*******
Onderwyser van Secunda glo hy loop weer omdat God hom genees het | Ridge Times
Dinsdag, 24 Maart 2026
Ivan Botha (27) se lewe het in 2022, toe hy 23 was, begin verander toe hy gereeld blaas-infeksie begin kry het en die uroloog nie kon vasstel wat fout was met hom nie.
In die volgende paar jaar moes dié natuurwetenskaponderwyser by Hoërskool Secunda, 14 operasies aan sy blaas ondergaan en het hy sy BSc Honneursgraad in fisiologie aan die Pukke op sy hospitaalbed voltooi.
Sy gesondheid het drasties verbeter nadat dié graad klaargemaak het, sy infeksietelling was af en aan die einde van 2022 is hy met sy skoolliefde, Charné, getroud. Botha het egter in 2023 weer begin sleg voel en nog ‘n rits operasies en prosedures later, moes hy in Junie vanuit sy hospitaalbed op kamera skoolhou om seker te maak sy leerders kom hul eksamens deur.
Die paartjie het toe nog op Potchefstroom gewoon waar Botha by ‘n skool was en Charné haar meestersgraad in Aptekerswese voltooi het. Botha se blaas het steeds nie normaal gefunksioneer nie en hy was vir lank in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal.
Hierna het dit effens beter gegaan en die Botha-egpaar het in die begin van 2024 na Secunda, waar hulle opgegroei het, verhuis. Hy het by Hoërskool Secunda begin skoolhou en Charné het haar gemeenskapsjaar as apteker by Bethal Hospitaal voltooi. Dinge het egter weer begin skeefloop in Maart ná nog blaasontsteking en ‘n opvolgbesoek by ‘n spesialis.
“Ek en Charné was al moedeloos en ek het vir haar gesê ek verstaan nie hoekom ek die hele tyd dieselfde probleem het nie,” het Botha vertel.
‘n Internis het elke toets denkbaar gedoen en ná ‘n hele dag by die hospitaal, het sy gesê iets is beslis fout, maar sy weet nog nie wat nie. Botha is uiteindelik, na nog toetse en navorsing, met spastiese paraplegie gediagnoseer.
Spastiese paraplegie is ‘n groep seldsame neurologiese afwykings wat die senuwees in die rugmurg aantas, styfheid veroorsaak, swakheid in die bene en swak blaasbeheer. Daar is geen behandeling vir dié toestand nie en die mediese fonds wou nie betaal vir medikasie of enige terapie wat dié progressiewe toestand sou verstadig nie.
Dinge het van hier af al slegter gegaan. Botha het al hoe meer sy balans verloor en moes naderhand eers met ‘n stapstok en toe met ‘n kruk loop. Kort voor lank moes hy met ‘n rolstoel oor die weg kom en sy motor is ook aangepas vir iemand wat verlam is.
Hoewel Botha se rugspiere op dié stadium die heeltyd in spasma was, was die fisiese pyn nie vir hom so erg soos die onsekerheid van sy toekoms nie. Hy moes reeds verskeie soorte medikasie vir pyn en spasma drink, maar niks het gewerk nie.
Hy moes ook ‘n assistent by die skool kry om hom te help om sy werk vanuit die rolstoel te kon doen. Hoewel hy steeds skool gehou het, was hy daagliks teen 10:00 moeg en hy en Charné het besef dat hy dalk binnekort nie meer sou kon skoolhou nie.
Botha het steeds ook baie uitdagings met sy blaas wat nie gewerk het nie, in die gesig gestaan. Die laaste opsie was om ‘n stomasakkie te kry.
“Ek wou dit eintlik nie laat doen nie en toe die dokter dit sommer wou doen dieselfde dag wat ek hom gaan sien het, het ek gesê nee, ek gaan eers huis toe en met my vrou praat.”
Botha is toe terug hospitaal toe vir die prosedure om die stomasakkie te kry.
“Ek moes die nag voordat die dokter dit sou insit, by die hospitaal slaap vir voorbereiding en die volgende oggend baie vroeg, het die dokter self my kom wakker maak. Hy het gesê hy kon nie slaap nie en hy gaan nie die stomasakkie insit nie. Hy het ‘n ander plan. Ek was so verlig.”
Botha se infeksie-telling was bietjie af en hy was weer terug skooltoe tot aan die einde van verlede jaar. Dinge het egter weer versleg en hy het gevoel hy gaan dood van die pyn. Weer eens is hy in die hospitaal opgeneem en met massiewe infeksie gediagnoseer.
Botha het die dokter gevra of hy net vir die naweek uit die hospitaal kan gaan om sy niggie se troue by te woon. Hy was die Sondag weer terug in die hospitaal, maar het gevra om die volgende naweek weer uit die hospitaal uit te gaan vir sy broer se troue op Brits.
“Die dokter het vir my gesê ek gaan doodgaan, maar ek het hom gevra of my vrou my kan spuit met pynmedikasie en hy het ingestem.”
By sy niggie se troue het hy steeds pyn gehad en net klavier gaan speel toe sy in die kerk ingestap het en by die onthaal sy praatjie gedoen en toe weer op die bed gaan lê en slaap. Terug in die huis het die medikasie ingeskop en Botha het bietjie beter begin voel.
Sy ouers het tydens die Desembervakansie in George gekamp en die Bothas saamgenooi.
“Dit het glad nie logies sin gemaak vir ons om te gaan kamp terwyl ek in ’n rolstoel is nie, maar ons het die vlugkaartjies geboek en besluit om te gaan. Dit is nie so maklik om met ’n rolstoel orals heen te gaan soos wat mens sal dink nie.
“Ek het met my rolstoel agteroor uit die bussie wat ons vanaf die lughawe na die vliegtuig geneem, geval.”
Botha het een oggend tydens die vakansie, in die tent gelê en kyk vir die see en toe besef dit is die eerste oggend sedert Junie verlede jaar wat hy geen pyn het nie.
“Ek het my vrou wakker gemaak en gesê ek voel baie beter en het nie pyn nie, kom ons gaan stap ’n entjie op die strand.”
Hy het sonder sy krukke en rolstoel gestap. Na hul stappie, is almal saam kerk toe en daar was ’n evangelis van Mosambiek wat gepreek het.
“Hy het mense genooi om na die diens agter te bly vir gebed vir genesing. My pa het aan my getik en gesê ek moet gaan, maar ek wou nie, want ek het gevoel iets het vroeg daardie oggend in my liggaam gebeur.
“My pa het weer vir my gesê ek moet vorentoe gaan vir gebed en my vrou het ook gesê ek moet gaan, maar ek het vir hulle gesê ons sal later praat.”
Terug by die kampplek, het Botha se ouers kos gemaak en hy het vir Charné eenkant toe geroep om met haar te praat en sy krukke vir haar gegee.
“Ek het op my eie, sonder die krukke gestaan en Charné het hartseer geraak. Ek het net daar besluit ek gaan daardie dag iets probeer doen en as ek op my gesig val, weet ek ten minste ek het my bes probeer.
“Omdat ek op daardie stadium semi-permanent in die rolstoel was, was my bene baie swak, maar ek het daardie dag besluit ek gaan probeer hardloop.”
Botha het gehardloop en weer gehardloop en hulle het sy ouers gaan roep om te gaan kyk. Hy glo die Here het hom aangeraak en genees. Hulle is later die dag strand toe en Botha kon al 120 trappe af na die strand toe en later weer op, self klim.
Hy het daardie dag selfs in die see geswem, tot heelvoor en weer terug strand toe.
“Terug by die huis na ons vakansie, het alles verander, waar ek vroeër tot 16 pille daagliks moes drink, het ek toe nie meer nodig gehad om medikasie vir die pyn te neem nie. Ek was heeltemal pynvry en het geen spastiese spiere meer gehad nie. Voorheen het ek in die nag wakker geword van die pyn, na ons vakansie het ek deur geslaap.”
Botha was weer terug by die skool en kon sonder ’n rolstoel of hulp skoolhou. Hy het vroeg in die nuwe jaar ’n herinnering op sy selfoon se kalender gekry dat hy moet dokter toe gaan vir ’n skandering om te kyk hoe sy spinale koord, wat vernou was, lyk.
“Ek het besluit om vir die skandering te gaan en toe ek die uitslae kry en dit oopmaak, het daar gestaan my spinale koord is normaal. My blaas het toe ook weer 100% normaal begin werk.”
Botha is dankbaar dat die Here hom genees het en het gesê hulle het in dié moeilike tyd God se goedheid gesien en ook hoe Hy daagliks vir hulle voorsien.
Wow. Baie inspirerend om so getuienis te hoor..
Jesus het my ook genees van vlak 4 borskanker.
Ek prys Hom elke dag