Wie is vark in verhaal, NGK of die lidmate?

RAPPORT, 9 OKTOBER 2005
JOHANNESBURG FINAAL

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2005/10/09/R1/16/04.html

NUUS bl. 16

BRIEWE

Wie is vark in verhaal, NGK of die lidmate?

JOHAN, GEORGE:

Die artikel van George Hofmeyr (Rapport 2 September) oor die kerk wat struikel, verg verdere kommentaar. My vraag is: Struikel die kerk, of struikel sy lidmate? So ’n paar gedagtes oor die saak.

Om darem ds. Laurie Gaum en besluite oor hom met Stefanus as Christenmartelaar te vergelyk, is verregaande. Ek wil ds. Gaum nie veroordeel nie, maar hy het ’n verhouding gehad wat uiteindelik met die dood van die ander persoon geëindig het. Is die kerk die liefdelose party in die saak?

Weet Hofmeyr waarom die gewone lidmaat huiwerig oor kerkhereniging is? Omdat Belhar in ons kele afgedruk word, omdat dr. Allan Boesak, een van die hoofrolspelers, nie ’n goeie woord vir die NG Kerk het nie. Lees maar wat hy skryf in die media en sy kommentaar in TV-programme.

Waarom Malan, Verwoerd en Treurnicht by die debat insleep? Of kyk hy ook aanhoudend terug soos Lot se vrou? Verwyte oor die verlede sal en kan ons nêrens bring nie. Apartheid ten spyt — die drie “dom” Afrikaners (Hofmeyr se woordkeuse) het, hoe gering ook al, gehelp dat die ANC in 1994 nie ’n bankrot boedel oorgeneem het nie!

Om saam te vat: George Hofmeyr kan beskuldigings rig van geestelike hoogmoed, van fundamentalisme, van ongenaakbaarheid, van soutpilare en nog veel meer, maar die debat kan net verder gevoer word op grond van die geloofwaardigheid van die rolspelers en nie van soutpilare teenoor steunpilare nie.

Miskien moet elkeen van ons, en ek sluit myself heel eerste in, die vraag vra: is die NG Kerk die vark in die verhaal of is dit ek self?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui