Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Bethulie se dominee-twis draai by polisie en prokureurs | Rapport
Johan Eybers
Rapport
Sondag, 14 Desember 2025
’n Polisieklag en ’n prokureursbrief is die jongste kartetse wat afgevuur is in die stryd tussen ’n uitgeskopte dominee van Bethulie en die NG Kerk.
Rheinier Nel, wat daarop aanspraak maak dat hy steeds die regmatige leraar van die NG gemeente Bethulie is, het op 1 Desember ’n strafregtelike klag van bedrog teen die ringskommissie van Smithfield aanhangig gemaak.
Die kommissie het hom vroeër vanjaar skuldig bevind aan misleiding, verdagmakery en skeurmakery.
In die klag beskuldig Nel die kommissie daarvan dat hy ’n besluit wat op 14 April deur die ring goedgekeur is, “wesenlik verander” en “met opset” verkeerd weergegee het.
Enkele dae nadat die klag aanhangig gemaak is, het Nel ’n prokureursbrief van die NG Kerk ontvang.
Die brief, gedateer 2 Desember, is op 4 Desember per e-pos aan Nel gestuur en die volgende dag in twee drukstukke by die pastorie afgelewer.
Die brief lui dat die prokureursfirma Hills Ingelyf op instruksie van die algemene sinode en die sinode van die NG Kerk Vrystaat optree in verband met “talle voorvalle” waarin Nel glo lasterlike opmerkings oor sinodes, ringe, amptenare en lidmate gemaak het.
Hoewel Nel se legitimasie en bevoegdheid volgens die brief onttrek is en hy gevolglik nie meer as ’n predikant van die NG Kerk beskou word nie, is Nel steeds in diens van sy gemeente en preek hy elke Sondag by sy gemeente.
Hy word daarin as ’n gewone lidmaat beskryf en aangesê om alle negatiewe of lasterlike uitsprake – in sowel private kommunikasie as in openbare of op sosiale media – onmiddellik te staak.
Die prokureurs vra verder ’n skriftelike onderneming dat hy aan die versoek sal gehoor gee. Hulle vra ook dat alle verdere dokumente en korrespondensie voortaan uitsluitlik aan hul kantore gerig moet word.
Die moderamen van die NG Kerk Vrystaat sê by navraag die besluit om ’n prokureursbrief aan Nel te stuur, is eers geneem nadat herhaalde pogings om die situasie op ’n “kerklike en beleefde” wyse te hanteer, misluk het.
“Mnr. Nel het in Mei sy bevoegdheid as predikant van die NG Kerk verloor nadat hy besluit het om nie aan ’n amptelike tugproses ingevolge die bepalings van die kerkorde mee te doen nie. Hy het ook nie die reg op appèl wat tot sy beskikking is, uitgeoefen nie.”
Die moderamen sê in ’n verklaring aan Rapport nog ’n “lang pastorale gesprek” is ’n maand gelede met Nel gevoer waarin sekere ooreenkomste met hom aangegaan is.
“Hy het egter verkies om ook dít nie te respekteer nie.”
Luidens die verklaring bly die NG Kerk Vrystaat “in beginsel daartoe verbind om ’n kerklike saak op ’n kerklike wyse te hanteer”.
“Die strekking van die prokureursbrief aan mnr. Nel was om hom te versoek om sy verspreiding van wanvoorstellings oor hierdie gebeure, én sy teistering van en beledigende taal teenoor sinodale personeel, ander kollegas, lidmate en vergaderings van die NG Kerk te staak. Dié versoek – asook die klag wat hy teen die ringskommissie van Smithfield by die polisie aanhangig gemaak het – is nou sub judice en die NG Kerk kan nie verder in die media daaroor kommentaar lewer nie.”
Nel het op 6 Desember per e-pos op die NG Kerk se prokureursbrief gereageer en die twee drukstukke teruggestuur, onder meer omdat dit volgens hom in Engels opgestel is.
In sy reaksie sê hy die prokureursfirma beskik nie oor voldoende kennis van die gereformeerde kerkreg nie. Hy voer aan dat die brief kerkordelik geen gesag dra nie.
Nel meen die kerk se prokureursbrief hou regstreeks verband met die strafregtelike klag wat hy teen die ringskommissie aanhangig gemaak het.
In sy verklaring aan die polisie voer Nel aan dat die kommissie die ring van Smithfield se besluit van 14 April “wesenlik verander” het en dat dit volgens hom met opset gedoen is.
Hy hou vol dat hierdie weergawe die effek gehad het dat die tugproses teen hom kon voortgaan, terwyl die ring volgens sy uitleg eers ’n onafhanklike ondersoek na die wettigheid van die ringskommissie se optrede gelas het.
Hy beweer verder dat herhaalde versoeke om die notules reg te stel, nie behoorlik beantwoord is nie en dat die tugliggaam wat hom later skuldig bevind het, nie bevoeg was om die saak aan te hoor nie.
Volgens hom moes die dispuut eers afgehandel word voordat enige tughandeling kon voortgaan.
Die geskil vorm deel van ’n langer reeks kerklike prosesse wat sedert laat 2024 aan die gang is nadat ’n tugondersoek na Nel ingestel is weens sy optrede tydens sy bediening in Barkly-Oos.
Die tugliggaam van die ring van Smithfield het hom vanjaar skuldig bevind, waarna sy predikantsbevoegdheid nietig verklaar is. Die Bethulie-kerkraad het egter volgehou dat die proses kerklik onreëlmatig was en slegs die kerkraad as werkgewer oor sy pos kon besluit, terwyl die NG Kerk se leierskorps volhou dat predikantsbevoegdheid ingevolge die kerkorde by die algemene sinode berus.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het later beslis dat hy nie jurisdiksie oor die geskil het nie.
Kommentaar
xxx