Ewige waarhede bestaan nie, sê prof. Spangenberg

*******

Ewige waarhede bestaan nie, sê prof. Spangenberg | Beeld

Beeld, 20 Maart 2004

Neels Jackson

Die kerk se leer oor die erfsonde is een van die sleutelpunte in die verskille wat daartoe gelei het dat prof. Sakkie Spangenberg, Pretoriase teoloog, gesê het dit lyk of hy die einde van die pad met die kerk bereik het.

Hy het verwys na die besluit van die NG ring van Lyttelton wat aandui dat hy van die kerk se leer verskil as dit kom by Jesus se menswees, die opstanding, kruisiging, wederkoms en verlossing. Dié besluit sê egter niks oor die erfsondeleer nie, terwyl dit is waaroor ’n klag teen hom ingedien is.

Die erfsondeleer, wat lui ’n mens word vol sonde gebore, is volgens Spangenberg die basis van die kerk se verlossingsleer. As jy dit ontken, stort die hele verlossingsleer in duie.

Die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2, waarop die erfsondeleer voortbou, het volgens Spangenberg egter niks daarmee te make nie.

Die kerk is volgens Spangenberg vasgevang in ’n mengelmoes van premoderne en moderne denke. Dit sluit die oortuiging in dat ’n mens ewige waarhede kan formuleer.

Hy beskou hom as ’n postmoderne mens wat meen daar bestaan nie ewige waarhede nie. Waarheid is relatief tot ’n mens se kultuur, die tydvak in die geskiedenis en jou posisie in die samelewing.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui