Sienings van Bybel kwel talle

Sienings van Bybel kwel talle

2012-04-19 22:02

(Gekopieer vanaf Beeld.)

Neels Jackson

Die onderliggende saak by al die kwessies waaroor daar onrus by NG lidmate bestaan, is verskillende sienings van die Bybel.

Só het die luisterspan van die kerk se Hoëveldsinode terugrapporteer nadat hulle terugvoering van sinodegangers oor dié vraag ontleed het.

Die onrus by sommige lidmate was ’n groot besprekingspunt by die sinode wat by tye tot onverkwiklike debatte met persoonlike beskuldigings gelei het.

Die luisterspan het ’n rits kwessies opgenoem waaroor lidmate onrustig is. 

Dit wissel van die opstanding van Jesus en die maagdelike geboorte tot by kwessies soos die doop, saamwoon, sienings van die bose, die Belydenis van Belhar, homoseksualiteit, die sondeval en kerkhereniging.

Ds. Johan Conradie van die luisterspan het egter gesê die verskille tussen ’n fundamentalistiese of letterlike verstaan van die Bybel aan die een kant en ’n siening wat die Bybel en wetenskap integreer aan die ander kant, loop deur al dié kwessies.

Oor die verskillende sienings van die bose het hy bygevoeg dat dit ’n kwade dag sal wees as ’n dominee van dwaalleer aangekla word omdat hy nie aan die duiwel glo nie. 

Van die redes waarom lidmate verontrus raak oor die kwessies is die inligtingsontploffing waaroor die kerk geen beheer het nie. Die Google-generasie bevraagteken alles, ook die kerk. Die kerk moet maar net daaraan gewoond raak, het hy gesê.

Hy het ook daarna verwys dat lidmate geestelik en soms emosioneel onvolwasse is. 

Soms soek lidmate kits­antwoorde wat nie daar is nie.

Verder lees baie lidmate net “sagteband-teologie”. 

Hulle verwag dat die kerk eenvoudige swart-en-wit-uitsprake moet maak, terwyl die kerk dit nie meer doen nie. Daar is ook verwys na ’n skynbare verdraagsaamheid teenoor dwaalleer in die NG Kerk.

Die luisterspan het aan die sinode gesê verantwoordelike gesprek waarin mense na mekaar luister, het dringend aandag nodig. 

Daar moet ook liewer oor die praktiese uitlewing van Christenskap gepraat word as om te stry oor wat die kerk vir mense leer.

Conradie het die jeug as voorbeeld aan die sinode voorgehou. Hulle streef daarna om Jesus Christus in hul optrede sigbaar te maak, het hy gesê.

 

Kyk ook:

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui