Boek oor opstanding maak opslae

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn.

Kyk ook onderaan die artikel vir kommentaar.

*************

Boek oor opstanding maak opslae

1 November 2011, Kerkbode

WELLINGTON. – ’n Vuurwarm debat het op die sosiale netwerk Facebook ontstaan oor ’n boek wat ’n voormalige teologiestudent, mnr Ferdie Mulder, geskryf het. Mulder se boek, Opgestaan, handel oor klagtes van dwaalleer wat hy in 2005 teen drie van sy dosente aan die Universiteit Pretoria (UP) aanhangig gemaak het en uiteindelik tot sy skorsing uit die universiteit gelei het.

Mnr Mulder is lewenslank deur die UP geskors. Hy is tydens ’n tugondersoek onder leiding van ’n oudregter onder meer skuldig bevind aan valse bewerings teenoor sy dosente. Hy het intussen ook uit die NG Kerk bedank en woon tans in Engeland. Die drie dosente aan die Fakulteit Teologie aan die UP teen wie Mulder die klagtes van dwaalleer ingedien het, is in drie afsonderlike ondersoeke almal onskuldig bevind op al die klagtes. Hulle is proff Julian Müller, Jurie le Roux en Dirk Human.

Volgens Mulder het hy die boek geskryf “nie om teen mense nie, maar teen ’n teologiese stroming wat hom erg bekommer” beswaar te maak.

Ds Jaco Thom van die Toringkerk in die Paarl het die voorwoord in Mulder se boek geskryf waarin hy die boek sterk aanbeveel. Ds Thom het ook op Facebook vir mnr Mulder in die bres getree toe hy onder skerp kritiek deurgeloop het oor sy boek. In sy voorwoord tot Mulder se boek skryf ds Thom: “As Luther bykans vyf eeue gelede gesê het: ‘Hier staan ek, ek kan nie anders nie’, is dit een ding, maar as ’n teologiestudent vandag nog genoop voel om dit te doen, móét die gevaarligte helder brand.”

Neels Jackson, wat destyds vir Beeld verslag gedoen het oor die sage, wou op Facebook weet hoeveel van die inhoud in Mulder se boek kan ’n mens glo in die lig van die feit dat hy skuldig bevind is aan oneerlikheid. Jackson, wat skerp aangeval is deur Mulder se ondersteuners, sê hy het nie geduld met mense wat aanhou wantroue saai teen mense wie se standpunte deur die kerk ondersoek is en wat onskuldig bevind is nie. “Dit beskou ek as baie onbillik.”

Mulder het verskoning gevra vir die manier waarop sommige van sy ondersteuners teen Jackson uitgevaar het. Hy gee toe hy het groot foute gemaak en sê hy was gewis skuldig aan ’n klomp dinge in 2005 tot 2006. Hy vra in sy boek meer as 22 keer om verskoning daarvoor, maar hou vol dat sy oorspronklike klagtes geregverdig was.

Een van die dosente wat deur Mulder van dwaalleer aangekla is, prof Jurie le Roux, word in die boek soos volg aangehaal: “Ek was nog nooit so teleurgesteld en ontnugter in iemand soos in mnr Mulder nie. Hy het my goedheid vir eie gewin misbruik. Hy was dus nooit eg in sy verhouding met my nie. Hy was nooit eerlik nie en het nooit reguit gesê dat hy inligting vir ’n klag bymekaarmaak nie. Al die gesprekke, vrae en telefoonoproepe was dus nooit opreg bedoel nie.”

Dr Gerhard Bothma van die NG Gemeente Bendorpark in Polokwane het op Mulder se Facebookblad geskryf dit is jammer dat hierdie boek mense in kampe teen mekaar begin opstel. “Dit is nie bevorderlik vir die koninkryk, evangelie of kerk nie.” – jean@tydskrifte.co.za

Kommentaar

Opstanding
2011/09/01

Enige een wat die boek behoorlik gelees het en die aanhalings en die sameswerings erken het sal weet dat Ferdi bona fidei opgetree het.
Al weer ’n swak stuk, swart smeerdery joernalistiek. Erg bedenklik. – SHREK

Halwe berig
2011/09/01

Moet ons nou regtig glo dat Mulder wat in bogenoemde 2de laaste paragraaf vir Le Roux aanhaal, geen antwoord in sy boek hierop gegee het nie? Is die rede vir hierdie eensydige artikel die feit dat Jean Oosthuizen self in Mulder se boek aangevat word? – Kosie Kramer

Toets van die tyd
2011/09/02

Baie tyd het verloop sedert Mulder sy besware geopper het teen die teologiese stroming by die Fakulteit Teologie aan die UP. Vandag weet ons dat hy reg was. Die professore se eie penne het dit bewys. Wat Dr Gerhard Bothma se kommentaar betref, iemand moet seker opstaan vir die Woord van die Here as die professore en predikante dit nie doen nie. – Danie Strydom

Waar op FB is dié debat?
2011/09/02

Ek wonder waar op Facebook hierdie sogenaamde “vuurwarm debat” plaasgevind het. Sover my kennis strek, is die boek op heelparty plekke nie net op Facebook nie maar ook op blogs en webwerwe bespreek en is die oorwegende kommentaar mense se dankbaarheid dat meer oor hierdie gebeure uiteindelik op die lappe kom en ook skok om dinge te hoor wat vantevore doodgeswyg is.

In plaas daarvan dat dit neerhalend gemeld word, moet Ferdie ter ere nagegee word dat hy verskoning vra en vergewensgesind is.

Dit is jammer dat in hierdie berig Ferdie Mulder se ware boodskap wat hy oor en oor nie net in die boek nie, maar ook op advertensies oor die boek benadruk, nie hier genoem word nie. Dit is dat die boek nie net ’n uitdaging aan die leser is om sy of haar eie posisie aangaande Jesus se opstanding te heroorweeg nie, maar ook ? aangrypende getuienis van hoe die krag van God, wat Jesus uit die graf opgewek het, vandag nog met ons is om hoop, vergifnis en versoening te bewerk.

Is die skrywer van hierdie berig dalk so negatief ingestel, omdat hy vir ’n verandering aan die ontvangkant van kritiek is?

– Henrietta Klaassing

Ferdi Mulder
2011/09/02

Ek het die boek gelees. Die feite wat Ferdi daarin gee praat hard. Hy skilder op ’n bedaarde en nederige manier ’n baie, baie lelike stuk geskiedenis in die bestaan van die Teologiese Fakulteit Pretoria, die kuratorium en die dosenteraad. Die NG Kerk het rede om hom diep voor die Here te verootmoedig oor dit wat gebeur het by een van sy vernaamste instellings. Die saak sal nie afgehandel wees, voor die kerk amptelik daarvan kennis geneem en restitusie gedoen het vir die gruwelike onreg wat daar plaasgevind het nie. – Jan Louw

Opstanding
2011/09/03

As NGK-lidmaat reageer ek so: Ferdie Mulder se boek is ’n uiting van die rede tot kommer oor die lering van die ‘moderne’ of ‘progressiewe’ teoloee. Die feit dat die skrywer foute gemaak het staan soos ’n paal bo water. Hy erken dit self. Maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat die gemiddelde NGK-lidmaat wat bietjie ingelig is, nie meer die teologie van die kweekskool by Tukkies (en elders?) kan vertrou nie. Modern-opgeleide jong predikante is kennis & akademies-gewys goed onderleg, maar geestelik is hulle meesal van die wa af. Sommige van hulle het nie eens ’n reddende kennis of verhouding met Jesus Christus nie omdat hulle denke so ver-relativeer is dat hulle denkprosesse in sirkels loop. Hulle is bang om as ‘biblisisties’ of ‘fundamentalisties’ of ‘letterlikisties’ gebrandmerk te word. Daarom is hulle neutraal en lou wat die Evangelie betref – en sal hulle in ’n al-louer-wordende NGK al verder in die dwaling weg van die Skrif ingaan in ’n humanistiese en mensgerigte denkwyse.. en uiteindelik uitgespuug word soos Jesus dit stel in Openbaring 3:16. Dit is werklik die geval dat mens deesdae geestelik in vele opsigte veiliger buite die NGK is as wat jy onder die lering van sommige van die moderne dwaalleraars sit en jou gees vergiftig word met relativisme en afbreek van die gesag van die Woord van God. Die kweekskool se gesagshebbers is die basis waarvandaan hierdie beweging gedryf word, omdat dit akademiese onderbou gee aan die dwaling.. Tragies! My hoop is dat boeke soos Ferdie Mulder s’n mense se oee sal oopmaak om die NGK betyds te verlaat, want dit lyk my nie daar is meer veel salf aan te smeer nie.. Gelukkig is daar in die NGK nog duisende en duisende mense wat geestelik ’n reguit pad met die Here loop – ten spyte van die teoloee en predikante, nogal. Die vraag is hoe lank Skrifgetroue mense wat nou nog binne die kerk is, gaan agterkom in watter rigting die kerk beweeg. Wag maar vir die volgende Algemene Sinode in Oktober.. – Somerset Morkel

Gebalanseerde beriggewing?
2011/09/04

Die eerste wat my opgeval het toe ek hierdie berig lees, is die vooroordeel van die verslaggewer, te wete Jean Oosthuizen. Die berig se hele aanslag is negatief teen Ferdie Mulder. Ten minste vyftien maal word hy in ’n negatiewe lig gestel: skuldig bevind, geskors, onbillik, saai wantroue en nooit eg, opreg of eerlik nie, ens.

Daarteenoor is die dosente wat aangeklae is, “onskuldig bevind”! Onskuldig? Moontlik op regstegniese gronde? Maar hoe onskuldig is hulle werklik? Niks word gesê van die strekking van die klagtes wat Ferdie teen sy dosente ingedien het nie. Die self-erkende ateïs, ds. Klaas Hendrikse, vir wie God nie meer bestaan nie, is ook “onskuldig” bevind en toegelaat om in sy amp aan te bly.

In my opleeswerk sien ek dat Prof. Jurie le Roux, wat toekomstige predikante oplei, in sy studiemateriaal o.a. impliseer dat die Bybel nie waar is nie en dat Abraham nooit bestaan het nie. Indien hy wel bestaan het, ontken prof. le Roux God se bemoeienis, werking, leiding en inisiatief in die lewe van Abraham. Hy glo dus nie meer dat die Bybel waar is nie. Maar prof. le Roux is (regstegnies?) “onskuldig bevind” aan dwaallering en leer nog steeds studente aan die teologiese fakulteit van Pretoria wat hý glo.

Prof. Julian Müller is ’n self-erkende post-teïs (God is nie meer vir hom ’n Goddelike Persoon nie) en hy “weet” dat hy “onherroeplik aanbeweeg het”. Hy roem op die feit dat hy van niks meer seker kan wees nie – nie eens die waarheid van God en Sy onfeilbare en gesagvolle Woord nie. Maar ook hý is “onskuldig” en lei nog steeds jongmense op om predikante te word. Wat sal húlle glo en verkondig? Hy pleit ook dat openlik-“gay” predikante op die kansel toegelaat word.

Maar omdat Ferdie Mulder teen hierdie onbybelse dwalinge stry, word hy “skuldig bevind”, geskors en afgemaak as onderduims, onbillik, oneerlik en on-eg en dat hy wantroue saai oor dosente wat sg. deur die “kerk” onskuldig bevind is.

Hierdie verslag meld geeneen van die positiewe aspekte ten gunste van Ferdie Mulder nie – waarvan Jean Oosthuizen ten minste kennis moes geneem het. Niks word gemeld van sy stryd teen die aftakeling van die Bybel as die onfeilbare en gesagvolle Woord van God nie. Niks word gesê van die karakter van die dwaalleringe waarteen hy stry nie. Ek konstateer sonder enige twyfel dat, indien Ferdie (sowel as andere) van hierdie dwaalleringe kennis geneem het en niks daaromtrent probeer doen het nie, hy voor God skuldig sou gestaan het. Ek het volle waardering vir Ferdie se stryd – al het hy dan ook foute gemaak in die proses. Niemand is onskuldig dááraan nie.

Mens sou ten minste gebalanseerde verslaggewing in Kerkbode verwag het.

– Ds. Gideon Aggenbag

Trojaanse perdjies
2011/09/07

Lyk my die skrywers van die Trojaanse perdjie is alweer op hulle houtperdjie twee van die skrywers is alweer aan die gal braak. Ek dink nie juis mnr Mulder sal ingenome wees as die skrywers van die Trojaanse perd sy boek ophemel nie. Dit kan hon met tot nadeel srek. Daardie smeerpamflet teen die NG Kerk was ’n openbare verleentheid. – Jan Gerber

Jan Gerber, gal braak, ens.
2011/09/07

Jan Gerber,
Lyk my jy staan nou in vir die nuusredakteur by Kerkbode? Jy wend ’n vergeefse, patetiese poging aan om lesers te bedrieg. Dink jy nou werklik dat geen een van die denkende lesers jou nie dwarsdeur jou mombakkies erken nie? Eers word die pos vir hierdie blad vir ’n week lank terug gehou en uiteindelik, toe dit op 2011/09/07 verskyn, antwoord jy ook sommer dadelik daarop, sommer op 2011/09/07 – so asof die datums van die bydraes enigiemand kan bluf.

Eerstens het jy nie eens die moed om jouself onder jou eie naam te verdedig nie. Tweedens is dit jy self wat onsinnige gal braak wat hoegenaamd niks met die saak onder bespreking te make het nie.

Waarom probeer jy nie vir ’n verandering sin skryf en probeer weerlê die feite wat ek hierbo genoem het nie. Natuurlik sal jy nie probeer nie, want jy kan eenvoudig nie. Daarom het jy niks anders om aan te bied nie as die ou bekende perde-deuntjie.

(Dit is nie duidelik wat ds Aggenbag bedoel met sy opemerking oor bedrog nie. Niemand het ingestaan vir enige iemand anders nie. Kommentare word nie teruggehou nie maar kan ook nie altyd dadelik geplaas word nie. As gevolg van onderhoudswerk aan die webwerf het dit langer geneem om die jongste kommetnare te plaas as gewoonlik. – Redaksie)

– Ds. Gideon Aggenbag

Smeerpamflet? (Nie op Kerkbode aanlyn geplaas nie)
2011/09/09

Nee J(e)an, ’n boek kan nie as ’n smeerpamflet teen ’n instansie beskou word as die doel daarvan is om die instansie na die waarheid te laat terugkeer deur ondermeer op die vrot kolle binne die instansie te wys nie. As jyself deur die boek swartgesmeer voel, moet jy maar bietjie nadink of dit die boek se skuld of jou eie optredes en uitlatings is wat lankal reeds die selfverfwerk gedoen het.

– Kosie Kramer

Die Huigelaars
2011/09/08

As die NG Kerk nie die salarisse van die teoloë betaal nie kan hulle verkondig wat hulle wil. Die belaglikheid van die hele sage is dat predikante ’n eed van getrouheid aan die belydenisse afsweer. Ek weet nie of Julian preek nie , maar as hy wel preek ( of die amp van predikant beklee ) in die NG Kerk is hy ’n huigelaar want sy leerstellinge is juis daarteen. Dit is die dilemma vir die NG kerk , daar kan geen progressie wees solank as wat die belydenisse as goue kalwe gesien word. Die kerk weet goed dat die belydenisse “die Bybel” van hulle geloof is . Verander die belydenisse dan is die kraak in die muur te groot om te stop. Net soos Apartheid en later die Rooi Gevaar die fondament vir die Nasionale Party was so staan of val die NG kerk by die belydenisse . Verwyder apartheid en die NP is tandeloos , verwyder die Belydenisse en kortbroek geloof is die voorland vir die NG Kerk – vernietiging. Nou wat het dit met Ferdi en Julian en klagstaat uit te waai? Alles , Julian bely saam met die gemeente ( sy eie woorde die belydenisse) Ferdi ook. Nou wie is die huigelaar ? Die vraag is – hoe lank kan Julian en Ferdie die god ding nog kunsmatig aan die gang hou ? – Dirk

Trojaanse perdjies
2011/09/12

Ai dat dié ou perdjie nou só ’n langdurige en pynlike doring in sommiges se vlees kan wees!

Jan Gerber se gekerm laat my dink aan die strofe uit die gedig van die Ruiter van Skimmelperdpan:

“Sal daar nimmer ’n einde kom … altyd maar weer

Die galop … die galop … die galop?!”

– Mart Bloem

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui