Gesprek: Moet mens die struktuur van die NGK blameer vir dwaling?

Op 10 November 2026 het Ferdie Mulder die volgende YouTube video geplaas:

Ware en valse kerk?

Aan die onderkant daarvan het ek ‘n kommentaar geplaas wat gelei het tot die volgende gesprek/debat:

@daniellouw1

Ferdie, dit is weereens ‘n baie goeie video. Jy het die raakpunte tussen al die sake baie mooi uitgewys.

Ek dink egter die mag van die moderator en die algemene sinode word oordryf.

Die moderator het nie pouslike mag nie.

Ook het die NGK se algemene sinode nie meer mag as byvoorbeeld die GKSA se algemene sinode nie. Nou onlangs het die GKSA se algemene sinode besluit dat geen vroue in die amp toegelaat word nie. ‘n Ultimatum is aan alle gemeentes in die GKSA gerig om vroue in die amp te verwyder. Indien hulle nie daaraan gehoor gee nie, gaan die bande met daardie gemeentes verbreek word. Dit is die mag wat die GKSA se algemene sinode het.

In die video word gepraat van geloofsbriewe: Almal by die algemene sinode is daar met die nodige geloofsbriewe van die gemeentes waaraan hulle verbonde is. Die algemene sinode bestaan elke keer uit hoofsaaklik ander lede as die vorige sinode, juis om te probeer seker maak dat die algemene sinode die hele NGK oor tyd verteenwoordig.

Die vraag is: waar is die streeksinodes? Dit is net Namibië wat die verband verlaat het en Goudland wat standpunt ingeneem het teen homoseksualiteit (vir wat dit mag werd wees).

As die algemene sinode ‘n probleem was, sou daar al lankal roering by die streeksinodes gewees het. Daar is nie. Die hele NGK is skuldig!

@malanmeyer3860

Wat bedoel jy presies met “mag” as die GKSA-sinode nie ‘n enkele gemeente kan forseer om vroue uit die amp te verwyder nie, en hoe bewys een kerk se bereidheid om sy eie reëls te handhaaf enigiets oor die werklike mag van die NG Kerk se algemene sinode?

@daniellouw1

@malanmeyer3860, wat sê jy? Sê jy dat die GKSA-sinode nie gemeentes kan forseer om vroue uit die amp te verwyder nie?

Voel jy dat die NGK se algemene sinode meer mag het as die GKSA se algemene sinode?

@malanmeyer3860

@daniellouw1 Ja dit is wat ek sê. Die GKSA-sinode kan nie ‘n gemeente forseer nie, want elke gemeente besit sy eie eiendom en besluit self. Al wat die sinode kan doen is om te sê “dan is ons nie meer in dieselfde kerkverband nie”.

Maar om op jou tweede vraag te antwoord: dit gaan nie oor wat ek voel nie. Dis jy wat gesê het die NGK-sinode het nie meer mag as die GKSA s’n nie. Jy vergelyk appels met pere. Kerkordelik is daar ‘n groot verskil tussen die twee.

Watter werklike magte het die NGK-sinode dan wel volgens jou, en hoe stem dit ooreen met die GKSA s’n?

@daniellouw1

@malanmeyer3860, natuurlik kan die sinode nie gemeentes forseer om hulle vroue in die amp te verwyder nie, maar as jy sê “Al wat die sinode kan doen is om te sê ‘dan is ons nie meer in dieselfde kerkverband nie’.” dan beteken dit wel die sinode het die mag om daardie gemeente uit die kerkverband te skop, nie waar nie?

@daniellouw1

@malanmeyer3860, net om seker te maak jy verstaan my reg: Ek kritiseer nie die GKSA nie. Ek dink die sinode MOET daardie mag hê, anders kan gemeentes doen net wat hulle wil en steeds deel van die denominasie bly. Dan is daar geen sin van ‘n denominasie nie.

My probleem is, behoudendes in die NGK wil die skuld op die moderator en die algemene sinode pak. Die probleem is egter die hele kerk – al die gemeentes wat niks doen nie, is mede-aanspreeklik vir die dwaling in die NG Kerk. Hulle is nie slagoffers van ‘n “bose” sisteem nie. Die NGK dwaal omdat die oorgrote meerderheid (90%) saamstem met die dwaling, of niks daaraan doen nie.

@malanmeyer3860

@daniellouw1 Kan albei nie tegelyk waar wees nie: dat NG-gemeentes self aanspreeklik is vir wat hulle duld, en dat die NGK se algemene sinode steeds op ‘n problematiese wyse baie meer sentrale mag oor sy gemeentes en predikante het as die GKSA s’n?

@daniellouw1

@malanmeyer3860, hoe het die NGK se algemene sinode meer mag oor NG gemeentes as in die GKSA?

@malanmeyer3860

@daniellouw1 Die NGK se Algemene Sinode het meer sentrale gesag omdat daar permanente bestuurspanne en gemeenskaplike reëls is wat al die gemeentes saambind. In die GKSA is die Algemene Sinode net ‘n tydelike byeenkoms waar selfstandige plaaslike kerke as gelykes saamkom, maar elke gemeente bestuur homself.

In die GKSA het die Algemene Sinode geen permanente bestuur nie, en die vergadering hou op om te bestaan sodra dit verdaag.

@daniellouw1

@malanmeyer3860, hoe word gemeentes daardeur geraak? Kan jy ‘n voorbeeld gee?

@malanmeyer3860

@daniellouw1 Ja, goeie voorbeeld waaraan ek kan dink is Reformed Church Southern Suburbs (en ander gemeentes) wat die GKSA verlaat het omrede die proses om op te tree teen die gemeentes wat vroue in die amp aangestel het so lank gevat het, vroue diakens, Cloete Psalms. Geen hofsake, niemand onthef uit hul amp nie.

Vergelyk dit dan met Tafelberg Gemeente, Sedgefield ens.

@daniellouw1

@malanmeyer3860, Ferdie se woorde in die video is onder andere: “Daar is nie ‘n kommissie wat tussen sinodes kan aangaan met dinge nie wat amper soos ‘n pous begin funksioneer nie”

Ferdie haal Jonker soos volg aan: “Hoe kan ons so ‘n groot verantwoordelikheid lê in die hande van enkele persone?”

Hierdie gedagte dat die NGK se moderator/ASM/kommissies te veel mag het, het nog nooit gegaan oor die gemeente se bates nie. Die indruk wat geskep word is dat indien die moderator (“pous”) of ASM of kommissies praat, dan word dit wet in die NGK. Dit was nog nooit so nie. My opinie is dat indien die AS wel ‘n besluit neem, MOET hulle die mag hê om dit op gemeentes af te forseer. Soos dit nou gebeur in die GKSA oor VIDA. Dit is ter wille daarvan om eenheid te behou binne die denominasie/kerkverband.

Dit lyk my in die GKSA is dit duidelik dat die gemeente se bates aan die gemeente behoort en nie aan die sinode nie. Net omdat die NGK nou egter gemeentes hof toe vat, beteken dit nog nie dat hulle gewen het nie. Indien die NGK wel wen (wat onwaarskynlik lyk), dan gee ek toe, het die NGK ‘n redelike houvas op gemeentes, maar dit is nie die kwessie nie.

Veronderstel ‘n GKSA-gemeente (predikante en kerkraad) besluit om die groot doop toe te pas of homoseksuele paartjies te trou, wat sal gebeur?

Ek neem aan so ‘n gemeente sal nie meer toegelaat word by die GKSA sinode nie.

Sal die GKSA toelaat dat die gemeente nog na hulleself verwys as GKSA? Indien hulle doen, wat sal die sinode daaraan doen?

Sal die predikant uit sy amp onthef word as predikant van die GKSA?

@malanmeyer3860

@daniellouw1  In die GKSA het die Algemene Sinode geen bevoegdheid om ‘n predikant uit sy amp te onthef of sy legitimasie in te trek nie. Slegs die plaaslike kerkraad en die klassis kan ‘n predikant skors.

Ek stem saam dat die “proof in the pudding” gaan wees met die hof uitsprake.

Maar dit is definitief so dat veral die rol van die ASM problematies is in die NGK struktuur. Die manier hoe die ASM die 2013 versoek hanteer het, het ‘n groot bydrae gemaak in die uiteindelike besluit wat in 2015 geneem is.

Willie Jonker vra hoe so ‘n groot verantwoordelikheid in die hande van “enkele persone” gelê kan word. Wie is dan die ekwivalent van daardie “enkele persone” (soos die ASM) wat tussen sinodesittings in die GKSA dieselfde mag en verantwoordelikheid dra?

@daniellouw1

@malanmeyer3860, jy sê in die GKSA kan die AS nie ‘n predikant uit sy amp onthef nie. Dit is dieselfde in die NGK. Dit is nie die AS wat daaroor besluit nie, maar die Ring. Die punt is, beide die NGK en GKSA kan predikante uit hulle amp onthef.

Dit is so dat daar klein verskille is tussen die NGK en GKSA se struktuur en dit mag wees dat die NGK se struktuur dit makliker maak vir dwaling om in te kom, maar dit het nie ‘n noemenswaardige rol gespeel nie.

Jy wil steeds die punt van die “enkel persoon” maak, maar die moderator het GEEN mag nie. Al mag wat hy miskien het is dat sy siening dalk groter gesag kan dra weens sy posisie.

Weereens, as die moderator en die ASM hulle sogenaamde mag misbruik het, waar is die gemeentes, ringe en streeksinodes wat daarteen beswaar maak?

Nog iets: die moderator word deur die hele AS gekies. Hy word nie deur ‘n onaantasbare groepie in die kerk gekies nie.

Die ASM word ook deur die verteenwoordigers by die streeksinodes verkies.

@malanmeyer3860

@daniellouw1  as ons kyk na daardie verkose ASM (die “enkele persone” wat Jonker van praat), wie is die ekwivalent in die GKSA wat tussen sinodesittings dieselfde uitvoerende mag en agendabeheer dra?

Dink jy regtig hierdie is ‘n onbenullige verskil tussen die twee kerkverbande?

En of dit nou pragmaties “werk” of nie, watter struktuur dink jy is meer getrou aan God se Woord en die Belydenisskrifte?

@daniellouw1

@malanmeyer3860  Ek dink jy verstaan my verkeerd. Ek wil nie sê dat die struktuur van die NGK beter is as die GKSA s’n nie. Dit is bloot anders, maar dit is verseker nie die hoofrede hoekom die NGK afvallig geraak het nie.

Daar is voordele en nadele aan beide. Die Bybel stel nie ‘n struktuur voor nie. En die struktuur mag verskillend wees vir ‘n groot denominasie en kleiner denominasie.

Wat bedoel jy met “uitvoerende mag”?

Jy praat van agendabeheer: hoe word die agenda bepaal in die GKSA?

@malanmeyer3860

@daniellouw1  Kom ek sê vir jou so: ek dink ons altwee stem saam dat die hoofrede hoekom die NGK siek is, is nie uitsluitelik die kerkorde nie.

Ons verskil is oor die rol van die ASM om die siekte te versleg en of die bestaan van ‘n ASM self ook ‘n simptoom is van die siekte.

En die siekte is dat die NGK al vir amper twee eeue stadig maar seker weggedryf het van haar gereformeerde (Bybelse) identiteit. En dit is die probleem met die ASM en die punt wat Ferdie probeer maak: dit is ‘n ongereformeerde verskynsel.

Die argument is dat dit nie in lyn is met art 31 en 32 van die NGB nie en opsigself dan kan ‘n argument gemaak word dat dit onskriftuurlik is.

@daniellouw1

@malanmeyer3860  Watter woorde in NGB 31 en 32 gebruik jy om te beweer dat die struktuur van die NGK onskriftuurlik is?

Finale opmerking

Die punt bly: behoudendes kan nie die struktuur van die NGK blameer vir die dwaling in die NGK nie.

Sedert 2020 tot 2022 het die behoudendes as Kairos Netwerk drie keer vergader met die ASM dagbestuur of verteenwoordigers van die ASM.

Nadat die ASM verklaar het dat Koinonia Sinode geen locus standi het nie, het Koinonia Sinode dit selfs op ’n stadium oorweeg om die burgelike hof te nader om die NGK te dwing om ’n pad van mediasie te stap.

Die vraag was egter nog altyd: Watter nut sou gesprekke met die ASM gehad het?

Eerstens sou jy die ASM moes oortuig dat die NGK op ’n teologiese dwaalspoor was.  Van die begin af was dit duidelik dat dit nie sou gebeur nie.

Tweedens, veronderstel jy kon die ASM wel daarvan oortuig, sou hulle nie anders kon as om die Koinonia Sinode te verwys na die amptelike kanale nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui