Hoe ruim moet denke oor God verruim word?

Vir agtergrond, kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

*******

Hoe ruim moet denke oor God verruim word? | Netwerk24

Deur Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

05 Mei 2021 00:02

Guillame, Kampsbaai (01.05) skryf die debat oor die wese van God is absurd.

Om onse Vader tot “onse Moeder” te wil “her-gender” grens aan Godslastering en ’n oortreding van die eerste en derde gebod. Daarom is dit van groot belang dat Christene kennis neem van wat feministiese teoloë nou hier probeer aanvang. Soos T.C. Breitenbach uitwys (Briewe, 28.04), word ons Godsbeskouing nou geïnfiltreer.

Dat ds. Melanie Thirion dié nuwe feministiese, postmoderne teologie juis by ’n legitimasie-geleentheid moes propageer, is besonders veelseggend, veral waar sy meld “dat God drie-enig Haar verbond bevestig, of sy (verbond), hoe jy dit ook al sien”. Kan gelegitimeerdes nou enigiets glo, “soos hulle dit ook al sien”?

Dalk kan Thirion ons inlig wat agter hierdie nuwe teologie sit wat sy propageer en waar dit vandaan kom. Is dit slegs feministiese, postmoderne en anti-patriargale teologie of sluip “New Age”- okkultiese vrouegod(inne) hier in? Of Hindoe-vroue-afgodaanbidding?

Of die sektariese World Mission Society­ Church of God, wat aktief die “Moeder-God” propageer en aanbid? Hoe ruim moet die denke oor God verruim word voordat daar ’n totale afdwaling van Bybel-waarheid is?

In 2018 het die teologiese fakulteit van Maties en die NG sinode van Wes-Kaapland vier MTh-genderstudie-navorsingstemas geborg, waarvan een “Alternatiewe tot patriargale teologie in kerklike en sosiale konteks” is.

Is hierdie nuwe alternatiewe “Haar-God”-teologie miskien ’n uitvloeisel van hierdie nuwe gender-neutrale teologiese opleiding?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui