Dr. Ernst wil verraaiers uitwys, maar het nie nou tyd daarvoor nie. Watter verraaiers het hy in gedagte in die konteks van die boek onder bespreking? Die skrywers of liberale teoloë wat dwaalleringe verkondig? Of wil hy die fluitjieblasers wat wil waarsku en terugroep, as verraaiers brandmerk?

“Ernst sê die NG Kerk fokus nou op ander en belangriker dinge. …Die skrywers bly egter besig met leerkwessies.” Ja, o.a. dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, dat Hy die hemel en aarde met Sy Goddelike krag wonderbaarlik geskep het en dat die Bybel glashelder is oor sonde en wat sonde is. Wat anders moet op gefokus word wanneer “leerkwessies” bestaan waardeur die gesag van God se Woord afgebreek word?

Sou dit te veel gevra wees dat hierdie twee doktore op hierdie vrae antwoord sonder vae, ongegronde stellings? My vorige vrae en ondervinding het my reeds geleer dat só ’n hoop ’n ydele hoop is.

Seisoen van luister of ontkenning? / Waterskeiding vir toekoms van NGK

2011-02-14

Dr.T.C.Breitenbach

Daar bestaan rede om te vermoed dat vanjaar se algemene sinodesitting van die NG Kerk, 10-14 Oktober, ’n deurslaggewende waterskeidingsitting vir dié kerk se toekoms gaan wees. By die lees van die onlangs verskene boek, “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme”, móét daar tot dié gevolgtrekking gekom word.

In hierdie boek, geskryf deur sewe besorgde leraars en lidmate, lees ons van die radikale ommekeer in NG Kerkdenke aangaande Bybelgefundeerde aangeleenthede soos, byvoorbeeld, die nuutste postmodernistiese Skrifbeskouing en -interpretasies wat besluitnemend-ingrypende gevolge het vir, onder meer, die outentisiteit van die Bybel self, homoseksualiteit, die huwelik en saamwoon, asook die evolusieleer.

Dat daar tans ’n verdeeldheid in kerkleiergeledere hieromtrent bestaan, ly geen twyfel nie. Die gemelde boek verwys na die een groepering as postmoderne “liberales”, terwyl laasgenoemde na die ander groepering as “fundamentaliste” verwys.

Benewens ander aangeleenthede waaromtrent die sinode sy huis in orde moet bring, is die sentrale plek en rol van die Bybel asook die opleiding van predikante, twee lewensbelangrike sake.

Met sy aanvaarding van die verslag oor die gesag van die Bybel het die 2002-algemene sinode sy vroeëre Skrifbeskouing amptelik omgekeer. Volgens die navorsingsbevindinge van prof. Rudolf Britz, kom dié klemverskuiwing al sedert 1970 met die postmodernistiese teologie as oorsprong. Die Bybel is nié meer God se woorde óór en vír die mens nie, maar “mensewoorde oor God”. Só verdwyn die Heilige Gees as inspireerder van die Woord terwyl Jesus se maagdelike geboorte, kruisdood, opstanding, hemelvaart, wederkoms en Sy Godheid geloën word. Dit het ingrypende implikasies vir predikante-opleiding, want “dosente-teologie” word “predikante-teologie”, en kerke beweeg waarheen teologiese skole hulle lei.

‘n Vraag aan die NG Kerk is dus: Bevind hy hom in ’n “seisoen van luister”, of ’n “seisoen van ontkenning”?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui