‘Waarheen is NGK op pad met gendergeregtigheid?’

Vir agtergrond, kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

***********

‘Waarheen is NGK op pad met gendergeregtigheid?’ | Kerkbode

Deur Henriëtta Klaasing

5 Mei 2021

Op 8 Oktober 2019 neem die Algemene Sinode ’n amptelike vyfpunt-besluit oor genderge­regtigheid. Onder die derde punt word onder andere opdrag gegee dat “aandag gegee word aan patriargale teologie”. Die vierde punt gaan daaroor om ’n “hermeneutiese raamwerk te ontwikkel om patriargale tekste in ’n genderneutrale wêreld op ’n geldige en verantwoor­delike wyse te lees”.

Dit moet gelees word in die lig van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) se definisie van “GENDER”, naamlik: die “identiteit wat deur die seksuele selfbeeld van mense bepaal word”. Daarteenoor word “GESLAG” biologies bepaal.

Die 2019-besluit het ook nuwe be­te­kenis gekry na die herrie wat onketen is onlangs op ’n legitimasiegeleentheid van NG Kerkstudente in Stellenbosch waar ’n vrouedominee na God as “Haar” verwys het. Die gedrukte media en sosiale media het gegons daaroor. Op Netwerk24 het dr Frederick Marais gesê ds Thirion het in haar verwysing die gehoor uitgenooi om oor die manlikheid of vroulikheid van God na te dink en self ’n keuse te maak. “Dit is natuurlik die werk van predikers om mense uit te daag om voortdurend te vra of hulle denke oor God nie verruim behoort te word nie en vandaar die vraag in haar preek.”

Patriargale teologie en bepaalde ma­niere waarop die Bybel gelees word, is in die spervuur. Kort voor die Algemene Sinode van 2019 verskyn daar ’n verkla­ring wat onderteken is deur vroueteoloë en -predikante van verskeie denominasies (ook van die NG Kerk) waarin gemeld word dat “patriargie ten diepste die siekte van die siel” is. Daarin word ook ’n beroep gedoen op geloofsgemeenskappe se leierskap om “daadwerklike aandag te gee aan hoe maniere waarop die Bybel gelees en toegepas word, geweld teen vroue en kinders in stand hou”.

Dit wil voorkom asof die Wes-Kaapse sinode en die Teologiese fakulteit van die Universiteit Stellenbosch voorlopers is in die bevordering van sogenaamde gendergeregtigheid. In 2018 is aangekondig dat die Sinode van Wes-Kaapland vier MTh genderstudies binne bepaalde navorsingstemas rakende gen­der­geregtigheid borg. Een van die temas is “Alternatiewe tot patriargale teo­logie in kerklike en sosiale kontekste”. Beurshouers se klasgelde sal ten volle betaal word. Daar is ook ’n ekstra bedrag beskikbaar vir die navorsings­komponent wat binne die omvang van die tesis plaasvind.

Waarheen is die NG Kerk op pad met die sogenaamde “GENDERgeregtigheid” (dink LGBTQ+)? Gaan dit die pad van die liberale on-Bybelse feminis­me loop wat in ander lande geloop word? Word die volle implikasies daar­van op die kerk en die teologie volledig verreken? Daar kan uit ander lande se foute geleer word, eerder as om ’n mens se kop teen ’n klip te stamp. (Brief verkort. – Red.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui