Spangenberg hou voet by stuk oor sy ‘dwaling’

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Rapport verskyn:

RAPPORT 21 MAART 2004

JOHANNESBURG FINAAL

NUUS BL. 2

*****************

Spangenberg hou voet by stuk oor sy ‘dwaling’ | Rapport

Rapport, 21 Maart 2004

ANNE-MARIE MISCHKE Johannesburg

Diepgaande verskille tussen ’n Nederduits-Gereformeerde teoloog en sy kerk oor kernleerstellinge van die Chistelike geloof — van die sondeval tot die maagdelike geboorte van Christus en sy kruisdood, opstanding en hemelvaart — dreig nou om op ’n breuk uit te loop.

Agt jaar nadat prof. Sakkie Spangenberg, Ou-Testamentikus aan Unisa, vir die eerste keer omstrede geraak het, het die NG ring van Lyttelton die afgelope week ’n klagte van dwaalleer teen hom aangehoor en daarna verklaar die ring “kan nie sien hoe Spangenberg op eerbare wyse sy lidmaatskap van die NG Kerk en sy bevoegdheid as proponent kan voortsit sonder om sy geloofstandpunte radikaal te hersien nie”.

Terwyl die ring sê die “Christelike geloof kan nie losgedink word van die liggaamlike opstanding van Christus nie waarby die Christendom staan of val”, sê Spangenberg dis vir hom moeilik om aan die fisieke opstanding uit die dood en Christus se herverskynings te glo. Dit gebeur gewoon nie in sy leefwêreld nie.

Die ring wil nietemin bly praat met Spangenberg, sê die voorsitter en predikant van Spangenberg se tuisgemeente Pierre van Ryneveld in Pretoria, dr. Anton Fick: “Ons is lief vir Sakkie en ons wil die hand na hom uitsteek.”

Die probleem is, sê Fick, die kerk gebruik God se Woord as sy enigste bron, hy het niks anders om na te verwys nie. Maar Spangenberg lees daardie Woord anders, en die ring ervaar ’n sekere onbuigsaamheid by hom.

Spangenberg sê hy glo soos hy glo, hy kan nie anders nie en sy eerste reaksie op die ring se verklaring was dat hy “dalk die einde van die pad met die kerk bereik het”.

Gister het hy nietemin gesê hy hoop dit sal nie vir hom nodig wees om bande met die kerk te verbreek nie: “My hoop is dat die kerk sal hoor en aanvaar daar is ander maniere om met die dogmas om te gaan. Die kerk kán verander, soos ons met sy standpunt oor apartheid geleer het, maar dit vra tyd en ons moet geduld hê.”

Baie tyd en baie geduld, want Spangenberg se standpunte raak aan die wese van die Christelike dogma. In sy omvattende voorlegging aan die ring neem hy onder meer dié standpunte in:

. Die meesterverhaal van die Westerse Christendom berus op die leerstuk van die erfsonde: Adam en Eva se ongehoorsaamheid in die paradys het daartoe gelei dat ons almal “in sonde ontvang en gebore” is. Daarom moet Christus uit ’n maagd gebore gewees het, sodat Hy nie aan hierdie sonde deel sou gehad het nie.

Maar, sê Spangenberg, die verhaal van Adam en Eva is nie geskiedenis nie “en daarom is dit onlogies om te redeneer dat daar regtig ’n Adam en ’n Eva was. Hulle is slegs verhaalkarakters. Die leer van die erfsonde kan dus nie op hulle gegrond word nie.”

Sy eie lesing van die Bybel dui daarop dat die mens nie sondaars is omdat hulle so gebore is nie, maar omdat hulle verkeerd gekies het.

. Op die vraag of hy die maagdelike geboorte van Christus as historiese werklikheid aanvaar en die dogma as historiese waarheid bely, sê hy :”Nee . . . die verhaal van die maagdelike ontvangenis wil slegs kommunikeer dat Jesus ’n besondere persoon was, en dit aanvaar ek van harte.”

. Hy beskou Christus se kruisdood nie as ’n offerdood nie: “Geeneen van die evangelies hou dit voor dat Jesus aan die kruis sterf onder God se toorn nie. Hy sterf nie om ons van sondes te verlos en ons in die hemel te kry nie . . . God is oneindig liefdevol . . . Hy vereis nie offers nie.”

Hy self bely dat die kruisdood van Jesus “God se nee is vir geweld, moord en doodslag. God wil nie dat mense so met mekaar handel nie. Aan die ander kant sien ek wel iets van God se liefde wat ons roep om na mekaar uit te reik en ons lewe vir mekaar te gee sodat ander deur ons optrede God se goedheid kan leer ken.”

. Oor Christus se opstanding uit die dood sê hy in sy verwysingsraamwerk “staan mense nie uit die graf op en beleef hulle nie herverskynings nie”. Dis daarom vir hom moeilik om in ’n fisieke opstanding te glo. Christus se verskynings aan sy dissiplels verklaar hy daaruit dat hulle so intens met Jesus saamgeleef het dat Hy ná sy dood steeds vir hulle ’n werklikheid was.

Is hy dan nog ’n Christen? Binne sy definisie van Christene wel, maar dis veel wyer as wat die gereformeerde leerstukke vereis: dis almal wat hulle met Jesus en sy saak identifiseer. Binne dié definisie is ’n hele verskeidenheid vertolkings moontlik, en sy hoop is dat die kerk uiteindelik vir meer vertolkings ruimte sal bied.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui