Boek ‘kwaadwillig’ wat NGK kap oor Bybel (Neels Jackson in Beeld)

Gekopieer vanaf Beeld. Lees ook die kommentaar onderaan die berig.

**************

Boek ‘kwaadwillig’ wat NGK kap oor Bybel

2010-12-10 22:10

Neels Jackson

“’n Kwaadwillige stofopskoppery.”

Dis hoe dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, ’n nuwe boek bestempel wat onder teoloë van die NG Kerk inklim en wat meen die kerk is op ’n dwaalspoor met die manier waarop hy die Bybel hanteer.

Die boek – Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, die kanker van evolusie en liberalisme – is geskryf deur ’n groep lidmate en predikante.

Onder hulle tel dr. Hennie Mouton, ingenieur van Centurion, wat bekend is om sy kreasionistiese standpunte.

Mouton sê hulle wil met die boek die kerk “laat terugkeer na die waarheid van die Bybel”.

Wat hom betref is die waarheid onder meer dat die skeppingsverhale in Genesis letterlike geskiedenis is.

Die boek beveel aan dat ’n gemeente wat ’n predikant wil beroep, onder meer vir daardie predikant vra of hy glo dat God die wêreld in 4004 v.C. in ses dae van 24 uur geskape het.

As die dominee “ja” sê, is die kans goed dat sy gesindheid oor die res van die Bybel ook “reg” is.

Gerber sê as die skrywers van die boek regtig ’n punt wou maak, moet hulle die kerklike pad stap deur beswaarskrifte in te dien teen besluite waarvan hulle verskil.

Die NG Kerk het duidelike standpunte oor hoe hy die Bybel verstaan en oor die verhouding tussen die Bybel en wetenskap.

Dr. Johann Ernst, aktuarius van die algemene sinode, sê die skrywers maak baie veralgemenings, onder meer in hul titel wat verwys na ’n Trojaanse perd in die kerk.

In die verhaal oor die Trojaanse perd het dit gegaan oor ’n gevaar waarvan die stad nie bewus was nie. Die NG Kerk is egter deeglik bewus van die gevare van liberalisme en van fundamentalisme in die kerk.

Ernst sê die NG Kerk fokus nou op ander en belangriker dinge. Die skrywers van die boek is volgens hom soos mense “wat ’n fort wil bou terwyl ons almal op ’n skip is”.

Hy meen dis nie nou die tyd om verraaiers uit te wys nie, maar om dit wat vir jou heilig is uit te lééf.

Die skrywers bly egter besig met leerkwessies.

Kommentaar:

Daniel Louw (medeskrywer van boek)
2010-12-11

Die reaksie van Kobus Gerber is ’n bewys juis dat hierdie boek baie nodig is. Hy sê dat die skrywers die kerklike pad moet stap deur beswaarskrifte in te dien teen besluite waarvan hulle verskil. Sou dit help? Sou die beswaarskrifte nie net op ’n hoop ander papiere opeindig nie? En om hierdie kwessie by sinodes en ringe op te bring sonder dat mense die volle prentjie het, sou ook nie gewerk het nie. Dit is daarom dat hierdie boek nodig is. Ons hoop dat hierdie boek lidmate van die NG Kerk sal inlig sodat hulle die erns van die saak sal besef en ingeligte besluite sal neem.

Alhoewel alles wat Neels Jackson skryf waar is, fokus hy baie sterk op wat in die boek geskryf is oor evolusie:

  • Hy noem slegs Hennie Mouton as skrywer en noem weer dat Hennie aan ’n 6-dag skepping glo.
  • Alhoewel evolusie in die boek bespreek word, is dit slegs een hoofstuk van die boek. Neels Jackson noem glad nie dat die boek ook homoseksualiteit, saamwoon, skrifbeskouing, Jesus se opstanding, ens bespreek nie.
  • Interessant dat hy slegs na een vraag in Bylaag D verwys, terwyl die res van die voorgestelde vrae niks met Genesis 1-11 te doen het nie.

Dit laat my wonder of hierdie strategie van Jackson nie is om die boek te diskrediteer nie. Hierdie is definitief nie objektiewe joernalistiek nie en dus is ons reg in die boek dat daar ’n “ongelyke speelveld” is.

Lees maar self die boek en besluit of Neels Jackson, Kobus Gerber en Jean Oosthuizen (in kletskerk) reg is. Ons hoop dat mense die boek sal lees en sal besef dat hierdie mense se reaksie bewys dat dit nodig was om so ’n boek te skryf.

Henrietta Klaasing (Hoofskrywer van boek)
2010-12-11

‘n Mens wonder of Dr. Johan Ernst vir wie Jackson uitvoerig geleentheid gee om sy mening te lug, ooit die “regte” boek gelees het? Een van die belangrikste hoofstukke in die boek, myns insiens, gaan juis soos Daniel ook aantoon, oor die ongelyke speelveld: dat joernaliste, redakteurs en moderators van webwerwe die invalshoek bepaal en ook op ander maniere bewimpel wie gehoor en wie nie gehoor word nie.

Baie belangrike dele ontbreek in die roof-kopie, onder andere die agtergrond, voorwoord en rasionaal agter die boek (lees verder op hierdie webblad self ’n klein deel daaroor) en mense buite die kerk se aanbevelings op die agterblad van die boek.

Hennie Mouton (Hoofskrywer van boek)
2010-12-11

Dr. Johann Ernst laat op verskeie maniere blyk dat hy uiters onwaarskynlik die boek gelees het, of selfs net behoorlik na die skrywes daaroor gekyk het:

  1. Hy noem die “Trojaanse Perd” in die titel ’n veralgemening, maar die subtitel “evolusie en liberalisme” wat dit definieer, sien hy in hierdie veralgemeende stelling van hom nie raak nie. Hoe kan hy in elk geval praat van veralgemenings in die boek, terwyl die boek vol spesifieke voorbeelde met verwysings is? Wie is dus eintlik besig om te veralgemeen?
  2. As die Kerk deeglik bewus is van die gevare van liberalisme, waarom doen hulle niks sover enigeen kan agterkom, aan die talle voorbeelde wat in die boek gelys word nie? Of as die kerk dit wel doen, het die manne soos Julian Müller, Ben du Toit, Jean Oosthuizen en vele ander, dit al ooit self agtergekom?
  3. Die feit dat Johann Ernst die woord “evolusie” doelbewus met “fundamentalisme” vervang, is baie skerp, maar wys weereens dat hy ook hierdie aspek van die gevaar van evolusie nie begryp nie.
  4. Die boek praat nêrens van verraaiers nie – ’n dwaalleraar en ’n verraaier is nie naastenby dieselfde nie.

Wanneer sou leerkwessies belangrik genoeg wees om ook aandag te kry? As Genesis as mitologie gesien word? As daar beweer word dat daar nêrens in die Ou Testament na Jesus verwys word nie? As gesê word dat Jesus se dood maar beskou word as ’n “nobody” wat onder “nobodies” begrawe is? As Jesus se liggaamlike opstanding verwerp word? As dit verwerp word dat Jesus eendag weer sal kom om te oordeel? Onbelangrike leerkwessies? Allesbehalwe.

Daar is waarskynlik 2 moontlikhede:

  1. Die NG Kerk weet nie van hierdie dinge in sy midde nie, en tree daarom nie op nie; of erger nog
  2. Hulle weet daarvan, maar laat dit toe.

Ek hoop van harte dat eersgenoemde die geval is en dat die NG Kerkleiding sal uitleef wat in die Bybel staan en dienooreenkomstig sal optree.

Danie Strydom
2010-12-12

“ ʼn Kwaadwillige stofopskoppery.” Kan jy nou meer! Weereens tipiese joernalistiek van Neels Jackson!

Die beswaar is al tot vervelens toe geopper vir Dr. Gerber se inligting maar hulle weier om notisie te neem! Dr. Johann Ernst is reg, dit het gegaan oor ’n gevaar waarvan die stad nie bewus was nie in die verhaal oor die Trojaanse perd. Dit lyk vir my maar baie simbolies van ons status quo!

Die manne wat moet waarsku sit met ’n mond vol tande en grom vir die wat sien wat aangaan en beswaar aanteken. Sonder gesonde leer het jy nie gesonde praktyk nie.

Anna Louw
2010-12-13

Die kerk is die Liggaam van Christus waarvan Hy die Hoof is. Lidmate is deel hiervan ongeag hoe gering die liggaamsdeel & beskeie die funksie is.

1 Tim 3:15 “…sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God.Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.”

Die Lidmaat se verantwoordelikheid is eerstens voor God.

In die lig hiervan, is die reaksie van drrs Gerber en Ernst in die Beeld (11/12/2010) uiters terleurstellend. Eerder as die neerbuigende trant, sou mens in alle bilikheid verwag dat hul liewer eers sou lees en luister wat besorgde lidmate op die hart het. Is die Seisoen van Luister verstreke?

Sien en hoor kerkleiers nie die gevaarligte flikker nie? Duisende lidmate verlaat die kerk en om nie eers van die beeld van die NKG te praat nie!

Lidmate is mondig en kan vir hulself kan dink en doen. Intimidasie gaan regtig nie werk nie. Soos die gemeente van Berea in Handelinge moet die Skrif met “Paulus” kontroleer word.

Die Gereformeerde struktuur werk van onder na bo nie andersom nie.

Hoe kan die weg van beswaarskrifte werk as byeenkomste van kerkleiers in 2002 in Bloemfontein, 2004 te Witfield en Stellenbosch en die EI in 2007 geen hond kon haaraf maak met dwaalleer nie?

Nou word verwag dat lidmate na dié leiers moet gaan??? Dis ’n vertrouenskrisis wat beleef word!

Mens wonder wat was die basis vir hierdie berig – die relevante gedrukte weergawe van die Trojaanse Perd of die onwettige roofkopie wat in omloop is veral onder predikante en teoloë e.a kerklike oorde. Onthou “Jy mag nie steel nie”!

Interessant dat drrs Gerber en Ernst nie na die agterblad kommentaar van ’n teoloog verwys op die gedrukte kopie nie. Hierdie berig is weereens ’n sprekende bewys van die “Ongelyke Speelveld” waarin lidmate hul grotendeels bevind tov kerksake – joernalistiek.

As al die feite objektief gemeld was met die relevante kopie, sou ’n baie duideliker prentjie met sinvolle perspektief gevorm kon word.

Dis ’n geval van mediavryheid (eksklusief vir die pers) versus vryheid van spraak vir die gewone lidmaat. As persvryheid beskerm moet word, moet die pers eers sy eie huis in orde kry met ondersoekende joernalistiek op voetsoolvlak eerder as om polities korrek te wees met ’n verskuilde agenda. Anders is spraakvryheid ’n mite. Danksy die tegnologie kan bg probleme baie effektief uitgekanselleer word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui