Skrifverklaring: Dán is relativering onvermydelik

Kyk ook:

Relativisme (Ferdie Mulder, Youtube, 24 November 2022)

*******

Skrifverklaring: Dán is relativering onvermydelik | Kerkbode

Kerkbode

18 November 2022

Prof Johan Janse van Rensburg van Fichardtpark skryf: In die huidige debat oor Skrifverklaring speel die klem op die kontemporêre interpretasie van die teks ’n belangrike rol.

Vandaar die obsessie om die Skrif en belydenisskrifte in die lig van die huidige konteks te herinterpreteer. Só ’n eensydige klem relativeer ander belangrike beginsels vir die hermeneutiek, soos byvoorbeeld die historiese konteks en die semantiese bedoeling van die skrywer. Die postmoderne “dood van die outeur” het daartoe gelei dat die bedoeling van die outeur deur die kontemporêre konteks gerelativeer word.

In die debat oor selfdegeslagverhoudings behoort al drie hierdie hermeneutiese beginsels in werking gestel te word. Buite-Bybelse bronne (die historiese konteks) bewys dat selfdegeslagseksualiteit ten tyde van die Levitikusteks aan die orde van die dag was. Prof Louis Jonker se opmerking dat die term “homoseksualiteit” nie in die oorspronklike tekste voorkom nie, dra daarom nie die gewig wat hy daaraan toeken nie. Die semantiek in Levitikus 20:13 (die bedoeling van die outeur) is immers duidelik: “Twee mans wat homoseksueel verkeer …” Die bedoeling is duidelik, al het die term “homoseksualiteit” later ontwikkel, nie vanuit teologiese dissipline nie maar vanuit die menswetenskappe. Dieselfde kan van Paulus se woordkeuse in Romeine 1 gesê word. Die argument in die huidige debat, dat dit nie hier oor verhoudings gaan nie, oorspan die historiese konteks en relativeer die skrywers se bedoeling.

LEES OOK: Jaun de Vries: Die ongeregtigheid van Sosiale Geregtigheid

Wanneer hierdie beginsels nie in tandem gebruik word nie, is relativering onvermydelik. In Jonker se eie woorde: “Sonder ’n sensitiwiteit vir die historiese kontekste waarin die Bybeltekste ontstaan het, en waarin die Bybeltekste oor eeue heen geïnterpreteer is, loop ons die gevaar om in te lees in die Bybeltekste wat ons met ons eie biografieë daarheen bring” (Jonker se brief in Kerkbode van 17 Februarie 2022). Ek kon dit nie beter gestel het nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui